Skip to main content

Wat ons leer van die kerk in die verhaal van Antiogië in Pisidië

Handelinge 13:13-52

Die verhaal van die planting van ‘n gemeente in Antiogië in Pisidië op Paulus se eerste sendingreis word in 5 dele vertel:

  •  Vers 13-14 – Die reis na Antiogië in Pisidië en die besoek aan die sinagoge op die eerste sabbatdag.
  • Vers 15-41Paulus se toespraak na die voorlesing uit die wet en die profete op versoek van die raadslede van die sinagoge waarin hy uitbrei oor die geskiedenis van die Godsvolk, en  Jesus se geboorte, dood en opstanding as appèl tot geloof aanbied.
  • Vers 42-43 – Die gesprek na die tyd met die Jode en godvresendes wat tot ’n uitnodiging lei om weer op te tree die volgende sabbat.
  • Vers 44-47 – Die byeenkoms die volgende sabbat waar byna die hele stad van Antiogië in Pisidië opdaag en die Jode met afguns vervul word en Paulus en Barnabas begin beledig, maar die heidene met blydskap die woord van die Here toejuig.
  • Vers 48-52 – Die 3 gevolge van hierdie byeenkoms: die Jode sweep die stad teen hulle op wat tot hulle vervolging lei; die apostels beweeg aan; die gelowiges bly agter met blydskap en vol van die Heilige Gees.

1. Grense word oorskry – Vers 13-14

Die proses wat in Sesarea begin het met die oorskryding van gemeenskapsgrense na ander nasies, weliswaar godvresendes uit daardie nasies wat hulle met die Joodse geloof geassosieer het (Kornelius), in Antiogië in Sirië voortgesit is met die klomp Griekssprekendes wat tot geloof kom, word in Antiogië in Pisidië voortgesit.

Die prentjie wat ‘n mens van die kerk begin kry, veral hier van Handelinge 13 af met die onderskeie sendingreise, is dat die kerk ‘n plek is waar alle kulture welkom is,  en waarin sosiaal-maatskaplik eksplisiet etniese, etiese en politiese grense oorgesteek word.

Die geografiese en sosiaal-maatskaplike grense wat mense van verskillende nasies normaalweg van mekaar skei, word daardeur op ‘n radikale wyse gerelativeer.  Alle mense van alle kulture is welkom in die koninkryk van God.  En dit maak steeds ook nie saak van watter stand of klas of afkoms of selfs fisieke toestand hulle is nie.

Die apostels soek die sinagoge eerste op, soos hulle in Siprus ook gedoen het.

2. Paulus se toespraak fokus op Jesus as Verlosser – Vers 15-41

Die raadslede van die sinagoge versoek die broers – na die voorlesing uit die wet en die profete – om ’n woord van bemoediging (paraklesis) te bring.  Interessant dat dit dus Paulus is wat hier aan die woord kom, uit eie keuse, terwyl bemoediging, Barnabas se bynaam, al so ingeburger geraak het, dat dit sy naam geword het.

Let op dat Paulus die Jode en godvresendes aanspreek.

Sy toespraak is in 4 dele met ’n baie sterk klem op die opstanding van die Verlosser as die mikpunt van die hele geskiedenis van die Godsvolk:

  1. God het sy volk uitgekies: Hy begin by die geskiedenis van die aartsvaders se verblyf in Egipte, waardeur God hulle ’n groot volk gemaak het.  Hy vertel die geskiedenis van die Eksodus en die woestyntyd en lê klem op God se geduld.  Die Intog word kortliks vertel in terme van die 7 nasies wat God uitgewis het om die land aan hulle te gee.  God se eienaarskap word daarmee duidelik erken.  Sy vertelling vorder deur die  Rigtertyd tot by die profeet Samuel en die koningsgeskiedenis wat daarna ’n aanvang neem met Saul (Paulus was uit sy nageslag en het trouens sy naam gedra) en sy opvolger, die man na God se hart, Dawid (Ps. 89:21; 1 Sam 13:14).
  2. Jesus het die Messias-verwagting vervul: Hy ignoreer die res van die geskiedenis van Israel en spel Johannes die Doper se optrede uit as die voorbereiding vir die koms van Jesus, die een wat uit Dawid se nageslag, as Verlosser vir Israel, gebore is, in vervulling van die beloftes.
  3. God stuur hierdie boodskap van verlossing aan die nakomelinge van Abraham: Let op hoe hy die godvresendes insluit, en die boodskap van Jesus bring deur 1) sy dood beide aan die skuld van Jerusalem en sy leiers te koppel, sowel as aan die vervulling van die Skrif; 2) God se opwekking van Jesus helder en duidelik te verkondig, waarin die verskyning aan baie mense in Judea ook as bevestiging gegee word.  En belangrik: Hulle is nou God se getuies by die volk!  Dit is die evangelie wat die belofte aan die voorvaders (Dawid ingesluit) aan sy nasate vervul spesifiek in die opstanding uit die dood, waarvoor Paulus Psalm 2 as bewysplaas aanhaal (Ps. 2:7) saam met  ’n samestelling van ’n hele paar ander Skrifgedeeltes (Jes. 55:3; Ps. 16:10; Hab. 1:5).
  4. God gee vergifnis aan elkeen wat glo: Paulus kontrasteer verlossing deur die wet met verlossing deur Christus en lewer ’n sterk appèl dat hulle God nie moet verag nie.

