Skip to main content

God-flavors en God-colors

Let me tell you why you are here. You’re here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You’ve lost your usefulness and will end up in the garbage.”

Here’s another way to put it: You’re here to be light, bringing out the God-colors in the world. God is not a secret to be kept. We’re going public with this, as public as a city on a hill. If I make you light-bearers, you don’t think I’m going to hide you under a bucket, do you? I’m putting you on a light stand. Now that I’ve put you there on a hilltop, on a light stand—shine! Keep open house; be generous with your lives. By opening up to others, you’ll prompt people to open up with God, this generous Father in heaven.” (Matteus 5:13-16 in The Message)

Ons roeping in die lewe is niks minder of niks meer as dit nie:

  • Mense moet God kan proe in hoe ons lewe en hoe ons optree.
  • Mense moet God kan sien in hoe ons optree.

‘n Geseënde lewe

Jesus sê dit net ná Hy die geseënde en werklik gelukkige lewe beskrywe het in Matteus 5:3-12.  Onthou dat dit afgesluit het met die negende saligspreking:

Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” (Matt. 5:11-12)

Die vraag is nou, hoe tree Christene op in ‘n wêreld waarin hulle dikwels vervolg word? Wat is ons respons?

Jesus gee twee metafore of simbole waarmee ons ingesteldheid teenoor die wêreld uitgespel word:

  • Julle is die sout vir die aarde – mense moet God kan proe in ons lewens.
  • Julle is die lig vir die wêreld – mense moet God kan sien in ons lewens.

‘n Geseënde lewe is om soos sout en lig oral voetspore van seën agter te laat, sê Jesus.  Dit is om die God-flavors en die God-colors in hierdie wêreld te versprei, soos Peterson dit so raak beskryf. Dit is om die wêreld met smaak, geur, reinheid en lig te vul, en so van die aarde ‘n beter plek te maak. Natuurlik produseer ons dit nie self nie. God seën ons om sout en om lig te wees en ons leef dit reg oor die wêreld uit.

Sout-vir-die-aarde mense

Sout is iets alledaags en baie goed bekend. In die antieke wêreld was sout selfs belangriker en waardevoller as wat dit vandag is. Hier is ‘n paar eienskappe waarin ons dieper kan begryp wat dit beteken as Jesus die metafoor van sout op ons van toepassing maak:

  • Sout gee smaak. Deur ‘n bietjie sout by kos te gooi, word die inherente smaak van die voedsel na vore gebring. Kos is smaakliker, meer genotvol en aantreklik, wanneer dit gesout word. Net so bring gelowiges smaak in die wêreld. Die vreugde en genot van die lewe as geskenk van God kom in sy volheid na vore as jy die sout van gelowiges se lewe daarby gooi.
  • Sout preserveer. Voordat vrieskaste beskikbaar was, is sout gebruik om voedsel soos vleis oor lang tye te bewaar. Daar bestaan iets soos biltong, omdat daar sout is! Sout beskerm voedsel en maak dit oor lang tye veilig vir menslike gebruik. Net so beskerm gelowiges as sout die lewe. Die wêreld word ‘n veiliger plek waar mense wat die Here gehoorsaam en dien hulle invloed uitoefen. Misdaad daal, respek vir lewe neem toe, en die waardes van integriteit, liefde, omgee en beskerming styg.
  • Sout genees bederf en verrotting. Dit sluit ten nouste aan by sout se bederfwerende funksie. Mens kan wonde met sout uitwas om infeksie te verhoed of ‘n septiese wond te genees. Mense met sinusprobleme gebruik gereeld ‘n bietjie soutwater. Ons gooi sout in ons skottelgoedwassers om dit te help reinig. Sout se krag lê daarin dat dit ‘n verskil maak in ‘n wêreld waar bederf so maklik wortelskiet.
  • Sout offer sigself op. Sout werk net, as dit uit die soutpot gegooi word. Sout bestaan nie ter wille van sout self nie, maar ter wille van die wêreld. Sout gee sy eie geborgde bestaan in die soutpot prys om die wêreld te dien.

Soutlose sout?

In die destydse Palestina was die kwaliteit van sout wisselvallig. Nie alle sout was ewe goed, ewe smaakvol of bederfwerend nie. Die swak sout gaan af, dit het bymengsels wat onbruikbaar is en geen krag het nie. Dit word weggegooi en vertrap.

Jesus gebruik die beeld van sout wat verslaan om die godsdiens van baie van sy Joodse tydgenote te beskryf. Jesus kon sien hoe die Fariseërs en die Skrifgeleerdes godsdiens op ‘n manier bedryf het wat sy krag verloor het. Teenoor die ware dien van God, en die lewe van gehoorsaamheid en toewyding, soos die Ou Testamentiese profete dit beskryf het, het hulle godsdiens in mensgemaakte, wettiese prosedures laat verval. Dit deug nie, so ‘n lewe word uitgegooi, en vergaan.

Mens kry tot vandag toe mense wat die dien van die Here verwar met ‘n rigiede lewenstyl wat meer om tradisie gaan, as wat dit om toewyding aan God, en om mense en hul genesing gaan. Dit is mense wat die splinter in ‘n ander se oog sal raaksien, maar die balk in hulle eie oog bly miskyk. Ten diepste is dit ‘n selfgesentreerde vorm van godsdiens wat in selfregverdiging belangstel, eerder as die uitgiet van jou lewe in diens van ander.

Lig vir die wêreld

Lig is soos sout, alledaags en bekend, maar lig dien as metafoor met ’n soortgelyke ryk betekenis en word in die Bybel veral met God vergelyk.

Jesus se volgelinge behoort sigbaar te wees en lig uit te straal. Dit is waarom Jesus die stad met sy lig op ’n heuwel plaas en die lamp op ’n staander.

Die lig is sigbaar maar ook kwesbaar. Die lig word nie beskerm nie, dit kan op die lampstaander omval en deur wind en weer doodwaai. Maar mense wat die lig vir die wêreld is, kan nooit hulleself wegsteek nie.  Hulle leef en werk juis in plekke waar hulle die mees sigbare sal wees. Die lig wat God gee, is nie bedoel om onsself te verlig of onsself in glorie te laai baai nie. Ander moet die lig van egte Christelike goedheid sien, wat uitdrukking vind in praktiese dade van liefdevolle goedheid en diens. Mense herken hierdie soort lig as lig wat direk van God kom, en sal God daarvoor verheerlik.

’n Belangrike les wat ons moet leer, is dat Jesus die Bron van lig is. Ons is net ligdraers wat nie sonder die Bron van Lig kan skyn nie. Ons is ‘n tweede kategorie van lig.  Jesus is die son en sy volgelinge is soos die maan wat die son se lig reflekteer.

Een pragtige beeld wat hierby aansluit, kom uit hoe lig in Indië in van die tempels gebruik word, bv. die Shesh Mahal (Hall of Mirrors).  Klein spieëltjies is die hele gebou vol aan die binnekant geplak, en as jy selfs net een kers aansteek, verlig dit die plek met die weerkaatsing in al die duisende spieëls met die lig wat kom van die een kers.

Dit is vir my ‘n pragtige beeld van wat ons doen as ons goeie werke doen.  Ons doen dit sodat die wêreld die ware Lig kan raaksien, en hulle sy Vader wat in die hemel is, kan verheerlik.

Mense wat die wêreld verander

Die Bybel is vol mense wat as sout en lig geleef het, en so hulle wêreld verander het:

  • Moses het ná die veertig jaar in die woestyn die lig in Egipte gaan aansteek en die volk uitgelei na die Beloofde land.
  • Elia het die Agabshuis gekonfronteer en die volk laat kies om die Here te dien en die Here het met vuur geantwoord op die berg Karmel.
  • Johannes die Doper het ’n helder bekeringsboodskap gebring en duisende Jode is daardeur voorberei vir die koms van die Messias.
  • Paulus het met groot passie die lig in Turkye en Europa gaan aansteek en die pyn van tronkstraf, steniging, ontbering en uiteindelik die dood beleef.  En tot van dag toe nog pluk ons die vrugte van sy werk.

Die koms van die koninkryk van God is op soveel plekke en maniere kragdadig gedien deur gewone mense wat sout en lig was. Dit maak mens opgewonde oor wat die Here vandag deur ons en ons gemeente doen as ons bloot gaan wees wat ons reeds in Christus is.

Ek sluit af met ’n stuk wat ek aangepas het uit die hoofstuk Forgiving the Living in Left to Tell – Discovering God Amidst the Rwandan Holocaust van Immaculée Ilibagiza wat sy in samewerking met Steve Erwin geskryf het.  Dit wys hoe sout sigself opoffer.  Immaculée is die sout-vir-die-aarde.  Sy versprei die God-flavors en God-colors in hierdie lewe by uitnemendheid.

Immaculée staar deur Semana, die nuwe burgemeester, se kantoorvenster na waar hy die binnehof na die tronksel oorsteek en terugkeer met ’n verwilderde, mank ou man wat hy voor hom uitstoot.  Sy skrik toe hulle die kantoor binnekom, want sy herken die man onmiddellik.  Sy naam is Felicien, die suksesvolle Hutu besigheidsman met wie se kinders sy op laerskool gespeel het.  Hy was ’n lang, aantreklike man wat altyd duur pakke gedra en onberispelike maniere gehad het.  Sy raak yskoud, want sy onthou dat dit hy was wat haar gesoek het terwyl sy weggesteek was in die 1 x 1.3 m badkamer in pastor Murinzi se huis saam met sewe ander Tsutsi vroue.  Felicien het haar soos ’n dier gejag.

Semana stoot Felicien die kantoor in en hy struikel tot op sy knieë.  Toe hy opkyk van die vloer af en sien dat Immaculéé die een is wat op hom wag, raak hy bleek.  Hy draai vinnig sy oë weg en staar na die vloer.

Staan op, moordenaar!” skreeu Semana, wat self vier kinders in die Tsutsi volksmoord verloor het.  “Staan op en verduidelik vir hierdie meisie hoekom haar familie dood is.  Verduidelik vir haar hoekom jy haar ma vermoor het en haar broer geslag het.  Staan op, het ek gesê!  Staan op en sê vir haar!” Semana skreeu al hoe harder, maar die gehawende man bly geboë op sy knieë, te skaam om te staan en Immaculée in die oë te kyk.

Sy vuil klere hang in vodde aan sy uitgeteerde geraamte.  Sy vel is sieklik, gekneus en gebroke; sy oë vlieserig en korserig.  Sy aantreklike gesig is bedek met ’n smerige gekoekte baard; sy kaalvoete oortrek van oop loperige sere.

Immaculée huil toe sy sy lyding sien.  Felicien het die duiwel toegelaat in sy hart en die boosheid het sy lewe geruïneer soos ’n kanker in die siel.  Hy was nou die slagoffer van sy slagoffers, gedoem om met foltering en verwyt te lewe.

Sy word oorweldig deur simpatie vir die man en snak onwillekeurig na haar asem.  Semana kyk verbysterd en verdwaas na die trane wat langs haar wange afstroom.  Hy gryp Felicien aan die kraag en trek hom op sy voete.  “Wat het jy vir haar te sê?  Wat het jy vir Immaculée te sê?”

Felicien ruk soos hy huil.  Immaculée kan sy skaamte voel.  Hy kyk vir ’n oomblik op na haar … en Immaculée reik uit na hom, raak liggies aan sy hande en sê stilweg wat sy gekom het om te sê.

Ek vergeef jou.”

Onmiddellik kom haar hart tot bedaring en sien sy die spanning in Felicien se skouers laat los.  Semana is egter woedend en laat twee soldate Felicien uitboender by die kantoor.  “Wat het jy nou gedoen, Immaculée?  Dit is die man wat jou familie vermoor het.  Ek het hom gebring na jou toe, sodat jy hom kon uitvra … om op hom te spoeg as jy sou wou.  Nou het jy hom vergewe!  Hoe kan jy dit doen?  Hoekom het jy hom vergewe?”

Vergifnis is al wat ek kan bied,” is haar antwoord.

View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar