Skip to main content

Tien gedagtes oor Jesus se eie lering oor die wet in die evangelies

1. Jesus se ouers kom die wet na met sy geboorte en grootword

“En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel, soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;      en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: ’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe … toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet … En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret.” (Luk 2:22-39)

2. Die probleem van die Jode was dat hulle die wet nie kon hou nie

“Het Moses julle nie die wet gegee nie? En niemand van julle hou die wet nie. Waarom wil julle My om die lewe bring?” (Joh 7:19)

“Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering? … So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering … Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matt 15:3,6,9; Mark 7:7)

“Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie … Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.” (Mark 7:8-9)

Dit het tot gevolg gehad dat sommige wette juis geskrywe is om hulle aan ‘n mindere standaard te meet weens die hardheid van hulle hart, bv tov egskeiding: “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Vanweë die hardheid van julle harte het hy vir julle hierdie gebod geskrywe.” (Mark 10:5)

3. Jesus ontbind nie die wet nie, maar vervul dit

“Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh 1:17)

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” (Matt 5:17)

Dit geld ook God se spesifieke opdragte aan Jesus wat as God se gebod geteken word: “Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.” (Joh 10:18)

“Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek.” (Joh 12:49)

Trouens, die ewige lewe word as ‘n gebod van God geteken: “En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.” (Joh 12:50)

4. Die wet van Moses, die profete en die psalms verkondig nie net die bediening van Jesus nie, maar word daarin vervul.

“Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret.” (Joh 1:46)

“En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.” (Luk 24:44)

“Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat.” (Joh 15:25)

5. Nie een jota of een titteltjie van die wet sal ooit verbygaan nie totdat alles gebeur het met die verkondiging van die evangelie van die koninkryk van God

“Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. ” (Matt 5:18-19)

“Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin. Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.” (Luk 16:16-17; Matt 11:13)

6. Die wet en die profete hang aan of berus op die dubbele liefdesgebod uit Deuteronomium 6:4 en Levitikus 19:18

“En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader. En een van hulle, ’n wetgeleerde, het ’n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. (Matt 22:34-40; Mark 12:28-34)

7. Die wet en die profete leer ons hoe ons teenoor mense moet optree

“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.” (Matt 7:12)

Jesus self en sy openbaring gee egter ook nuwe inhoud daaraan in sy gebod dat ons nie net moet liefhê soos ons ons naaste liefhet nie, maar soos Hy ons liefgehad het: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” (Joh 13:34; Joh 15:12) Johannes sal later sê in sy brief aan die gemeente dat hierdie gebod eintlik presies dieselfde is as die ou gebod (1 Joh 2:7).

“As julle My liefhet, bewaar my gebooie … Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” (Joh 14:15,21)

“As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.” (Joh 15:10)

8. Jesus gebruik die wet genuanseerd met sekere wette wat voorrang bó ander geniet

“Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie?” (Matt 12:5)

“As ’n mens die besnydenis op die sabbat ontvang, sodat die wet van Moses nie verbreek mag word nie, is julle kwaad vir My, omdat Ek ’n mens op die sabbat heeltemal gesond gemaak het?” (Joh 7:23)

Jesus veroordeel die vrou wat in owerspel gevang is nie, vergewe haar, en beveel haar om nie verder te sondig nie, nadat die skrifgeleerdes en Fariseërs haar na Hom gebring het met die vraag: “en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U?” (Joh 8:5)

Selfs Nikodemus gebruik die wet só

“Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen?” (Joh 7:51)

9. Jesus gebruik die wet om mense te leer

“En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” (Luk 10:26)

“Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie?” (Joh 10:34)

“En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” (Matt 19:17)

“Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag niemand te kort doen nie; eer jou vader en jou moeder.” (Mark 10:19; Luk 18:20)

10. Jesus bevestig sy eie oordeel aan die hand van die wet

“En dit is ook in julle wet geskrywe dat die getuienis van twee mense waar is.” (Joh 8:17)

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” (Matt 23:23)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar