Skip to main content

Die gelykenis van die weduwee en die regter – Lukas 18:1-8

Dink aan die vrou van Lot!

Jesus is besig om met sy dissipels te gesels oor die koninkryk van God. Veral oor die feit dat daar dae gaan kom wat hulle verlang daarna dat die koninkryk sal aanbreek. Wat hulle die nuwe hemel en aarde sal wil beleef.

  • Dit sal dae wees waarin hulle baie valse berigte oor Hom sal hoor. Dat mense ‘n valse idee van die Here Jesus sal skep en ander só sal leer. En hulle sal verlang daarna dat die waarheid sal seëvier.
  • Dit sal dae wees waarin hulle sal dit sal beleef dat baie mense die Here sal verwerp soos in die dae van Noag en die dae van Lot. Dat mense die rug sal keer op God en sy gebod, en sal leef soos hulle wil. En hulle sal verlang daarna dat die afvalligheid tot ‘n einde sal kom.

Jesus stel hulle gerus met twee voorbeelde uit die verlede. Hulle kan moed skep uit die tyd van Noag en die tyd van Lot.

  • Die afvalligheid in die tyd van Noag is kort geknip deur die sondvloed waar die bekende wêreld deur water vernietig is.
  • Die afvalligheid in die tyd van Sodom en Gomorra is kort geknip deur die vuur en swael wat van die hemel neergereën het en die vier stede daar by die Dooie See vernietig het.

Nie dat dit maklik sal wees nie, want die einde sal kom met toestande wat sal herinner aan die tyd van Noag en die tyd van Lot.

Hulle moet volhard in geloof, want: “Elkeen wat probeer om sy lewe te red, sal dit verloor; en elkeen wat dit verloor, sal dit behou.” En Jesus herinner hulle aan Lot se vrou wat in ‘n soutpilaar verander het toe sy teruggedraai het na dít wat sy reeds agter gelaat het.

Jesus waarsku die dissipels. Moenie met verlange terugdraai na die genot van die wêreld nie, want dan sal jy die koninkryk mis. Wanneer die Seun van die mens kom, sal Hy die skape van die bokke skei, selfs al slaap hulle saam op een bed of werk hulle skouer aan skouer by die meul. Die een sal saamgeneem word en die ander een agtergelaat word.

Jesus maak dit duidelik dat ewige lewe afhanklik daarvan is of ons gereed sal wees by sy koms.

“Dink aan die vrou van Lot!”

Die gelykenis van die weduwee en die regter

Maar waarmee Jesus hulle veral wil bemoedig is om aan te hou bid, nie maar net vir hulleself nie, maar vir die koms van die koninkryk.

Dit is waarom Hy die gelykenis van die onregverdige regter vertel.

1 Hy het vir hulle ‘n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie. 2 Hy het gesê: “Daar was ‘n sekere regter in ‘n bepaalde stad wat nie ontsag vir God gehad het nie en hom aan geen mens gesteur het nie. 3 Daar was ook ‘n weduwee in daardie stad, wat hom bly opsoek het met die versoek, ‘Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent.’ 4 ‘n Tyd lank wou hy nie, maar naderhand het hy by homself gedink, ‘Al het ek geen ontsag vir God en steur ek my aan geen mens nie, 5 sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, tog maar reg aan haar laat geskied; anders gaan sy my nog gedaan maak.’ ” 6 Toe sê die Here: “Luister na wat die onregverdige regter sê. 7 Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat dag en nag na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8 Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?” 

Die onregverdige regter

Die regter was adikia – onregverdig. Hy het hom nie gesteur aan wat reg is voor God nie – soos in die dae van Noag. Hy het hom ook nie gesteur aan wat reg is voor mense nie – soos in die dae van Lot.

Die weduwee was iemand wat ‘n probleem gehad het met ‘n opponent. Iemand wat haar teëgestaan het. Wat haar regte benadeel het.

Die regter wou haar egter nie help nie, selfs al was die reg waarskynlik aan haar kant. Maar, die weduwee het aangehou en hom “bly opsoek het met die versoek”.  Sy het haar saak aan mekaar voor hom gaan bepleit. Sy het hom geen rus gegee nie.

Dit het ‘n tyd lank só aangehou. Tot die regter onverwags besluit het, die vrou gee hom darem net te veel moeite. Hy raak net nie van haar en haar saak ontslae nie. So, al het hy vir God geen ontsag nie, en steur hy hom nie aan mense nie, hy gaan haar gee wat sy vra. Voordat sy hom nog gedaan maak!

God sal reg laat geskied

Dan lê Jesus die gelykenis vir sy dissipels uit. Hy moedig hulle aan om te luister na wat die onregverdige regter sê, want dit sal hulle bemoedig in hulle gebed vir die koninkryk.

Die eerste punt wat Jesus uit die gelykenis maak, is dat God nie so die onregverdige regter is van wie ‘n mens op ‘n soortgelyke wyse moet verwag dat hy onverwags tot sy sinne sal kom en help omdat hy gedaan is nie.

Nee, God is nie net baie meer gereed om te help as die onregverdige regter nie. Nee, God sal sy uitverkorenes nie lank laat wag nie. Hy sal “baie gou aan hulle reg laat geskied”.

“Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat dag en nag na Hom roep nie?” Hy is immers die Een wat in die wet van Moses alreeds gesê het dat Hy persoonlik vir die reg van weduwees sal opkom (Deut 27:19). Hoeveel te meer nie in die saak van sy uitverkorenes wat dag en nag na Hom roep nie.

Die tweede punt wat Jesus uit die gelykenis maak, is dat die probleem nie by God lê nie, maar by die mense. Nie by die regter nie, maar by die weduwee.

Die vraag is net, sê Jesus: “Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind.” Sal sy dissipels Hom genoeg vertrou om te wag vir sy wederkoms, wanneer Hy alles sal kom regstel?

God slaap nie – sal ons wakker bly?

Die Godsbeeld wat Jesus hier teken is van ‘n God wat nie slaap nie, en sy uitverkorenes se gebede om verlossing hoor en inderdaad verhoor. Hy sal reg laat geskied – die Griekse frase beteken letterlik: Hy sal regstel (of wraak neem, of herstel bring – in Engels revenge, retribution).

Die vraag is dus nie of God sal optree nie – Hy sal.

Die vraag is of die dissipels (en ons) met hierdie tipe geloof sal lewe en sal volhard. Sal hulle wakker bly, dag en nag, in gebed tot God. Sal hulle die waarskuwings van Lot se vrou ter harte neem, die vrou wat teruggedraai het na die wêreld? Sal hulle die aanmoediging van die weduwee ter harte neem, die vrou wat volhard het om vir geregtigheid te bid?

Hoe kan ons tot die einde volhard?

’n Logiese vraag wat ons dus moet vra, is, hoe kan ons tot die einde volhard? Hoe bly ons gereed vir Jesus se koms?

Daar is veral vier faktore wat gelowiges se oë kan wegtrek van die uiteindelike koms van God se koninkryk, soos ‘n mens dit in die vorige perikoop raaklees:

  • Die sleur van die daaglikse lewe: mens raak so vasgevang in die roetine en eise van elke dag dat jy nooit meer kans kry om verder te dink as die uitdagings wat jy nou die hoof moet bied nie – soos in die tyd van Noag;
  • Gemaklik en tuis: Soos Lot se vrou kan mens die teenswoordige wêreld so liefkry, so gemaklik wees in jou knusse bestaan, so tuis in jou groewe, dat jy nie meer die verlange na meer ervaar nie – soos in die tyd van Lot;
  • Afvalligheid: Mens kan afvallig raak van God en sy gebod, leef in sy wêreld asof Hy nie bestaan nie. Jy kan jou lewe volgens ‘n ander ritme as God s’n begin leef. Jy kan jou afsluit van die samelewing se nood, en doodgewoon ophou om iets daaraan te probeer doen. Jy kan God en jou naaste vir ander prioriteite inruil – soos die regter.
  • Moedeloosheid: Mens kan so afgesloof raak, so vasgeval in die krisisse van elke dag; jy kan so wegteer as gevolg van die onreg en lyding wat jy verduur, of rondom jou sien, dat jy hoop en geloof op God se toekoms verloor – anders as die weduwee wat volhard het.

Hoe bly ons volhard in die geloof? Hoe vermy ons die suigkrag van die dinge wat ons oë wegdraai van God se komende koninkryk?

Vra sonder ophou

Die weduwee verteenwoordig wat die houding van gelowiges in sulke tye moet wees: om te vra sonder ophou.

Ons mag nie ophou glo in God en sy geregtigheid in tye wat die sleur van die lewe en die gemaksug van ons eie voorspoed ons geestelike lewe begin afstomp nie. Ons durf nie ophou om te glo in tye van afvalligheid nie.

Ons moedeloosheid in tye van onrus en onreg kan net getroef word deur voortdurende volhardende gebed om verandering. Ons moet leer om dag en nag te roep na God. Om wakker te wees, om ons slaap op te offer, en voor die troon van God te verskyn vir hierdie lewe.

Om soos Noag in te tree vir die goddeloosheid van sy tyd. Om soos Abraham voor God in te tree vir die sedeloosheid van sy tyd. Miskien is daar vyftig Here? Miskien is daar vyf en veertig? Of dan Veertig? Dertig? U sal darem seker nie twintig regverdiges laat omkom saam met die onregverdiges nie? En as daar net tien regverdiges is (Gen 18:22-33)?

Versugting na geregtigheid

Die vraag is dus watter impak ons omstandighede op ons het? Watter rol speel ons omstandighede in ons lewe? Trek dit ons stadig maar seker weg van God? Maak al die onreg en hopeloosheid ons bloot verder sinies met die gevoel ons is bloot op ons eie?

Daar is soveel pyn en gebrokenheid in die wêreld. Soveel mense wat worstel met die ellende wat mens-wees meebring. Daar is ‘n diepe nood na ‘n gemeenskap van mense wat sug na geregtigheid, na lewensruimte vir elkeen, na genesing en herstel van die verskeurdheid waarin ons leef.

Ons as die uitverkorenes van God, die liggaam van Christus, is daardie gemeenskap. ‘n Gemeenskap van mense wat nie ophou om te roep na God, om dag en nag te vra, Here bring genesing. Here, herstel u beeld in mense. Here, gee bekering sodat ons land en sy mense vrede sal ervaar soos ’n rivier en geregtigheid soos die golwe van die see (Jes 48:18).

Ons kan die belofte van God vasgryp. Dit is Hy wat belowe dat Hy reg sal doen aan die mense wat dag en nag tot Hom roep om geregtigheid.

Sal Hy ons lank laat wag? Jesus sê vir ons: Nee, Hy sal baie gou aan ons reg laat geskied.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda