Skip to main content

Genesis 9 – God sluit ‘n verbond met alle lewende wesens

4782847Genesis 9 sluit die verhaal van Noag af in twee dele: ‘n gesprek van God met Noag (9:1-17) en ‘n gesprek van Noag met sy kinders (9:18-29).

  • In God se gesprek met Noag seën Hy vir hom en sy nageslag en beveel hulle om vrugbaar te wees. Hy belowe ook om nie weer alle lewende wesens deur ‘n wêreldwye vloed uit te wis nie, en gee die reënboog as teken om Homself daaraan te herinner.
  • In Noag se gesprek met sy kinders vervloek hy Gam se seun, Kanaän, tot ‘n slaaf vir sy seksuele oortreding, en seën Sem en Jafet om die opdrag van God om die aarde te bewoon, uit te voer.

Albei gesprekke het verreikende gevolge vir die wêreld sowel as vir die nasies wat uit Noag voortgespruit het.  In hoofstuk 10 sal daar ook ‘n geslagsregister geplaas word wat as getuienis van die verspreiding en ontwikkeling van die nasies na die sondvloed sal dien (vgl. 1 Kron. 1:4-23 waarmee dit ooreenkom).

God se gesprek met Noag – 9:1-17

In twee gesprekstemas word God se nuwe begin met Noag en sy nageslag vasgemaak.

1.  God seën Noag en sy nageslag en beveel hulle om vrugbaar te wees en hulle opdrag om die aarde te bewoon, na te kom. Noag en sy nageslag is die nuwe begin wat God met die aarde maak.

‘n Mens hoor hierin die vorige twee soortgelyke opdragte aan die mens.  Vergelyk die seën in Gen. 1:28; 5:2 en die opdrag om vrugbaar te wees aan die begin in Gen. 1:28 sowel as net na die vloed in Gen. 8:17.

Dit is ontstellend om in vers 2 te lees dat al die diere, selfs die voëls en die visse vir die mens bang sal wees: “en vir julle skrik”.  Dit kan nie weens die vloed wees waarin hulle juis deur die toedoen van Noag gered is.  Dit is dus eerder weens die vyandskap van Gen. 3:15 tussen mens en dier weens die sondeval sowel as die feit dat: “alles wat roer en lewe” kos vir hulle sal wees.

Soos Paulus later sou sê: “Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.” (Rom. 8:19-22).

God laat Noag-hulle nie onbekend met wat sy goedkeuring wegdra in die hantering van vleis nie.  Die regte reinheidsreëls moet nagekom word om die vleis te laat uitbloei, ‘n riglyn wat in Levitikus uitgebrei sal word – die hele Levitikus 17 het ‘n uitgebreide en absolute verbod op die eet van bloed – en wat selfs in die NT nog as riglyn vir die gelowiges uit die heidene gegee is tesame met die verbod op afgodery en losbandigheid (Hand. 15:18-21).

Aan bloedvergieting koppel die Here baie duidelike strawwe.  God sal rekenskap eis van enigiemand wat ‘n ander se lewe neem – ‘n oortreding van die sesde gebod (Eks. 20:13).  Hoekom?  Want:

  1. elke mens is na God se beeld gemaak as sy verteenwoordiger en
  2. God wil hê dat die mens vrugbaar sal wees en baie sal word.

Dit is duidelik dat die Here hiermee kies vir die lewe, en die wraakgedagtes van Lameg uit die nageslag van Kain (Gen. 4:23-24) wil omkeer in ‘n keuse vir vreedsame naasbestaan en vrugbaarheid.  God se doel is dat die aarde deur gehoorsame families bewoon, bewerk en bewaar sal word, soos die profeet Maleagi eeue later nog sou eggo: “Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees.  En waarom een?  Omdat Hy wil hê dat daar ’n nageslag moet wees, wat Hom eer.” (Mal. 2:15).

2.  God belowe om die aarde en sy bewoners nie weer deur ‘n vloed uitwis nie. Om dié punt deeglik te maak, word dit drie keer onderstreep (vers 8-11; 12-16; 17).  Hy sluit ‘n verbond met Noag, sy nageslag en al die lewende wesens op die aarde: “mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie.

God sal sy verbond ook hou met as teken daarvan die reënboog.  Die reënboog is nie net vir ons ‘n herinnering nie, maar veral vir God: “Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle …” Dit is ook ‘n ewige verbond wat nooit verbreek sal word nie.

Daarmee belowe God nie dat daar nie “gewone” oorstromings, soos tsunami’s, sal wees nie, maar geen omvattende verswelging van die aarde nie, soos dit was met die sondvloed.

Noag se gesprek met sy seuns – 9:18-29

Interessant is dat die oorsprong en ontwikkeling van wynbou met Armenië geassossieer word, presies waar die ark op die berg Ararat tot rus gekom het.  Noag geniet egter te veel van die vrug van die wingerdstok en lê dronk en kaal (“ontbloot”) in sy tent.  Sy seun Gam buit die situasie uit en verneder sy pa deur nie net na sy: “naaktheid te kyk” nie, maar ook vir sy broers te gaan vertel.

‘n Mens kan die: “kyk na sy naaktheid” – soos dit letterlik daar staan – as ‘n eufemisme interpreteer vir seksuele gemeenskap soos dit in Levitikus op ‘n paar plekke die geval is.  In Levitikus 18:6, letterlik vertaal, staan daar: “Geen man onder julle mag naby enige bloedverwant kom met die doel om hulle naaktheid te ontbloot nie.  Ek is die Here.” (en nog verskeie kere in vers 7-20).  Dieselfde geld Levitikus 20:17: “As daar ‘n man is wat sy suster … vat, en hy sien haar naaktheid en sy sien sy naaktheid, is dit ‘n skande.

Naaktheid ontbloot” en “naaktheid sien” is daar ‘n algemene eufemistiese verwysing na geslagsgemeenskap.

Dit is dus nie onmoontlik dat Gam probeer het om sy dronk pa seksueel te molesteer nie. Deur sy pa te verkrag, sou Gam as’t ware sy pa se mag as familiehoof van hom kon wegneem deur die vernedering wat hom aangedoen is.  Daar is ‘n Joodse uitleg van dié gedeelte wat dan ook beweer dat Noag nie ‘n vierde seun gehad het nie as gevolg van wat hier byna met hom gebeur het.

Dit is ook merkwaardig dat in Noag se gesprek met sy kinders hierna hy nie vir Gam vervloek nie, maar sy kleinseun Kanaän, wat die nageslag van Gam verdoem tot die status van ‘n slawevolk.  Dit versterk die idee dat hier meer op die spel is as maar net ‘n visuele oorsig van Gam.  Daarmee word die Godsvolk eintlik ook alreeds vroeg gewaarsku om die Kanaäniete se gebruike te vermy as hulle uiteindelik in Israel gevestig sal word, weens die baie seksuele wanpraktyke wat die Baälgodsdiens ingehou het.

Indien dit waar is dat Gam met sy pa geslagsgemeenskap gehad het, word sy saad dus vervloek, weens sy magshonger.  Dit verklaar die absolute venynige vervloeking wat sy pa oor hom uitspreek.

Noag vervloek darem nie net vir Kanaän nie, maar seën Sem en Jafet om die opdrag van God om die aarde te bewoon uit te voer: “Mag God aan Jafet ‘n ruim woonplek gee, mag hy welkom wees in die tente van Sem.” Hy bid hulle dus ‘n geseënde naasbestaan op aarde toe, hoewel Kanaän tot ‘n slawebestaan verdoem word.

Op die rype ouderdom van 950 jaar – 350 jaar ná die vloed – het Noag sy kop neergelê en gesterf.

