Wat beteken Jesus Christus se wederkoms vir jou? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Apostoliese Geloofsbelydenis 7, die Geloofsbelydenis van Nicea 7, die Geloofsbelydenis van Athanasius 40, die Nederlandse Geloofsbelydenis 37, en die Heidelbergse Kategismus 42 en 52. Wat leer jy oor die wederkoms van Jesus Christus? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Apostoliese Geloofsbelydenis 7

(Ek glo in Jesus Christus wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader) van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Geloofsbelydenis van Nicea 7

(Ons glo in een Here Jesus Christus, Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader.) En Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

Geloofsbelydenis van Athanasius 40

(Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus … na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God, die almagtige Vader, sit.) Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Nederlandse Geloofsbelydenis 37

DIE LAASTE OORDEEL, DIE OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE

Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het – dié tyd is vir alle skepsels onbekend – en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand. 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tess. 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in ‘n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word (Op. 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg (2 Kor. 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matt. 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt. 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt. 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op. 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as ‘n beloning uit genade sal die Here self hulle so ‘n heerlikheid gee as wat die hart van ‘n mens nooit kon bedink nie.

Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

Matt. 13:23; 25:13; 1 Tess. 5:1-2; Matt. 24:36; Op. 6:11; Hand. 1:11; 2 Pet. 3:10; Matt. 24:30; Op. 21:11; Matt. 25:31; Jud. 1:15; 1 Pet. 4:5; 2 Tim. 4:1; 1 Tess. 4:16; 1 Kor. 15:51; Matt. 11:22; Mark. 12:18; Matt. 23:23; Joh. 5:29; Rom. 2:5; Heb. 6:2; 9:27; Matt. 12:36; 2 Tess. 1:5; (Heb. 10:27); 1 Joh. 4:17; Op. 14:7; Luk. 14:14; 2 Kor. 5:10; Op. 21:8; 22:12; Dan. 7; Matt. 25:41; 2 Pet. 2:9; Jes. 25:8; Matt. 10:32; Op. 21:4; Jes. 66:5; 1 Kor. 2:9.

Heidelbergse Kategismus 42 en 52

42 Vraag: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?

Antwoord: Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs ‘n afsterwe van die sondes en ‘n deurgang tot die ewige lewe (b).

(a) Mark 8:37; Ps 49:8. (b) Fil 1:23; Joh 5:24; Rom 7:24.

52 Vraag: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?

Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).

(a) Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16. (b) Matt 25:41; 2 Tess 1:6. (c) Matt 25:34; 2 Tess 1:7.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die wederkoms van Jesus Christus.

View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d