Ek is doodsbenoud

God die Vader

Hoe dink jy oor God die Vader? Hoe sou jy Hom beskryf?

Baie van ons kyk na God die Vader deur die bril van ons ervaring. Dit beïnvloed ons beskrywing van God as Vader.

As ons eie pa’s ‘n goeie invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle. Ek onthou my pa as iemand wat altyd daar was vir my, selfs al het sy werk hom weke op ‘n keer van ons af weg geneem. Hy het moeite gedoen oor naweke, dinge saam met ons gedoen, al ons wedstryde bygewoon. Dit het by my die idee gelaat dat hy altyd daar was.

En ek dink vandag só oor God.

As ons pa’s egter ‘n slegte invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle.

Ons kyk ook deur die bril van ander se ervarings. Die dinge wat ons lees, die flieks wat ons kyk, die wyse waarop pa’s geskets word, het ‘n invloed op ons.

En dit is goed so, maar ons moet net nie dink dat dit al wyse is waarop ons oor God as Vader mag nadink nie. Dit maak nie saak hoe goed of hoe sleg jou ervaring van aardse pa’s is nie. Hulle is uiteindelik nie ‘n maatstaf van God as Vader nie. Die maatstaf vir sy Vaderskap lê in sy eie openbaring van Homself, in die Bybel en in die verwoording daarvan in die geloofsbelydenisse deur die eeue.

Die geloofsbelydenisse

Dieper as ons eie ervarings is is die beskrywings van God in die Bybel en ons geloofsbelydenisse. Hulle nooi ons uit om aan die enigste ware openbaring van God as Vader vas te gryp. Om daarin vaste grond vir ons voete te vind.

Kom ons begin met die geloofsbelydenisse. Hulle is vol van beskrywings van God as Vader.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê in artikel 8:

Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.

God as Vader is die eerste beweger, die eerste oorsaak, die een waar alles begin het, die oorsprong en die begin, nie net van die dinge wat ons kan sien nie, maar van alles wat bestaan, ook die onsigbare dinge.

Die Heidelbergse Kategismus beskryf God se Vaderskap só in vraag en antwoord 26:

1. Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus … ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is.

God kies om my Vader te wees ter wille van sy Seun Jesus Christus. Alles draai om my verhouding met Jesus. God stel my aan Jesus voor in die Woord en werk deur sy Gees die geloof in my hart, sodat Hy my Vader kan wees!

2 .Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie.

Omdat God dus my Vader is, kan ek Hom vertrou. Ek hoef nooit te twyfel daaraan dat Hy vir my sal sorg nie. Dat Hy vir my alles sal gee wat vir liggaam en siel nodig is nie. Vir die tydelik en die ewige bestaan.

3. Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan en ook as ‘n getroue Vader wil doen.

Die realiteit is dat dinge nie altyd reg verloop nie. Geen wonder nie, want hierdie wêreld is ‘n  “jammerdal”! Hoe raak word dit nie beskryf nie. Maar, God as Vader, sal al die kwaad, wat Hy oor my beskik, tot my beswil verander. Hoekom? Want Hy kan, en Hy wil. Hy is die Almagtige God. Hy is die getroue Vader.

Die Ou Testament

Ek wil twee verhale vertel uit die Bybel wat hierdie waarheid oor God onderstreep.

Die eerste is die verhaal van Dawid in 2 Samuel 7:1-17. Toe Dawid vir die Here ‘n huis, ‘n tempel, wou bou, het die Here Hom só geantwoord deur die profeet Natan geantwoord:

8 Ek self het jou geneem uit die weiveld agter die skape weg, om ’n vors te wees oor my volk, oor Israel; 9 en Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande voor jou uitgeroei; en Ek sal vir jou ’n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is; 10 en Ek sal vir my volk Israel ’n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, 11 naamlik van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Maar Ek sal jou rus gee van al jou vyande; en die Here gee jou te kenne dat die Here vir jou ’n huis sal stig. 12 As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. 13 Hý sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. 14 Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders. 15 Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. 16 En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.

Ek sal vir hom ‘n vader wees

God herinner Dawid daaraan dat Hy vir hom gesorg het vandat hy ’n skaapwagter was. God was oral by hom. God het hom rus gegee van al sy vyande. Hy het vir Dawid ‘n groot naam gegee, soos God reeds aan Abraham beloof het. Hy het vir die volk ‘n plek gegee waar hulle kan woon.

Die Here gaan egter nog verder. Hy belowe dat Hy as ‘n Vader sal optree ook vir sy nakomeling – let op die enkelvoud.

Vers 14: “Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees.”

In die eerste plek verwys dit na Salomo vir wie God ‘n Vader sal wees. Dat Salomo vir God ‘n huis sal bou.

In die tweede plek verwys dit na die Messias wat uit die nageslag van Dawid gebore sal word wat by uitstek sal ervaar dat God vir Hom ‘n Vader sal wees. Dat Hy vir God ‘n seun sal wees. En wat ‘n huis vir God sal bou, ‘n skare gelowiges wat God in waarheid en gees sal aanbid.

Maar, dan is daar ‘n verdere kinkel in die kabel. In die tweede deel van vers 14 staan daar:

“sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders.”

Dit beteken in die eerste plek dat God Salomo sal straf as hy verkeerd handel, iets wat ons weet uit die geskiedenis van Salomo se koningskap. Dit het in twee geskeur weens sy liefde vir vroue en perde.

Maar, dit slaan ook op ‘n verskuilde manier op die lyding van die Messias. Nie vir die dinge wat Hy verkeerd gedoen het nie, maar vir die dinge wat die volk van God verkeerd gedoen het. Die slae wat ons verdien, was op Hom.

En dit is alles deel van God se Vaderskap!

Gelukkig is dit nie al wat Natan vir Dawid belowe nie, want in vers 15-16 staan daar:

15 Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie … jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.

God se Vaderskap sluit dus die sorg vir sy mense in, maar ook die straf wat nodig is om dinge tot hulle beswil te verander.

Die Nuwe Testament

Dit bring ons by die tweede verhaal, dié van Jesus in Getsemane in Matteus 26:36-46.

37Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword 38en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” 39Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt 26:37-39)

Ek voel doodsbenoud

Soos Petrus, Johannes en Jakobus saam met Jesus op die berg van verheerliking was, só het hulle die voorreg om hier eenkant in die tuin saam met Jesus te waak en bid. Hierdie keer is Jesus nie in sy heerlike gedaante nie, maar doodsbenoud.

Jesus gaan ‘n entjie verder en kniel met sy gesig teen die grond en bid tot sy Vader in die hemel:

“as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.”

Die realiteit van die straf vir die sonde lê voor die deur. Hy die onskuldige, die een wat nooit sonde gedoen het nie, nie eers in die uiterste omstandighede nie, Hy moet die skuld van die sonde dra. Hy moet die sweep, die doringkroon, die kruis, en die spies in die sy verduur.

As dit moontlik is, Here, Abba, Vader laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.

Maar, bid Hy ook:

“Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

Drie keer het Hy hierdie gebed gebid. En aan die einde van sy drie gebede aanvaar Jesus dat dié lydensbeker nie by Hom sal verbygaan nie. Dat Hy dit sal moet drink. Hy die onskuldige vir ons ander, die skuldiges voor God.

Staan op, kom ons loop

En Hy stap na sy dissipels toe en sê vir hulle:

45 “Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. 46Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” (Matt 26:45-46)

Jesus staar die dood in die oë en aanvaar dit vrywillig. Ter wille van ons.

Die vraag wat ons nou vir onsself moet vra, wat leer dít ons van God se Vaderskap? Val Jesus se lyding buite die raamwerk van God se Vaderskap? Het God die Vader Jesus hier in die steek gelaat?

Nee. Want, die realiteit is dat dinge nie altyd reg verloop nie. Hierdie wêreld is ‘n  “jammerdal”! Hoe raak word dit nie in die Heidelbergse Kategismus beskryf nie. Die prys vir die sonde moet betaal word. Die straf vir ons vryspraak moet verduur word.

Maar, die belofte is, dat God as Vader, al die kwaad, ook al die kwaad wat Hy oor my beskik, tot my beswil sal verander.  Só het Hy dit met Jesus gedoen, want ná die Goeie Vrydag het daar die Paassondag gekom, die dag van die opstanding. Só sal Hy dit ook vir jou doen.

So, God se belofte van Vaderskap bly van krag regdeur die lyding. Hy sal sy wil laat geskied. Hy sal die reg herstel. Hy sal die sonde uitwis. Hy sal die kwaad verander, tot ons beswil.

Hoekom? Want Hy kan, en Hy wil. Hy is die Almagtige God. Hy is die getroue Vader. Só bely ons in die Heidelbergse Kategismus.

Ek kan dus op God vertrou. Ek hoef nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie.

Dit is wat die verhale in die Bybel vertel. Dit is wat die geloofsbelydenisse bely. Dit is wat jou ervaring ook sal bevestig.

View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: