Skip to main content

Genesis 8 – Toe het God gedink aan Noag en al die diere in die ark

4782847Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was …”  Dit is die evangelie in dié teks.  Dit hang saam met sy vroeëre besluit om ‘n verbond met Noag  te sluit (Gen. 6:18) wat in die volgende hoofstuk in ‘n omvattende verbond nie net met Noag nie, maar ook met sy nageslag beskryf sal word, trouens met “mens en dier” dat Hy nie weer die vloedwaters sal stuur om die aarde te oorweldig nie waarvan die reënboog die teken sou wees (Gen. 9:8-19).

Die fonteine van die waters onder die aarde word na ongeveer 150 dae van die begin van die sondvloed af toegemaak en die stortreën hou op.  God laat ‘n wind oor die aarde waai en die waters het begin terugtrek.  Vertalers kies om die woord a in vers 1 te vertaal met “wind” wat in die konteks sin maak.  Dit is egter merkwaardig om die soortgelyke situasie in Genesis 1:2 te onthou waar die woord a ook gebruik word, maar met “Gees” van die Here vertaal word, omdat dit in daardie konteks die beste pas.  God is deur “Gees” en “wind” betrokke by die ordening van die skeppingschaos, sowel as by die ordening van die vloedchaos.

Let op die duidelike daterings wat vir die verskillende fases gegee word.  Na nog ‘n 150 dae het die water so gesak dat die ark tot rus gekom het op die Araratberge.  Ararat is die Hebreeus naaam vir die bergreeks Urartu wat in die noorde van Mesopotamië geleë is, in die ooste van Turkye soos ons dit vandag ken.  40 dae later begin Noag met eers ‘n kraai en later ‘n duif wat hy loslaat, toets of dit veilig sou wees om die ark te verlaat.  Uiteindelik kom die duif met ‘n vars olyftakkie in sy bek.  Na nog sewe dae het hulle uiteindelik die ark verlaat in opdrag van die Here.  Hulle was ongeveer ‘n jaar in die ark.

God herhaal dan sy opdrag soos vroeër met die eerste skeppingsverhaal in Genesis 1 dat hulle: “moet wemel op die aarde en vrugbaar wees en baie word op die aarde.

Noag se reaksie is om ‘n altaar vir die Here te bou en van al die rein vee en die rein voëls brandoffers te bring.  Soos met Abel aanvaar die Here dié offer, waarop Hy by Homself gesê het dat Hy nie weer só ‘n ramp op die aarde sal laat kom vanweë die mens nie.  Hy kom tot die insig dat die mens wel “van sy jeug” af net slegte dinge bedink, maar die Here sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Hy in dié geval gedoen het nie.

Noag tree hier as ‘n prototipe van ‘n priester op wat die onderskeid tussen dít wat rein en dít wat onrein is, ken, ‘n brandoffer bring wat versoening kan doen, nie net vir homself en sy familie nie, maar vir die hele mensdom met ‘n effek selfs vir die aarde.  In die feit dat God dié offer aanvaar het, sal almal wat tussen God en mens/aarde gaan staan in ‘n versoenende rol, moed kon skep.

Teenoor die wrede gedig van Lameg, word vir ons interessant genoeg ook ‘n gedig van God opgeteken wat hierdie gedagtes van God in ‘n voorneme verewig:

So lank as die aarde bly bestaan,
sal saaityd en oestyd nie ophou nie,
ook nie koue en winter,
somer en winter,
dag en nag nie.

Daarmee belowe God dat die normale ritmes van die aarde, soos dag en nag, en die seisoene nie sal ophou, ten minste tot aan die einde van die tyd, waarna Hy in die herstelde skepping sonder die effek van die sonde vir ewig met sy mense in gemeenskap kan lewe.

Die hoop vir ‘n nuwe begin brand dus sterk in hierdie hoofstuk, al word dit net hierna weer in die weegskaal gebring met die verhaal van Gam in Genesis 9 …

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar