Skip to main content

Om in die bewuste teenwoordigheid van die Heilige Gees te leef – Simeon en Anna

Lukas vertel drie verhale van Jesus se kinderjare. Hy lig Jesus se besnydenis en voorstelling in die tempel, die lofprysing van Simeon en Anna in die tempel, sowel as Jesus se besoek aan die tempel op twaalfjarige ouderdom uit. Lukas kies dus om Jesus se kinderverhale (0-12), spesifiek dié wat met die tempel te make het, te vertel. Die band met God en sy openbaring in die tempel is in fokus.

In Lukas 2:25-38 word die verhale van Simeon en Anna vertel.

Simeon – regverdig en vroom

Ons leer vier dinge van die profetiese figuur Simeon van Jerusalem. Hy was regverdig (soos dit van Sagaria en Elisabet ook gesê word – Luk 1:6) en vroom. Hy het die vertroosting (herstel) van Israel verwag (vgl Jes 40:1; 61:2) en die Heilige Gees was op hom.

Wat Sagaria en Elisabet in hulle lofliedere ervaar het – dat die Heilige Gees hulle vervul om ‘n boodskap van lof te bring – was dus deel van Simeon se alledaagse spiritualiteit. Hy het in die bewuste teenwoordigheid van die Heilige Gees geleef. Só het hy ‘n boodskap van die Heilige Gees gekry dat hy die Gesalfde – die Hebreeuse woord in die OT is Messias; die Griekse woord word ook as die eienaam Christus gebruik vir Jesus in die NT – sal sien voor hy sterf. En word hy gelei na die tempel waar hy die Kind van die belofte in sy arms kon neem.

Dit tref my hoe Jesus by die tempel aankom omdat die wet – die Woord van God – dit voorskryf, en Simeon daar aankom omdat die Heilige Gees hom daarheen gelei het – die woord van God. Twee primêre maniere waarop God in mense se lewens werk. Die wet en die Gees is nie in ‘n stryd met mekaar nie. Albei kom van God af. Dit geld hulle tyd sowel as ons eie tyd.

Die loflied wat die Heilige Gees vir Simeon gee, word die Nunc dimittis (Latyn vir “laat gaan”) genoem na aanleiding van die eerste woorde daarvan. Talle kerke gebruik dit in hulle liturgieë, soos dit ook die geval is met die Magnificat van Maria, en die Benedictus van Sagaria. Elisabet s’n word soms die Beautitude genoem.

Simeon verwys met die aanvang van die loflied na die “woord” wat die Gees vir hom gegee het. Dit het nou in vervulling gegaan en sal hom nou met vrede sy eie dood tegemoet kan laat gaan. Sy oë het die verlossing van Israel gesien.

Simeon verklaar ook dat Jesus nie net van betekenis vir die Jode gaan wees nie, maar ook vir die nasies, waarmee Lukas die universele impak van Jesus se bediening aandui. En dié Jesus sal mense voor ’n keuse stel, wat hulle val of opstaan sal beteken.

Simeon reageer op die verbasing van Jesus se ma en pa deur hulle te seën, en dan spesifiek met Maria ‘n verdere profesie te deel dat hierdie Kind bestem is tot ‘n val en opstanding van baie in Israel. Jesus en sy boodskap sal weerspreek en verwerp word sodat die “redenering van baie harte aan die lig kan kom”.

Dit is in vertroue en verset wat harte ontbloot word. Wat die diepste bedoeling van mense se harte openbaar word. Maar, vir Maria sal dit voel asof die teenstand teen haar Seun soos ‘n swaard deur haar siel klief.

Anna – bidder van formaat

Simeon se woorde is nog nie koud nie, of Anna kom op die toneel. Haar naam is in Hebreeus Hanna, die naam van Samuel se ma in 1 Sam 1, ‘n vrou wat ook in die tempel gebid het vir ‘n seun en wie se gebede verhoor is!

Sy het reeds ‘n gebedsbediening van meer as 60 jaar in die tempel gehad! Sy was vir ‘n kort rukkie getroud, sewe jaar, en nou op 84 is sy steeds besig met haar lewenstaak, om die Here in die tempel te aanbid deur gebed en vas. Dit sluit getuienis in, want, sy vertel onmiddellik van haar ervaring in die teenwoordigheid van die Gesalfde vir almal wat dieselfde verwagting as sy gehad het, die bevryding van Israel.

Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jesus wat gesê het dat die huis van sy Vader ‘n huis van gebed moet wees (Luk 19:46; vgl Jes 56:7). Anna het nooit opgehou om in die tempel te bid nie!

Anna het dus ook in die bewuste teenwoordigheid van God geleef. Sy het ingetree by God vir alles en almal waarvan sy bewus was. Sy het doelbewus ook gevas sodat haar fokus onbelemmerd op God se teenwoordigheid kon wees. En sy het nie geskroom om vir ander te vertel wat God op haar hart gelê het nie.

Betekenis en boodskap

Die wonder van hierdie Godsman en Godsvrou se toewyding aan die Here, is dat hulle die grootste guns van God ontvang, om nie net sy Seun te sien nie, maar Hom in hulle arms te neem, en God vir Hom te loof, die Immanuel, die God met ons.

Hulle verhale leer ons dus dat ‘n lewe wat bewustelik gelewe word in die teenwoordigheid van die Here – in regverdigheid en vroomheid soos Simeon, in gebed en vas soos Anna – ‘n onmeetlike impak nie net in die lewe van mense rondom jou kan hê nie, maar in jou eie lewe ook.

1. Dink dus na oor gebed en die teenwoordigheid van die Heilige Gees aan die hand van die twee innemende karakters van Simeon en Anna.

  • Anna het eintlik die tempel haar gebedstuiste gemaak! Soos wat ons as gelowiges nou self ‘n “gebedstuiste” is. Hoe kan jy haar navolg, in jou eie situasie, sodat jy al hoe meer in die bewuste teenwoordigheid van God kan lewe?
  • Simeon het geleef in die teenwoordigheid van die Heilige Gees, nog vóór die uitstorting van die Gees. Sy oë was gerig op die ewigheid en God se voorsiening in die hede. Watter diep en vervullende manier van lewe, nie waar nie! In gebed en in die Gees. Hoe kan sy voorbeeld nie jou lewe verander nie?

2. Dink ook na oor die verband tussen die wet en die Gees.

Dink daaroor dat die Gees juis die wette van God in ons hart skrywe (Hebr 8:10) en ons help om dit na te kom deur die werke van die vlees dood te maak (Rom 8:1-17).

Die wet is nou die “reël van dankbaarheid”, nie ‘n “weg tot verlossing” nie, soos dit natuurlik eintlik altyd bedoel was (Heidelbergse Kategismus Deel 3).

Uiteraard sluit ons nakoming van die wet nie meer die burgerlike en seremoniële dele van die wet in nie, want dit is in Christus vervul. Dit gaan nou net oor die morele kant van die wet wat saamgevat kan word in die dubbele liefdesgebod, om God lief te hê en ons naaste soos onsself (Nederlandse Geloofsbelydenis 25).

3. Dink ook na oor die wyse waarop God se Woord – die Bybel – en God se woord – die influistering van die Heilige Gees – jou lewe kan verander.

  • God se Woord is die norm. Niks kan daaraan verander nie. Alles begin daar. Alles word daaraan gemeet.
  • Maar God se woord is net so noodsaaklik as ‘n begeleiding in die keuses wat ons maak, in die roeping wat die Here vir ons gee, in die boodskap wat Hy deur ons wil verkondig.

God se Woord is die basis, die onveranderlike, die standaard. God se woord is die toepassing daarvan, die toe-eiening daarvan, altyd onderhewig aan God se Woord, maar uiters noodsaaklik in ons wandel met die Here.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Jesaja 1Hi Elsa, jy is welkom. Hier is die skakel: https://bybelskool.com/jesaja-1/
  • Elsa Perold on Jesaja 1Ons is 'n Bybelstudiegroep in Tulbagh en wil die boek Jesaja bestudeer. Ek het onderneem om meer oor oorsprong en rede vir die boek Jesaja asook die profeet Jesaja na te vors. Ek moet ook Hoofstuk 1 voorberei vir volgende Woensdag. Ek wil weet of ek die materiaal rondom Jesaja wat deur uself saamges…
  • Chris van Wyk on Psalm 82Hi, ek verstaan. Ek het die subscribe opsie afgesit, want dit is in elk geval in 'n widget aan die regterkant, maar die cookies is 'n belangrike een vir "consent". Dit kan ek nie afsit nie, en behoort nie baie te verskyn nie.
  • optimistica231f5e58a on Psalm 82Beste Chris. Jammer, maar ek moet die medium gebruik om jou in te lig omtrent die "Subscribe" boodskappe wat my deesdae verpes. Ek kan jou nie op ander "comments" kontak en moet vra hoekom na ek ingeteken het en weer "Subscribe" het soos hul vra, weee en weer die boodskap oor Cookies en Subscribe kr…
  • Chris van Wyk on Ons nader die einde van die OT gedeelte van ons kronologiese BybelleesplanDankie Doreen, waardeer.
  • Doreen Snyders on Ons nader die einde van die OT gedeelte van ons kronologiese BybelleesplanGoeiedag, net om baie baie dankie te sê vir al u wonderlike en insiggewende bydraes wat ons so gereeld ontvang. Ek besef hoe geweldig baie die navorsing en skrywe daarvan verg. Nogmaals dankie. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Ons nader die einde van die OT gedeelte van ons kronologiese BybelleesplanDankie Chris, my voorreg.
  • Chris van Zyl on Ons nader die einde van die OT gedeelte van ons kronologiese BybelleesplanBaie dankie Chris vir die ekstra waarde wat jy toevoeg deur die interpretasies en kontektuele uitleg van die Bybel met ons te deel. Dit alles maak baie sin. Mag God jou seën met hierdie bydraes tot geestelike groei. Voorspoed.
  • Chris van Wyk on Esegiël 45-46👍
  • Louisa Meyer on Esegiël 45-46Ek staan al hoe meer verwonderd oor die volledigheid van Godse woord en die relevansie van elke gedeelte. Baie dankie.
  • Chris van Wyk on Wees versigtig vir die verkeerde idees oor KersfeesHi Richard, jy is reg, maar die belangrike is om nie saam te doen nie, en die dag as 'n Christusfees te vier, terwyl 'n mens in hierdie tyd fokus op uitreik na ander, en ook familiewees vier. Groete.
  • Richard on Wees versigtig vir die verkeerde idees oor KersfeesMôre oom Chris. Gaan dit goed? Dankie vir hierdie skrywe, wat seker vir altyd in debat sal wees, ongelukkig. Nietemin, ek wil tog vra vir ń nuwe artikel rakende die onverantwoordelikheid waarmee ons Kersfees vier. Wat ek bedoel is die volgende: Hoe kan ons derduisende rande spandeer aan bome, liggie…
  • Chris van Wyk on PREKE: 2008 TOT 2018Die Bybel, soos jy weet, het geen probleem met die matige gebruik van drank nie, en verbind dit baie keer met feestelikheid, bv as drankoffer (Num 28:7) en tydens die fees van die tiendes (Det 14:26). Dit was wel verbode vir sommiges onder sommige omstandighede: vir Leviete wat in die tent van samek…
  • Wilma Heydenrych on PREKE: 2008 TOT 2018Goeiemore Pastoor. Ek het iets wat my vreeslik pla en dis die verkoop van sterk drank deesdae by ons kerk kermisse/besaars... ek is lid van die NG Kerk...ek is nie daarmee gemaklik nie aangesien ek weet wat alkohol aan mense/families doen... kom uit so huwelik... Ek weet en verstaan die gebruik van…
  • Chris van Wyk on Hosea 14:2-10 – Ek sal hulle afvalligheid genees, Ek sal hulle uit vrye wil liefhêAnelle, dit is nooit te laat vir iemand om tot bekering te kom nie. Onlangs het ek die getuienis van 'n 104-jarige persoon gehoor wat tot bekering gekom het.