Die boodskap van Noag in die res van die Bybel

Die redding van Noag in die vloedverhaal word in Jesaja 54:9 gebruik as ‘n bevestiging van God se goeie gesindheid teenoor Israel wat hulle nie langer sal straf nie, maar sy verbond met hulle sal nakom.  Die verhaal van Noag is daarom ‘n voortdurende herinnering aan alle gelowiges van alle tye dat God sy verbond met ons nooit sal verbreek nie, selfs al is iets soos ‘n ballingskap nodig in sy plan met sy mense.

Só het dit ook ‘n neerslag gevind in die NT boodskap.  Die skrywer van die Hebreërbrief beskryf Noag as ‘n held van die geloof: “Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.” (Hebr. 11:7).

Maar juis in die wyse waarop sy redding ook onvermydelik die oordeel van God oor dié wat aan Hom ongehoorsaam was aan die orde gestel het, is dit só noodsaaklik om albei kante van die boodskap van Noag ter harte te neem.  Noag vertel ons van God se verlossende oordeel, soos dit ook in die boodskap van Openbaring na vore tree, die boek wat op die einde nie maar net van die bewoonde aarde, soos in Noag se tyd, dui nie, maar op die einde van die tyd.

Geen wonder dat die opdrag aan die kerk gegee word om beide die verlossing en die oordeel te verkondig, gesimboliseer deur die kleiner boekrolletjie wat Johannes uit die hand van die sterk, enorme en ontsagwekkende engel ontvang.  Lees meer daaroor in my vroeëre bydrae:  Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig.

Die gebeure rondom Noag word daarom as ‘n voorbeeld gebruik in die tweede brief van Petrus as waarskuwing vir die gelowiges om te volhard in gehoorsaamheid: “God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered.” (2 Pet. 2:4-5).

Noag is dus ‘n getroue getuie van die genade wat daar is vir gehoorsames.  Trouens, die doop is ‘n teken en seël daarvan, soos Petrus dit duidelik maak: “Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.” (1 Pet. 3:20-21).

Maar, dit is egter ook duidelik dat God se redding nie onafhanklik kan gebeur van ‘n vaste voorneme om volgens God se wil te lewe nie, soos ons reeds in Esegiël 14:14,10 agterkom dat die Here sy profeet waarsku dat sy eis om gehoorsaamheid absoluut is.  As mense die Here nie wil dien nie, help dit uiteindelik nie eers om vir hulle te bid nie, want selfs: “Noag, Daniël (nie die Bybelse Daniël nie) en Job as hulle daar was, (sou) nie eens ’n enkele seun of dogter kon red nie; hulle sou net hulleself in die lewe kon hou omdat hulle volgens my wil geleef het.

Só waarsku Jesus ook in die NT oor die onbekommerde lewe van mense met sy wederkoms.  “Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens: Hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.” (Luk. 17:25-26; vgl. Matt. 24:37-38).

Die verhaal van Noag teken dus die onafwendbare katastrofe van ongehoorsaamheid.  God haat die sonde.  God sal ongehoorsaamheid straf.  Daar is ‘n oordeel wat kom.  Niemand wat in hulle sonde volhard, sal dit vryspring nie.

Die verhaal van Noag teken egter ook die geweldige gerusstelling, die troos, soos dit opgesluit is in die betekenis van sy naam: “Hierdie seun sal ons opbeur in die harde werk met ons hande en in ons swaarkry op die grond wat deur die Here vervloek is.” (Gen. 5:28).  God sal die aarde nie weer vernietig soos met die sondvloed voor die einde kom nie.  Hy sal die regverdiges, dié wat aan Hom gehoorsaam is, red, soos Hy dit indertyd met Noag en sy nageslag gedoen het.  Met hulle het Hy ‘n nuwe geslag op aarde begin.  Met ons sal Hy die ewigheid van ‘n nuwe hemel en aarde binnegaan.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar