Skip to main content

Genesis 6 – God is bedroef dat Hy die mens gemaak het, maar begenadig Noag

4782847Ons kom by die derde deel van die Oergeskiedenis.  Die eerste deel, die geskiedenis van die hemel en aarde (Gen. 2:4 vv.), het geëindig in die “sondeval” (Gen. 3) en “broedermoord” (Gen. 4).

Dieselfde negatiewe gevolge kan in die tweede deel, die geskiedenis van Adam (Gen. 5:1 vv), bespeur word.  Dit sien ons in die tragiese beskrywing van die: “groot bedorwenheid van die mens op aarde” – Genesis 6:1-8.

Daar is tog steeds ‘n sprankie hoop – soos dit ook was met die geboorte van Set waarin die mense God begin aanroep het –  in die feit dat Noag deur God begenadig is.

Hierdie derde deel van die Oergeskiedenis vertel daarom die verhaal van Noag van Genesis 6:9-9:29, waarna ‘n afsluitende twee dele van die Oergeskiedenis vertel sal word, die geskiedenis van Noag se seuns: Sem, Gam en Jafet – Genesis 10:1 vv. en die geskiedenis van Sem – Genesis 11:10 vv.

Indeling – bedroefde God, begenadigde Noag

Hoofstuk ses val duidelik in twee dele uiteen.  Die eerste agt verse fokus op die Here se bedroefdheid oor die verdorwenheid van die mens.  Vers nege tot 22 fokus op Noag wat deur die Here begenadig is.

Daarmee word die verhaal van God se ingrype vertel wat ‘n nuwe begin met Noag en sy familie en nageslag maak.  Dit is die oorhoofse punt wat die verhaal van Noag in die ontvouende verhaal van God met die mens in die Bybel gaan maak.  God se droefheid gaan oor in genade as Hy iemand vind met wie Hy die pad met die mens vorentoe kan loop, al sou hulle Hom ook telke male teleur stel … totdat Hy in sy eie Seun die perfekte antwoord vir die dilemma van menswees vind.

Die vloed in die lig van die argeologie en geologie

Dit is dan ook die beste manier waarop ‘n mens die verhaal kan hanteer, presies soos die Bybel dit vertel, as ‘n nuwe begin wat God maak, ‘n “ont-skepping” van die bewoonde wêreld sodat Hy dit weer nuut kan skep met die nageslag van Noag, sowel as met die diere.

Ek sê dit spesifiek in die lig van die baie probleme wat geleerdes met dié verhaal het vanuit die argeologie en geologie.  Dit is onteenseglik so dat daar min oortuigende argeologiese en geologiese getuienis is van ‘n vloed wat die hele wêreld bedek het, ten spyte van die oorvloed verhale daaroor regoor die wêreld.  Byna alle beskawings praat wel van ‘n wêreldvloed, maar die argeologie en geologie ondersteun nie dié herinnering van mense nie.  Daar is slegs getuienisse van vloede wat ‘n beperkte invloed op ‘n kleiner gebied gehad het.

Daar is bv. wel oral oor die wêreld getuienis van vloede, soos bv. in die Grand Canyon van Amerika waar dit deeglik bestudeer kan word, maar die datums van dié vloede op die verskillende plekke kom nie ooreen met mekaar nie.  Daar is veral baie getuienisse van vloede in Mesopotamië waar hierdie vloed van Noag afspeel, maar die datums van dié onderskeie vloede verskil ook as ‘n mens dit wetenskaplik met mekaar vergelyk.  Dit is ook uit opgrawings bekend dat daar op ‘n plek soos Jerigo, wat vir talle millennia ononderbroke bewoon is, geen getuienis van enige vorm van vloed regdeur die geskiedenis van dié stad is nie (John Walton).

Dit is dus sinloos om die verhaal te probeer aanpas by of te harmonieer met die argeologie, geologie en ander wetenskappe.  Daar is net te veel potensiële probleme wat rondom die Bybelse verhaal in vergelyking met wetenskaplike ondersoeke na vore kom.  Ek gaan dit dus nie probeer doen nie.

Maar, ek doen dit nie net om die probleme te ignoreer nie.  Ek dink ‘n mens mis met ‘n poging tot harmonisasie – óf natuurlik ook met ‘n afskiet van die verhaal as baie onwaarskynlik – te maklik die punt van God se genade wat op só ‘n helder manier in Genesis 6-9 vertel word.  Die verhaal is in elk geval deel van die “voor-geskiedenis” van die wêreld en ons toegang tot die presiese detail daarvan is uiters beperk.  Dit kan ons na alle kante toe erken.

Wat belangriker is vir my, is dat God ‘n nuwe begin met die wêreld deur Noag se gehoorsaamheid maak, soos vertel in dié vier hoofstukke.  Hoe dit presies gebeur het, en hoe dit alles só kon gebeur het, is nie histories verifieerbaar nie, en op ‘n praktiese vlak selfs moeilik om te verklaar, bv. die klein seleksie van diere en hoe só ‘n klein seleksie van diere ná die vloed tot die geweldige diversiteit van spesies op aarde kon gelei het.

Die verhaal getuig dus van ‘n nuwe begin.  Dít is die punt van die verhaal en daarop kan ons met sekerheid fokus.

Die Here is bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het – 6:1-8

Twee dinge word hier uitgelig as ‘n aanleiding tot God se droefheid oor die mens.  Die een is dat die hemelwesens met die dogters van die mense getrou het en daarmee die grens tussen hemel en aarde oorskrei het.  Die ander is dat die Here se ervaring van mense Hom geleer het dat hulle hul lewe lank “net slegte dinge bedink”, selfs al was hulle deel van die nageslag van Set.

Dit het die Here só ontstel dat Hy bedroef was daaroor dat Hy die mens in die eerste plek gemaak het.  Die sondeval het nie net die mens se denke benewel en die aarde in gevaar gestel nie.  Dit het selfs God se domein, die hemel, bedreig, in terme van die hemelwesens wat in opstand teen sy wil vir hulle bestaan gekom het en met mense begin ondertrou het.

Hemelwesens is die vertaling van die Hebreeuse frase bene ha’elohim – “seuns van God” – wat in die OT altyd vir hemelwesens gebruik word (Deut. 32:8; Job 1:6; 2:1; 38:7; Ps. 82:6; 89:6; vgl. ook bene el-chay, “seuns van die lewende God” in Hos. 1:10 wat vir Israel gebruik word as ‘n soort aardse ekwivalent).

Sommige verbind die frase oor die “seuns van God” aan Set se nageslag en die “dogters van die mense” aan Kain se nageslag (bv. Augustinus), maar dit is beter om dit soos in die res van die OT te interpreteer as: “hemelwesens” soos dit inderdaad ook in die NT geïnterpreteer word.   (2 Pet. 2:4–5; Jud. 6).  Dit sou ook vreemd wees dat dit net die mans van Set se nageslag en net die vrouens van Kain se nageslag is wat met mekaar trou.  Die interpretasie is ook in lyn met die Joodse tradisie wat die ondertrouery aan ‘n rebellie onder die engele verbind en selfs name aan die leiers gee (1 Henog 6-7).

Hierdie dinge het God nie net emosionele pyn gegee nie.  “Dit het Hom diep gegrief.”  Dit het Hom so diep verneder en beledig dat Hy net een uitweg kon beraam en dit is die totale uitwissing van die mens: “want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.” Hy het verwag dat hulle Hom sou aanbid, soos Set en sy nageslag aanvanklik gedoen het, maar dié verwagting het beskaam.

Let op dat God nie deur ‘n ander godheid tot dié stap beweeg is nie.  Sy plan met die mens is nie deur enigiemand anders gedwarsboom nie, as maar net wat in die ontvouing van die menslike geslag gebeur het.

En dan die stukkie hoop: “Maar Noag is deur die Here begenadig.

Maar Noag is deur die Here begenadig – 6:9-22

Daarmee word die verhaal van Noag ingelei, ‘n regverdige en onberispelike man wat naby aan God geleef het, soos dit ook van Henog voor hom gesê is.

Let op dat God regdeur hierdie verhaal die aktiewe gespreksgenoot en handelende subjek is.  Noag praat nêrens.  Hy doen wel alles presies net soos wat God vir hom sê.  Die eerste en enigste plek waar vertel word dat hy sy mond oopgemaak het, is toe hy ‘n vervloeking oor Kanaän, sy kleinseun, uitgespreek het oor die vergryp van Gam wat sy pa se naaktheid aanskou het (Gen. 9:24-27).

Die aanleidende oorsaak vir die vloed word as die korrupsie en geweld op aarde geteken – “elke mens op aarde se lewe was verrot” – wat God laat besluit het om ‘n einde te maak aan alle mense, sodat Hy nuut kon begin met Noag.  Hy gee dus opdrag dat Noag ‘n ark bou wat die oorstroming wat die Here sou stuur oor die aarde die hoof kon bied en vir hom en sy familie sowel as vir die voëls en diere redding kon verskaf.

Boodskap

God se passie vir ‘n verhouding met mense is groter as sy afgryse van die ongehoorsaamheid van mense.  Dit het ons gesien in die verhaal van Adam en Eva.  Dit het ons gesien selfs in die verhaal van die geweld van Kain teenoor Abel.  Dit sien ons nou weer in die verhaal van Noag.  God wil by ons woon.  Hy wil met ons wandel.  Hy wil met ons in gemeenskap wees.

Die verloop van die res van die storie van die Bybel sal telkens vir ons hieraan herinner.  Die Bybel is die verhaal van God se onvermoeide pogings om die verhouding met mense te herstel, om ons terug te wen in ‘n verhouding met Hom, sodat Hy ons kan liefhê en ons vir Hom.

Die verhaal van Noag is daarom in ‘n sekere sin God se eerste poging om met ‘n familie oor te begin, eerder as net met ‘n persoon soos Set, die derde seun van Adam en Eva.  Dat dit nie volledig gaan slaag nie – soos ons gaan lees in die verhaal van die dronkenskap van Noag en die ongemaklike storie van Gam waaruit drie aartsvyande van Israel gebore sou word – beteken nie dat God nie alles insit om dinge reg te maak nie.

Dat uit Gam se nageslag Egipte gebore sou word, die nasie wat Israel – nageslag van Sem – ‘n slawevolk sou maak, dat die Kanaäniete op soortgelyke wyse ‘n konstante verleiding sou wees vir hulle broerskinders Israel, toe die volk uiteindelik die beloofde land betree het, en dat die Assiriërs, ook deel van Gam se nageslag, vir die eerste ballingskap verantwoordelik sou wees,  was hier nog ver in die toekoms (Gen. 10:6-20).

Die probleem weet ons egter, is dat die Here wel die sondige mense op aarde kon uitwis met die vloed, maar dat die sonde self nie daarmee uitgewis is nie, want die sonde het saam met selfs die begenadigdes, Noag en sy mense, opgeklim op die ark.  Die sonde was doodgewoon deel van hulle geestelike DNA.  Iets meer sou moes gebeur … die Here Jesus sou die sonde van die mens aan die kruis moes kom uitwis en ons van binne af verander deur geloof in sy versoeningswerk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar