Skip to main content

Wat is gebed? – Die belydenisskrifte

1. Lees die Nederlandse Geloofsbelydenis 26 en die Heidelbergse Kategismus 116-118. Wat leer jy oor gebed? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Nederlandse Geloofsbelydenis 26

CHRISTUS ONS VOORSPRAAK

Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die

Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons ‘n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie, Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van ‘n mens en van ‘n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Filp. 2:6-7 en Heb. 2:17). As ons dus moes soek na ‘n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom. 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt. 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit uit hulle geskrifte blyk.

Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel – wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem – dat Jesus Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen.

Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2:17-18). En om ons nog meer moed te gee om na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: ‘Terwyl ons dan `n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word’ (Heb. 4:14-16). Dieselfde apostel sê: ‘Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus … laat ons toetree met `n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid…’ (Heb. 10:19, 22). En voorts: ‘maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree’ (Heb. 7:24-25). Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie’ (Joh. 14:6)?

Waarom sou ons ‘n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om ‘n ander een te neem of liewer ‘n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh. 16:23).

1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:26; Deut. 4:24; Gen. 3:10; Eks. 20:19; Jer 2:33; Jes. 43:22; Hos. 13:9; Luk. 18:19; Ef. 3:20; 1 Joh. 4:10; Ef. 3:19; Filp. 2:7; Joh 15:13; Matt. 28; Heb. 1:3, 7; Jes. 55:1-3; Matt. 11:28; Jak. 5:17; Ps. 115:1; Hand. 14:15; 10:26; Heb. 9:24; Joh. 11:9; Hand. 4:12; 1 Kor. 1:30; Ps. 34:7; Jer 2:5; Heb. 4:14, 16; Jer. 17:5, 7; Heb. 2:17-18; 4:14-16; Ef. 2:18; Heb. 10:19; 7:25; Joh. 14:6; Ps. 44:(21) 6; 1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:34; Luk. 11:2; Joh. 14:13; Jer. 16:20; Heb. 13:15; Rom. 5:8.

Heidelbergse Kategismus 116-118

116 Vraag: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?

Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (a): En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank (b).

(a) Ps 50:14. (b) Matt 7:7; Luk 11:9, 13; 1 Tess 5:17.

117 Vraag: Hoe moet ‘n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?

Antwoord: Ten eerste moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het (a), van harte aanroep (b) vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid (c). Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg en grondig ken (d) sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig (e). Ten derde het ons hierdie vaste grond (f) dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor (g) soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het (h).

(a) Op 19:10; Joh 4:22-24. (b) Rom 8:26; 1 Joh 5:14; Jak 1:5. (c) Joh 4:24; Ps 145:18. (d) 2 Kron 20:12. (e) Ps 2:11; 34:19; Jes 66:2. (f) Rom 10:14; Jak 1:6. (g) Joh 14:13;16:23; Dan 9:18. (h) Matt 7:8; Ps 27:8.

118 Vraag: Wat het God ons beveel om van Hom te bid?

Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat het, in die gebed wat Hy self aan ons geleer het (a).

(a) Jak 1:17; Matt 6:33.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor gebed.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.