Die gelykenis van die onkruid in die land – Matteus 13

Jesus is hier besig om sy derde toespraak in Matteus af te sluit met die koninkryksrede.  Hy gebruik agt gelykenisse om te fokus op die koninkryk en veral op die wyse waarop mense op die evangelie van die koninkryk gaan reageer. 

Twee van dié gelykenisse is baie prominent.  Die gelykenis van die Saaier en die gelykenis van die onkruid tussen die koring

En laasgenoemde gelykenis handel spesifiek oor die vraag na die onderskeid tussen die ware en die valse kerk, soos dit ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis van Guido de Bres, artikel 29, een van ons kerk se geloofsbelydenisse, beskryf word.

Twee vooraf opmerkings oor die gelykenisse van die koninkryk:

1.  Interessant is dat Jesus die twee gelykenisse vir almal vertel, maar net vir die dissipels uitlê.  Van die begin af het Jesus dus gewerk met die idee dat daar ‘n onderskeid sal kom tussen dié wat na Hom luister.  Die boodskap van die koninkryk is immers iets wat almal moet hoor.  Hy roep alle mense deur die evangelie, maar net dié wat tot die ewige lewe uitgekies is, reageer in geloof.  Daarom vertel Hy vir almal die gelykenis, maar verduidelik dit net vir die dissipels.

Lukas sê later in sy beskrywing van Paulus se boodskap oor die koninkryk aan die heidene in Antiogië in Pisidië: “Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.”  (Hand. 13:48).  Dit is hoe die uitverkiesing van God werk.  Almal moet hoor.  Die boodskap is bedoel vir almal.  Maar, net dié wat vir die ewige lewe bestem is, word gelowig, omdat God dit in hulle harte bewerk.  Dat mense dus nie glo nie, is hulle eie skuld.  Dat mense wel glo, is God se werk.

Want dít is presies wat Jesus se bediening bewerk het, en steeds doen, ‘n verdeling tussen dié wat Hom sou volg, sy dissipels, en dié wat Hom sou teenstaan, die teenstanders; tussen dié wat Hy uitgekies het, gehoorsames, en dié wat nie die pad saam met Hom enduit sou loop nie, ongehoorsames.  Hy sê immers later in Matteus as opsomming van die gelykenis van die bruilof: “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.” (Matt. 22:14).

Dit is waarom Jesus nét sy dissipels in die geheimenis van die gelykenisse van die koninkryk inlei.  Hy maak hulle oë oop om die boodskap van die koninkryk te kan verstaan, want dit is noodsaaklik vir hulle verhouding met Hom.  En dit is natuurlik wat ek ook met hierdie preek gaan doen.

2.  Daar is ‘n helder ja vir sy koninkryk by dié wat Hom volg, dié wat Hy uitgekies het om sy dissipels te wees.  Maar, dit is egter nie die geval by dié wat Hom teenstaan nie.  Daar is nie altyd ‘n helder nee by dié wat Hom nie enduit volg nie.  Dit blyk helder uit die gelykenis van die Saaier waar mense in een van vier kategorieë val.

  • Daar sal dié wees wat Jesus ignoreer, soos die saad op die droë grond.  Die ateïste en agnostici, en dié wat deur die afgode van hierdie wêreld verlei word om hulle te dien.  Hulle is die mense wat ‘n helder nee sê vir Jesus.
  • Daar sal dié wees wat Jesus verdra, maar geen diepte in hulle verhouding met Hom sou hê nie, soos die saad op die vlak grond.  Dit is die mense wat selfs lidmaatskap van die kerk het, maar nie regtig meeloop nie en nie die geloofstryd saam met die gelowiges voer nie.  Die kerk is bysaak, net belangrik vir sosiale vertoon.  Hulle sê ja-nee, maar uiteindelik blyk dit meer nee as ja te wees.
  • Daar sal dié wees wat Hom met meer aandag dien, maar nie daarin volhard nie, en nie in alles navolg nie.  Soos die saad verstrik is deur die onkruid, só sal hulle deur die verleiding van die wêreld en die bekommernisse en uitdagings, afvallig raak en Hom net halfhartig dien.  Dit is mense wat lidmate is, maar ‘n eie godsdiens ontwikkel, waarin hulle bepaal wat belangrik is en wat nie; die Here en sy Woord gee nie die finale deurslag nie.  Hulle ja en nee is soms amper ononderskeibaar; soms dink jy hulle sê eintlik nee soos die ateïste, en dan weer ja soos die dissipels; ‘n uiters ongemaklike situasie vir die kerk in die breë.

Hoe onderskei ‘n mens dus tussen dié geloofsgemeenskappe wat met die waarheid besig is en dié wat van die waarheid afwyk, die valse kerk? 

Nie só maklik nie, wil dit voorkom uit die gelykenis van die Saaier!  Daar is die helder ja’s.  Daar is die helder nee’s.  Maar daar is ‘n hele paar ander antwoorde wat ‘n mens onseker laat.  Is dit nou ja?  Of is dit nou nee?

En dit is met die oog op hierdie ongemaklike waarheid, dat daar mense is wat lyk asof hulle ja sê, maar eintlik is dit ‘n nee, dat Jesus die volgende gelykenis vertel, dié van die onkruid tussen die koring, om ons te help om die vraag na die onderskeid tussen die ware en die valse kerk te beantwoord.

Matteus 13:24-30; 36-40

24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’29Nee, sê hy, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.”

36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.

40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.

“Wie ore het, moet luister.”

Die onkruid is sag op die sonde en sag op die wet van God

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring wys vir ons die breë onderskeid tussen die ware en die valse kerk uit. Die valse kerk is sag op sonde en sag op die wet van God. Soos Jesus in die gelykenis sê, die onkruid is: “almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree.

Soos in die gelykenis van die Saaier net daarvoor, is dit dié mense wat nie ongekwalifiseerd já sê vir die evangelie van die koninkryk nie, maar een of ander vorm van nee. Soms ‘n harde nee, soos die saad wat op die droë grond val. Soms ‘n sagte nee, soos die saad wat op die vlak grond val. Soms ‘n dubbelsinnige ja-nee, soos die saad wat verstrik word deur die onkruid.

Maar ons moet dit goed hoor.  Dit lê nie net in die persoonlike sonde wat mense pleeg nie, ook in die sonde om ander nie te waarsku as hulle in sonde val nie.  Jesus sê dat die onkruid mense is wat  “ander mense in sonde laat val”, hetsy deur verleiding óf deurdat ‘n mens doodgewoon niks doen om hulle te waarsku van die sonde nie.  Die ware kerk het die onvervreembare verpligting om enige afwyking van God se Woord uit te wys en gelowiges te help om daaraan gehoorsaam te wees.

Die ware en die valse kerk

Dit is geen wonder dat toe Guido de Bres in sy Nederlandse Geloofsbelydenis moes nadink oor die kenmerke van die ware en die valse kerk, dit juis Matteus 13 en hierdie gelykenisse oor die koninkryk is wat hom te binne geskiet het nie.  En nie maar net een teks daaruit nie.  Die hele Matteus 13.  Dit staan ook eerste in die lys van Skrifverwysings, saam met nog 26 ander gedeeltes.

Hoekom?  Want, Matteus 13, en spesifiek die gelykenis van die onkruid tussen die koring, wys vir ons onomwonde die onderskeid tussen die ware en die valse kerk uit.  Die valse kerk is sag op sonde en sag op nakoming van die wet van God.  Die ware kerk is dié wat die sonde ontvlug en kruisig in hulle lewens en wat die wet van God nakom soos wat die Woord ons leer.

Jesus trek hierdie onderskeid, sodat ons aan die een kant kan seker maak dat ons Hom navolg en in alles na Hom luister, maar aan die ander kant ook met onderskeiding die breër patrone in die geloofsgemeenskappe wêreldwyd kan raaksien en die ware kerk van die valse kerk kan onderskei. 

Daardeur kan ons seker maak dat ons in die waarheid wandel, en die valsheid vermy.  En kan ons as ‘n geloofsgemeenskap ook die waarheid kies bó die valsheid.

