Skip to main content

Die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die Here – die verhaal van Dawid en Batseba

Die verhaal van Dawid in 1 en 2 Samuel wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei. Dawid se lewe blom aanvanklik weens sy gehoorsaamheid. Hy was ‘n ongelooflike bate vir die volk. Die volk is verenig onder sy leierskap. Die ark is terug gebring na Jerusalem toe. En die geloofsgemeenskap kon die Here aanbid deur die talle Psalms wat hy geskryf het.

Maar met die verhaal in 2 Samuel 11-12 gaan sy koningskap ‘n ander fase binne. Sy sonde met Batseba het tot gevolg dat die res van sy koningskap in die teken van dissipline staan, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n harde leerskool vorm.

Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat dat hy egter telkens terugkeer na God in berou en boetedoening. En dit is waarin die waarde van sy getuienis uiteindelik opgesluit lê. Nie net in die gawes van God in sy gehoorsaamheid nie, maar ook in die vergifnis van God in sy berou oor sy ongehoorsaamheid.

Lees vandag die hele verhaal in 2 Samuel 11-12.

Neem genoeg tyd om te oorweeg waar die verhaal jou ruk, en waar dit jou troos.

‘n Paar verdere gedagtes van my

Dit is só ‘n bekende verhaal, dat ek verras is met die emosionele impak daarvan op my. Dit is met ‘n sinkende gevoel van afgryse wat ek lees hoe Dawid al dieper sak, van begeerte, tot owerspel, tot moord en tot leuens. Die oortreding van die tiende gebod (begeerte) lei tot die oorteding van die sewende gebod (egbreuk). Dit lei tot die oortreding van die sesde gebod (moord). En die gevolglike leuens om die ware toedrag van sake te verdoesel lei tot die oortreding van die negende gebod (valse getuienis).

En dit net omdat hy in die oorlog teen die Ammoniete nie sy verpligtinge nagekom het nie, en gevolglik aan versoeking blootgestel is. Ledigheid is werklik die duiwel se oorkussing!

Die woorde van Natan: “Attah ha-ish” (Jy is die man), weerklink nog steeds in my ore soos toe my Hebreeuse dosent, Hannes Olivier, dit jare terug in die klas vir ons gelees het.

Die probleem met die sonde is reeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word, Batseba, Urija, en die ander wat ingespan word om die leuens in stand te hou, bv. Joab. Vier seuns sou sterf as straf vir hierdie onbesonne daad, Batseba se kind, Amnon, Absalom en Adonia.

Dawid betaal dus viervoudig, soos hy self ironies genoeg voorstel! Selfs Agitofel word daardeur geraak, want Batseba was sy kleindogter (Eliam, Batseba se pa, was sy seun – 2 Sam 23:34). Dit verklaar moontlik sy ondersteuning van Absalom later in die verhaal. Hy het op dié punt ‘n geswore vyand van Dawid geraak.

Maar die diepste ellende van sonde lê in die minagting van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word om jou eie, gewoonlik korttermyn, belange te dien. Die volk se gehoorsaamheid aan die Here is hierdeur beïnvloed. Die Here se Naam is deur Dawid deur die modder gesleep.

Ons dink baie keer met goeie rede aan Psalm 51 en die vergifnis wat Dawid ontvang het na hy van harte belydenis van sy skuld gedoen het. En dit is goed so. Maar ons moet nooit die tragiese gevolge van sy dade vergeet nie. Die oordeel van die Here wat hom tref, gooi ‘n groot skaduwee oor die hele loopbaan van Dawid hierna.

Die ligpunt is die intense hertoewyding van Dawid en die geboorte van Salomo, “man van vrede”, of Jedidja, “die Here het hom lief”, soos Dawid hom genoem het. Dit is in God se ingrype wat die hoop van die verhaal lê … totdat Hy sy eie geliefde Seun aan die kruis laat sterf om finaal alles nuut te maak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!