Skip to main content

God woon in die gemeenskap van gelowiges – Efesiërs 2 tot 3

Paulus begin sy brief aan die Efesiërs met ‘n gesprek met die gemeente wat uitmond in ‘n gebed. In dié gesprek loof hy God die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus Jesus aan ons gegee is (Ef 1:3-14). In sy gebed bid hy dat die gemeente van Efese God werklik sal kan ken (Ef 1:15-23).

Uit die gesprek en gebed van hoofstuk 1 trek Paulus nou vier gevolgtrekkings in hoofstuk 2-3 wat hy met ‘n verskeidenheid beelde inkleur. ‘n Mens kan dit so opsom:

  1. God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – Ef 2:1-10;
  2. Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – Ef 2:11-18;
  3. God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – Ef 2:19-22.
  4. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – Ef 3:1-13

Hy sluit dié gevolgtrekkings af met een van die mooiste gebede in die Bybel – Ef 3:14-21 – waarin hy vra dat hierdie hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet.

Hier is ‘n paar verhelderende opmerkings oor hierdie vier gevolgtrekkings van Paulus sowel as sy gebed.

1. God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – 2:1-10

Paulus eggo weer die refrein wat ’n mens in hierdie gevangenskap briewe raaksien, dat God aan ons saam met Christus ’n plek in die hemel, dws in Sy teenwoordigheid gegee het. Hy doen dit uiteraard ter wille van ons, omdat ons Sy kinders in Christus Jesus is. Maar Hy doen dit ook om aan die wêreld sy geweldige groot genade ten toon te stel as getuienis van sy goedheid wat vir almal bedoel is. Hy maak van mense wat sy vyande was, sy vriende.

’n Mens kan vers 10 ook as volg vertaal: “Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.” Dit is ’n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe. Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie. Ons hoor by God in Sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.

Dit is presies wat Jesus bedoel het, toe hy aan sy dissipels gesê het (in die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put van Jakob): “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4:34).

2. Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – 2:11-18

Paulus kontrasteer hier die “onbesnedenes” – dit is dié nie-Jode wat nie in God geglo het nie – met die “besnedenes” – dit is die Jode wat deel van die Godsvolk was. Christus het die vyandskap wat tussen dié twee groot groepe bestaan het, afgebreek soos ’n mens ’n muur sou afbreek. Daar is nou een nuwe mensheid wat nie net met God nie, maar ook met mekaar versoen is, en nou om vrede met God en mekaar kan (en natuurlik moet) lewe.

Let op dat die mikpunt van hierdie eenheid die onbelemmerde vrye toegang tot die Vader is deur die werk van die een Gees.

3. God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – 2:19-22

Paulus gebruik 5 beskrywings van hierdie gemeenskap van gelowiges: 1) medeburgers, 2) huisgesin, 3) gebou, 4) tempel, 5) geestelike huis. Die eerste twee beelde kom uit die samelewing uit: die politieke en nasionale sfeer, en die kleiner familie-kring. Die laaste drie beelde kom uit die boubedryf uit, maar word duidelik geestelik bedoel. Let op dat die gemeenskap van gelowiges nou die tempel is, en nie ’n kerk nie.

Wat my besonderlik tref is dat Paulus hier skryf dat die gemeenskap van gelowiges ’n plek word waar God woon. Soos Hy vir ons ’n plek in Sy teenwoordigheid gegee het, so kry Hy ’n plek by ons, in ons teenwoordigheid. En weereens, dit is nie net ter wille van onsself nie, maar sodat Sy teenwoordigheid sigbaar kan word vir die wêreld (soos in hoofstuk 3 verder gemotiveer sal word). Die kerk, as liggaam van Christus, is in ’n besondere sin nou die beeld van God, die imago Dei, soos die mens dit aanvanklik was (Gen 1:26). ’n Kerklike gemeenskap wat nie hiervoor leef nie, mis sy doel.

4. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – 3:1-13

Let op dat Paulus die gelowiges uit die heidene nie net bemoedig van vers 2 af nie, maar dit in ‘n konteks van ‘n gebed doen: “Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie …”. Dit is vanuit sy perspektief op wie God is en wat Hy doen, dat Hy die boodskap van insluiting bring. Hy wil hulle dus aanmoedig om nie te luister na mense wat moontlik ‘n ander boodskap aan hulle bring, dat hulle tweedehandse burgers van die koninkryk, of nog erger, steeds buite die koninkryk is nie.

Die geheimenis wat aan Paulus openbaar is, is die goeie boodskap wat hy aan hulle verkondig: in Christus kan alle mense deel word van die Godsvolk. Om die waarheid te sê, presies dít is Paulus se opdrag, om aan alle mense hierdie goeie nuus te bring, om die misterie aan almal bekend te maak, dat hulle in Christus Jesus in verhouding met God kan leef. Let op hoe hy die boodskap ook fundeer in God as Skepper van alle dinge (3:9) en dat dit ‘n boodskap is wat selfs aan elke mag en gesag van die kosmos bekend gemaak moet word.

Paulus wil hulle verder bemoedig om nie moedeloos te word, omdat hy om hulle ontwil ly en in die tronk sit nie. Hulle moet dit eerder as ‘n eer beskou. Die agtergrond hiervan is dat Paulus juis nou in die tronk is weens die aanklag dat hy die tempel in Jerusalem ontheilig het deur ‘n Griek saam met hom daarheen te neem (Hand 21:27-29). Hoewel dit onwaar was, het dit waarskynlik die Efesiërs ontstel, want dié Griek was Trofimus, wat juis van Efese afkomstig was. Paulus wil hulle bemoedig deur hulle te wys daarop dat in die uitvoering van sy opdrag gebeur het, en dat hulle God se hand daarin moet raaksien.

Mag Christus in julle harte woon, gewortel en gegrondves in die liefde – 3:14-21

Die gevolgtrekking dat alle mense deel kan wees van die Godsvolk, dring Paulus op sy knieë om van God self te vra dat dié rykdom van hierdie boodskap in sy volheid nie net deur hulle nie, maar deur alle gelowiges en nog wyer besef sal word. Hy sal in hoofstuk 4 weer terugkeer om die gelowiges aan te spoor om self ernstig daaraan te werk om die eenheid wat die Gees tusen hulle gesmee het, te handhaaf. Hier is sy fokus egter om dit van God te vra.

Let op hoe Paulus hier oor die gemeenskap van gelowiges praat. Hy beskou hulle as ‘n familie – dit is wat die woord gemeenskap (patria) in vers 14 eintlik beteken. Dit is ‘n familie wat die grense van tyd oorskry – hulle is in die hemel en die aarde. Dit is ook ‘n familie wat deur die geslagte heen EEN gemeenskap bly – vers 21.

En sy droomgebed vir hierdie familie van gelowiges is dat hulle almal werklik heeltemal vervul sal word met die volheid van God – soos hy al in 1:23 God se droom vir die kerk uitgespel het. Hy spel dit in ses bedes uit:

  1. Hulle het in die eerste plek innerlike krag nodig – iets wat die Gees doen in ons harte en wat die hoop in ons brandend hou.
  2. Hulle het in die tweede plek geloof nodig, want dit is hoe Christus ‘n woonplek in ons harte kry, sodat Hy ‘n werklikheid in elkeen word.
  3. Daardeur sal hulle hele lewe in die derde plek in die liefde gewortel en gegrondves wees, wat onontbeerlik is om werklik vrug te kan dra.
  4. Paulus bid ook dat hulle in die vierde plek sal groei in hulle insig in hoe ver die liefde van Christus strek, want dit sluit alles en almal in. Let op hoe Paulus letterlik die liefde van Christus as ‘n soort driedimensionele kubus beskryf wat ons hele werklikheid insluit. Paulus se dimensies van wyd, ver, hoog, en diep beskryf ‘n driedimensionele werklikheid, die breedte, lengte, hoogte, en diepte daarvan.
  5. Maar insig is nog nie alles nie! In die vyfde plek bid Paulus dat hulle Christus se liefde sal ken, dws dit sal ervaar, ‘n liefde wat eintlik ons begrip en insig te bowe gaan.
  6. En Paulus sluit in die sesde plek af met ‘n gebed dat hulle heeltemal vervul sal word met die volheid van God, presies dít wat hy bely het van die kerk in 1:23.

En dit is wat God in hulle sal bewerk, om die waarheid te sê, Hy kan ook nog meer doen as wat Paulus (of ons) kan bid of dink – oneindig meer!

Daarom kom alle eer aan God toe, in die kerk, in ons persoonlike lewens, in die wêreld, en tot in alle ewigheid.

View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar