Skip to main content

Die Heilige Gees is ons Helper

Die Heilige Gees woon in ons

Een van die wonderlikste beloftes in die Bybel is dat God in ons kom woon. Dat Hy ons liggaam sy tempel maak. Dat Hy van binne-af ons verlos en heilig, ons begelei en stuur.

Dit is die grootste voorreg wat ons het. Daar is niks wat daarby kom nie. Ons lees daarvan in Jesus se laaste gesprekke met sy dissipels net voordat Hy aan die kruis sou sterf. Die eerste gedeelte is in Johannes 14:15-26:

15 As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. 16 En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees. 17 Hy is die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog ‘n kort tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek leef en julle sal leef. 20 Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader en julle in My en Ek in julle. 21 Wie my opdragte het en dit gehoorsaam, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak … 23As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” (Joh 14:15-23 – BDV).

Neem ‘n oomblik om net dié implikasies hiervan vir jouself te deurdink. As jy die Here Jesus liefhet, as jy sy opdragte gehoorsaam, as jy dit ter harte neem, dan woon God in jou. God is nou in jou. Trouens, God sal ewig by jou wees.

En dan gaan Jesus aan om die inwoning van die Gees nog meer spesifiek uit te spel:

26 Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.” (Joh 14:26 – BDV).

Soos ek sê, dit is die grootste voorreg wat ons het. Daar is niks wat daarby kom nie. Ons moet gereeld daaroor nadink, en die betekenis daarvan vir onsself toeëien.

Wat is die betekenis daarvan vir ons?

Uit hierdie gedeelte staan daar twee goed uit.

Die Heilige Gees is ‘n Helper

Die eerste aspek van die Gees se werk in hierdie gedeelte is dat Hy kom om ons te help. Die Heilige Gees is ‘n Helper. Hy word met die Griekse woord paraklêtos beskryf. Dit is Iemand wat geroep is om bystand te verleen — ‘n voorspraak, ‘n pleitbesorger, ‘n trooster, ‘n helper, ‘n bemoediger, ‘n bemiddelaar.

Dit is die eerste waarheid wat ons van die Gees moet verstaan en van Hom kan verwag. Die Gees is vir ons gegee as ‘n Helper. Soos Eva vir Adam gegee is as helper, só is die Gees vir elkeen wat in Jesus glo as Helper gegee.

Dit is ‘n aspek van die Gees waarop ons kan staatmaak. Sy hulp is ‘n geskenk van God waarop ons kan reken. In enige situasie waar ons bystand nodig het. In konflik. In uitdagings. In hartseer. In moeilikheid.

Die Heilige Gees is ‘n Helper. Hy is ons Helper. Dit is die eerste groot bate van ons verhouding met die Here Jesus.

Die Heilige Gees onderrig en herinner ons

Die tweede aspek van die Gees se werk is dat Hy ons in alles sal onderrig en ons aan alles sal herinner wat Jesus gesê het. Die Gees onderrig en herinner.

Waarin?

Dit hoor ons in die tweede gedeelte in hierdie gesprekke van Jesus, Johannes 16:8-13:

8 En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: 9 “Van sonde, omdat hulle nie in My glo nie;  10 van geregtigheid, omdat Ek na die Vader gaan  en julle My nie meer sal sien nie;  11 van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld  reeds geoordeel is.  12 “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. 13 Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei.” (Joh 16:8-13 – BDV).

Hierdie aspek van die Gees is van sleutel belang om te weet waarmee Hy ons help, waarin Hy ons onderrig en waaraan Hy ons herinner. Natuurlik help Hy ons met die uitdagings wat ons ervaar in ons persoonlike lewe. Natuurlik is Hy daar waar ons vertroosting nodig het.

Maar daar is ‘n groter agenda ter sprake in die Gees se werk in ons. Die Gees lei ons in die volle waarheid, omdat Hy ons wil gebruik in hierdie wêreld om die wêreld te bedien met die waarheid.

Wat ons egter goed moet verstaan van hierdie waarheid is dat dit direk staan teenoor die waarheid van die wêreld, veral in drie dinge. Jesus sê:

Wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.” (Joh 16:8 – BDV).

Die Gees gebruik ons om die wêreld te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Dit is immers die “Heilige” Gees wat in ons werk:

  • Sonde verwys na die breuk wat daar tussen mense en God gekom het deurdat mense nie in God glo nie, leef in hierdie wêreld asof Hy nie bestaan nie, en sy wet oortree. Ons is geneig om oor sonde te dink in terme van foute of gebreke. Om ons doel te mis. Sonde is Bybels-gesproke om God se wet te oortree. Soos dieselfde skrywer Johannes dit in sy eerste brief stel:

4 Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God (“beoefen wetteloosheid” – anomia – ‘n woord wat in die LXX gebruik word vir oortredings van die wet van Moses). Sonde is immers oortreding van die wet van God.” (1 Joh 3:4 – NAV).

  • Geregtigheid verwys na die boodskap van die Here Jesus wat met sy kruisdood versoening bewerk het vir alle sondaars wat hulle toevlug tot God neem. Hy bring ons in die regte verhouding met God deur die prys vir die sonde vir ons te betaal. En dit bring ‘n onderskeid tussen mense. Soos Johannes dit in sy brief skryf en dit boonop koppel aan die liefde, net om dit helder as twee kante van dieselfde munt te beskryf:

Elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.” (1 Joh 3:10 – OAV).

  • Oordeel verwys na die feit dat daar ‘n dag van afrekening kom wanneer God die boeke van ons gewetens (Openb 20:12; NGB 37; vgl 2 Kor 5:10; Matt 12:36) sowel as die boek van die lewe (Fil 4:3; Openb 3:5; 13:8; 17:8; 20:12,15; 21:27; 22:19) – wat ook die boek van die Lam genoem word (Openb 13:8; 21:27) – sal oopmaak en sy regverdige oordeel oor die mensdom sal fel.

Ek weet nie van jou nie, maar dit is nie gedagtes wat ek baie hoor as mense oor die Heilige Gees en sy werk praat nie. Die persoonlike bemoedigende vertroostende kant van die werk van die Heilige Gees oorheers gewoonlik. Hierdie publieke konfronterende kant van sy werk word baie minder beklemtoon.

En ek wonder of dit nie baie keer ‘n rede is waarom ons die werk van die Gees nie agterkom nie. Want ons is nie beskikbaar vir Hom om in gesprek te tree met die mense van hierdie wêreld nie. Ons is nie betrokke by mense om hulle aan die evangelie bloot te stel nie. Gevolglik ervaar ons die Gees nie. Net op tye waar ons nood ervaar en vertroosting nodig het. Want ons is nie op die plekke en besig met die mense waar die Gees se werk nodig is nie.

Oordeel self oor jou eie lewe.

Ek dink een van die redes hoekom ons onbewus lewe van die Gees se werking, is omdat ons ingekoop het by die mantra van ons tyd. Verdraagsaamheid. Jy mag mos niemand meer ontstel nie. Jy mag niemand laat sleg voel nie. Jy mag niemand aanspreek oor ‘n lewe wat nie volgens God se standaarde geleef word nie.

Jy moet mense die reg veroorloof om te dink wat hulle dink, en te doen wat hulle doen, sonder om te veroordeel, sonder om dit aan te spreek, sonder om hulle te ontstig. Só leer die wêreld ons.

Maar, dit is nie wat Jesus hier doen nie. Hy praat van sonde – en dit is die wêreld wat dit moet hoor. Hy praat van geregtigheid – en dit is weereens die mense van hierdie wêreld wat daardie boodskap moet hoor. Hy praat van oordeel – en dit is weereens elke mens op hierdie aarde wat dié boodskap moet hoor.

Trouens, Hy het gesterf vir die sonde, om geregtigheid vir ons te verwerf, sodat ons die oordeel van God kan vryspring. Dit is die hart van die goeie nuus van die evangelie.

En almal moet dit hoor. Dit is waarvoor die Heilige Gees in jou woon. Om in jou kontak met mense in hierdie wêreld hierdie boodskap oor te dra: oor sonde, oor geregtigheid, oor oordeel.

Die Gees is met daardie doel gegee. Jy kom sy werking in jou agter wanneer jy jou beskikbaar stel om oor hierdie dinge te praat, om die Heilige Gees toe te laat om deur jou sy oortuigingswerk te doen.

Hoe dan nou ook anders? God wil mense red van hulle sonde. Hy wil hulle vrymaak deur die geregtigheid van Christus. Sy belofte is immers dat elkeen wat sy Naam aanroep, sal gered word.

God wil mense verlos van die oordeel wat kom. En Hy wil ons daarvoor gebruik. Daarvoor is die Gees vir ons gegee, sodat Hy deur ons mense se lewens kan aanraak. Die lewens van almal op hierdie wêreld is immers op die spel. Die boodskap raak hulle intens! Vir ewig.

Wat ons sal help om die erns hiervan te verstaan, is as ons rekening hou daarmee dat God die alleenreg het om te beoordeel wat sonde is. Dat Hy die Een is wat bepaal hoe ‘n mens verlos kan word van die skuld van die sonde, deur die geregtigheid van die Seun, en dat Hy die alleenreg het om hierdie wêreld te oordeel.

Dit maak eintlik glad nie saak hoe mense oor sonde dink nie, want God is soewerein in sy beoordeling van wat sonde is en wat nie. En dit word helder en duidelik in sy openbaring, die Bybel uitgespel. Hy is ook die enigste wat versoening kan bewerk vir daardie sonde. En sy oordeel sal uiteindelik aan die hele wêreld bekend gemaak word sodat almal dit kan beaam en in eerbetoon voor Hom kan neerkniel.

Paulus skryf hieroor in sy brief aan die Romeine en sê daar is ‘n sug in die skepping, ‘n “vurige verlange”, na die openlike bekendmaking van die kinders van God. Die skepping wil dieselfde vryheid ervaar van verganklikheid wat die kinders van God te beurt sal val (Rom 8:18-30). Ook die Gees sug binne ons dat dié dag sal aanbreek, die dag van die boeke van die gewetens, die dag van die boek van die lewe.

Volgende week praat ons verder …

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!