Bybelskool

Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (8)

  • Avatar

    Deon Vermeulen

    |

    Môre
    Die Bybel. 1933 vertaling wat ek lees leer my dat ek vrygemaak is van die wet en van alle sonde deur Jesus wat gesterf het vir ons aan die kruis. Deur jou te laat doop soos dit Jesus se bevel is volg jy dieselfde pad en is los van die wet en die sonde. Sonder ñ wet is daar nie sonde nie. Ek praat nie van baba doop nie want daar is geen baba gedoop in die bybel nie. Volgens my moet jy tot inkeer kom, jou laat doop en heiligmaking doen. Paulus sê hy sterf elke dag. Nou verstaan ek nie hoe gaan mens dan nou weer terug onder die wet en geen mens kan Moses se wet onderhou nie. Een sonde maak van jou n sondaar en daar staan geskryf dat n sonder nie in God se Koninkryk sal ingaan nie.

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      ‘n Paar sinvolle opmerkings van jou, Deon.

      1. Jy is vrygemaak van die wet as ‘n weg van saligheid. Dit leer die Bybel onteenseglik. Paulus preek uitvoerig daaroor in die sinagoge in Antiogië in Pisidië (Turkye): “Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.” (Hand 13:38-39).

      2. Ons word geregverdig deur geloof “sonder die werke van die wet” (Rom 3:28).

      3. Dit beteken egter nie dat die wet tot niet gemaak word deur die geloof nie. “Inteendeel, ons bevestig die wet.” (Rom 3:31)

      4. Dit beteken verder dat jy nie “los” is van die wet of “los” is van die sonde nie.

      Om drie redes.

      4.1 In die eerste plek bly die wet die instrument wat jou leer wat sonde is (1 Tim 1:8-9; Jak 2:9). Sonde is wetteloosheid. Só praat Jesus daaroor en waarsku ons dat Hy wetteloosheid sal oordeel (Matt 13:41). So ook Johannes (1 Joh 3:4).

      4.2 In die tweede plek kan ons steeds sondig. ‘n Mens mislei jouself as jy dink dat jy nie sondig nie (1 Joh 1:8-10). Dit is waarom heiligmaking so belangrik is en ons opgeroep word om nie te sondig nie, selfs ná ons bekering en wedergeboorte (1 Joh 2:1-2).

      4.3 In die derde plek skryf God deur sy Gees die wet op jou hart sodat jy van binne af die geestelike en morele eise van die wet kan nakom (Hebr 8:9).

      5. Dit is waarom die Nederlandse Geloofsbelydenis 25 die volgende oor die wet sê:

      DIE SEREMONIEëLE WET IN CHRISTUS VERVUL

      Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

      Rom. 10:4; Gal. 3, 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2, 18.

      Reply

  • Avatar

    ANDRE BOWER

    |

    Goeie more,

    Ek hou van punt 4.3 van die antwoord op Deon se sinvolle kommentaar.

    Dit bevestig net weer die geweldige liefde wat God vir my het. Hy buig neer en deur Sy Gees skryf Hy die wet op my hart. Telkens as ek verkeerd wil neig (selfs net in gedagte) kom die “wet” na vore en waarsku my.

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Dankie, André. Talle kere gebruik Jesus die Tien Gebooie om die wil van God te verkondig, in die Bergrede (Matt 5-7 – vgl veral 5:17-18; 7:12), teenoor die ryk jongman (Matt 19:16-30), en teenoor die Skrifgeleerdes (Matt 22:34-40). Paulus doen dieselfde in sy brief aan die Romeine teenoor gelowiges (Rom 13) en bevestig dit op talle ander plekke. Die helderste formulering van wat God verwag, is in die Tien Gebooie saamgevat. Dink net hoe wonderlik die wêreld sou wees as almal God erken as enigste God (1ste en 2de gebod), Sy Naam bó alles sal eer (3de gebod), Tot rus sal kom in Hom (4e gebod), eerbied sou betoon vir ouers en gesagsfigure (5de gebod), respek vir lewe (6de gebod), respek vir die huwelik (7de gebod), respek vir eiendom (8ste gebod), respek vir die waarheid (9de gebod) en respek vir enigiets en almal (10de gebod) sou betoon!

      Reply

  • Avatar

    johanb

    |

    Joh 14:15  If ye love me, ye will keep my commandments. 
    Joh 14:21  He that hath my commandments, and keepeth them, he it is that loveth me:
    Joh 14:23  Jesus answered and said unto him, If a man love me, he will keep my word: and my Father will love him, and we will come unto him, and make our abode with him. 

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Hi Johan. Ja, daardie gedeelte is só helder en duidelik. Dit is ook só motiverend, want God maak sy woning by ons! Ek dink daar is ‘n fundamentele misverstand oor die wet. Daar is net een wat wette maak, en dit is God. Almal wat Hom teenstaan, doen dit deur sy wette te oortree. Dit is per definisie wat dit beteken om sonde te doen, om God se wette te oortree.

      As iemand hom teen die wet van God verset, sien ‘n mens die gees van die Antichris. Die Antichris word baie name genoem – en daar is baie manifestasies van die Antichris tot met die finale een wat deur die Satan besete sal wees (Openb 13) – maar een daarvan is die WETTELOSE EEN. Enigiemand wat dus wetteloosheid predik, tree aan die kant van God se teenstanders op, soos Jesus in Matteus 13 waarsku.

      Paulus skryf daaroor aan die Tessalonisense: “Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.” (2 Tes 2:3-4).

      Reply

      • Avatar

        johanb

        |

        dankie Chris – dit is presies wat die profete en die Woord sêwat gaan gebeur en aan die gebeure is – dankie vir jou standvastigheid in hierdie tye van snelle en ernstige afvalligheid – die Christene gaan sterk leiers nodig hê vorentoe

        Reply

  • Avatar

    johanb

    |

    1Jn 2:3  And hereby we know that we know him, if we keep his commandments. 
    1Jn 2:4  He that saith, I know him, and keepeth not his commandments, is a liar, and the truth is not in him; 
    1Jn 2:5  but whoso keepeth his word, in him verily hath the love of God been perfected. Hereby we know that we are in him: 
    1Jn 2:6  he that saith he abideth in him ought himself also to walk even as he walked. 

    Reply

Leave a comment

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Adele, ek het met die Oujaarsdiens 2014 hieroor gepreek en die volgende daar gesê:

    Twee verhale word in Lukas 8 in mekaar geweef (vgl Matt 9:18-26; Mark 5:21-43). Die een verhaal is van ‘n familie wat met siekte en uiteindelik die dood gekonfronteer word, die verhaal van Jaïrus se twaalfjarige dogtertjie. Die ander verhaal is dié van ‘n vrou, dit wil lyk asof sy sónder familie was, wat 12 jaar aan bloedvloeiing gely het, en al haar geld op dokters spandeer het, en net nie gesond kon raak nie.

    Dit is twee verhale van pyn.

    Daar is die alleen-vrou wat 12 jaar lank erge gesondheidsprobleme gehad het. Sy kon nie kinders hê nie, en is daagliks daaraan herinner met bloedvloeiing, om die waarheid te sê, net so lank as wat die dogtertjie gelewe het!

    Daar is ook die familie-vaste man, Jaïrus, wat moes toekyk hoe sy enigste dogter se greep op die lewe al hoe swakkerder word, aan ‘n onbekende siekte, en uiteindelik sterf.

    Die worsteling van hierdie anonieme vrou was uitmergelend. Sy moes saamleef met eensaamheid, sowel as met haar siekte, sowel as met die feit dat mense haar siekte uitgebuit het en haar sodoende ekonomies geruïneer het.

    Hoe ironies dat sy nie kinders kon hê nie, maar elke dag herinner is daaraan met erge menstruale bloeding. En sy moes die jare sien verby sleep het, een na die ander, twaalf jaar lank, sodat die hoop later al hoe flouer gebrand het, nie net aan die behoefte om kinders te hê nie, maar aan blote gesondheid, en sy al hoe verder en eensamer op moedverloor se vlakte gesit het.

    Totdat sy resloos haarself op God se sorg gewerp het en aan Jesus se kleed geraak het. Lukas vertel dus ook vir ons wat die ontmoeting met Jesus vir haar in haar krisis situasie beteken het. Let op dat sy genees word nog voordat Jesus haar raaksien. Sy hoef Hom nie te oorreed nie. Dit gebeur oombliklik.

    Toe Jesus vra wie Hom aangeraak het, val sy bewend oor Hom neer en getuig van wat met haar gebeur het: “voor die hele volk”! ‘n Helder getuienis van God se genesende hand.

    Geen wonder Jesus sê vir haar, “Gaan in vrede!” nie. Want dit is inderdaad wat met haar gebeur. Haar lewe word heel. Sy is nie net genees nie, maar kom in die regte verhouding met God self.

    Die worsteling van Jaïrus was baie meer dringend. Hy het nie die jare sien verbysleep nie. Hy het die minute getel, so vinnig het die dood vir sy kind nader gekom, totdat die boodskap gekom het, moenie die leermeester meer pla nie, sy is dood. Die tyd het ons ingehaal.

    Let op hoe dit Jesus is wat tot sy hulp kom: “Moenie ontsteld wees nie. Glo net.” Jesus sien Hom raak, sien sy weifelende geloof, en sê, vertrou My. Ek sal sorg.

    En Lukas vertel vir ons hoe Jesus uiteindelik sy dogtertjie se hand neem en haar opwek uit die dood uit. “Haar ouers was oorstelp van blydskap”, sê Lukas vir ons!

    Dit is dus die eerste boodskap van dié verhaal. Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou.

    Hoekom? Want dít is wat Hy kom doen het!

    Hoofstuk 8 is eintlik ‘n wonderlike prentjie van die werk wat God vir Jesus gegee het om te doen.

    Dit begin met ’n kernagtige opsomming van Jesus se bediening. Hy het oral gegaan, die land deurkruis van een stad en dorp na die ander, en oral gepreek en die koninkryk van God verkondig.
    En dan word in die res van die hoofstuk vier verhale vertel van wat God deur Jesus verder gedoen het: die stilmaak van die storm, die genesing van Legio, die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die opwekking van Jaïrus se dogter. Vier verhale van wonders – in die natuur, in die gees (duiweluitdrywing), in die liggaam, en selfs in die dood.

    Daar is ‘n wonderlike progressie in dié verhale. Die wonders neem toe in intensiteit, die storm, die eksorsisme, die genesing en dan die opwekking van die dogtertjie uit die dood, die klimaks.
    Daarmee suggereer Lukas natuurlik op ‘n dieper vlak dat die opwekking uit die dood ’n hoogtepunt van Jesus se bediening verteenwoordig … waarvan Sy eie opwekking die finale klimaks sal wees. Daaroor egter ‘n ander dag.

    Die boodskap is, Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. Hy doen dit in die natuur. Hy doen dit in die gees. Hy doen dit in die liggaam en Hy doen dit selfs in die dood.

    Ons dink te min hieroor na. Ons bemoedig mekaar te min met hierdie hoop. Niks is by God onmoontlik nie. Dít is wat hierdie verhale vir ons van wil oortuig. Dít is die boodskap waaraan ons kan vasgryp en waarvoor ons die Here ook kan vra.

    Maar daar is ‘n tweede boodskap in hierdie verhaal wat my ‘n nog dieper betekenis het. Die belangrikste betekenis is nie in wat Jesus vir hierdie twee lydendes gedoen het nie, al was dit wonderlik, en al kan ‘n mens die Here daarvoor vra. Die belangrikste betekenis van dié gedeeltes lê in wat Jesus vir hulle gesê het.

    Vir die anonieme vrou sê Jesus: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

    Let op die woordjie gered. Lukas kies om nie die woord genees te gebruik soos wat Markus dit bykomend doen nie. Markus haal Jesus in 5:34 aan met dié woorde: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en bly genees van jou kwaal.”). Lukas kies egter om net die woord gered te gebruik, soos Matteus dit trouens ook doen in 9:22: “Hou moed, dogter, jou geloof het jou gered.”

    Hoekom? Want onthou, Lukas haal vir Markus hier aan in sy verwoording van hierdie verhaal. Hoekom?

    Want vir Lukas – soos vir Matteus – is die genesing deel van hierdie groter werklikheid, die bevestiging van ‘n verhouding met God self. En hy wil dit beklemtoon. Lukas en Matteus plaas dus in die verwoording van die betekenis van die genesing die fokus op die redding. Die genesing is vir hulle ‘n teken van die redding. Markus doen dit natuurlik ook, maar fokus sterker op die rol wat albei speel – die genesing en die redding.

    Daarom kan die vrou in vrede gaan, want sy het in die genesende aanraking van Jesus vrede met God ontvang. Sy is deur Jesus gered. Sy kan nou in vrede met God gaan leef, selfs al het sy steeds nie ‘n familie of enigiemand anders wat na haar omsien nie, want Jesus het haar gered.

    Dit is min of meer dieselfde boodskap wat Jesus aan Jaïrus gee: “Glo net en sy sal gered word.” Die opwekking uit die dood, ‘n werklike groot wonderwerk, illustreer steeds hierdie groter werklikheid, die bevestiging van ‘n verhouding met Jesus.

    Jaïrus se lewe word daardeur vir altyd verander. Die wonder van sy ontmoeting met Jesus, van sy eie “opstanding uit die dood”, by wyse van spreke, is eintlik van groter belang as die genesing van sy dogtertjie, Talita, soos Markus vir ons vertel. Hy en sy word deur dié gebeurtenis gered, in ‘n lewende verhouding met Jesus bevestig. En dít is die werklikheid wat bly, selfs al sou hyself later ook die dood moes ervaar. Dit is ook dieselfde werklikheid wat sy dogtertjie ook sou ervaar, want sy sou die dood in elk geval ook weer later moes ervaar.

    Die genesing is dus wonderlik, maar die redding is die ding waaroor dit ten diepste gaan.
    Hoekom moes die vrou dus só lank wag? Sodat Sy in Jesus vir God kon ontmoet.

