Skip to main content

Wat is die Seun? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Apostoliese Geloofsbelydenis 2, die Geloofsbelydenis van Nicea 2-3, die Geloofsbelydenis van Athanasius 31-37, die Nederlandse Geloofsbelydenis 10 en 18, sowel as die Heidelbergse Kategismus 19,29,31,36 en 47 wat ‘n uitleg van onder andere die Apostoliese Geloofsbelydenis 2-3 is. Wat leer jy oor God die Seun uit hierdie belydenisse? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Apostoliese Geloofsbelydenis 2

2. Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria.

Geloofsbelydenis van Nicea 2-3

2. Ons glo in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore.

3. Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.

Geloofsbelydenis van Athanasius 31-37

31. Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;

32. volkome God, volkome mens met ‘n redelike siel en menslike vlees,

33. na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.

34. En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.

35. Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God.

36. Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon.

37. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,

Nederlandse Geloofsbelydenis 10

DIE GODHEID VAN JESUS CHRISTUS

Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy ‘n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb. 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Fil. 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word: Moses sê dat God die wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen. 1:1 en Joh. 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb. 1:2 en Kol. 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: ‘Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid’ (Miga 5:1), en sê die apostel: ‘Hy is sonder begin van dae of lewenseinde’ (Hebr. 7:3). Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.

Joh. 1:18, 34 en 49; 1: 14; Kol 1:15; Heb. 1:3; Matt. 3:17; 17:5; Joh. 8:24; 10:30; 9:36; Hand. 8:34; Jes. 7:14; Rom. 9:5; 1 Tess. 3:11; Fil. 2:11; 2 Kor 5:19; Hand. 20; Ef. 3:9; Rom. 14; Tit. 2; 1 Kor. 8:6; Heb. 1:1; 3:4; Joh. 1:3; 1 Joh.5:7, 14, 20; Op. 1-6; Joh. 8:58; 17:5; 1 Kor. 10:9,. Gal 4:4; Miga 5:2; Kol 1:15; Ps. 2:7, 12; Heb. 13:8.

Nederlandse Geloofsbelydenis 18

DIE MENSWORDING VAN JESUS CHRISTUS

Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Fil. 2:7) deur werklik ‘n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van ‘n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie maar ook ‘n egte menslike siel om so ‘n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om al twee te red, aangesien beide verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb. 2:14), dat Hy wat die vlees betref, ‘n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand. 2:30 en Rom. 1:3), ‘n vrug van die moederskoot van Maria (Luk. 1:42), gebore uit ‘n vrou (Gal. 4:4), ‘n spruit van Dawid (Jer. 33:15), ‘n loot uit die wortels van Isai (Jes. 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb. 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom. 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte – maar sonder sonde – aan sy broers gelyk geword het (Heb. 2:17 en Heb. 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Emmanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt. 1:23).

Fil. 2:7; 1 Tim. 3:16; Luk. 1:55; Gen. 26:4; 2 Sam. 7:12; Ps. 132:11; Hand. 13:23; 1 Tim. 2:5; 1 Kor. 12:3; Deut. 29:2; Ps. 119:34; Rom. 7:19; Jer. 33:15; Heb. 7:14; Rom. 9:5; Gal. 3:16; Heb. 2:16; Matt. 1:16.

Heidelbergse Kategismus 19

19 Vraag: Waaruit weet jy dit (dat Jesus die Middelaar is)?

Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b) en profete (c) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld; (d). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (e).

(a) Gen 3:15: (b) Gen 22:18; 12:3; 49:10. (c) Jes 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6, 22, 23; Jer 23:5, 6; 31:32, 33; 32:39-41, Miga 7:18-20; Hand 10:43; 3:22-24; Rom 1:2; Hebr 1:1. (d) Hebr 10:1, 7; Kol 2:7; Joh 5:46. (e) Rom 10:4; Gal 4:4; 3:24; Kol 2:17.

Heidelbergse Kategismus 29

29 Vraag: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).

(a) Matt 1:21; Hebr 7:25. (b) Hand 4:12; Joh 15:4, 5; 1 Tim 2:5; Jes 43:11; 1 Joh 5:11.

Heidelbergse Kategismus 31

31 Vraag: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).

(a) Ps 45:8; Hebr 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18. (b) Deut 18:15; Hand 3:22; 7:37; Jes 55:4. (c) Joh 1:18; 15:15. (d) Ps 110:4. (e) Hebr 10:12, 14; 9:12, 14, 28. (f) Rom 8:34; Hebr 9:24; 1 Joh 2:1; Rom 5:9, l0. (g) Ps 2:6; Sag 9:9; Matt 1:5; Luk l:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11.

Heidelbergse Kategismus 36

36 Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).

(a) Hebr 7:26, 27. (b) 1 Pet 1:18, 19; 3:18; 1 Kor 1:30, 31; Rom 8:3, 4; Jes 53:11; Ps 32:1.

Heidelbergse Kategismus 47

47 Vraag: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?

Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie (b), maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie (c).

(a) Matt 28:20. (b) Hebr 8:4; Matt 26:11; Joh 16:28; 17:11; Hand 3:21. (c) Joh 14:18; Matt 28:20.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor God as Seun.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda