Skip to main content

Salomo se gebed word met God se vuur beseël – 2 Kronieke 6-7

Salomo het so pas die tempel voltooi en God se teenwoordigheid het die tempel gevul (2 Kron 3-5). Hy volg dit op met twee gesprekke. Die eerste gesprek is ‘n toespraak gerig aan die volk (2 Kron 6:1-11). Die ander gesprek is ’n gebed gerig aan die Here (2 Kron 6:12-42). Daarmee plaas Salomo gebed sentraal in die verhouding met God, iets wat selfs vir die vreemdelinge sal geld.

Lees die twee hoofstukke deur in die Bybel en dink eers ná oor wat die Here daardeur vir jou sê. Dan kan jy nadink oor die paar opmerkings oor gebed wat ek hier gee.

Salomo praat met die mense

Dit val op in hoofstuk 6 dat Salomo sê dat God in duisternis wil woon. Daarmee word waarskynlik verwys na die donker wolk wat op die berg Sinaï met God se teenwoordigheid geassosieer is (Eks 20:21) en wat so pas ook in die tempel gesien kon word. In Moses se toespraak aan die einde van sy lewe verwys hy na die wolk van God se teenwoordigheid op Sinaï as ’n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het (Deut 4:11; 5:22). Ook Dawid verwys in ’n loflied oor die oorwinning wat God in nood gee, na God se verskyning as ’n gebeurtenis waaronder daar duisternis onder sy voete is (Ps 18:10 soos ook in 2 Sam 22:10 opgeneem). God se teenwoordigheid het dus ’n misterieuse kant, uitgedruk met die donkerte van ’n wolk, iets heel anders as die duisternis van dié wat God nie wil dien nie, óf die duisternis van die doderyk (Ps 88:13). Vir God is die duisternis natuurlik soos lig (Ps 139:12).

Salomo fokus in die res van sy toespraak op God se beloftes oor Dawid en Jerusalem en die rol wat hy nou daarin speel. Let op dat hy die ark spesifiek die ark van die verbond noem wat die verhouding met God – wat deur die ark gesimboliseer word – sentraal plaas.

Salomo bid tot God

Na dié seën van die gemeente, bid Salomo tot God namens die volk vanaf die groot brons “preekstoel”.

Hy bring God se beloftes in gebed na Hom toe en vra vir die langtermyn bevestiging daarvan. Dié beloftes is nie net dié van die verbondsverhouding met Israel nie, en die troon opeenvolging van Dawid se nageslag nie, maar ook van gebedsverhoring vir twee belangrike sake:

  1. vergifnis met oortredings en
  2. regstelling met verontregting.

Let ook op dat dit gebid word vir die individuele gelowige sowel as vir die geloofsgemeenskap. Maar die kersie op die koek van dié gebed is vir my dat Salomo vir gebedsverhoring ook vra vir die vreemdeling wat bid! Daarmee bely hy dat God die God van almal is wat op aarde woon.

Geen wonder dat Jesus die tempel in die NT skoongemaak het van die handelaars omdat hulle van God se “plek van gebed” ’n handelshuis gemaak het (Mark 11:17: – Jesus haal uit Jes 56:7 aan waar soos volg van die tempel gepraat word: “want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke.”).

Dit beteken ook dat as die kerk in die NT ná Pinkster van die tempel as primêre aanbiddingsplek skuif na die huis van die gelowiges (vgl die beweging in Hand 2 tot 4 van tempel na huis) en daar van gelowiges se liggame as “tempel van die Heilige Gees” gepraat word (1 Kor 6:19), gebed een van die primêre dinge is waardeur ons geestelike lewens gestruktureer moet word.

Dat Salomo dié gebede nie as outomaties verstaan nie, val nogal op, sowel as die feit dat hoewel hy baie maak van die bid “na die tempel toe”, hy vra dat God “uit die hemel sal antwoord”. God werk binne ‘n verhouding en vanuit sy eie domein, nie outomaties en aan óns wil onderworpe nie. Die tempel is daarom net ’n simbool van God se teenwoordigheid. God is oral beskikbaar en teenwoordig.

Hoe mooi sê Salomo nie: “Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge. Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid.” (6:41).

Die betekenis van beide hierdie toespraak aan die volk en die gebed tot God is dat die kern van God se betrokkenheid by mense in gebedsverhoring verwoord word. Dit is nogal paradigma-skuiwend, as ’n mens dít ter harte neem. Dit nooi ons uit om in ‘n ander tipe verhouding met God te staan, nie net vir jouself nie, maar vir die geloofsgemeenskap sowel as vir die wêreldgemeenskap.

Salomo wy die tempel in

Hoofstuk 7 voltooi die verhaal van Salomo se bouwerk aan die tempel met die inwyding daarvan (2 Kron 7:1-11) sowel as ’n tweede verskyning van die Here aan Salomo een nag (2 Kron 7:12-22).

Salomo se toespraak en gebed in die voltooide tempel word opgevolg met ’n wonderwerk van vuur uit die hemel, waarskynlik op dieselfde plek as vroeër toe die Here ook vir Dawid met vuur geantwoord het by die dorsvloer van Arauna, dié plek waarop die tempel gebou is. Die brandoffers word verteer waarna die magtige teenwoordigheid van die Here die tempel gevul het.

Dieselfde refrein as vroeër uit onder andere Ps 136 word weer gesing waar die geloofsgemeenskap voor die Here kniel in die tempel. Met baie offers word die tempel dus ingewy en is daar feesgevier, ’n verdere sewe dae lank. Let op hoe die volk terugkeer na hulle huise: “bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan Dawid, Salomo en sy volk Israel.”

Die Here verskyn aan Salomo

Die God van gebedsverhoring verskyn weer aan Salomo om Sy toewyding aan die plek van die tempel en aan die volk te bevestig: “Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan.”

Terselfdertyd spel die Here sy verwagting van Salomo en die volk uit: “En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom, sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer nie.”

Die gehalte van Salomo en die volk se Godsverhouding sal die gehalte van hulle lewens bepaal.

  • Luister hulle na God om Hom te gehoorsaam, sal daar reën en oeste wees en geen peste nie.
  • Luister hulle nie na Hom nie en dien ander gode, sal daar droogte en hongersnood wees en wag die ballingskap op hulle.

Die tempel sou dus nie as vanselfsprekend vir die volk en die koning voorspoed waarborg nie. God se gawe sou in gehoorsaamheid geniet word. En dit sou die verwagting wees regdeur die Koningstyd, ’n verwagting wat natuurlik teleurgestel is, en eers uiteindelik in die Messiaanse verwagting in Jesus vervul is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.