    Want dit is uiteindelik al wat belangrik is. Nie haar genesing nie, maar haar redding is wat belangrik is. En dit was ‘n getuienis aan die hele volk waardeur die werklikheid van God se genesende teenwoordigheid in Jesus bevestig is. Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. En Hy red hulle.

    Hoekom moes Jaïrus en sy dogter die pyn van die dood ervaar? Sodat hulle in Jesus vir God kon ontmoet.

    Want dit is uiteindelik al wat regtig belangrik is. Selfs nie die opstanding uit die dood is so belangrik as die feit dat hulle Jesus God kan noem. Jesus wys ook met hulle verhaal dat Hy genees en dat Hy red.

    Wat sê dit vir ons?

    Wat mag ons van God vra? Wat kan ons doen met ons worsteling met siekte en die dreigende dood?

    • Ons mag kom en Jesus se kleed, by wyse van spreke, aanraak. Hy sal sorg.
    • Ons mag kom en vra dat Hy die dood sal weerhou. Alles is moontlik by Hom.
    • God doen vandag nog wonders. Ons mag daarvoor vra.

    Maar, ons moet goed hoor, dat die evangelie van Lukas se verwoording van hierdie twee verhale, die fokus op redding laat val, op die verhouding wat tot stand kom tussen ons en Hom. Dit is die grootste geskenk wat God ons gee.

    En met daardie hoop kan ons lewe.

    Ek kan nie genesing belowe nie. Ek kan wel sê:

    • Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. Dit kan genesing en sy wonderwerke insluit.

    En ek moet sê:

    • Die verhouding met God is ons grootste geskenk. Dit is waar in alle gevalle en die grootste wonderwerk van almal.

  • Avatar

    Adele

    |

    Goeie dag,
    Kan jy my asb help met die kort verhaal van die vrou van bloedvloeiing.
    Ook hoekom Lukas die verhaal geskryf het.
    Baie dankie.
    Adele

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Malcolm. Paulus verwys waarskynlik na ‘n brief wat hy vroeër vir hulle geskryf het om hulle te betig oor allerlei (2 Kor 2:4). Daardie brief is óf 1 Korintiërs óf ‘n ander brief aan die Korintiërs wat ons nie meer besit nie. Indien dit na 1 Korintiërs verwys, het hy moontlik verwys na die man wat met sy ma in ‘n verhouding was (1 Kor 5). Indien dit na ‘n ander brief verwys, praat hy moontlik oor iemand wat sy apostoliese gesag uitgedaag het.

    Hoe dit ook al sy, hy kom agter die gemeente het hulle plig nagekom om die persoon tereg te wys, en prys hulle daarvoor. En hy gebruik die geval om hulle te leer wat die verskil is om hartseer te wees oor iets wat tot inkeer lei teenoor om hartseer te wees oor iets wat nie tot inkeer lei nie, omdat dit volgens wêreldse oorwegings is.

  • Avatar

    Malcolm Blewett

    |

    Hallo leraar, verduidelik vir my 2 Korintiërs 7 verse 9 en 10 asb!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Anneke. Die Bybelskool was in die eerste plek ‘n uitvloeisel van my eie pad met die Here binne die gemeente. Ek is só bly dat dit vir baie ander gelowiges in die koninkryk iets kan beteken. Aan Hom wat ons roep al die eer.

  • Avatar

    Anneke

    |

    Goeiedag Chris

    Ek het hierdie jaar met ‘n leesplan begin om die Bybel in een jaar deur te lees (M’Cheyne).
    Ek het op jou Bybelskool afgekom en is so dankbaar en verwonderd oor die enorme werk wat jy gedoen het met die bydraes oor al die Bybelboeke! Mag jy nog steeds vorentoe uitermate seën ontvang op jou werk!

    Groete en Christusliefde
    Anneke.

  • Avatar

    Jeanette Steenkamp

    |

    Goeie more Chris,
    Ek het perongeluk op Bybelskool afgekom toe ek n betekenis in Psalms wou naslaan. Dit is so Wonderlik toe ek hierop afkom met al die Psalms betekenisse

    baie dankie
    Jeanette

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Susan. Ek is dankbaar. My boek oor die Twaalf Kleiner Profete word binnekort by CUM gepubliseer. Dit sal meer mense in staat stel om deur die profete te werk in hulle stiltetyd sowel as in Bybelstudiegroepe:

    Die Twaalf Kleiner Profete

  • Avatar

    Susan Henning

    |

    Ek het so pas deur Hosea gewerk….dankie vir die uiteensetting en inligting Ek het nooit werklik verstaan waaroor alles gaan nie…nou is dit soveel duideliker..baie dankie.

    Susan

Prontuit die Waarheid