Skip to main content

Wat is God? – God is groot en genadig – 1 Konings 17

Onsekerheid en onrus

Ek dink nie ons was al ooit in ons land in soveel onsekerheid en onrus gedompel nie. Die politieke gevegte in ons stede is vuil en verbete. Die sosiale onrus rondom grond en dienslewering groei by die dag. Ons regstelsel het slagvelde geword waar wydverspreide korrupsie en die grootskaalse kaping van bronne blootgelê word. Selfs die kerk beland in die gedrang waarin die vraag ten diepste is na die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.

Hoe maak ‘n mens sin hiervan? Hoe kies ‘n mens koers? Hoe besluit jy wat is die regte ding om te doen?

Fokus op jou Godsbeeld

Die antwoord is om terug te keer na die fundamentele vraag na God. Jou Godsbeeld. Wie Hy is. Wat Hy doen. Wat Hy vra.

Want, jou Godsbeeld beïnvloed jou mens- en wêreldbeeld. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die uitdagings in die politiek en die gemeenskap. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.

Dit leer die verhaal van Elia ons.

1 Konings 17

Elia kondig ’n droogte aan

1Elia die Tisbiet was ’n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”

2Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: 3“Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. 4Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.”

5Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. 6Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. 7Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie.

8Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: 9“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.”

10Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ’n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ’n bekertjie water om te drink.”

11Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ’n stukkie brood saam.”

12Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ’n handvol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ’n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

13Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. 14So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

15Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. 16Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.

17In dié tyd het die vrou, die eienares van die huis, se seuntjie siek geword. Hy het al hoe sieker geword totdat hy die laaste asem uitgeblaas het. 18Toe sê sy vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”

19Hy sê vir haar: “Gee jou kind hier,” en hy tel hom van haar skoot af op. Toe dra hy hom na die bo-kamer toe waar hy tuis gegaan het en lê hom op die bed neer 20en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, ’n ramp bring deur haar kind te laat sterf?”

21Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”

22Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe. 23Toe bring Elia die kind van die bo-kamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!”

24Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u ’n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”

Die tyd van Agab en Isebel

Die situasie in Elia se tyd was nie soveel anders as ons eie nie. Trouens, in sekere opsigte was dit erger as vandag.

Die tyd van Agab was ‘n tyd van ernstige politieke konflik, nie soseer tussen partye in die stede nie, soos hier in ons metropole nie, maar tussen die stede en die platteland. Tussen die kleinboere en die grootboere, die konings en die grondeienaars. Geen wonder die verhaal van Nabot se wingerd word met soveel deernis in die Elia-verhale ingesluit nie (1 Kon 21). Uitbuiting en onreg, lieg en bedrieg, was aan die orde van die dag.

Die godsdienstige afvalligheid was egter die heel slegste. Die kweekskool van Isebel – by wyse van spreke – met haar priesters en profete van Baäl en Asjera het die ghitaar geslaan. Hulle het die suiwer godsdiens van Jahwe en die heiligheid van die huwelik vervang met afgodsdiens en onsedelikheid.

Isebel – dogter van EtBaäl, koning van Sidon (1 Kon 16:31) – se Godsbeeld was dié van die Kanaänitiese viervlakkige veelgodedom. Op die boonste vlak was die dronk afsydige god El en sy wellustige vrou, die godin Asjera. ‘n Onwelvoeglike spul. Op die tweede en meer aktiewe vlak was die god Baäl, die bul, die god van die natuur. Die god van die storms wat reën bring, van vrugbaarheid en nuwe lewe.

En dan ook nog sy suster Baalat, sy eweknie. Met ‘n paar ander gode, soos die afgryslike god Mot, die god van die dood. Aan wie kinders geoffer is, baie keer in ‘n seksuele rite.

Dan was daar nog twee laer vlakke van plaaslike godjies, en ‘n paar boodskappers, amper soos engele. ‘n Hele godsdienstige sisteem in die gemeenskap waardeur die Godsbeeld van die heilige God, Jahwe, en sy wil vir die lewe in gedrang gebring is.

Jou Godsbeeld bepaal jou wêreld- en mensbeeld

Dié afgodsdiens het ‘n amper onbeheerbare effek op die samelewing gehad. Want, die afgodery het tot gruwelike, afstootlike, mens-onterende onsedelikheid gelei. Seks was vryelik beskikbaar, maak nie saak watter tipe seks of met wie jy dit wou beoefen nie. Daar was priesters vir elke behoefte. En daar is waarlik niks nuuts onder die son nie. En ek bedoel dit.

Drank het vryelik gevloei. Orgie op onwelvoeglike orgie is gehou. Alles in die naam van die gode. Alles gereël deur die profete en priesters van Isebel, die onheilige godsdienstiges van hulle tyd.

Die grootste slagoffer in die gemeenskap was die huwelik, waarin kinders nie gekoester en aan die Here toegewy is nie, maar opgeoffer is ter wille van die giere en grille van hulle ouers. Getrouheid in die huwelik het amper nie bestaan nie.

Geen wonder daar het ‘n droogte uitgebreek nie. Waar die Here nie gedien word nie, sluit hy die hemel, in ‘n doelgerigte poging om mense tot inkeer te bring. En waar dit eeu na eeu voortgaan, sluit hy later die aarde vir sulke mense en dryf hulle uit, soos hy dit aanvanklik gedoen het met die Intog van Josua.

Elia herstel hulle Godsbeeld

Op die toneel verskyn skielik die enigmatiese figuur Elia, amper zenkrecht von oben, soos ‘n weerligstraal vanuit die hemel. En hy openbaar vir ons die regte Godsbeeld. Direk in stryd met die Godsbeeld van Isebel en haar lamsak van ‘n man Agab.

Elia se naam gee ons alreeds ‘n idee van wie sy God is. Elia. “My God is Jahwe.” En regdeur die verhaal roep hy Israel op om ‘n keuse te maak vir dié God. Om nie langer op twee gedagtes te hink nie, maar ‘n keuse te maak. As Baäl god is, kies dan vir hom. As Jahwe God is, kies dan vir hom. Maar weet dan, julle sal die gevolge dra.

Wie is hierdie God?

Deur vier verhale ontvou die prentjie van God hier in hoofstuk 17.

1. Die droogte. Elia kondig die droogte aan op geen onseker wyse nie: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”

Die droogte kom dus nie deur ‘n weervoorspelling nie. Nee, deur ‘n aankondiging van sy profeet. Vir drie jaar. ‘n Uitmergelende droogte. Oor die hele land. Net op grond van God se woord. Want, God is in beheer van die kosmos.

En Baäl kyk op sy neus. Die god van die storms is stil. Geen donderwolke. Geen reënwolke. Die normale gang van die natuur is verbreek. En die volk besef, Baäl is eintlik ‘n niksnuts. ‘n Wasempie. ‘n Newelwolk. Hy bestaan nie.

Daarmee wys Elia dat die droogte God se reaksie is op die chaos op politieke en godsdienstige terrein. Hy wys dat God  groot is. Dat Hy kan optree. Dat die kosmos onder sy beheer is. Dat daar niemand saam met Hom God kan wees nie.

Maar Hy wys ook dat Hy die Enigste God is. Daar is nie ‘n god soos Baäl nie. Hy het geen beheer nie. Hy kan niks vermag nie. Hy is ‘n skim van ‘n god. Een wat in nie-bestaan vervlugtig.

2. Die kraaie. Dit is nie net die natuur wat onder God se beheer is nie. Selfs die diere is onder sy beheer. Só sorg Hy vir sy profeet wat hy beveel om hom te gaan versteek by die Kritspruit, anderkant die Jordaan. Daar sou hy water uit die spruit kon drink. En daar het God het die kraaie beveel om vir hom te sorg. God vra nie net gehoorsaamheid nie. Hy beloon dit ook. Hy kan vir sy profeet sorg, want Hy is genadig.

Terwyl Agab moet skarrel om water vir sy mense en diere te kry, sit Elia by die Kritspruit, anderkant die Jordaan. Die Here versteek Elia daar by ‘n goeie waterbron. En die kraaie bring vir hom brood en vleis. Elke oggend. Elke aand.

God is dus groot in die kosmos. Hy bring droogte. Hy kan die natuur beheer. God is ook groot in die kleine. Hy stuur die kraaie om vir sy profeet te sorg. Met brood en vleis. Twee keer ‘n dag.

3. Die meel en die olie. Selfs die kanne en die kruike van die weduwee van Sarfat is onder sy beheer: “So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.” God kan ook dáár in die vreemde land van Sidon vir sy profeet sorg. Só goed is God.

En Hy wys ook dat die huwelik vir hom kosbaar is. Dat Hy ver sal gaan om Hom oor die weduwees en die wese te ontferm, die vaderloses. Hy word die Vader van die weduwee van Sarfat en haar kind.

En later sal God weer reën gee om die droogte te breek soos Elia voorspel het. Sodat die normale siklus van die weerpatrone en die plant-en-oes siklus weer sy lewegewende werk kan doen. Maar op God se terme, nie op Baäl s’n nie.

4. Die seun.Toe die seun van die weduwee van Sarfat sterf, wek God hom uit die dood uit op. Elia se indringende gebed word deur God verhoor. Wat vir ons sê dat God getrou is. Hy los die weduwee nie aan haar eie genade oor nie. Hy hou die familie in stand ten spyte van die uitdagings wat hulle deur die afsterwe van die man die hoof moes bied. God gee lewe vir haar kind. God is getrou.

God is groot en genadig

God is dus groot. Onmeetbaar groot. Hy is die God van die kosmos en die kraaie, die kanne en die kruike, selfs van die lewe en die dood.

En dié God se genade strek baie ver. Daar is die genade van ‘n oase by die Kritspruit. Water, brood en vleis. Die genade van ‘n tuiste by die weduwee van Sarfat. Water, meel en olie. Die genade van ‘n seun wat vir die weduwee uit die dood uit opgewek word. Die genade van reën wanneer God sy seën weer uitgiet met die mag van die Baälprofete gebreek op die berg Karmel. God is genadig.

Hy bied sy genade vir almal aan

Maar wat ons ook moet raaksien, is dat hierdie genade ook telkens aan Agab en Isebel aangebied word. Die droogte is ‘n woord van God aan Agab om tot inkeer te kom. Die tuiskoms van Elia by die weduwee van Sarfat in heidense gebied en die opwekking van haar seun is ‘n woord van God aan Agab dat God lewe gee vir dié wat Hom verwelkom. Die vuur uit die hemel op die berg Karmel is ‘n teken dat God bestaan en dié beloon wat Hom soek.

Agab en Isebel weier God se genade

Maar, helaas. Agab kry dit nie reg om hierdie genade te ontvang in sy lewe nie. En hy sterf uiteindelik buite God se genade. Op sy vlug weg van ‘n latere oorlog het: “Iemand … losweg ’n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat.” (1 Kon 22:34).

En Isebel is deur twee paleisamptenare van die hoogte van haar paleis afgegooi na haar dood onder in die straat. Daar het sy gelê met haar gesig mooi opgemaak terwyl die honde haar bloed oplek. Vermoor weens die hoerery en toordery van haar afgodsdiens, sê Jehu (2 Kon 9).

God is in beheer van lewe en dood. Nou en tot in ewigheid.

Elia herstel ons Godbeeld

Elia wil dus ons oë oopmaak. Hy wil ons Godsbeeld herstel. Hy wil ons groter laat dink oor God. Hy wil hê ons moet sy genade raaksien. Sy goedheid. Sy getrouheid. Sy liefde en trou.

Maar, Elia is ook helder daaroor dat ons dit beter kan raaksien midde in die chaos wat ons in hierdie lewe beleef. Midde in die droogte.

  • Daar by die Kritspruit waar die kraaie vir Elia kos bring en hy wegkruip vir die woede van Agab en Isebel.
  • Daar by die weduwee van Sarfat waar ‘n wonderwerk nodig is om genoeg olie en meel te hê om te kan oorleef.
  • Daar waar ‘n kind sterf en nóg ‘n wonderwerk nodig is om hom na die lewe toe terug te bring.
  • Daar waar hy alleen staan op die berg Karmel met ‘n oormag van 450 profete van Baäl teenoor hom. En hy moet vertrou dat God vuur uit die hemel sal bring. En later die droogte sal breek.

Dit is waar alles begin, by jou visie op God. Wie Hy is. Wat Hy doen. Wat Hy vra. Waarheen Hy met ons op pad is. Ek nooi jou uit vir ‘n reis die volgende jaar op dié pad om God beter te leer ken soos Hy Hom in die Skrif aan ons openbaar.

Vanaand gaan ek verder praat oor Elia en hoe hy dit reggekry het om dié beeld van God vas te gryp en nie te vou weens die mag van Agab en Isebel nie.

Vir dieper delwers

Hier is my Bybelskool materiaal vir dié wat die hele Elia-siklus van verhale wil lees. Geniet!