Luister na wat Guido de Bres skryf hieroor:

Nederlandse Geloofsbelydenis 29: Die Kenmerke Van Die Ware En Die Valse Kerk

“Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien.”

Soos hy reeds in die eerste sewe artikels van die NGB geskryf het en die absolute prioriteit van die Woord in leer en lewe uitgelig het, só doen hy dit hier ook in terme van die onderskeid tussen dié kerk wat die waarheid dien, en dié wat dit nie doen nie.  Dit gaan alles oor die Woord van God.  Die ware kerk fokus volledig op die Woord.  Die valse kerk nie.

Dit is ‘n groot probleem om tussen die koring en die onkruid te onderskei

Guido de Bres gaan verder en wys dat hierdie onderskeid net oor die breër patrone kan gaan, want dit is op ‘n individuele vlak baie moeilik om ‘n ware volgeling van ‘n valse volgeling te onderskei, soos dit in hierdie gelykenis van die onkruid beskryf word.  Hy sê:

“Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is.”

Guido lê dus absoluut getrou hierdie gelykenis uit. 

Ons moet rekening hou met die feit dat daar, soos in die gelykenis, nie net ‘n man wat goeie saad saai op die land nie.  Daar is ook ‘n vyand, die een wat onkruid tussen die koring saai.

Maar Guido erken dat dit ‘n groot probleem is om die koring van die onkruid te onderskei op die vlak van die individu, want die tipe onkruid waarvan hier in die gelykenis gepraat word (In Grieks: zizanion – in Engels darnel, in Afrikaans waarskynlik drabok), het baie soos koring gelyk, totdat die koring uiteindelik are geskiet het, gereed vir die oes.

Moenie te vinnig oor individue oordeel nie

Dit is waarom die Here deur die gelykenis gewaarsku het teen voortydige pogings om die koring van die onkruid te onderskei, want ons kan moontlik foute maak in ons beoordeling op ‘n individuele vlak.  Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat hulle só eenders gelyk het, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe.  Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en verbrand word.  Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.

Met hierdie gelykenis help Jesus ons dus om die gemengde werklikheid van gelowiges en ongelowiges wat langs mekaar bestaan, te verstaan.  Hy help ons om die inherente konflik tussen die onkruid en die koring in terme van waardestelsels en geloof eenvoudig op ‘n individuele vlak te verduur, totdat geregtigheid uiteindelik seëvier.

Ons mag ‘n onderskeid maak op gemeente- en kerklike vlak

Maar, sê Guido de Bres in die NGB, dit beteken nie dat ons nie ‘n onderskeid op gemeente en kerklike vlak kan en moet maak nie.  Sê Guido de Bres:

“Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.”

Dit beteken dat ons nie die verantwoordelikheid kan ontduik om geloofsgemeenskappe en kerke te meet aan die kenmerke van die ware kerk nie.

Die belangrikste kenmerk van die ware kerk is, soos dit ook in die gelykenis aangeroer word, dat die ware kerk in alles volgens die leer van die Woord leef: “wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.”  Dit sluit die prediking, die sakramente en die tug in. 

Die Woord van God alleen dra gesag in die ware kerk, “die wet van God”, soos dit in die gelykenis genoem word.  Alle leringe en lewenswyses wat daarmee in stryd is, moet deur ons verwerp word, anders loop ons self die gevaar om as ‘n valse kerk gebrandmerk te word.

Dit het ‘n persoonlike impak op ons eie lewe

Soos Guido de Bres sê:

“Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.”

