Skip to main content

Ons sal alles doen wat die Here beveel het – Eksodus 24

Die noodsaak van die wet

Hamer en beitel – simbool van die skryfwerk op die tafels van die wet.

Die pad met God kan net op een manier bewandel word, en dit is deur ‘n absolute gehoorsaamheid aan sy wil vir die lewe. Hierdie wil word uitgespel in die gawe en onderrig van die Tora. Dit is waarom ‘n mens nooit die wet kan lig skat of ignoreer nie.

Die Tora was die lig op die pad, die lamp vir die voet, die sleutel na die konstante teenwoordigheid van die Here. Daarom was die Tora ook so omvattend. Sodat Israel alle onsekerheid oor etiese goed, oor die regte aanbidding van God, oor hoe die verskillende tipe sosiale verhoudings moet werk, kon uitskakel.

Die Tora openbaar dus aan ons hoe ongelooflik ons behoefte aan begeleiding in die weë van die Here is. Die feit dat dit so uitvoerig uitgespel word, dui nie op ‘n puntenerige God nie, maar op ‘n vergeetagtige volk wat nie sonder gedetailleerde praktiese geestelike begeleiding aan hulle verhouding met God, mekaar en die wêreld reg kon laat geskied nie.

Die Tora sou mettertyd uitgebrei word soos daar nuwe vraagstukke na vore gekom het, en ook geïnterpreteer word deur die priesters en profete soos daar nuwe situasies ontstaan het deur die loop van Israel se geskiedenis, ‘n proses wat tot die kanon van die OT gelei het, en ook in die NT verder geneem sou word.

Ons moet egter vir geen enkele oomblik dink dat die Tora op enige manier onnodig was of minder geestelik was as bv. die dinamiese verhouding van die aartsvaders met hulle God. Die Israeliete kon nie sonder die wet klaarkom nie, omdat dit die onsekerheid oor die verhouding God en mekaar uit die weg geruim het. Dit was die maatstaf vir hulle verhouding met God en mekaar.

Dat dit uiteindelik geblyk het dat die wet nie mense se harte kon verander het nie, soos Paulus uitvoerig in Romeine skrywe, hef nie die noodsaak van die gawe van en gehoorsaamheid aan die wet op nie.

Dat Christus ons harte moes kom verander om die wet na te kan kom, bevestig dat die probleem by ons was weens ons sondigheid, nie dat die wet nie nodig en steeds geldig is of was nie. Ons is net in die bevoorregte posisie dat die Here Jesus se nakoming van die wet, sy geregtigheid, ons toegereken word.

Die noodsaak van gehoorsaamheid

Toe al die riglyne van die Here vir Moses gegee is – die Tien Gebooie en al die bepalinge van die verbondsboek – en Moses dit alles neergeskryf het, het hy dit aan die volk gaan bekend maak.

Hoe mooi is hulle reaksie nie! Hulle het twee keer soos een man gesê: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het.

Daarmee is die verbond met die Here formeel gesluit. Die verbondsboek met al sy riglyne sou die basis van dié verhouding wees.

Die voordeel van gehoorsaamheid

Hierdie is een van die mooiste verhale vir my in die hele Bybel. Moses, Aäron, Nadab, Abihu en die sewentig leiers van Israel het ná die belofte van gehoorsaamheid die berg uitgeklim soos die Here hulle uitgenooi en beveel het. Die volk moes agterbly.

Hierdie leiers het die ongelooflike voorreg beleef om op ‘n heel direkte wyse in God se teenwoordigheid te kom. Dit is wat gehoorsaamheid vir jou bied. Onbelemmerde toegang tot God self en sy heerlikheid.

Die beskrywing van God se teenwoordigheid kom ooreen met die visioene van Esegiël en Johannes se Openbaring. Onder sy voete was ’n plaveisel soos saffiersteen wat so blou was soos die hemel self. Die leiers het dit as geen bedreiging beleef nie, maar het saam met die Here geëet en gedrink, ‘n simbool van die tipe gemeenskap wat God met sy mense wou geniet, soos dit was in die Paradys, en volledig moontlik sou word in die nuwe bedeling wat sy Seun sou inlei.

Dit is waarheen gehoorsaamheid lei

Soos die Hebreërskrywer dit in die nuwe bedeling uitspel: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ’n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebr 10:19-22).

Laat niks dus in jou pad staan om hierdie God te gehoorsaam nie. Presies en nougeset soos Hy dit in die Woord uitspel. Want, dit is die pad na die lewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.