Skip to main content

Salomo se gebed word met God se vuur beseël – 2 Kronieke 6-7

Salomo het so pas die tempel voltooi en God se teenwoordigheid het die tempel gevul (2 Kron 3-5). Hy volg dit op met twee gesprekke. Die eerste gesprek is ‘n toespraak gerig aan die volk (2 Kron 6:1-11). Die ander gesprek is ’n gebed gerig aan die Here (2 Kron 6:12-42). Daarmee plaas Salomo gebed sentraal in die verhouding met God, iets wat selfs vir die vreemdelinge sal geld.

Lees die twee hoofstukke deur in die Bybel en dink eers ná oor wat die Here daardeur vir jou sê. Dan kan jy nadink oor die paar opmerkings oor gebed wat ek hier gee.

Salomo praat met die mense

Dit val op in hoofstuk 6 dat Salomo sê dat God in duisternis wil woon. Daarmee word waarskynlik verwys na die donker wolk wat op die berg Sinaï met God se teenwoordigheid geassosieer is (Eks 20:21) en wat so pas ook in die tempel gesien kon word. In Moses se toespraak aan die einde van sy lewe verwys hy na die wolk van God se teenwoordigheid op Sinaï as ’n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het (Deut 4:11; 5:22). Ook Dawid verwys in ’n loflied oor die oorwinning wat God in nood gee, na God se verskyning as ’n gebeurtenis waaronder daar duisternis onder sy voete is (Ps 18:10 soos ook in 2 Sam 22:10 opgeneem). God se teenwoordigheid het dus ’n misterieuse kant, uitgedruk met die donkerte van ’n wolk, iets heel anders as die duisternis van dié wat God nie wil dien nie, óf die duisternis van die doderyk (Ps 88:13). Vir God is die duisternis natuurlik soos lig (Ps 139:12).

Salomo fokus in die res van sy toespraak op God se beloftes oor Dawid en Jerusalem en die rol wat hy nou daarin speel. Let op dat hy die ark spesifiek die ark van die verbond noem wat die verhouding met God – wat deur die ark gesimboliseer word – sentraal plaas.

Salomo bid tot God

Na dié seën van die gemeente, bid Salomo tot God namens die volk vanaf die groot brons “preekstoel”.

Hy bring God se beloftes in gebed na Hom toe en vra vir die langtermyn bevestiging daarvan. Dié beloftes is nie net dié van die verbondsverhouding met Israel nie, en die troon opeenvolging van Dawid se nageslag nie, maar ook van gebedsverhoring vir twee belangrike sake:

  1. vergifnis met oortredings en
  2. regstelling met verontregting.

Let ook op dat dit gebid word vir die individuele gelowige sowel as vir die geloofsgemeenskap. Maar die kersie op die koek van dié gebed is vir my dat Salomo vir gebedsverhoring ook vra vir die vreemdeling wat bid! Daarmee bely hy dat God die God van almal is wat op aarde woon.

Geen wonder dat Jesus die tempel in die NT skoongemaak het van die handelaars omdat hulle van God se “plek van gebed” ’n handelshuis gemaak het (Mark 11:17: – Jesus haal uit Jes 56:7 aan waar soos volg van die tempel gepraat word: “want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke.”).

Dit beteken ook dat as die kerk in die NT ná Pinkster van die tempel as primêre aanbiddingsplek skuif na die huis van die gelowiges (vgl die beweging in Hand 2 tot 4 van tempel na huis) en daar van gelowiges se liggame as “tempel van die Heilige Gees” gepraat word (1 Kor 6:19), gebed een van die primêre dinge is waardeur ons geestelike lewens gestruktureer moet word.

Dat Salomo dié gebede nie as outomaties verstaan nie, val nogal op, sowel as die feit dat hoewel hy baie maak van die bid “na die tempel toe”, hy vra dat God “uit die hemel sal antwoord”. God werk binne ‘n verhouding en vanuit sy eie domein, nie outomaties en aan óns wil onderworpe nie. Die tempel is daarom net ’n simbool van God se teenwoordigheid. God is oral beskikbaar en teenwoordig.

Hoe mooi sê Salomo nie: “Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge. Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid.” (6:41).

Die betekenis van beide hierdie toespraak aan die volk en die gebed tot God is dat die kern van God se betrokkenheid by mense in gebedsverhoring verwoord word. Dit is nogal paradigma-skuiwend, as ’n mens dít ter harte neem. Dit nooi ons uit om in ‘n ander tipe verhouding met God te staan, nie net vir jouself nie, maar vir die geloofsgemeenskap sowel as vir die wêreldgemeenskap.

Salomo wy die tempel in

Hoofstuk 7 voltooi die verhaal van Salomo se bouwerk aan die tempel met die inwyding daarvan (2 Kron 7:1-11) sowel as ’n tweede verskyning van die Here aan Salomo een nag (2 Kron 7:12-22).

Salomo se toespraak en gebed in die voltooide tempel word opgevolg met ’n wonderwerk van vuur uit die hemel, waarskynlik op dieselfde plek as vroeër toe die Here ook vir Dawid met vuur geantwoord het by die dorsvloer van Arauna, dié plek waarop die tempel gebou is. Die brandoffers word verteer waarna die magtige teenwoordigheid van die Here die tempel gevul het.

Dieselfde refrein as vroeër uit onder andere Ps 136 word weer gesing waar die geloofsgemeenskap voor die Here kniel in die tempel. Met baie offers word die tempel dus ingewy en is daar feesgevier, ’n verdere sewe dae lank. Let op hoe die volk terugkeer na hulle huise: “bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan Dawid, Salomo en sy volk Israel.”

Die Here verskyn aan Salomo

Die God van gebedsverhoring verskyn weer aan Salomo om Sy toewyding aan die plek van die tempel en aan die volk te bevestig: “Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan.”

Terselfdertyd spel die Here sy verwagting van Salomo en die volk uit: “En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom, sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer nie.”

Die gehalte van Salomo en die volk se Godsverhouding sal die gehalte van hulle lewens bepaal.

  • Luister hulle na God om Hom te gehoorsaam, sal daar reën en oeste wees en geen peste nie.
  • Luister hulle nie na Hom nie en dien ander gode, sal daar droogte en hongersnood wees en wag die ballingskap op hulle.

Die tempel sou dus nie as vanselfsprekend vir die volk en die koning voorspoed waarborg nie. God se gawe sou in gehoorsaamheid geniet word. En dit sou die verwagting wees regdeur die Koningstyd, ’n verwagting wat natuurlik teleurgestel is, en eers uiteindelik in die Messiaanse verwagting in Jesus vervul is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.