Wat beteken Jesus Christus se kruisdood vir jou? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Apostoliese Geloofsbelydenis 3-4, die Geloofsbelydenis van Athanasius 37-38, Geloofsbelydenis van Nicea 4, die Nederlandse Geloofsbelydenis 21, sowel as die Heidelbergse Kategismus 37-41, 43-44 en die Dordtse Leerreëls 2.1.1-5. Wat leer jy oor die betekenis van Jesus Christus se kruisdood? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Apostoliese Geloofsbelydenis 3-4

(Ek glo in Jesus Christus) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het.

Geloofsbelydenis van Athanasius 37-38

37. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,

38. wat ter wille van ons saligheid gely het, wat die angste van die hel tot in die dood ondergaan het, op die derde dag uit die dood opgestaan het.

Geloofsbelydenis van Nicea 4

4) Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe.

Nederlandse Geloofsbelydenis 21

DIE VERSOENING DEUR CHRISTUS

Ons glo dat Jesus Christus – kragtens ‘n eed – ‘n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare breed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos ‘n lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is’ (Jes. 53:5, 7, 9); dat Hy as ‘n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps. 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir onregverdiges gely (1 Pet. 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk. 22:44), en Hy het uitgeroep: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat’ (Matt. 27:46).

Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks anders praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor. 2.2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Filp. 3:8); dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie een offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb. 10:14).

Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Matt. 1:21).

Ps. 110:4; Heb. 5:10; Rom. 5:8-9; Kol. 2:14; Heb. 2:9, 17; Rom. 4:25; Joh. 15:13; Hand. 2:24; Joh. 3:16; Rom. 8:32; 1 Tim. 1:15; Jes. 53:5, 7; Heb. 9:14; 1 Pet. 2:24; Matt. 15:28; Joh. 18:38; Ps. 69:5; Eks. 12:6; Ps. 22:16; Dan. 9:26; 1 Kor. 2:2; Rom. 5:6; Filp. 2:8; Heb. 9:12; 1 Pet. 1:18-19; Joh. 10:9; Heb. 9:25-26; 10:14; Joh. 5:10; Matt. 1:21; Hand. 4:12; Luk. 1:31.

Heidelbergse Kategismus 37-41, 43-44

37 Vraag: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?

Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het (a). So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer (b) ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos (c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf (d).

(a) Jes 53:4; 1 Pet 2:24; 3:18; 1 Tim 2:6. (b) Jes 53:10; Ef 5:2; 1 Kor 5:7; 1 Joh 2:2; Rom 3:25; Heb 9:28; 10:14. (c) Gal 3:13; Kol 1:13; Heb 9:12; 1 Pet 1:18, 19. (d) Rom 3:25; 2 Kor 5:21; Joh 3:16; 6:51; Heb 9:15; 10:19.

38 Vraag: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?

Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word (a) en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom (b).

(a) Joh 18:38; Matt 27:24; Luk 23:14, 15; Joh 19:4. (b) Ps 69:5; Jes 53:4, 5; 2 Kor 5:21; Gal 3:13.

39 Vraag: Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op ‘n ander manier gesterf het nie?

Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het (a), omdat die kruisdood deur God vervloek is (b)

(a) Gal 3:13. (b) Deut 21:23.

40 Vraag: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?

Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).

(a) Gen 2:17. (b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15.

41 Vraag: Waarom is Hy begrawe?

Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).

(a) Hand 13:29; Matt 27:59, 60; Luk 23:53; Joh 19:38.

43 Vraag: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?

Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as ‘n dankoffer aan Hom toewy (c).

(a) Rom 6:6. (b) Rom 6:6, 12. (c) Rom 12:1.

44 Vraag: Waarom volg daar: en neergedaal het na die hel?

Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.

(a) Jes 53:5. (b) Ps 18:5, 6; 116:3; Matt 26:38; 27:46 Heb 5:7

Dordtse Leerreëls 2.1.1-5

Hoofstuk 2: DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENSE DEUR SY DOOD

1. God is nie alleen in die hoogste mate barmhartig nie, maar ook in die hoogste mate regverdig. Sy geregtigheid – soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het – eis dat ons sondes, wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie, maar ook met ewige strawwe na siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word.

2. Ons self kan geen voldoening gee om ons van die toorn van God te bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons, of in ons plek, sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen.

3. Hierdie dood van die Seun van God is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.

4. Hierdie dood het daarom so ‘n groot krag en waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen ‘n ware en volkome heilige mens is nie, maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam met die Vader en die Heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So moes ons Verlosser dan ook wees. Boonop het sy dood so ‘n groot krag en waarde, omdat Hy geweet het dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons sondes verdien het, gedra het.

5. Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor Jesus se kruisdood.

View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d