Skip to main content

Wat beteken Jesus Christus se menswording vir jou? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Apostoliese Geloofsbelydenis 2, die Geloofsbelydenis van Nicea 4, die Nederlandse Geloofsbelydenis 26, sowel as die Heidelbergse Kategismus 48. Wat leer jy oor die betekenis van Jesus Christus se menswording? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Apostoliese Geloofsbelydenis 2

2. Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria.

Geloofsbelydenis van Nicea 4

4. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe.

Nederlandse Geloofsbelydenis 26

CHRISTUS ONS VOORSPRAAK

Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons ‘n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie, Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van ‘n mens en van ‘n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Fil. 2:6-7 en Heb. 2:17). As ons dus moes soek na ‘n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom. 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt. 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit uit hulle geskrifte blyk.

Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel – wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem – dat Jesus Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen.

Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2:17-18). En om ons nog meer moed te gee om na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: ‘Terwyl ons dan `n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word’ (Heb. 4:14-16). Dieselfde apostel sê: ‘Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus … laat ons toetree met `n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid…’ (Heb. 10:19, 22). En voorts: ‘maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree’ (Heb. 7:24-25). Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie’ (Joh. 14:6)?

Waarom sou ons ‘n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om ‘n ander een te neem of liewer ‘n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh. 16:23).

1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:26; Deut. 4:24; Gen. 3:10; Eks. 20:19; Jer 2:33; Jes. 43:22; Hos. 13:9; Luk. 18:19; Ef. 3:20; 1 Joh. 4:10; Ef. 3:19; Fil. 2:7; Joh 15:13; Matt. 28; Heb. 1:3, 7; Jes. 55:1-3; Matt. 11:28; Jak. 5:17; Ps. 115:1; Hand. 14:15; 10:26; Heb. 9:24; Joh. 11:9; Hand. 4:12; 1 Kor. 1:30; Ps. 34:7; Jer 2:5; Heb. 4:14, 16; Jer. 17:5, 7; Heb. 2:17-18; 4:14-16; Ef. 2:18; Heb. 10:19; 7:25; Joh. 14:6; Ps. 44:(21) 6; 1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:34; Luk. 11:2; Joh. 14:13; Jer. 16:20; Heb. 13:15; Rom. 5:8.

Heidelbergse Kategismus 48

48 Vraag: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

(a) Jer 23:24; Hand 7:49. (b) Kol 2:9; Joh 3:13; 11:15; Matt 28:6.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor God as mens.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…