Skip to main content

Baie is immers geroep, maar min is uitgekies – Matteus 22:1-14

Die gelykenis van die bruilofsfees

(Luk 14:16-24)

1 Jesus het weer met hulle deur gelykenisse gepraat en gesê: 2 “Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilofsfees vir sy seun voorberei het. 3 En hy het sy slawe gestuur om die genooides na die bruilofsfees te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4 Nog ‘n keer het hy ander slawe gestuur met die opdrag, ‘Sê vir die genooides: Kyk, ek het my feesmaal gereed gemaak. My beeste en die vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed — kom na die bruilofsfees!’ 5 Maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en weggegaan, die een na sy stuk grond, die ander na sy besigheid. 6 Die res van hulle het sy slawe gegryp, hulle sleg behandel en doodgemaak. 7 Die koning het kwaad geword; hy het sy soldate gestuur, daardie moordenaars om die lewe gebring en hulle stad afgebrand. 8 Toe sê hy vir sy slawe, ‘Die bruilofsfees is gereed, maar die genooides was dit nie waardig nie. 9 Gaan dan uit na die kruispaaie en nooi soveel mense na die bruilofsfees as wat julle ook al vind.’ 10 Daardie slawe het toe uitgegaan na die paaie en almal bymekaar gemaak wat hulle teengekom het, slegtes én goeies. En die bruilofsaal het vol gaste geword. 11 Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar ‘n man sonder ‘n bruilofskleed aan. 12 En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed?’ Hy was sprakeloos. 13 Toe sê die koning vir die dienaars, ‘Bind sy voete en hande vas en gooi hom uit in die duisternis daarbuite.’ Daar sal ‘n geween en ‘n gekners van tande wees. 14 Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.” (BDV)

Jesus se laaste week

Dit is die laaste week van Jesus se aardse lewe. Hy is besig om voor te berei vir die grootste uitdaging van sy lewe, die kruis en opstanding uit die dood.

Met sy intog in Jerusalem op die Sondag het Hy die ontoereikendheid van die tempel en die kultus gedemonstreer met sy reiniging van die tempel (Matt 21:12-17). Vroeg die volgende môre het Hy die vyeboom langs die pad vervloek, omdat dit nie vrug dra nie – ook simbolies van die afvalligheid van die Joodse leiers (Matt 21:18-22).

Dit was ‘n inleiding tot sy gesprek met die Joodse leiers wat gehandel het oor drie wesenlike sake:

  • Jesus se gesag (Matt 21:23-27);
  • Die noodsaak van gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders se werk in die wingerd (Matt 21:28-32);
  • Die noodsaak van geloof om die koninkryk te beërwe na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (Matt 21:33-46). 

Die gelykenis van die bruilofsfees

Jesus vervolg hierdie gesprek met die Fariseërs met ’n verdere gelykenis oor die reaksie van genooide gaste na ’n bruilofsfees met die implisiete betekenis dat die Fariseërs optree soos die eerste genooides wat die uitnodiging geweier het. Let op dat hierdie eerste genooides alreeds ‘n uitnodiging ontvang het, en nou met die aanbreek van die bruilofsfees weer uitgenooi word.

Hulle weier egter die uitnodiging, sê die gelykenis. Daarmee onderstreep Jesus finaal hulle onbetroubaarheid en verlorenheid.

Die gelykenis van die bruilofsfees wentel om die feit dat die eerste genooides – die Fariseërs – die uitnodiging weier en dat die ander genooides – slegtes en goeies van oral oor – die uitnodiging aangeneem het as gaste by die bruilof.

Die betekenis hiervan lê op verskillende vlakke. Dit verklaar aan die een kant die uitverkiesing in narratiewe vorm. Dit verklaar aan die ander kant ook die Joodse en Christelike geskiedenis wat hom hierna sou voltrek:

1. Die opsommende sin aan die einde verklaar die gelykenis as ’n verklaring van hoe die uitverkiesing werk: “Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.” (Matt 22:14).

