Skip to main content

Hoe help die Heilige Gees jou? – Die belydenisskrifte

1. Lees die Heidelbergse Kategismus 1, 70, 76, en 86, asook die Dordtse Leerreëls 3-4.1.11-13. Wat leer jy oor die werk van die Heilige Gees? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Heidelbergse Kategismus 1, 70, 76, 86

1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

(a) Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3.

70 Vraag: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?

Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).

(a) Heb 12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag 13:1; Eseg 36:25. (b) Joh 1:33; 3:5; 1 Kor 6:11; 12:13; Rom 6:4; Kol 2:12.

76 Vraag: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?

Antwoord: Dit beteken nie slegs om met ‘n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is (c); al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde. Dit wil se dat ons deur een Gees – soos die ledemate van die liggaam deur een siel – ewig lewe en geregeer word (e).

(a) Joh 6:35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54. (b) Joh 6:55, 56. (c) Ef 5:29, 30; 3:16; 1 Kor 6:15; 1 Joh 3:24; 4:13. (d) Kol 3:1; Hand 3:21; 1 Kor 11:26. (e) Joh 6:57; 15:1-6; Ef4:l5, l6.

86 Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?

Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d).

(a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.

Dordtse Leerreëls 3-4.1.11-13

DIE VERDORWENHEID VAN DIE MENS, SY BEKERING TOT GOD EN DIE WYSE WAAROP DIT PLAASVIND

1. Die mens is van die begin af na die beeld van God geskape. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig. Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof. Daarenteen het hy in die plek daarvan oor homself gebring: blindheid, verskriklike duisternis ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel, boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart, sowel as onsuiwerheid van sy hele gesindheid.

11. Verder: wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, dan laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat hulle die dinge van die Gees van God reg verstaan en onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos ‘n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.

12. Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op enige ander wyse in ons gewerk nie, sodat, na die voltooiing van God se werk, dit dan in die mens se mag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is ‘n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werkinge, geïnspireer is, is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.

13. Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle ‘n gerusstelling dat hulle weet en oortuig is dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die werk van die Heilige Gees?

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Welkom, stuur sommer vir my die aangepaste een ook, asb. Laai dit hier af:Eenjaar Bybellees program 2020
  • Elmarie Allies on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Goeiemore Ons wil graag die Bybel in 1 jaar deurlees. Ek kry dit slegs op pdf. Kan dit asb vir my in wordformaat stuur sodat ek die datums kan aanpas asb. Ons is 'n nuutgestigte gebedsgroep. Baie dankie
  • Chris van Wyk on SpreukeHi Retha, ek kan jou nie self terugsit nie. Jy kan dit hier doen: https://wordpress.com/reader/subscriptions. Kies Bybelskool.com daar.
  • Retha Roux on SpreukeSal graag weer gereeld die Bybelstudie per epos wil ontvang. Groot asseblief. retharoux@telkomsa.net My epos het op stadium probleme gegee en ek kon niks ontvang nie, masr is nou weer herstel. Baie dankie. Retha Roux
  • Chris van Wyk on Psalm 6Hi Japie, uit die konteks van vers 8-9, en 11 in die Psalm lyk dit asof Dawid verwys na verlossing van vyande wat met Absalom se opstand of Saul se vervolging te make kan hê.
  • Japie Martin on Psalm 6Hi Ds Chris: is daar meer inligting rondom vers 10 van die Psalm
  • Chris van Wyk on Genesis – Die oorsprong van alle dingeHi, ek verkies om met die skriftelike bronne te werk wat die geskiedenis beskryf. Die skriftelike bronne van die Sumeriërs beskryf die geskiedenis tot so 3 000 jaar v.C. Die skriftlike bronne van die Jode, dit wat ons as die OT ken, bevat geslagsregisters, wette en verhale wat die vroeëre geskiedeni…
  • Louis Scheun on Genesis – Die oorsprong van alle dingeEk het sopas aangesluit. Wat my nog altyd pla is dat daar byvoorbeeld van inwoners in die Amerikas 10.000 of 20.000 daar aangekom het. Hoe sinkroniseer ons dit met die Bybelse tyd. Baie dankie. Louis Scheun.
  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