Skip to main content

Tag: Wie is God?

Watter hoop hou die ewige lewe vir jou in? – Die belydenisskrifte

1. Lees die Apostoliese Geloofsbelydenis 11-12, Geloofsbelydenis van Nicea 11-12, Geloofsbelydenis van Athanasius 41-44, Nederlandse Geloofsbelydenis 37,  Heidelbergse Kategismus 57-58 en Westminster Geloofsbelydenis 32. Wat leer jy oor die hoop van die ewige lewe? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Apostoliese Geloofsbelydenis 11-12

Ek glo aan die opstanding van die vlees en ‘n ewige lewe.

Geloofsbelydenis van Nicea 11-12

Ons verwag die opstanding van die dooies. En die lewe van die toekomstige bedeling.

Geloofsbelydenis van Athanasius 41-44

By sy koms sal alle mense, met hulle liggame, opstaan en van hulle eie werke moet rekenskap gee. En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur. Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.

Nederlandse Geloofsbelydenis 37

DIE LAASTE OORDEEL, DIE OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE

Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het – dié tyd is vir alle skepsels onbekend – en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand. 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tess. 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in ‘n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word (Op. 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg (2 Kor. 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matt. 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt. 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt. 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op. 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as ‘n beloning uit genade sal die Here self hulle so ‘n heerlikheid gee as wat die hart van ‘n mens nooit kon bedink nie.

Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

Matt. 13:23; 25:13; 1 Tess. 5:1-2; Matt. 24:36; Op. 6:11; Hand. 1:11; 2 Pet. 3:10; Matt. 24:30; Op. 21:11; Matt. 25:31; Jud. 1:15; 1 Pet. 4:5; 2 Tim. 4:1; 1 Tess. 4:16; 1 Kor. 15:51; Matt. 11:22; Mark. 12:18; Matt. 23:23; Joh. 5:29; Rom. 2:5; Heb. 6:2; 9:27; Matt. 12:36; 2 Tess. 1:5; (Heb. 10:27); 1 Joh. 4:17; Op. 14:7; Luk. 14:14; 2 Kor. 5:10; Op. 21:8; 22:12; Dan. 7; Matt. 25:41; 2 Pet. 2:9; Jes. 25:8; Matt. 10:32; Op. 21:4; Jes. 66:5; 1 Kor. 2:9.

Heidelbergse Kategismus 57-58

57 Vraag: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou?

Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

(a) Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.

58 Vraag: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit – ‘n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie – om God daarin ewig te prys (b).

(a) 2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9.

Westminster Geloofsbelydenis 32

The Condition of Man after Death and the Resurrection of the Dead

1. After death the bodies of human beings decompose and return to dust,1 but their souls, which do not die or sleep, have an immortal existence and immediately return to God who created them.2 The souls of the righteous are then perfected in holiness and are received into the highest heavens, where they behold the face of God in light and glory and wait for the full redemption of their bodies.3 The souls of the wicked are thrown into hell, where they remain in torment and complete darkness, set apart for the great day of judgment.4 Scripture recognizes only these two places, and no other, for souls separated from their bodies.

1. Gn 3.19, Acts 13.36.

2. Lk 23.43, Eccl 12.7, Phil 1.23, 2 Cor 5.6-8.

3. Heb 12.23, 2 Cor 5.1,6,8, Phil 1.23, Acts 3.21, Eph 4.10, 1 Jn 3.2, Lk 16.23, Rom 8.23; see under figure 2 above, Rv 7.4,15.

4. Lk 16.23-24, Acts 1.25, Jude 6-7, 1 Pt 3.19, 2 Pt 2.9.

2. Those who are alive at the last day will not die but will be changed.5 At that time all the dead will be raised with the very same bodies and no other than the same bodies they had before, although with different characteristics, which will be united again to their souls forever.6

5. 1 Thes 4.17, 1 Cor 15.51-52.

6. Jb 19.26-27, 1 Cor 15.42-44; see preceding context.

3. By the power of Christ the bodies of the unjust shall be raised to dishonor, but by his Spirit the bodies of the just will be raised to honor and be made according to the pattern of his own glorious body.7

7. Acts 24.15, Jn 5.28-29, 1 Cor 15.42, Phil 3.21.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die hoop van die ewige lewe.