Hiermee spel Guido die normale leer en lewe van ‘n ware gelowige uit.  Dit is iemand wat glo in die enigste Verlosser, Jesus Christus, wat Hom aangeneem het, en wat daarna alles in sy of haar vermoë doen om vyf goed te doen:

  1. Om die sonde te ontvlug soos die Woord dit vir ons leer;
  2. Om die geregtigheid na te jaag, dit wil sê om in die regte verhouding met God en ons naaste te leef;
  3. Om die ware God en ons naaste lief te hê, die dubbele liefdesgebod na te kom;
  4. Om nie na links of links af te wyk van wat die Woord ons leer nie;
  5. Om die sondige natuur met sy werke te kruisig, soos talle Skrifgedeeltes vir ons leer (Rom. 6-8; Gal. 5-6; 1 Kor. 5-7; 2 Kor. 7; 10; Ef. 2; 5-6; Kol. 2-3; 1 Pet. 4; 2 Pet. 2; 1 Joh. 2).

Daar is uiteraard meer wat ‘n mens kan sê oor die lewe saam met die Here Jesus, nadat ‘n mens Hom as jou Verlosser aangeneem het, maar dit sal altyd hierdie vyf dinge insluit – om die sonde te ontvlug, en ons sondige natuur te kruisig soos die Gees ons lei, en om in geregtigheid, liefde en gehoorsaamheid te lewe. 

Dit het egter ook ‘n openbare impak op ons kerk se leer en lewe

Soos Guido de Bres sê:

“Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.  Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20;1 Joh. 4:2; Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.”

Let op dat die valse kerk: “aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God.” Dit kan eintlik nie helderder gestel word nie.  Geen besluit van watter kerk ook al kan bó die Woord van God gehoorsaam word nie.

Die valse kerk is een wat sy eie besluite belangriker ag as die Woord van God, en wat boonop “weg neem en byvoeg na eie goeddunke,” en dié vervolg “wat volgens die Woord van God heilig lewe.”

Paulus sê hieroor in sy eerste brief aan Timoteus:

1Die Heilige Gees leer ons duidelik dat in die laaste tye sommige mense sal wegdraai van wat ons glo; hulle sal leuengeeste volg en leerstellings wat van bose geeste af kom. 2Hierdie dwaalleraars is skynheiliges en leuenaars. Hulle gee voor om godsdienstig te wees, maar hulle gewete is dood (1 Tim. 4:1-2).

Paulus is dus duidelik daaroor dat daar mense onder ons sal wees, deel van die kerk, wat skynheiliges en leuenaars sal wees, dwaalleraars, met leerstellings wat nie van die Woord af kom nie, maar van bose geeste.

Wat is die onderskeid tussen die ware en valse kerk?

Dit is ‘n kerk wie se lidmate nie links of regs afwyk van wat in die Woord van God staan nie.  Wat die Here Jesus gehoorsaam en deur die Gees die sondige praktyke van die sondige natuur bestry en doodmaak.  Wat in liefde, geregtigheid en gehoorsaamheid lewe.

Ek sluit af met Paulus se gesagvolle woorde aan die gemeente in Efese:

17Daarom sê ek met God se gesag: Moenie langer soos nie-Christene lewe nie. Wat hulle uitdink, is niksseggend; 18hulle verstand is verduister. Omdat hulle onkundig is en onwillig is om tot bekering te kom, ken hulle nie die lewe wat God gee nie. 19Omdat hulle nie omgee vir wat reg of verkeerd is nie, gee hulle hulleself oor aan losbandigheid, en beoefen so gretiglik elke vorm van onreinheid.  20Maar dis nie hoe julle Christus leer ken het nie! 21Julle het tog van Hom gehoor. Julle het tog aangaande Hom onderrig ontvang volgens die waarheid wat daar by Jesus is. Julle het tog in julle eenheidsband met Jesus die waarheid geleer. 22Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. 23Julle gees en gedagtes moet nuut word; 24lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Ef. 4:17-24).

View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (5)

  • Francois Conradie

    Dr van Wyk, hierdie vraag is ‘n bietjie uit pas uit met die jaarprogram.
    Vraag: Hoe is die boodskap van die boek Joël van toepassing vir ons as Nuwe Testamentiese Christene? Noudat vir ons sondes aan die kruis betaal is, is God se bedoeling nog steeds dat daar inkeer en omkeer van ons lewens moet wees voordat God sal help? Moet die verhoudings wat tussen ons en God en ons en ander mense verbreek is eers herstel word voordat God sal help? ( Ek verstaan dat God soewerein is en enige tyd kan help).
    As mens bogenoemde manier van verstaan deur trek na die huidige omstandighede in Suid Afrika, kan mens die afleiding maak dat ons as die volgeling van Jesus Christus ons voortgaande (nuwe onbelyde) sondes weer moet erken, bely en ons gedrag verander (omkeer) en voluit met dankbaarheid leef, voordat God die omstandighede in Suid Afrika sal verander?

    • Hi Francois

      Die sentrale tema in die boek van Joël is die koms van die “dag van die Here”. Dit het na my mening drie toepassings.

      1. Die eerste toepassing is op die Joodse volk. Die Here roep die Joodse volk op tot bekering deur die boodskap van oordeel wat in die “dag van die Here” opgesluit lê (1:1-20). Hy belowe medelye en voorspoed vir dié wat na Hom toe terugkeer (2:1-32). Vir dié wat egter nie luister nie, wag daar verwoesting, die verwoesting van die ballingskap.

      Dit is dan ook wat gebeur het met die volk van Juda. Hulle het nie geluister nie, en God het hulle gestraf. Hulle land is verwoes deur vier verwoestende sprinkaanplae (1:4-7) en die volk is in ballingskap weggevoer.

      Joël het egter ook gepraat van ‘n herstel van die volk (2:21-27), ‘n verandering van hulle lot (3:1-3), en oorvloed in die teenwoordigheid van die Here (3:18-21). Dit het ook waar geword met die terugkeer uit ballingskap.

      2. Die tweede toepassing is op alle mense. Die boodskap van die “dag van die Here” word in die NT na alle mense uitgebrei. Dit neem sy aanvang reeds met die koms van Jesus en sy kruisdood en opstanding (Joël 2:28-32; Matt 27:45-66), sowel as met die uitstorting van die Heilige Gees (Joël 2:28-32; Hand 2:14-36).

      Die Here roep deur hierdie boodskap almal op om tot inkeer te kom, soos Petrus dit eksplisiet uitspel in die tweede deel van sy toespraak op Pinksterdag (Hand 2:37-47). Dié wat gehoorsaam, ontvang vergifnis en die belofte van die Heilige Gees. Dié wat ongehoorsaam is, bly onder die toorn en straf van die Here.

      Dit is dus die hoofboodskap wat die boek van Joël nie net vir Christene het nie, maar vir alle mense. Bekeer julle, laat julle gedoop word tot vergifnis van sonde, en ontvang die Heilige Gees as gawe van God die Vader. Anders bly julle onder die oordeel van God.

      Die geestelike betekenis van hierdie boodskap oorheers dus in die NT, hoewel die “dag van die Here” vir seker ook politieke, ekonomiese en selfs ekologiese implikasies vir mensegroepe kan inhou.

      God praat immers nog steeds deur dinge soos oorlog, misoeste en droogte (Matt 24:1-14; Jak 5:17-18; Openb 11:1-14). Waar ‘n volk of land dus tot inkeer kom, sal die beloftes van Joël ook vervul kan word in ‘n lotsverandering en oorvloed in die teenwoordigheid van die Here.

      3. Die derde toepassing is op die kosmos. Die boek van Joël praat ook oor kosmiese veranderinge wat die einde van die tyd sal aankondig (Joël 2:1-11, 28-32; 3:9-17; Matt 24:29-35; Openb 6 – die kosmiese tekens; 9:1-12 – die sprinkane; 14:14-20 – die sekel en die parskuip). Die vervulling daarvan is nog uitstaande, maar net so relevant vir ons om mee rekening te hou vir die toekoms. Dit sal die hele kosmos betrek.

    • Hi Kobie,

      Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele

      Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).

      Nuwe en ou skatte 
      51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).

      Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.

      Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).

      Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.

      Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.

      Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.

      Boodskap en betekenis

      Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.

      Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.

      Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.

      Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.

      Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.

      Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:

      1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
      2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
      3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
      4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
      5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
      6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
      7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
      8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
      9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
      10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
      11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
      12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
      13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
      14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
      15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
      16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
      17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
      18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
      19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d