Skip to main content

Hoe “praat” die Heilige Gees?

Nou hoe kom ons hierdie werk van die Gees agter? Hoe onderrig Hy ons? Hoe herinner Hy ons?

Ek gaan ook twee aspekte daarvan uitwys. Die Heilige Gees “praat” deur die Woord. En die Heilige Gees “praat” in ons hart.

Die Heilige Gees “praat” deur die Woord

Dit is duidelik uit die Skrif dat dit die Skrif self is wat die primêre manier is waardeur die Heilige Gees “praat”, waardeur Hy ons onderrig, en waaraan Hy ons herinner. Die Heilige Gees se woorde kom van buite af, van die eksterne woorde van die Skrif self.

Dit is immers hoe die Skrif tot stand gekom het. Wanneer Petrus in sy tweede brief terugdink aan die wyse waarop die profete in die Ou Testament geskryf het, verbind Hy dit aan die werk van die Heilige Gees:

Meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.” (2 Pet 1:21 – BDV).

Die Heilige Gees is dus die Een wat die skrywers meegevoer het in die skrifstelling van God se Woord. Dit legitimeer daarmee vir ons die hele Ou Testament as die Woord van God.

Daarom is dit dan ook die primêre manier waardeur die Heilige Gees met ons “praat”. Dieselfde Woord wat Hy deur die Bybelskrywers tot stand laat bring het, is ook die Woord wat Hy gebruik om met ons te “praat”.

Paulus sê van die Skrif:

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam sodat die mens wat aan God behoort bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.” (2 Tim 3:16-17 – BDV).

Dit is die woorde wat die Heilige Gees gebruik om met ons te “praat”.  En Hy gebruik dit om ons te onderrig, om verkeerde gedagtes, gesindhede en gedrag te weerlê, om ons tereg te wys, om ons op te voed om God se wil te gehoorsaam, sodat ons in God se diens kan staan en kan doen wat Hy wil.

Paulus praat in die brief aan Timoteus natuurlik van die Ou Testament soos dit deur die vroeë kerk gebruik is. Die Nuwe Testament was nog in wording. Maar dieselfde geld ook van die Nuwe Testament.

Trouens, Paulus se briewe sou die begin wees van die groeiende korpus materiaal wat in die Nuwe Testament ingesluit sou word. Van die begin af was sy briewe gereken as van dieselfde kanoniese status as dié van die Ou Testament, soos Petrus bevestig (2 Pet 3:15-16). Mettertyd is dieselfde status aan die evangelies en ander boeke van die Nuwe Testament toegeskryf.

En dit is hierdie Skrif, God se Woord in mensetaal, wat die Heilige Gees as openbaring van God aan ons deurgee. Waardeur Hy met ons praat.

Die Gees “praat” in ons hart

Dit is egter ook duidelik uit die Skrif dat die eksterne woorde wat deur die Skrif na ons toe kom, in ons harte moet grondvat, moet binnedring, sodat dit vrug kan dra (soos die gelykenis van die Saaier in Matt 13 dit grafies met die vrugbare grond illustreer). Daar is dus ook ‘n “innerlike getuienis” van die Gees wat die Woord van God vasmaak in ons harte en lewens.

Calvyn verwoord dit só diepsinnig in sy Institusie:

Want soos God alleen in sy Woord ’n bekwame Getuie vir Homself is, sal die Woord geen geloofwaardigheid in die hart van die mens vind voordat dit deur innerlike getuienis van die Gees beseël word nie. Gevolglik moet dieselfde Gees wat deur die mond van die profete gespreek het, noodwendig ons hart binnedring om ons te oortuig dat Hy dit wat God verbied het, getrou aan ons oorgedra het.” (Calvyn – Institusie)

En let op dat Calvyn ook spesifiek praat van dié dinge wat God verbied. Dit bly onvervreembaar deel van die werk van die Heilige Gees in ons harte dat Hy deur ons die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig. Dat Hy ons teregwys en opvoed. Dat Hy ons onderrig en herinner aan alles wat Hy reeds aan ons openbaar het in die Skrif.

Dit sien ons oorvloedig geïllustreer in die lewe van Jesus. Hy kon die duiwel telkens antwoord vanuit sy herinnering aan die Skrif, spesifiek uit die wet, soos die Gees dit deur Moses en ander skrywers neergepen is. Gaan lees sy aanhalings in antwoord aan die duiwel wat kom uit Deuteronomium 8:3, 6:16 en 6:13.

Jesus volg hier die voorskrif van die Ou Testament na, soos die Psalmis sê: “Ek het u woord in my hart gebêre.” (Ps 119:11). Daarom kon Hy in die uur van sy grootste versoeking die aanslag op Hom deur die woorde van die Skrif die hoof bied.

Ook Paulus eggo dit en raai ons aan:

Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” (Kol 3:16).

Soos John Piper dit stel:

The words of Christ are the raw material that the Holy Spirit works with as he teaches us what to say.” (John Piper)

Daarom kan Jesus ons aanraai om die Heilige Gees te vertrou in enige situasie waar ons van Hom getuienis moet aflê. Die Heilige Gees sal die woorde in ons inspireer soos Hy die woorde van Jesus en die Skrif aktief sal maak in ons getuienis:

En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees.” (Mark 13:11; Matt 10:19-20).

Dit is daarom ook iets wat nie lank voor die tyd gebeur nie, maar in die uur waar dié getuienis nodig is:

Want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.” (Luk 12:12).

Dit beteken nie dat daar nie voorbereiding is nie, maar die voorbereiding is gefokus op die internalisering van alles wat Jesus deur die evangelies vir ons gegee het: “As julle in My bly en my woorde in julle“, sal julle baie vrug dra en die voorreg van gebedsverhoring beleef (Joh 15:7).

Ek sluit af.

  • Die Heilige Gees woon in jou.
  • Die Heilige Gees is jou Helper.
  • Die Heilige Gees onderrig en herinner jou.
  • Hy doen dit deur die Skrif.
  • Hy doen dit in jou hart.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.