3. Ontvangs van die toespraak – Vers 42-43

Die aanvanklike ontvangs van sy toespraak is positief, en Paulus en Barnabas word uitgenooi om die volgend sabbatdag meer van hierdie dinge te kom vertel.  Dat Barnabas se naam steeds in tandem met Paulus genoem word, beteken moontlik dat hy ook in ’n gesprek hieroor betrokke was, hoewel Paulus duidelik die hoofspreker was.

Let op hoe daar die hele week gesprekke was waarin Paulus en Barnabas, weereens as span deur Lukas genoem, mense aanmoedig op die genade van God te bly vertrou, presies die tipe goed wat Barnabas van te vore in Antiogië in Sirië gedoen het.  Barnabas het dus met sy bediening ’n patroon gevestig wat hier steeds deur hulle albei nagevolg word.

4. Sterk teëstand – Vers 44-47

Die volgende sabbatdag kom daar egter sterk teëstand van die Jode toe hulle die groot opkoms sien. In plaas daarvan om bly te wees dat daar soveel mense in die sinagoge bymekaar gekom het om die woord van die Here te hoor, en die geleentheid aan te gryp om saam te luister, word hulle met afguns vervul – soos die Jode van Jerusalem ook teenoor Jesus gereageer het – en begin Paulus onderbreek in sy verwoording van die evangelie en beledigend optree.

Let op hoe Paulus en Barnabas as ’n span optree en nie doekies omdraai nie, maar reguit die konsekwensies van hulle teëstand uitspel.  Hulle teëstand wys dat hulle die ewige lewe nie werd is nie, en beteken dat die roeping wat God hulle gegee het – om  die dienaar van die Here, Jesus, as ’n lig vir die nasies te verkondig (Jes. 49:6) – nou inwerking tree.  God se verlossing is bedoel vir die uithoeke van die aarde, soos Jesus reeds beveel het (Hand 1:8), en beteken dat Paulus en Barnabas nou na nie-Jode gestuur word.

5. Groot blydskap onder die heidene – Vers 48-52

Die Jode was hieroor nog meer onthuts en sweep die vooraanstaande godvresende vroue en die toonaangewende burgers van die stad , wat natuurlik die byeenkoms bygewoon het, maar nie deel van die Joodse gemeenskap was nie, op teen Paulus en Barnabas.  Deur die vervolging wat ontstaan, word hulle verdryf uit die streek (net tydelik blyk dit later, want hulle kom weer terug – Hand 14:21), en met ’n gebaar, wat herinner aan wat Jesus as opdrag aan die 70 dissipels gegee het (Lukas 10), skud hulle die stof van hulle skoene af en vertrek na Ikonium.

Die heidene wat dit aangehoor het, het egter in blydskap gereageer.  Dié wat – soos Lukas dit sê – vir die ewige lewe bestem was , het gelowig geword.  En met Paulus en Barnabas se vertrek is hulle vol blydskap deur die werk van die Heilige Gees agtergelaat – wat aandui dat agter alles wat hier gebeur het, was die Gees besig om die oortuigingswerk te doen.

Vir die ewige lewe bestem

Die prentjie wat hierdie toespraak vir ’n mens op God se werk in ons gee, is insiggewend. 

Let op dat die Jode wat Jesus verwerp hulle eie lot bepaal, soos Lukas dit sê: “’n oordeel (krinô) oor hulleself uitspreek”:  hulle is die ewige lewe nie werd nie.  Die heidene wat in Jesus glo, doen dit omdat hulle daarvoor bestem (tassô) was: “Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.  God se werk word sigbaar in die keuses wat mense maak.

Daarmee word as’t ware ’n historiese blik, en nie ’n dogmatiese een nie, gegee op ’n tergende teologiese probleem, hoekom Israel, die Godsvolk die evangelie teëstaan, en die heidene dit aanvaar.  Later in die brief aan die Romeine sou Paulus verder ook dogmaties hieroor reflekteer (Rom 9-11).

Die prentjie wat ‘n mens hier van die uitverkiesing kry, is dat God self deur die prediking van die evangelie sy kerk versamel. Dit is sy werk dat mense glo en die boodskap van die ewige lewe ontvang. Dit is mense se werk dat hulle die boodskap verwerp.

Die uitverkiesing is dus nie net ‘n statiese dogmatiese konsep nie. Dit is ‘n dinamiese proses wat letterlik in die loop van die verkondiging van die evangelie uitspeel.

Wat vir ons die boodskap oordra. Dít is hoe die kerk tot stand kom. Deur die verkondiging van die evangelie. Elkeen wat die boodskap hoor, is deel van die kerk. En soos Paulus en Barnabas, is ons ook geroepe om seker te maak dié boodskap kom by elke mens op hierdie aarde uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…