Watter hoop hou die ewige lewe vir jou in? – 1 Johannes 2:24-30

Hou vol met dit wat julle van die heel begin af gehoor het. As julle leef volgens dit wat julle van die heel begin af gehoor het, sal julle ook verbonde bly aan die Seun en die Vader. En dít is die belofte wat Hy self aan ons gemaak het: die ewige lewe. Hierdie dinge het ek aan julle geskryf oor die mense wat julle probeer verlei. Julle het immers die Heilige Gees ontvang van Hom wat in ’n hegte verhouding met julle leef; daarom het julle nie behoefte daaraan dat iemand julle onderrig nie. Sy Gees lig julle immers oor alles in, en wat Hý sê, is die waarheid en nie ’n leuen nie. En soos Hy julle geleer het, moet julle ook in ’n hegte verhouding met Hom leef. En nou, kinders, leef in ’n hegte verhouding met Hom sodat, wanneer Hy ook al verskyn, ons die vrymoedigheid kan hê om nie beskaamd te staan by sy koms nie. As julle dan met die wete leef dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat reg leef, deur Hom verwek is. (NLV)

Johannes het die gemeente in hoofstuk een aangespoor om in die lig te lewe soos God in die lig is.  In hoofstuk twee beskryf hy die etiese implikasies hiervan.  Hy beklemtoon dat gelowiges nie moet sondig nie, dat die liefde van Jesus in ons volmaak moet word deur elke medegelowige lief te hê, dat die liefde van God die Vader in ons moet bly eerder as die liefde vir die wêreld, en dat die salwing van die Heilige Gees ons moet help om die antichristelike gees te onderskei. Anders kan dit die gawe van die ewige lewe in die gedrang bring.

Soos Johannes in hoofstuk een oor die valse profete geskryf het wat die menslikheid van Jesus ontken, só skryf hy hier oor die antichriste wat sy Goddelikheid ontken. Dit is mense wat nie aanvaar dat Jesus as mens gebore is nie – die maagdelike geboorte bv ontken – sowel as mense wat nie aanvaar dat Jesus as God uit die dood opgestaan het nie – die opstanding uit die dood ontken.

Daar is twee dinge wat hulle help om vas te staan. Die een is die boodskap wat hulle ontvang het van die apostels. Daarin moet hulle vasstaan en volhard. Die ander is die salwing wat elke gelowige van die Heilige Gees ontvang het. Sy leiding moet hulle koester en volg.

Deur die Woord en Gees te bly erken en volg, kan dié valse profete en antichriste dit nie regkry om gelowiges te mislei nie. Hulle kan ook nie die besef van die ewige lewe van die kinders van God wegneem nie.  Deur die geloof in God se Seun, word hulle deur Homself verseker van die ewige lewe.  Daarin, sê Johannes, moet hulle vasstaan.

1. Die uitdagings van valse profete en antichriste is groot. Die hulpmiddels wat God ons gee is egter groter! Die eerste is die Woord van God, die Bybel. Die Bybel is noodsaaklik en genoegsaam, betroubaar en duidelik. Die Bybel bevestig en begelei my om in alles volgens die wil van God tot sy eer en my saligheid te lewe. Hoe kan jy toelaat dat God jou nog meer bevestig en begelei in dié vertroue?

2. Die tweede hulpmiddel is die Gees van God wat in jou woon. Hy oortuig jou nie net van die ewige lewe nie, maar bly in jou om en begelei jou in alles. Hoe kan jy groei in jou belewenis van die Gees se inwoning en begeleiding?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se betrokkenheid in jou lewe deur die Woord en sy Gees.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 1 Johannes 2 sowel as my bydrae daaroor: 1 Johannes 2:1-27 – Leef met en in God se liefde in hierdie wêreld.

5. Johannes gee ons in hierdie brief nog ‘n hele paar ander perspektiewe op die wonder van die ewige lewe. Jy kan gerus ook hierdie drie verdere gedeeltes lees:

1 Johannes 1:1-4

Die Een wat van die heel begin af bestaan het, is die Een wat ons gehoor en met ons eie oë gesien het. Ons het Hom aandagtig waargeneem, en Hom met ons hande aangeraak. Dit gaan oor die Woord wat lewe gee. Dié lewe het sigbaar verskyn en ons het dit gesien en getuig daarvan en deel dit aan julle mee – dit is die ewige lewe wat by die Vader was, maar nou aan ons bekendgemaak is. Ons deel julle mee wat ons gesien en gehoor het sodat julle ook saam met ons daarin kan deel. Ons het saam deel aan die Vader en die Seun, Jesus Christus. Ons skryf hierdie dinge sodat ons* blydskap tot sy volle verwesenliking kan kom.

1 Johannes 3:13-17

Broers en susters, moet nie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons leef in die wete dat ons reeds uit die dood oorgegaan het in die lewe omdat ons ons broers en susters liefhet. Wie nie liefhet nie, bly eenvoudig in die dood vasgevang. Elkeen wat sy broer of suster haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar deel het aan die ewige lewe nie. Ons het die volmaakte liefde leer ken: dit is dat Christus sy lewe ter wille van ons afgelê het. Só moet ons ook ons lewens prysgee ter wille van ons broers en susters. Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broer of suster sien gebrek ly, maar weier om ’n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon?

1 Johannes 5:10-21

Almal wat glo in die Seun van God, dra dié getuienis in hulle eie hart; wie nie glo nie, het God as ’n leuenaar uitgemaak omdat hulle nie glo in die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het nie. En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ’n hegte verhouding met sy Seun. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie. Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God. Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan. As jy sien dat jou broer of suster aanhou sonde doen – sonde wat nie tot die dood lei nie – moet jy ernstig bid en God sal aan hulle lewe gee. Dit geld vir dié sondes wat nie tot die dood lei nie. Daar is ook sonde wat tot die dood lei; ek sê nie dat jy daarvoor moet bid nie. Elke optrede wat nie reg is nie, is sonde, maar nie elke sonde lei tot die dood nie. Ons leef egter met die wete dat elkeen wat deur God verwek is, nie aanhou sonde doen nie. God bewaar dié een wat uit Hom gebore is en die bose kry nie vatplek aan hom nie. Ons weet dat ons van God afkomstig is en dat die hele wêreld in die mag van die bose vasgevang lê. Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe. Kinders, loop tog wakker vir die afgode!

Watter hoop hou die ewige lewe vir jou in? – 1 Petrus 1:13-16

Sien met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe. Wees gehoorsaam aan God. Moenie weer soos vroeër julle natuurlike neigings die oorhand laat kry nie. Soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel ook heilig wees. Hy het immers self gesê: “Wees heilig, want Ék is heilig!” (NLV)

Petrus roep ons op om helder te dink en gedissiplineerd te lewe. Dit is wat gehoorsaamheid aan God van ons vra. Ons hele persoonlike lewe moet van God se heiligheid getuig, omdat dit is hoe God is. Hy motiveer dit uit Levitikus (11:44-45; 19:2; 20:7) wat beteken dat die morele dele van die wet steeds op ons van toepassing bly.

Dit beteken twee goed. Ons moenie meer leef soos ons natuurlike neigings van vroeër aan ons voorskryf nie. En ons moet met verwagting uitsien na die genade wat ons sal kry wanneer Jesus Christus weer verskyn. Hy sal die stryd in ons finaal tot ‘n einde bring in die openbaring van die ewige lewe.

1. Wat beteken dit vir jou om helder te dink en gedissiplineerd te lewe? Watter natuurlike neigings moet jy voor néé sê om heilig te lewe?

2. Paulus motiveer ons tot heiligheid vanuit die visie op die ewige lewe en die genade wat Jesus vir ons sal bring by sy wederkoms. Hoe help dit jou om getrou en gehoorsaam aan God te bly?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat God jou deur sy genade in staat stel om te volhard in heiligheid.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 1 Petrus 1 sowel as my bydrae daaroor: 1 Petrus 1 – Jubel oor God en leef uit die hoop.

Watter hoop hou die ewige lewe vir jou in? – 1 Tessalonisense 4:13-17

Ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ’n toe koms vooruitsig nie. Want aangesien ons glo dat Jesus gesterf én opgestaan het, moet ons ook glo dat God die dooies wat in Jesus geglo het, saam met Jesus sal terugbring. Wat ons nou vir julle gaan sê, is ’n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ’n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie. Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ’n bevel gee en God se trompet weerklink. Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees. (NLV)

Paulus spoor die Tessalonisense in hierdie hoofstuk aan om hulleself nog meer as tevore aan die Here toe te wy. Die 2 hoofsake waarin hulle dit moet uitleef, is om nie onsedelik te leef nie (4:1-8), en mekaar lief te hê (4:9-12).

Dan brei Paulus uit oor hulle vrae oor die opstanding uit die dood wat Timoteus aan hom oorgedra het.  Dit wil voorkom asof sommige gelowiges depressief geraak het oor die lot van hulle geliefdes na hulle dood.  Dit kan selfs wees dat van dié sterftes weens vervolging was.  Paulus gebruik die werklikheid van die opstanding van Jesus om nie net vir hulle die regte lering oor die opstanding te gee nie, maar hulle ook te troos en met hoop te laat lewe.

In kort, sê Paulus, die ontslapenes is by die Here, en aan die einde van die tyd sal hulle wat dan nog lewe ook by die Here wees. Hy wy nie uit oor die presiese prosesse waardeur dit alles sal gebeur nie, maar troos hulle met die teenwoordigheid van God self. Op ‘n manier is dit die somtotaal van alles in die lewe, om by die Here te wees.

1. Dit tref ‘n mens hoe prakties Paulus kan wees. Geen onsedelikheid nie. Wel oorvloedige liefde. Hy motiveer dit met ‘n visie op die toekoms, die wederkoms en ewige lewe. Hoekom dink jy doen Paulus dit?

2. Hoe help jou eie visie op die wederkoms en die ewige lewe jou om hier toegewyd aan die Here te lewe?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wederkoms van die Here Jesus en die ewige lewe wat ons deel is en sal wees. Wy jou aan die Here toe in alles, veral in jou morele keuses en jou naasteliefde.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van 1 Tessalonisense 4 te lees en my bydrae daaroor: 1 Tessalonisense 4 – Nog meer aan die Here toegewy.

Watter hoop hou die ewige lewe vir jou in? – Johannes 3:14-17; 35-36

Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

Die Vader het die Seun lief en Hy het Hom gesag oor alles gegee. Wie aanhou glo in die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom. (NLV)

Die spilpunt waarom die ewige lewe draai, is die reaksie op Jesus, die een wat uit die hemel kom sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.  Dié wat nie glo nie, bly in die duisternis wat hulle verkies. Dit alles word begrond in die liefde van God, die as of spilpunt waarom alles draai.  God gee sy enigste Seun, doen afstand van sy innige verhouding met Hom, gee Hom oor aan die dood aan ’n kruis oor (“verhoog” Hom aan die kruis), omdat God ’n passie het vir verlorenes. Hy kan dit nie oor sy hart kry dat mense verlore sal gaan nie, en gee liewer sy eie Seun aan verlorenheid oor, sodat Hy die ewige lewe kan gee aan dié wat in Sy Seun glo.

Die metafoor van die koperslang op die paal in die woestyn (Num 21:9) word gebruik om die noodsaak van geloof te illustreer. Net soos die Israeliete gesond geword het van die slanggif as hulle na die koperslang op die paal van Moses kyk, so kry gelowiges die ewige lewe as hulle glo in Jesus as die Seun van die mens.

God is dus nie op die veroordelingspad nie, maar op die liefdespad.  Dat daar dan nog mense is wat verlore gaan, is te wyte aan hulle eie voorliefde vir die duisternis, en hulle weiering om na die lig te kom wat Hy gestuur het.

1. Het jy al op die punt in jou lewe gekom wat jy glo in Jesus as die Here van jou lewe? Indien nie, plaas nou jou vertroue op Hom. Indien wel, loof Hom daarvoor.

2. Hoe laat hierdie gedeelte jou voel oor mense wat verlore gaan? Wat wil die Here vir jou daaroor sê? Wat moet jy doen?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat jy die ewige lewe uit God se hand ontvang het in Jesus. Wy jouself opnuut toe aan die Groot Opdrag om die boodskap van verlossing aan almal te bring wat jou pad kruis.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Johannes 3 en my bydrae daaroor: Johannes 2:23–3:36 – As iemand nie van bo-af gebore word nie.

5. Johannes gee vir ons só ‘n ryk perspektief op die ewige lewe dat jy gerus die res van die verwysings na die ewige lewe in sy evangelie kan nalees. Daar is altesaam dertien!:

Johannes 4:13-14

Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel (’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe).

Johannes 4:35-36

Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly.

Johannes 5:24

Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.

Johannes 5:38-40

julle het nie regtig ’n greep op sy boodskap nie omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie. Julle bestudeer die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe sal kry. Dit is juis daardie Skrifte wat oor My getuig. Julle wil nietemin nie na My toe kom sodat julle die lewe kan ontvang nie.

Johannes 6:26-29

Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, julle soek My op, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?” Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.”

Johannes 6:35-40

Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie. Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan. “Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.”

Johannes 6:47-58

“Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf. Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie. Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.” Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?” Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek. My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom. “Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe. “Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.”

Johannes 10:25-30

Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is. Maar julle glo nie omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My. Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie. Ek en die Vader is één.”

Johannes 12:24-26

Ek verseker julle, as ’n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy ’n groot opbrengs. Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou. Iemand wat in my diens wil staan, moet My aanhou volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand in my diens staan, sal die Vader aan hom eer betoon.

Johannes 12:46-50

“Ek het as lig na die wêreld toe gekom sodat elkeen wat in My glo, nie langer in die duisternis sou bly nie. As iemand dan ook nog na my woorde luister en dit nie gehoorsaam nie, veroordeel Ek hom nie sommer nie, want Ek het nie gekom om die mensdom te veroordeel nie, maar om die mensdom te verlos. Wie My verwerp en nie my woorde aanvaar nie, het reeds homself geoordeel; die boodskap wat Ek uitdra, sal hom op die laaste dag veroordeel. Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat My gestuur het, het aan My ’n opdrag gegee oor wat Ek moet sê en wat Ek sal verkondig. En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe inhou. Dit wat Ek dus sê, verkondig Ek net soos die Vader dit aan My oorgedra het.”

Johannes 17:1-5

Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik. U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen. Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het.

Onlangse kommentaar