1 Konings 16:20–18:46 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking

Omri se koningskap is die begin van ’n dinastie of koningshuis, deurdat sy seun Agab hom opvolg as koning van Israel.  Uit ’n politieke hoek was hy ’n gerekende koning, wat ook in buite-Bybelse bronne vermeld word.  Hy het dit reggekry om binne 12 jaar die 10-stammeryk te verenig en ’n pragtige hoofstad vir hulle te vestig in Samaria, een van die weinige stede wat van nuuts af deur Israel gebou is.  Die Assiriërs verwys bv. ’n 150 jaar na sy dood nog na Israel as die “land van Omri” en hy word op ’n Moabitiese stele (steen met inskripsies) vermeld.

Maar hy loop geestelik dieselfde pad as Jerobeam en die vorige konings van die Noordryk wat die Here met hulle afgodsbeelde uittart.  Daarom staan die Konings skrywers baie min spasie aan hom af.

Hy word opgevolg deur sy seun Agab wat nie net so afvallig is soos sy voorgangers nie, maar nog verder gaan en Israel intensief aan die Baälgodsdiens blootstel, veral nadat hy met Isebel, die dogter van Etbaäl van Sidon trou.  Dit wil selfs voorkom asof hy vir Giël van Bet-El aanmoedig om teen die wil van die Here Jerigo te herbou (Jos 6:26) met tragiese gevolge vir Giël se kinders.

Dit bring die groot profeet Elia op die toneel wat die Here se toornigheid oor Israel se afgodsdiens in geen onsekere taal verkondig.  Daar is min oor Elia bekend.  Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn.  Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ’n engel uit die hemel beskrywe.  Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in 5:17 sê dat Elia ’n mens nes ons was!

Soos die eerste vers van hoofstuk 17 vertaal is, lyk dit asof hy ’n nederige afkoms het, ’n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan. ’n vertaling wat al meer verkies word deur geleerdes.  Die frase kan egter ook vertaal word as: “Elia, ’n Tisbiet uit Tisbe uit Galilea”.

Maar in sy naam al sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken “Jahwe is God”.

Elia was sterk teen enige vorm van sinkretisme gekant was. Die sinkretisme was natuurlik van altyd af ’n versoeking vir die volk, reeds in die woestyn (goue kalwers), maar het deur die optrede van Omri en Agab tot ’n wesenlike gevaar ontwikkel dat hulle die ware Jahwe aanbidding heeltemal sou versaak. Op die platteland het mense Jahwe nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl aanbid.

Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ’n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of Baäl.  Die eerste teken aan Agab dat Jahwe God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom.  Die tweede teken is die vuur uit die hemel wat die offer op die berg Karmel verteer.  Die derde teken is die reën wat na die gebed van Elia die droogte breek.  Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie.

Die res van die verhaal kleur vir ons Elia se lewe in as ’n man van God wat veral ’n kragtige gebedsbediening het, en vir wie die Here nie net gebruik nie, maar ook vir hom sorg.  Let op dat elke wonder van die Here ’n sinvolle rol speel in sy bediening.

  1. Die eerste is die droogte wat Elia aankondig, as teken aan Agab en die volk.
  2. Die tweede is by die Kritspruit waar die kraaie vir hom brood en vleis bring, as teken dat die Here sorg.
  3. Die derde is die meel in die kruik en die olie in die kan wat nie opraak nie, weereens as teken dat die Here sorg, net dié keer ook vir die heidense vrou in Sarfat.
  4. Die vierde is die seuntjie wat uit die dood teruggebid word, weereens as teken aan haar.
  5. Die vyfde is die vuur uit die hemel wat die offer verbrand, as teken aan die hele volk dat Jahwe God is en nie Baäl nie.
  6. Die sesde is die reëns wat as antwoord op sy gebed kom, as teken aan Agab en die volk.
  7. Die sewende is die feit dat hy voor die wa van Agab uit kon hardloop deur die mag van die Here, as teken aan Agab.

Dit tref my hoe ’n belangrike rol gebed in sy lewe speel en dat gebed ook meesal die wonders voorafgaan.  Dit is in gebed dat die teenwoordigheid van God ons en ander se lewens verander.

“Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.” (Jak 5:16)

Let ook op die klein verhaaltjie van Obadja (nie dieselfde persoon as die profeet van die 6de eeu nie) wat op sy stil en pligsgetroue manier ’n 100 profete weggesteek het wat aan die Here getrou wou bly.  Elia mis egter dié feit as hy in hoofstuk 19 kla dat hy al een is wat oorgebly het wat die Here bly dien.

