Skip to main content

Wat is die Drie-eenheid? – Die getuienis van die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die belydenisskrifte hieronder. Wat leer jy van die Drie-eenheid se wese en werke? Hoe laat dit jou voel?

Geloofsbelydenis van Athanasius 1-28

  1. Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou.

  2. As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan.

  3. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer,

  4. sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.

  5. Want die persoon van die Vader is ‘n ander, dié van die Seun is ‘n ander, dié van die Heilige Gees is ‘n ander.

  6. Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid.

  7. Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees.

  8. Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape;

  9. onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees;

  10. die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig.

  11. Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige,

  12. net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike.

  13. Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig;

  14. en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.

  15. So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God;

  16. en tog is daar nie drie gode nie maar een God.

  17. Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here;

  18. en tog is daar nie drie heres nie maar een Here.

  19. Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem,

  20. word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely.

  21. Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;

  22. die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer;

  23. die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit.

  24. So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns nie; een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.

  25. En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of minste nie,

  26. maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk,

  27. sodat in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid geëer moet word.

  28. Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.

Nederlandse Geloofsbelydenis 8-9

Artikel 8

GOD IS EEN IN WESE EN ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE

Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in ‘n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie.

Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.

Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader.

Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.

Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so ‘n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie ‘n eerste of ‘n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.

1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15; Matt. 28:19; 3:16-17; Joh. 1:14; Mig. 5:1.

 Artikel 9

SKRIFGETUIENIS OOR DIE LEER VAN DIE DRIE-EENHEID

Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie.

Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en 27: ‘En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis … En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape’;  Genesis 3:22: ‘Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons’.  Wanneer God sê: Laat Ons  mense maak na ons  beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Weliswaar sê Hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor, wat sê: ‘Dit is my geliefde Seun’ (Matt. 3:17). Die Seun is in die water gesien, en die Heilige Gees het Hom in die vorm van ‘n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: ‘Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees’ (Matt. 28:19). In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: ‘Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word’  (Luk. 1:35); eweneens: ‘Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal’  (2 Kor. 13: 13), en: ‘Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig’  (1 Joh. 5:7-8).

Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.

Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart. Hierdie leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en dergelike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.

Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicéa en Atanasius, en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.

Gen. 5:1. Matt. 3:16; 28:19; Luk. 1:35; Hand. 2:32; 2 Kor. 13:13; 1 Joh. 5:7; Hand. 2:32-33; 1 Pet. 1:2; 1 ]oh. 4:13-14; Gal. 4:6; Ef. 3:14, 16; Tit. 3:4-6; Jud. :20-21; Rom. (6) 8:9; Hand. 10:38; 8:29, 37; Joh. 14:16; 15:26; 1:33; Sp. 25:27.

Heidelbergse Kategismus 25

25 Vraag: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees (a)?

Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het (b) dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.

(a) Deut 6:4; Ef 4:6; Jes 44:6; 45:5; 1 Kor 8:4, 6. (b) Jes 61:1; Luk 4:18; Gen 1:2, 3; Ps 33:6; Jes 48:16; Matt 3:16, 17; 28:19; 1 Joh 5:7; Jes 6:1, 3; Joh 14:26; 15:26; 2 Kor 13:13; Gal 4:6; Ef 2:l8; Tit 3:5, 6.

Westminster Geloofsbelydenis 2.3

In the unity of the Godhead there are three persons, having one substance, power, and eternity: God the Father, God the Son, and God the Holy Spirit.32The Father exists. He is not generated and does not come from any source. The Son is eternally generated from the Father, 33and the Holy Spirit eternally comes from the Father and the Son.34

32. 1 Jn 5.7, Mt 3.16-17, 28.19, 2 Cor 13.14, Eph 2.18.

33. Jn 1.14,18, 17.24, Heb 1.2-6, Col 1.15-17.

34. Jn 15.26, Gal 4.6.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die inhoud van hierdie geloofsbelydenisse jou gee.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda