Skip to main content

Verhale van verlossing en verdoemenis – ‘n perspektief op die nagmaal

Daar is verhale in die Skrif wat relatief helder en duidelik is. Die boodskap is direk. Jy verstaan dit redelik maklik. Die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan. Vir wie is jy ‘n naaste? Dit is die punt van daardie gelykenis. Die gelykenis van die tien ongetroude jongvroue. Vyf was verstandig. Vyf was onverstandig. Net vyf was gereed met hulle lampies vir die bruilof. Dit is die punt van daardie gelykenis. Wees gereed vir die koms van die Bruidegom.

Daar is egter ander verhale in die Skrif wat jou begrip uitdaag. Wat nie so helder en duidelik is nie. Waarvan die boodskap nie so direk is nie. Waarvan jy nie alles verstaan nie. Verhale wat jou verwonderd laat. Soms effe verleë. Want jou begrip skiet so ver tekort.

Soms vorm dié verhale ‘n eenheid, ‘n lyn, ‘n trajek, wat regdeur die Bybel loop. Wat nie net OT en NT aan mekaar bind nie, maar jou aan ‘n werklikheid blootstel wat jou asem wegslaan, wat jou in eerbied en ontsag laat neerkniel voor die God wat ons aanbid.

Een van hierdie trajekte is die aantal verhale wat met die nagmaal verband hou.

Verhale uit die OT

1. Daar is die verhaal van Abram en Melgisedek in Genesis 14. Abram ontmoet vir Melgisedek net ná hy sy broerskind Lot saam met die mense van die stede Sodom en Gomorra bevry het in die oorlog waarin hulle gewikkel was. Melgisedek het “brood en wyn” gebring en vir Abram geseën. Abram het vir hom ‘n tiende van alles gegee.

Nou ons weet nie regtig wie Melgisedek is nie. En ek bedoel “is”, want Melgisedek is onsterflik. Sy orde is nie verganklik nie. Die teks sê dat hy ‘n priester van die Allerhoogste is. En die misterie verdiep as die Hebreërskrywer sê dat Jesus volgens daardie orde vir ons verlos het (Hebr 5-7). Jesus is as God-mens deel van daardie priesterlike orde. Trouens, Hy is die Hoëpriester van die orde van Melgisedek.

Dit is ‘n enigmatiese en misterieuse blik wat ons kry op die ontmoeting tussen hemel en aarde. En dit stimuleer ons verbeelding, maar laat jou uiteindelik met te min feite om die betekenis daarvan volledig te verstaan. Of soos die Hebreërskrywer sê:

“waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor.” (Hebr 5:11)

Maar wat wel uitstaan van hierdie ontmoeting tussen Abram en Melgisedek is die “brood en wyn” wat Melgisedek bring. Soos Jesus dit doen by die instelling van die nagmaal die aand vóór sy kruisdood op Goeie Vrydag.

2. Daar is die verhaal van die Pasga-ete die aand van die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes in Egipte (Eks 12). Terwyl die Here deur Egipte die nag getrek het en die eersgeborenes van Egipte om die lewe gebring het, het die Israeliete veilig die ete van die paaslam en ongesuurde brood geëet. Die bloed aan die deurkosyne het hulle beskerm.

Só het die Here ‘n onderskeid gebring tussen Egiptenare en Israeliete, tussen dié wat Hom teenstaan en dié wat Hom gehoorsaam is, tussen dié wat in gemeenskap met God self is, en dié wat daarbuite is.

Mettertyd het dié maaltyd ontwikkel in een waarin brood en wyn ‘n belangrike rol gespeel het, want saam met die brand- en maaltydoffers van diere is daar telkens ook wyn gebruik (Eks 29:40).

3. Daar is die verhaal van Moses en Aäron wat net na hulle die wet van die Here ontvang het die volk begelei in ‘n plegtige verbond met Hom. As Moses die brandoffer slag dan sprinkel Hy bloed oor die volk met die boodskap:

“Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het.” (Eks 24:8)

Woorde wat Jesus sal herhaal wanneer Hy die nagmaal instel.

Maar dan gebeur daar iets wat uniek in die Skrif is. Die Here nooi Moses en Aäron saam met ‘n sewentigtal oudstes van Israel om op die berg Sinai saam met God te kom eet en drink. Daarna sou die Here die wet vir Moses op die kliptafels gee.

Ons lees:

10Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was ’n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self. 11God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie: hulle het Hom gesien en daarna het hulle geëet en gedrink.” (Eks 24:1-11)

Ons weet nie wat hulle geëet en gedrink het nie, maar daar is duidelik een of ander verband tussen die spys en drank van hierdie ontmoeting met die spys en drank van die ander ontmoetings met die Here.

Ek weet nie van jou nie, maar dié verhale slaan my asem weg.

Twee opmerkings:

1. Die “brood en wyn” of te wel “spys en drank” staan uit as die moment van gemeenskap met God. Die brood en wyn skep gemeenskap. Dit snoer by mekaar.

Abram deel in só ‘n maaltyd. Moses, Aäron en die sewentig deel in só ‘n maaltyd. Israel deel in só ‘n maaltyd. Trouens, die paasmaaltyd is elke jaar herhaal.

2. Dit is egter ook duidelik dat die maaltye in die konteks van vyandskap geskied. Lewe te midde van dood. Daar kom verdeling tussen dié wat die spys en drank geniet en dié wat daarbuite staan.

Ons sien dit by Abram. Hy het Sodom en Gomorra gered uit die hand van hulle vyand. Die vyand is verslaan. Die “brood en wyn” vier die oorwinning. Verbind Abram aan die seën wat Melgisedek uitdeel.

Maar is duidelik iets waaraan die vyande geen deel het nie. Trouens, selfs Sodom en Gomorra word net hierna uitgewis omdat hulle die kans wat hulle gehad het om hulle aan God te verbind, versmaai het (Gen 19).

Ons sien dit met die Eksodus. Israel word uit Egipte gered deur die tragedie van die dood van die eersgeborenes. Met die bloed van die lam aan die deurkosyne. En die ongesuurde brood en later wyn as die spys en drank van die lewe. Lewe te midde van die dood. Verlossing uit die vyandskap. Israel kry die lewe. Egipte die dood.

Dieselfde gebeur op die berg van God. Die bulle word geslag as bloedverbond met God, en Hy reageer deur die leiers te voed met spys en drank. Lewe te midde van die dood. Dié keer nie soseer teen die agtergrond van die vyande daarbuite nie. Maar die vyandskap van die sonde waarvoor die brandoffers versoening bring.

Daar is ander verhale in die OT wat ‘n mens ook kan betrek, maar ek volstaan by hierdie drie. Dit bring ons by die verhale in die NT.

Verhale in die NT

Weereens, daar is talle verhale in die NT wat ‘n mens kan betrek.

1. Die eerste verhaal is dié van Jesus wat van sy liggaam praat as die brood en sy bloed as die drank. Hy sê vir die Jode:

“Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” (vgl die hele Joh 6:22-59).

‘n Mens sien hier die twee gedagtes uit die OT wat saamgevoeg word. Die spys en drank wat Jesus gee, is die gemeenskap met God self. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in Hom. Maar net so duidelik is die feit dat dit lewe te midde van vyandskap is. Die Jode wat sy woorde verwerp en spesifiek hierdie boodskap rondom sy liggaam en bloed.

Aan die een kant is dit duidelik dat Jesus die dood smaak vir dié wat in Hom glo. Aan die ander kant is dit duidelik dat sy liggaam en bloed geen effek het op dié wat nie in Hom wil glo nie. Wat hulle eie kop wil volg. Die spys en drank maak ook die skeiding duideliker.

2. Die tweede verhaal in die NT is van die instelling van die nagmaal waarvan die Sinoptiese evangelies ons vertel (Matteus 26:20-29; Markus 14:17-25; Lukas 22:14-20; vgl Johannes 13:1-30).

14En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. 15En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. 16Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. 17En toe Hy ’n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle. 18Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. 19Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. 20Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. 21Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel. 22Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word! 23Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen. (Lukas 22:14-20)

Ons sien dieselfde twee aspekte in hierdie gedeelte gereflekteer.

Gemeenskap

Jesus haal uit Eksodus 24 aan in die beskrywing van die gemeenskap wat tussen Hom en sy dissipels tot stand kom. Die ete staan uiteraard ook in ‘n direkte verband met die Pasga-ete van Eksodus 12. En die brood en wyn van die instelling van die nagmaal verwys na die “brood en wyn” wat Melgisedek vir Abram gegee het in Genesis 14.

Sy bedoeling met die nagmaal was dat die brood en die wyn ‘n nuwe verbond tussen Hom en sy dissipels sal sluit. ‘n Testament wat hulle en ons as begunstigdes het. Dat elke keer wat ons bymekaar sou kom om sy kruisdood in herinnering te roep, ons die brood en wyn sou eet en drink om ons insluiting in die verbond met God te vier. Dat ons ons status as begunstigdes sou vier.

Die nagmaal bring dus lewe. Dit bring gemeenskap van God. Dit is bedoel om geneem te word, uitgedeel te word, en gemeenskap met God in ons gemeenskap met mekaar moontlik te maak. Dit is die boodskap daarvan vir ons vandag: neem dit en deel dit onder julle …

Vyandskap

Maar, net soseer is die konteks van Judas se vyandskap belangrik om die aspek van lewe in die konteks van dood in herinnering te roep. Want, die Satan het net voor hierdie Pasga-ete in Judas gevaar. Judas het aangebied om Jesus aan die Joodse leiers te verraai.

Dat Jesus vir Judas op verskuilde manier daaroor by die Pasga-nagmaal aanspreek, is betekenisvol, omdat dit iets sê van die feit dat die nagmaal nie net dié samebindende teken van Christelike gemeenskap reg oor die wêreld is nie, maar dat daar ook ‘n skadu-kant aan die nagmaal.

Die nagmaal bring lewe en ‘n gemeenskap met God self. Dit bring ook ‘n oordeel oor diegene wat Jesus verwerp en verraai. Dié wat nie binne sy openbaring wil bly nie, maar hulle eie kop volg in die Christelike lewe.

Judas neem dus deel aan die nagmaal, maar dit keer hom nie om Jesus te verraai nie. Hoe tragies! Soos Jesus sê:

“Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.”

Die nagmaal bring dus lewe. Dit vier jou status as begunstigde. Maar, net soseer is die nagmaal die plek waar Judas se vyandskap na vore kom. Waarin hy homself deur sy verraad as begunstigde van die testament diskwalifiseer.

Want, Judas het in sy teenstand teen die weg van Jesus, sy lojaliteit geskuif na die weg van die Satan. In sy geval doodgewoon omdat hy gierig was. Hy wou meer gehad het. Hy wou nie sy eie behoeftes neerlê en sy kruis opneem om Jesus te volg, kom wat wil, nie.

Korttermyn voordele versus langtermyn voordele

Judas het die korttermyn voordele van sy begeerte aan geld gesoek. Nie die langtermyn voordele van die nalatenskap van Jesus nie. Judas wou nie ‘n begunstigde van Jesus wees nie. Hy wou self bepaal wat na sy kant toe kom.

Jesus is heeltemal bewus van wat aangaan. Hy weet wat God wil doen met sy kruisdood. Hy weet dat die manier is waarop sy testament onderteken gaan word. Geskryf met sy gebreekte liggaam en sy gestorte bloed.

Maar Hy waarsku vir Judas dat sy keuse vir korttermyn voordele Hom op groot skaal gaan benadeel op die langtermyn. “Wee die man deur wie Jesus verraai word!”

Maar Judas kry dit nie reg om sy verraad om te keer nie. Daarmee eet en drink hy ‘n oordeel oor homself, omdat Hy aan Jesus nie gehoorsaam wil lewe nie, maar teen sy wil kies, kies om Hom te verraai.

Die nagmaal bring dus lewe en ‘n gemeenskap met God self. Verlossing. Vir elkeen wat Homself verneder voor God, wat sy behoeftes neerlê, wat kies om God se pad te stap, al bring dit groot koste mee.

Maar terselfdertyd bring die nagmaal egter ook ‘n oordeel oor diegene wat Jesus verwerp en verraai. Verdoemenis. Vir dié wat nie binne sy openbaring wil bly nie, maar hulle eie kop volg in die Christelike lewe.

Dit is dié dat die apostels onder mekaar begin vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen. Want daardie selfondersoek is die ding wat altyd deel van ‘n gepaste deelname aan die nagmaal moet wees. Sonder selfondersoek speel jy met jou lewe. Bring jy God se oordeel oor jou lewe. Stel jy jou status as begunstigde in gevaar.

En dié boodskap word verder gevat deur die NT. Beide die verhale van gemeenskap wat verlossing bring. En die verhale van verdoemenis.

Verhale van verlossing

1. Die verhaal van die eerste gemeente staan in die teken van die lewe wat hulle gemeenskap met mekaar bring, ook in die viering van die nagmaal.

Ons lees in Handelinge 2:41-47 van die ses geestelike gewoontes wat hierdie eerste gemeente se lewenspraktyk gevorm het:die leer van die apostels (didage) wat duidelik die Skrifte ingesluit het, die onderlinge verbondenheid (koinonia), die breek van die brood (eucharistie of nagmaal), gebede, byeenkomste in die tempel en gesamentlike etes.

Die gemeenskap van die gelowiges by die nagmaal het die lewe en verlossing gevier.

2. Dieselfde geld die verhaal van Eutigus. Dit is ook ‘n verhaal van verlossing en lewe. Dit is die verhaal wat ek vir die kinders vertel het. Die boodskap daarvan is dat in die konteks van die viering van die nagmaal selfs ‘n opstanding uit die dood moontlik is (Hand 20:7-12).

Dit is só inspirerend om te lees dat hulle juis vir die viering van die nagmaal by mekaar was. Maar Paulus het ‘n lang asem gehad. Hy preek die hele dag deur tot met middernag. En arme Eutigus val aan die slaap en uiteindelik na sy dood.

Dit breek egter nie eers vir ‘n oomblik Paulus se spoed nie. Hy klim doodgewoon af met die trappe, neem Eutigus in sy arms, druk hom vas, en Eutigus maak sy oë oop uit die dood.

Die wonderwerk van sy opwekking sou hulle nie net herinner het aan Elia en Elisa se soortgelyke handelinge in die OT nie. Maar ook aan die soortgelyke wonderwerke van Jesus, en ‘n keer ook van Petrus.

Maar, die boodskap rondom die nagmaal sou hulle oë ook oopgemaak het vir die betekenis daarvan. Dit is met hierdie gebeure van die lewe uit die dood vars in hulle geheue dat hulle ná middernag die nagmaal gehou het, die fees van die gemeenskap met God, die fees van die lewe.

Verhale van verdoemenis

Die boodskap bly – dié wat die nagmaal gebruik as gemeenskap met die Here Jesus ontvang die ewige lewe en kan uitsien na die bruilofsmaaltyd van die Lam. Vier dit vandag in herinnering aan wat gegee is, en as verwagting op dit wat nog kom.

Dié wat egter verraad pleeg teen die gemeenskap, dié drink en eet ‘n oordeel oor hulleself, soos Paulus en Judas op geen onseker manier vertel nie. Dit is die verhale van verdoemenis waaroor die Bybel ook nie stilbly nie. Ook gekoppel aan die nagmaal.

1. Die eerste verhaal is in die eerste brief van Paulus aan die Korintiërs. Paulus is daar besig om ‘n aantal vrae van die gemeente in Korinte te antwoord. En fokus dan op die nagmaal, omdat daar ongeruimdhede by die nagmaal plaasgevind het (1 Korintiërs 11:17-34).

Ons ken waarskynlik die deel wat Paulus oor die vernederende wyse waarop hulle armes by die nagmaal hanteer is beter. Maar daar is ‘n tweede deel oor die selfondersoek wat die viering van die nagmaal vierkantig in die konteks van die dood plaas.

 “As enigiemand dan op ’n onwaardige manier van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal daardie persoon skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink. Want as julle van die brood eet en uit die beker drink, eet en drink julle ’n oordeel oor julleself as julle nie die nodige respek teenoor Christus se liggaam betoon nie. Dit is waarom daar baie swakkes en siekes onder julle is, en heelwat onder julle reeds oorlede is. As ons onsself egter vooraf ondersoek, sal ons nie onder God se oordeel kom nie. Maar selfs as ons God se oordeel en dissipline moet verduur, sal ons nie saam met die wêreld veroordeel word nie.” (NLV)

Paulus se punt is duidelik. As jy nie selfondersoek doen nie, as jy nie doen wat die Here sê nie, as jy weier om te lewe volgens sy openbaring, dan drink en eet jy letterlik ’n oordeel oor jouself wat ’n fisiese uitwerking op jou kan hê.

’n Mens moet dit nou nie interpreteer asof Paulus sê dat dit net diegene is wat die Nagmaal verkeerd gebruik wat getref sal word deur siekte en sterftes nie. Maar hy wil die Korintiërs bedag maak daarop dat wanneer jy gemeenskap met die sonde het – soos hy in 1 Korintiërs 5-7 uitvoerig uitgebrei het – dat jy versigtig moet wees om aan die nagmaal deel te neem, want dit is gemeenskap met God. Jy moet respek betoon vir Christus se liggaam, dit is Christus se teenwoordigheid in die gelowiges, die gemeenskap wat Hy het met hulle wanneer hulle nagmaal gebruik, anders kan dit jou suur bekom.

2. Die tweede verhaal is in die brief van Judas waar hy die dwaalleraars aanvat oor hulle skelm leringe wat amper ongemerk die geledere van die kerk ingesluip het. Hy verwyt hulle dat hulle op onaanvaarbare wyse God se genade verteken. Hulle verkondig dat God se genade so groot is dat ‘n mens maar losbandig kan lewe.

Judas sê, nee, dit kan tog nie. Sulke mense misbruik die genade van God. Hulle gebruik ‘n verkeerde idee van sy genade as dekmantel om losbandig te lewe. Hulle praat goed wat die Skrif afkeur. Hulle verheerlik wat God as onheilig en onrein afwys.

Maar, dit is al nie. Judas gaan verder en beskryf hoe dit die nagmaal besoedel:

12Hulle besoedel julle liefdesmaaltye met hulle skaamtelose uitspattighede en sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat geen reën bring nie en deur die wind verby gewaai word. Hulle is bome wat selfs laat in die seisoen nog geen vrugte het nie, wat ontwortel en morsdood is. 13Hulle is woeste golwe van die see; hulle laat hulle skande soos skuim opspat. (Judas 12-13).

Hy het sy brief begin met die idee om oor die verlossing met hulle te praat, maar uiteindelik praat hy oor die verdoemenis, só ernstig wat die dwaling. Daar is geen manier wat losbandigheid die goedkeuring van God kan wegdra nie. Maak nie saak op watter manier mense dit goedpraat nie.

Verhaal van die bruilof van die Lam

Ek sluit met ‘n laaste verhaal, dié keer van verlossing.

Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n baie groot skare, soos die gedruis van baie waterstrome en soos die gerammel van swaar donderweer. Hulle het aanhou uitroep: “Halleluja! Die Here heers as koning, ons God, die Almagtige, laat ons juig en jubel en aan Hom eer betoon, want die tyd het aangebreek vir die bruilof van die Lam, en sy bruid het haarself daarop voorberei. Sy is toegelaat om fyn, helder skoon linne aan te trek.” Die fyn linneklere is die regverdige dade van hulle wat aan God toegewy is. Die engel het toe vir my gesê: “Skryf: Geseënd is hulle wat na die bruilofsfees van die Lam uitgenooi is.” Hy sê toe ook aan my: “Die woorde wat van God af kom, is betroubaar.” (Openbaring 19:6-9)

Openbaring 19 vertel vir ons dat ons, die bruid, die kerk, toegelaat word om ons gereed te maak vir die bruilof met wit klere as simbool van die regverdige dade van die heiliges. Dit is waar die geloofsgemeenskap van die kerk met die Here Jesus sy toppunt bereik. Dit sal ‘n fees wees.

Jesus het hierdie bruilofsmaaltyd as die “pasga”, die “nagmaal”, in die koninkryk van God genoem (Luk 22:16). Dit is waarvoor ons die pad van heiligmaking navolg. Fokus op reinheid en heiligheid. Toelaat dat die Here die sondige dinge in ons lewe soos ou klere uittrek, en die toewyding aan God soos nuwe klere aantrek.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar