1. Hoe dink jy oor God? Watter eienskappe van Hom beteken vir jou die meeste?
2. Lees my antwoord en oordink dit.
Theta – Griekse letter-simbool vir God
God is groot en genadig, goed en getrou. God sorg vir alles en almal, vol liefde en trou.God is oneindig, onbegryplik en onveranderlik in wese en volmaaktheid, alwetend en almagtig, volkome wys en regverdig, barmhartig en heilig, die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is. Hy alleen moet aanbid, gehoorsaam en gedien word. Niks gebeur behalwe deur Hom en volgens sy wil nie.
3. Hoe verander hierdie beskrywing van God jou gedagtes. Hoe laat dit jou voel?
4. Lees die verhaal van Elia en die weduwee van Sarfat in 1 Konings 17. Wat tref jou?
5. Lees my opsomming van die boodskap en oordink dit.
God is groot en almagtig. Hy het ’n groot droogte oor Israel gebring weens hulle sonde. God is genadig en getrou. Hy het vir Elia gesorg met water. Die kraaie het elke oggend en aand brood en vleis vir hom gebring. Toe die droogte te erg raak, het God ’n wonderwerk gedoen. Hy het gesorg dat die weduwee van Sarfat se meel en olie nie opraak nie. God het haar seuntjie wat gesterf het weer laat lewe om sy goedheid te wys. Hy het dit ook weer laat reën toe Israel tot inkeer gekom het. God is vol liefde en trou.
6. Watter verwagtings skep die verhaal by jou? Bring jou behoeftes in gebed voor God.
Dit is goed om die Here te dank, om u Naam te loof, Allerhoogste; om soggens u goedheid aan te kondig, en in die aand u getrouheid, met snaarinstrumente, met die harp en die begeleiding met die lier. U groot dade maak my bly, Here! Ek juig oor u handewerk. Hoe groot is u werke, Here! Hoe diep is u gedagtes! U is hoog verhewe. U, Here, bestaan vir ewig. (NLV)
1. Onderstreep die beskrywings van God se wese. Watter troos is daarin vir jou?
2. Onderstreep die reaksies op God. Gebruik die reaksies om met God in jou eie woorde te praat – dank, loof, aankondig, blymaak en juig.
3. Lees die verse later vandag weer om jou aan die rykdom van God se wese te herinner. Jy kan dit memoriseer as ‘n gereelde oggend- of aandgebed.
Daar is nie ’n god soos U nie, Here. Niemand kan u werke naboots nie. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U neerbuig, Here; hulle sal u Naam verheerlik. Want U is groot en doen wonderdade. U alleen is God. Leer my u weë, Here, sodat ek in u waarheid kan wandel. Met my hele hart sal ek U prys, Here, my God. U, Here, is barmhartig en genadig, U is stadig om kwaad te word, vol liefde en trou. (NLV)
1. Onderstreep die beskrywings van God se werke. Watter troos is daarin vir jou?
2. Hoekom is dit nodig dat God ons sy weë leer? Wat leer die Here jou tans?
3. Lees die verse later vandag om jou aan die omvattendheid van God se werke te herinner. Jy kan dit memoriseer as ‘n gereelde gebed vir jouself en die wêreld.
Wie anders het die oseane in sy hand gehou? Wie het die hemel afgemeet met die breedte van sy hand? Wie het die grond van die aarde met ’n maatemmer gemeet, of het die berge en die heuwels met ’n skaal geweeg? Wie kan die Gees van die Here advies gee? Wie weet genoeg om Hom raad te gee of Hom te leer? Het die Here al ooit raad van ander nodig gehad? Het Hy nodig dat iemand Hom vertel wat die goeie is of wat die beste is? Kyk op na die hemel. Wie het die sterre gemaak? Hy laat hulle soos ’n leërmag uitmarsjeer, die een ster na die ander, en roep elkeen by sy naam. Met sy groot krag en mag sorg Hy dat nie een wegraak of verdwaal nie. Israel, hoe kan jy dan sê: “Die Here sien nie my moeilikheid raak nie”? Hoe kan jy beweer: “God weier om na my saak te luister”? Het jy nog nooit gehoor of verstaan nie? Weet jy nie dat die Here van altyd af God is nie? Hy is die Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg of gedaan nie en niemand kan die dieptes van sy insig meet nie. (NLV)
1. Onderstreep die beskrywings van God se sorg. Watter troos is daarin vir jou?
2. Die Here sien ons moeilikheid raak. Hy luister na ons saak. Watter moeilikheid wil jy graag hê dat God sal raaksien? Bid dit met verwagting.
3. Lees die verse later vandag weer. Herhaal jou gebed van verwagting en vertroue op God se sorg.
Afgode is eintlik nutteloos, ’n bedrogspul! As die tyd van afrekening kom, sal hulle vernietig word. Maar die God van Israel is nie so ’n afgod nie. Hy het alles wat bestaan, gemaak, ook sy eie volk, sy besonderse besitting. Hy is die Here, die Almagtige! (NLV)
1. Onderstreep die beskrywings van God se werklikheid. Watter troos is daarin vir jou?
2. Jy is God se besondere besitting. Vir elke gelowige is Hy die Here, die Almagtige. Hoe laat dit jou voel? Sê dit vir die Here.
3. Lees die verse later vandag weer om jou lojaliteit aan God te bevestig.
runawayjoyous2427b27b07onLUKAS 1:67-80 – Sagaria profeteer dat Johannes voor die Here sal uitgaan om sy paaie gereed te maakLukas 1:67-80. Chris, jy stel 3 vrae in die gedeelte. Wat ruk my in my eie verhaal? Dat ek as kind gemolesteer is en as gevolg daarvan soveel verkeerde keuses gemaak het. Wat troos my? Dat God my nooit laat gaan het nie , my met geduld en liefde op Sy pad van verlossing gelei het. Wat is Sy plan met…
originalblizzard19aaa84c56onDaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
Chris van WykonDaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
originalblizzard19aaa84c56onDaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
Marinda HattinghonOpenbaring 21Dankie vir die verduideliking.
Chris van WykonOpenbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
Onlangse kommentaar