Die verkiesing gaan hiervolgens soos om ’n uitnodiging te ontvang na ’n bruilofsfees.  Almal is genooi, ook die Jode.  Herhaaldelik. Dit sluit uiteindelik ook die slegtes en die goeies van oral oor in. Hulle enigste kwalifikasie is dat hulle genooi word.

Maar die werklikheid is: sommige neem die uitnodiging aan; ander weier dit. Sommige van dié wat dit weier, is traak-my-nie-agtig daaroor. Hulle steur hulle nie daaraan nie, weens ekonomiese en sosiale redes. Ander is egter openlik vyandig en maak die boodskappers dood.

Nou is dit belangrik om raak te sien dat die verkiesing in die aanvaarding en weiering van die uitnodiging verwerklik word. Die verkiesing gebeur in die aanvaarding of weiering van die uitnodiging.

Dit is hoe die misterie van die uitverkiesing prakties werk. Die uitverkiesing werk met die ontvanklikheid van die genooides – presies soos die gelykenis van die grond dit uitgespel het – nie daarsonder of ten spyte daarvan nie.

En daarin weet ons speel die Here die primêre rol en die grond die sekondêre rol. Sonder die Here is daar nie ‘n uitverkiesing nie. Sonder die aanvaarding van die uitnodiging, word die uitverkiesing nie ‘n werklikheid nie. Die geheim van die aanvaarding lê beide in God se werk as in die reaksie daarop in geloof.

2. Die gelykenis het effektief die geskiedenis beskryf wat hierna in Jerusalem voltrek sou word.  Jesus is doodgemaak (soos al vier evangelies dit beskryf), soos ook talle van sy dissipels (soos Handelinge dit vir ons beskryf) en die stad Jerusalem is uiteindelik in 70 nC verower en afgebrand.

Die man sonder ‘n bruilofskleed

Maar, daar is ook die vreemde uitsluiting van die man sonder ’n bruilofskleed. Wat beteken dit?

Dit kan miskien verklaar word uit die moontlikheid dat die man nie respek getoon het vir die bruilof deur die regte klere aan te trek nie. Dit hou waarskynlik verband met die soortgelyke verhaal in Openbaring 19:8 waar by die bruilof van die Lam almal blink klere van suiwer, fyn linne  aantrek, en dit as die “regverdige dade van die heiliges” verklaar word.

“7 Laat ons bly wees en jubel,  en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek  en sy bruid het haar gereed gemaak.  8 En sy is toegelaat om blink klere  van suiwer, fyn linne aan te trek. Want dié linne is die regverdige dade van die heiliges.” (Openb 18:7-8).

Die gewoonte van konings om klere aan die gaste te verskaf, word waarskynlik verder veronderstel, omdat al hierdie gaste van die straat af geneem is, en kwalik self die klere kon verskaf het. Die man het die voorsiening egter nie benut nie, en is daarom uitgewerp.

Die man het dus die uitnodiging aanvaar, maar nie op die koning se voorwaardes nie. Hy wou sy eie klere behou, en nie dié wat die koning verskaf het, aantrek nie.

Die gevolgtrekking in terme van die betekenis vir die leer van die uitverkiesing is dat nie almal wat hulle identifiseer met die koninkryk van die hemele inderdaad ware lede is van die koninkryk van die hemele nie. En jy kan dit agterkom uit die bereidheid om volgens die koning se voorskrifte te lewe of nie. Om die “regverdige dade van die heiliges” soos blink klere van suiwer, fyn linne aan te trek of nie.

Die uitnodiging tot die bruilof is gratis en verniet. Maar die deelname vind volgens God se standaarde plaas.  Hy behou die reg voor om mense wat hulle eie optrede probeer bepaal, uit te gooi. Die boodskap is, jy kan nie deel van God se koninkryk wees en jou eie lewenstyl handhaaf nie.

Laastens, die probleem het nie gelê by die uitnodiging nie, maar by die mense wat die uitnodiging óf geminag het óf verwerp het óf in opstand was om volgens die koning se voorskrifte op te tree. Die fout was die geroepenes s’n, nie die Een wat geroep het nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…