Skip to main content

God seën ons tot ‘n seën – Efesiërs 1:3-14

Paulus stig die gemeente in Efese op sy tweede sendingreis

Paulus se verhouding met die gemeente in Efese het ‘n lang pad gekom. In Handelinge 18:18-19:40 word die verhaal vertel van die wonderbaarlike dinge wat God deur hom daar gedoen het met sy eerste besoek aan hulle aan die einde van sy tweede sendingreis, ongeveer in die jaar 51-52 nC.  Hy het waarskynlik by Akwila en Priscilla gebly.  Hulle het ‘n huis in Efese gehad (1 Kor 16:19).  Hy wou egter nie lank bly nie, en belowe om met ‘n volgende reis weer by hulle aan te doen.  Hy vertrek dus, doen Jerusalem aan, en voltooi sy tweede sendingreis met ‘n tyd in Antiogië.

Op sy derde sendingreis, ’n geestelike reis van versterking, bly hy egter langer, in totaal uiteindelik 3 jaar lank (Hand 20:31). Trouens, die groot fokuspunt op hierdie reis is Efese. Lukas vertel ons die verhaal daarvan in drie episodes:

  1. die verhaal van die uitstorting van die Heilige Gees waarin hy uitwy oor die betekenis van die doop;
  2. die verhaal van die seuns van Skeva waarin skynheiligheid aan die kaak gestel word;
  3. die verhaal van die oproer in Efese waarin die greep van die Bose op die gelowiges gebreek word.

Paulus som sy bediening onder hulle op met die woorde: “om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”  Onder baie trane en gebed rig hy van Efese af sy voetstappe na Jerusalem, ten spyte van die feit dat hy weet, soos God hom oortuig het, dat dit nie met hom goed sal gaan wanneer hy daar kom nie.  ’n Mens dink aan die ervaring van Jesus in Getsemane, hoewel Jesus nog slegter af was as Paulus, omdat Hy nie kon staatmaak op sy metgeselle in sy uur van nood nie soos Paulus dit wel hier kon doen.

Die brief aan die Efesiërs

Paulus skryf dan sy brief aan die gemeente in Efese tydens sy gevangenskap in Rome, net na hy ‘n soortgelyke brief aan die gemeente in Kolosse geskryf het.

Die brief aan die gemeente in Efese is die brief met die duidelikste uiteensetting in die Nuwe Testament van wat die kerk is, en hoe die kerk moet funksioneer.  Dit is duidelik dat Paulus alles wat hy by die Here oor die kerk geleer het, en in die praktyk gesien het dat dit werk, aan die gemeente deurgee om hulle te motiveer om as gemeente te groei in volwassenheid, sodat hierdie wêreld kan glo.

Die brief val duidelik in twee helftes uiteen:

  • ‘n Teologiese begronding van die evangelie van Christus Jesus wat ‘n nuwe mensheid tot stand gebring het oor die grense van nasies heen – hoofstuk 1-3.
  • Praktiese riglyne oor die eenheid van die kerk, die gebruik van gawes, die uitdagings van dissipelskap, die eise van ‘n lewenstyl in die lig, ‘n fokus op verhoudinge en ‘n oproep tot publieke standvastigheid – hoofstuk 4-6.

God seën ons om alles in almal te vervul

Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye.  Historici bereken dat daar ongeveer 250 000 mense gewoon het aan die begin van ons jaartelling.  Die tempel van Artemis (vgl Hand 19), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, was ook daar.  Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk. 

Paulus begin sy brief aan hulle met ‘n gesprek met die gemeente wat uitmond in ‘n gebed.  In dié gesprek loof hy God die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus Jesus aan ons gegee is (1:3-14).  In sy gebed bid hy dat die gemeente van Efese God werklik sal kan ken (1:15-23).

Dit is al genoeg om oor na te dink!  God het ons geseën met alles wat ons nodig het vir hierdie lewe. Die kern daarvan is dat ons God kan ken en met Hom in verhouding kan lewe.  Ons oë moet net al hoe meer daarvoor oopgaan.  Dit is iets waarvoor ons self kan en moet bid.  En dit is iets wat ons van God kan verwag – ook vandag.

God word as Triniteit geloof

Paulus herinner hulle aan die rykdom wat daar in God is as Vader, Gees en Seun.  Dit is hierdie tipe uitsprake wat die vroeë kerk oortuig het van die lering van die Triniteit.  Maar let ook op dat Paulus nie probeer om die lering regtig te verduidelik nie.  Hy erken dit net, maak die gemeente opgewonde daaroor en raai hulle aan om hierdie God te loof en te leer ken.

God is aan die werk in ons

Kyk na die opeenvolgende werkwoorde in hierdie gedeelte.  Dit help baie om Paulus se gedagtegang te volg en dieper in sy boodskap in te kom.  Let op bv na die werkwoorde waarmee Paulus God se werk in ons beskryf in vers 4-6: uitverkies, bestem, prys.  God het ons met die hand uitgesoek; Hy het sy kinders gemaak; Daarom moet ons Hom prys.  Dit beteken vir my my dat ek nie sy arm hoef te draai om vir my lief te wees nie.  Ek hoef ook Hom ook nie te probeer beïndruk met wat ek doen nie.  Ek kan maar net rustig sy geselskap opsoek en  met Hom in gemeenskap lewe.

God het ons uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees

Wat veral tref in hierdie eerste deel van die brief is dat God ons gekies het om heilig en onberispelik voor Hom te wees (vers 4).  Dit sê vir my drie dinge: dat ek iets van God moet uitstraal vandag (heilig); dat ek in alles sal streef daarna om reg te doen (onberispelik); dat ek bewus van God sal lewe in alles wat ek doen (voor Hom).  Dit is hoe prakties die geestelike lewe is.  Laat my dink aan Miga 6:8 wat in soortgelyke taal sê dat al wat God van ons vra is om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en bedagsaam te lewe voor God.

Die uitverkiesing gebeur in Christus

Die uitverkiesing gebeur “in Christus”, soos vers 4 sê.  Die feit dat God dit voor die skepping van die wêreld besluit het, beteken dat God se besluit van die begin af vasstaan.  Ons kan daarop reken dat dit vir ons ook waar is.  Die feit dat dit “in Christus”  is, beteken dat alles aan ons binne die verhouding met Christus geskenk word.  Dit is waarom dit so uiters belangrik is om in ‘n verhouding met Hom te lewe.  Sonder dié verhouding loop ons die gevaar om God se gawes aan ons te mis.

Dit is natuurlik die hele essensie van die sakramente, want dit is tekens van God se genade wat in Christus aan ons toegesê word.

Ons is as gelowiges een in Christus

Let op hoe Paulus in 12 tot 14 met die voornaamwoorde die eenheid beklemtoon wat in Christus gekom het.  Hy praat eers van die Jode met die gebruik van die voornaamwoord ons: “ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het”.  Dan praat hy van die gelowiges uit die heidense volkere met die gebruik van die voornaamwoord julle: “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God”.  Dan praat hy van die Heilige Gees wat “julle as die eiendom van God beseël (het)” (die gelowiges uit die heidene) en op soortgelyke wyse van die Heilige Gees wat die “waarborg (is) dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het” (die gelowiges uit die Jode).  In taal wat ‘n mens nogal sterk herinner aan Petrus se woorde op Pinksterdag (Hand 2:38-39) begrond Hy dus die eenheid tussen gelowiges uit die Jodedom en die heidendom in die geloof in Christus en in gawe van die Heilige Gees.

Daarmee spel Paulus die praktiese implikasies uit van die eenheid waarop God die Vader besluit het, om “alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus” (vers 10).  En let op dat die eenheid kosmies van aard is, en nie net kerklik nie.

View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar