Skip to main content

Watter hoop hou die ewige lewe vir jou in? – Johannes 3:14-17; 35-36

Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

Die Vader het die Seun lief en Hy het Hom gesag oor alles gegee. Wie aanhou glo in die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom. (NLV)

Die spilpunt waarom die ewige lewe draai, is die reaksie op Jesus, die een wat uit die hemel kom sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.  Dié wat nie glo nie, bly in die duisternis wat hulle verkies. Dit alles word begrond in die liefde van God, die as of spilpunt waarom alles draai.  God gee sy enigste Seun, doen afstand van sy innige verhouding met Hom, gee Hom oor aan die dood aan ’n kruis oor (“verhoog” Hom aan die kruis), omdat God ’n passie het vir verlorenes. Hy kan dit nie oor sy hart kry dat mense verlore sal gaan nie, en gee liewer sy eie Seun aan verlorenheid oor, sodat Hy die ewige lewe kan gee aan dié wat in Sy Seun glo.

Die metafoor van die koperslang op die paal in die woestyn (Num 21:9) word gebruik om die noodsaak van geloof te illustreer. Net soos die Israeliete gesond geword het van die slanggif as hulle na die koperslang op die paal van Moses kyk, so kry gelowiges die ewige lewe as hulle glo in Jesus as die Seun van die mens.

God is dus nie op die veroordelingspad nie, maar op die liefdespad.  Dat daar dan nog mense is wat verlore gaan, is te wyte aan hulle eie voorliefde vir die duisternis, en hulle weiering om na die lig te kom wat Hy gestuur het.

1. Het jy al op die punt in jou lewe gekom wat jy glo in Jesus as die Here van jou lewe? Indien nie, plaas nou jou vertroue op Hom. Indien wel, loof Hom daarvoor.

2. Hoe laat hierdie gedeelte jou voel oor mense wat verlore gaan? Wat wil die Here vir jou daaroor sê? Wat moet jy doen?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat jy die ewige lewe uit God se hand ontvang het in Jesus. Wy jouself opnuut toe aan die Groot Opdrag om die boodskap van verlossing aan almal te bring wat jou pad kruis.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Johannes 3 en my bydrae daaroor: Johannes 2:23–3:36 – As iemand nie van bo-af gebore word nie.

5. Johannes gee vir ons só ‘n ryk perspektief op die ewige lewe dat jy gerus die res van die verwysings na die ewige lewe in sy evangelie kan nalees. Daar is altesaam dertien!:

Johannes 4:13-14

Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel (’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe).

Johannes 4:35-36

Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly.

Johannes 5:24

Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.

Johannes 5:38-40

julle het nie regtig ’n greep op sy boodskap nie omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie. Julle bestudeer die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe sal kry. Dit is juis daardie Skrifte wat oor My getuig. Julle wil nietemin nie na My toe kom sodat julle die lewe kan ontvang nie.

Johannes 6:26-29

Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, julle soek My op, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?” Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.”

Johannes 6:35-40

Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie. Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan. “Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.”

Johannes 6:47-58

“Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf. Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie. Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.” Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?” Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek. My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom. “Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe. “Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.”

Johannes 10:25-30

Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is. Maar julle glo nie omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My. Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie. Ek en die Vader is één.”

Johannes 12:24-26

Ek verseker julle, as ’n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy ’n groot opbrengs. Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou. Iemand wat in my diens wil staan, moet My aanhou volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand in my diens staan, sal die Vader aan hom eer betoon.

Johannes 12:46-50

“Ek het as lig na die wêreld toe gekom sodat elkeen wat in My glo, nie langer in die duisternis sou bly nie. As iemand dan ook nog na my woorde luister en dit nie gehoorsaam nie, veroordeel Ek hom nie sommer nie, want Ek het nie gekom om die mensdom te veroordeel nie, maar om die mensdom te verlos. Wie My verwerp en nie my woorde aanvaar nie, het reeds homself geoordeel; die boodskap wat Ek uitdra, sal hom op die laaste dag veroordeel. Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat My gestuur het, het aan My ’n opdrag gegee oor wat Ek moet sê en wat Ek sal verkondig. En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe inhou. Dit wat Ek dus sê, verkondig Ek net soos die Vader dit aan My oorgedra het.”

Johannes 17:1-5

Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik. U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen. Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…