1 Konings 19 – God lei nooit aan uitbranding nie!

Elia se moedeloosheid, moontlik as gevolg van uitbranding, om na die grootste hoogtepunt van sy bediening, die oorwinning oor Baäl voor die oë van die koning en sy mense. In só ’n situasie werk ’n mens se kop natuurlik nie meer logies nie, want die dreigement van Isebel, die krag agter die troon en die godsdiens, wat die gode aanroep, is eintlik hol na Elia se demonstrasie op die berg Karmel dat daar nie ander gode is nie!  Hoe ironies dat ’n leë dreigement só ’n uitwerking op Elia kon hê.

Elia sou nie veilig wees in Juda nie, aangesien koning Agab en koning Josafat van Juda ’n goeie verhouding gehad het (hulle veg bv. saam in ‘n oorlog 1 Kon 22) en vlug na Berseba, die mees suidelike deel van Israel (vgl die frase “van Dan tot Berseba” wat die vêrste Noord-Suid punte van die land aandui – 1 Sam 3:20).  Hier was ook ’n heiligdom waarteen Amos in die tyd van Jerobeam II uitgevaar het (Amos 5:5).

Dit is egter ook die plek waar die ooreenkoms tussen Abraham en Melgisedek gesluit is (Gen 21:27 vv), waar Elia self nou ’n ontmoeting met ’n engel het.  Dit is ook die plek waar Hagar deur die Here se engel tegemoet gekom word (Gen 21).

En dit is veral ook die plek waar Moses wonderwerke beleef het.

Let op hoe Elia ’n doodsbegeerte het, net soos Moses dit lank tevore gehad het (Num 11). Die Here versterk hom egter deur die brood en water (vgl die manna en water in die woestyn met Moses) wat die engel vir hom voorberei, en stuur Elia na die (ge)berg(te) Horeb (ten nouste verbind aan die berg Sinaï, wat moontlik die naam is van ’n bergpiek in die Horeb gebergtes), die plek waar Moses by die brandende braambos sy opdrag kry (Gen 3), hy later water uit ’n rots in die woestyn laat loop (Gen 17), en uiteindelik op die Sinaïberg die wet van die Here ontvang (Eks 19-24).  Die tydperk van sy reis, 40 dae en nagte, kom ook ooreen met Moses se tyd op die berg.

Na ’n nag se uitrus, ontmoet Elia vir God self.  Anders as met Moses bied die Here aan om voor Elia verby te gaan (vgl Moses in Eks 33).  Hy is egter nie in die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie.  Hy is in die fluistering in die windstilte.

Let op hoe die Here twee keer vir Elia vra: “Wat maak jy hier?”  Die eerste keer antwoord die Here Hom met die fluistering in die windstilte, die tweede keer met ’n aantal nuwe opdragte: “Draai in jou spore om …”  Uit dié opdragte sou ’n hele aantal konsekwensies vir Israel kom: Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die huidige ongehoorsaamheid van die volk teenoor God laat kom, waartydens Isebel ook sterf, en Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit.  Om die waarheid te sê, Elisa sou eintlik vir Gasael salf en iemand uit sy groep sou Jehu salf tot koning.

Let ook op dat die Here self sorg dat daar 7 000 gelowiges oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie.  Dit is eintlik vir my die mees gerusstellende boodskap in die gedeelte.  God sluimer of slaap nooit nie, en Hy lei nooit aan uitbranding nie!

1 Konings 20 – Die Here bewys Homself aan Agab, sonder effek

Ek kan dit op ’n manier nie kleinkry dat soveel onomwonde bewyse van God se mag aan Agab gewys word nie, en hy steeds nie tot gehoorsaamheid aan God alleen beweeg word nie.  Twee keer kondig die Here aan wat in die oorlog gaan gebeur, en verslaan die Arameërs voor Israel uit, baie spesifiek om aan Agab te wys dat Hy Here is.  Maar steeds is Agab ongehoorsaam deur nie vir Ben-Hadad dood te maak nie, en eerder ’n verdrag met hom te sluit, en die Here te ignoreer (vgl Asa in 1 Konings 15)..

Dit wil voorkom asof Israel op dié stadium onderhorig aan die Arameërs (Sirië) was. Dit wil ook voorkom asof die skrywers van die Koningsboek Agab minag, deur net 2 keer sy naam te gebruik, en die res van die tyd slegs van die koning van Israel te praat.

Die Here tree egter deur ’n onbekende profeet tot die stryd toe en begelei Agab met die regte strategie in die oorlog teen Ben-Hadad.  Let op hoe Ben-Hadad die oorwinning reeds vier deur saam met die ander konings (van kleiner koninkrykies) te drink.  Dit bekom hom egter suur.

Dieselfde lot tref Ben-Hadad met die tweede oorlog in die vlakte, maar hy word teen die wil van die Here deur Agab begenadig.  Die profeet se optrede om die Here se toorn oor Agab te verkondig is ietwat bisar, maar tog baie effektief, en laat Agab bedruk, ’n bedrukking wat ook in die volgende verhaal van Nabot en sy wingerd ’n rol sal speel.

1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid

Dit tref my hoe baie moeite die Here met Agab doen om hom te bereik.  In die vorige hoofstuk het die Here hom 2 keer in die oorlog gehelp, met telkens ’n duidelike boodskap daaroor aan hom.  Hier bewys die Here ’n stukkie genade aan hom, self in die oordeel wat Agab oor homself bring, deurdat die oordeel eers na sy dood voltrek sou word.

Nabot se verhaal speel in Jisreël af, tussen die Gilboa- en Karmelgebergtes.  Agab het heel moontlik ook daar ’n paleis gehad. Agab se poging om Nabot se grond in die hande te kry, druis egter teen die eeue-oue erf-tradisie van Israel in (Lev 25), terwyl Nabot ook emosionele bande met die grond had weens sy ouers wat daar begrawe is.

Isebel tree uit haar Feniciese grondbeskouing op – alle grond behoort aan die koning – en laat Nabot vermoor.  Die uitroep van ’n vasdag kan heel moontlik met die droogte van 1 Konings 17-18 verbind word, daarom dat Elia ook hier op die toneel verskyn.  Sommige geleerdes verbind die volksvergadering se optrede dan ook met die soeke na ’n sondebok vir die droogte.

Let op hoe Isebel se optrede steeds tot Agab se skade is, hoewel hy nie direk daarmee iets te doene gehad het nie.  As koning kon hy ’n ter dood veroordeelde se grond in besit neem, maar die Here stuur Elia om die oordeel oor Agab aan te kondig oor hierdie moord.  Sy bloed sou by die wingerd van Nabot opgelek word (Agab sterf op pad na Samaria, maar Joram, sy seun, se lyk word wel hier neergegooi – 1 Kon 21; 2 Kon 9) en Isebel sal in Jisreël aan haar einde kom (deur die toedoen van Jehu – 2 Kon 9).  Agab se huis word ook getref in terme van die kollektiewe verantwoordelik wat in Israel gegeld het in terme van families, ’n oordeel wat voltrek word met die dood van Joram (2 Kon 3) waarmee die Omri dinastie tot ’n einde kom.

Mag korrupteer, absolute mag korrupteer absoluut.  Maar die Here slaap nie, en Hy laat geregtigheid geskied.

1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake

Daar was ’n goeie verhouding tussen Josafat van Juda en Agab van Israel, onder andere omdat hulle kinders, Joram en Atalia, met mekaar getroud is.  Dié dat Josafat ja sê om Agab te help teen die bedreiging van die Arameërs. Die profete wat gevra word om die Here te raadpleeg was almal in diens van koning Agab en daarom aan hom lojaal.  Josafat wil dus ’n ander stem ook hoor, waarop Miga geraadpleeg word.

Die onderonsie tussen hom en Sedekia illustreer iets van die moeite wat mens telkens gehad het om tussen valse en ware profesie te onderskei.  Miga se profesie word deur die uitkoms as die ware stem van die Here bevestig, maar nie sonder dat hy nie verguis en aanvanklik opgesluit word deur Agab nie.  ’n Mens wonder ook of hy nie selfs doodgemaak is op die bevel van die koning nie.

Die prentjie wat Miga gee van wat regtig gebeur in die hemelse raadsaal boei my. Dit sê in geen onseker taal nie, dat dit die Here is wat die gang van sake bepaal en nie mense nie.  Dat die 400 profete se voorspellings egter van ’n gees (onbepaalde lidwoord) af kom wat doelbewus ’n leuen in hulle monde lê, gaan teen ons grein in, wat die waarheid met God en die leuen met die duiwel assosieer.

Ons moet egter onthou dat dié siening spruit uit die gangbare perspektief van daardie tyd dat alles van God af kom, die goeie en die kwade.  Die duiwel, en daarom die leuen, het ’n baie kleiner rol gespeel as wat in die tussen-testamentêre en Nuwe Testamentiese tyd die geval was.  Soos Job 9:24 sê: ”Hy gee die wêreld oor in die mag van die goddelose, en Hy maak die regters partydig. As dit nie Hy is wat dit doen nie, wie dan?”

Agab misbruik dan vir Josafat, deur homself te vermom, maar Josafat sy koninklike gewaad te laat aanhou, wat amper tot Josafat se dood lei.  Die Here voer egter sy besluit uit deur ’n onbekende soldaat wat ’n pyl afskiet wat Agab se dood veroorsaak.

2 Konings 1 begin vreemd genoeg met ’n verwysing na Moab, maar die saak word nie verder aangeroer nie, sonder dat ’n mens enige idee het hoekom.  Die verhaal van Ahasia, wat reeds in die laaste hoofstuk van 1 Konings begin is, word voortgesit met die klem op sy dwaasheid om die Here te ignoreer en eerder vir Baäl-Sebub te raadpleeg.

Die Here laat hom nie onbetuig in die proses nie en deur die profeet Elia se “vurige” teenwoordigheid handhaaf God sy eer teenoor die goddelose koning.  Let op dat die Engel van die Here (steeds?) by Elia is.

2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer

Elia wil die einde van sy lewe sonder Elisa tegemoet gaan, miskien om alleen te wees, anders juis as ’n toets aan Elisa of hy sy leier alleen sal laat of nie.  Ons weet nie regtig nie.

Die wonder by die Jordaan herinner ’n mens weer aan die ooreenkomste tussen Elia en Moses. Maar let op dat die simboliese handelinge met die mantel begelei word deur die aanroep van die Here, beide hier met Elia en later met Elisa.  Die mantel het dus nie magiese krag wat outomaties wonderwerke doen nie.  Dit is God wat in beheer is en wonderlike dinge doen.

Elisa se versoek vir ’n dubbele deel van Elia se gees verwys moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut 21:17), waarmee hy eintlik net vra dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as te wees nie. Dit herinner ook aan die oordrag van die Gees op die 70 oudstes in Moses se tyd (Num 11).

Let op dat Elia in die stormwind weggeneem word, en nie in die wa en perde van vuur nie, soos dikwels verkeerdelik aangeneem word.  Die versoek van die profete om Elia te gaan soek, hoewel vrugteloos, het te make met die gebruik van daardie tyd dat ’n lyk begrawe moet word.

Die vloek oor Jerigo, wat ook die water besoedel het, word in ’n wonder deur Elisa opgehef.  Let weereens op dat die sout nie magiese krag het nie, maar dat dit die Here is wat die water bruikbaar maak.

Die straf vir die aantasting van Elisa se gesag as profeet klink vir ons baie wreed. Hou egter in gedagte 1) dat dit die Here se eer is wat in gedrang is as ’n profeet geminag word en 2) dat dit in Bet-El gebeur waar sinkretisme beoefen is.  Die tragiese verhaal is dus ’n harde woord aan ’n omgewing wat die Here nie wil dien nie en bevestig ook die gesag van Elisa.

Die stryd tussen Moab en Israel is ook bekend uit ’n inskripsie op ’n gedenksteen wat by Dibon ontdek is.  Weereens is daar samewerking tussen Israel en Juda.  Elisa word egter opgesoek as die manskappe se water opraak.  Dat hy nie ontbied word, soos ons soms by Elia gesien het nie, wys dat die voorafgaande gebeure by die Jordaan en Jerigo, sowel as die tragiese gebeure met die kinders ’n ontsag vir Elisa geskep het, selfs by die konings.

Ons kom agter uit die lierspeler wat ingespan word, dat Elisa ’n ekstatiese profeet was wat ’n atmosfeer geskep het waarin hy die stem van die Here kon hoor.  Sy voorspelling dat die Here sal voorsien word waar, en hulle kan Moab verslaan.  Die kinderoffer vervul Israel egter met soveel afgryse dat dit hulle keer van ’n totale verwoesting van Moab.  Mesa interpreteer dit, volgens die inskripsie, as ’n oorwinning vir homself.

View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar