Skip to main content

Jesus se heerlikheid beweeg sy dissipels tot geloof in Hom

Jesus is by ’n bruilof in die dorpie van Natanael, Kana.  Sy ma is daar sowel as sy dissipels, ook waarskynlik sy broers (vers 12).  Dit is op die derde dag na die gesprek met Natanael. Miskien was dit ’n familie-troue wat moontlik verklaar hoekom Maria verantwoordelik gevoel het om die gebrek aan wyn aan Jesus uit te wys – hulle gevolg was immers ’n groot groep ekstra gaste! Dit kan ook verband hou met Natanael omdat dit sy tuisdorp was.

Maria se interaksie met haar seun Jesus en die kelners sê vir my dat sy ook iets verstaan het van Jesus se deernis met mense, selfs wanneer so iets doodgewoon gebeur as wyn wat by ’n partytjie opraak.  En dat sy ook geweet het dat Sy deernis tot optrede sal lei.  Hoe dit ook al sy, sy bring die behoeftes van die gasheer en –vrou na Hom toe, in die verwagting dat Hy iets sal kan doen.

Dat Jesus antwoord dat Sy tyd nog nie gekom het nie, val aanvanklik vreemd op.  Maar as ’n mens in gedagte hou dat Hy deurgaans kommunikeer dat Hy net doen wat sy Vader Hom wys (4:34-38; 5:19,30), kan dit wees dat Hy hier vir Maria sê dat Hy net sal doen wat Sy Vader Hom wys, en dit ook net op God se tyd, nie menslike tyd nie.

Maria laat haar egter nie daardeur van stryk bring nie, maar val in by sy tydsberekening, en gee opdrag aan die dienaars dat hulle moet luister wat Jesus vir hulle sê. Sy skep dus ‘n ruimte vir Hom om op te tree, sonder dat sy Hom kompromitteer.

Dit is vir my baie betekenisvol dat Jesus juis die 6 klipkanne inspan wat vir die reiniging van die Joodse gaste (Mark 7:3-4) met hulle aankoms by die bruilof gebruik is.  Dit word hervul tot bo toe en dan in wyn verander.  Daarmee kontrasteer Johannes die reinigingswater van die Jode wat beperkte nut het, met die wyn van die nuwe lewe wat Jesus gee.  Daarmee bring Jesus onder andere ook Jes 25:6 in vervulling wat van ’n oorvloed van wyn praat met die feesmaal wat God vir die volk voorberei.

Let ook op hoe Jesus die eer vir die eerste proe gee aan die hoofkelner, waarmee Hy doelbewus binne die protokol van die tyd optree.  Dié reageer met verbasing teenoor die bruidegom en komplimenteer hom dat hy die goeie wyn tot nou toe terug gehou het.  Die beste kom laaste!

Ons lees egter nooit dat hy in die proses agterkom dat dit eintlik Jesus is wat die wyn verskaf het nie – hoewel die kelners en Jesus se gevolg dit geweet het.  Wat beteken dat Jesus die gasheer en –vrou, sowel as die bruidegom nie in die verleentheid stel met die wonder wat Hy vir en namens hulle gedoen het nie.

Dit is dus net ’n klein groepie wat regtig insae het in die feit dat hier ’n wonder plaasgevind het.  Johannes noem dit ’n wonderteken (semeion), omdat Jesus daardeur Sy heerlikheid laat blyk het (1:14,51), wat sy dissipels tot geloof in Hom beweeg het.

Daarmee sluit Johannes by ’n hele paar OT gedeeltes aan wat op soortgelyke wyse van God se ingrype as tekens gepraat het (Eks 3:12 – die aanbidding by die berg Sinai; Eks 4:1-9 – die kierie van Moses wat ’n slang word; Jes 7:10-16 – die jong vrou wat swanger sou word; Jes 66:19 – Jerusalem en Sion se herstel as die teken vir die nasies [vgl die reiniging van die tempel wat net hierna vertel sal word]).

Daarmee maak Johannes sy punt: wie Jesus se wonderteken verstaan (en dink weereens ook aan die reiniging van die tempel wat hierna volg), het die sleutel tot die betekenis van Jesus se bediening, wat hierna in alle erns begin.  Jesus word as die Deernisvolle Dienskneg van God geteken.

Johannes sluit af deur van hulle reis na Kapernaum te vertel, hoewel hulle nie lank daar gebly het nie.  Heel gou sou Hy na Jerusalem vertrek vir die eerste van 3 Paasfeeste in sy bedieningstyd.  Die ander evangelies noem Kapernaum as ’n soort basis vanwaar af Hy opgetree het. Dit raak dus mettertyd sy tuisdorp.

Dit is ook insiggewend hoe die metafoor van water hierna ingespan word: 1) die gesprek met Nikodemus oor die nuwe lewe (uit water en Gees gebore) wat in Jesus moontlik raak (Joh 3:1-21), 2) die gesprek met die Samaritaanse vrou oor die lewende water (Joh 4:7-26), 3) die genesing van die siek man by die bad van Betesda (Joh 5:1-17), 4) Jesus wat op die see loop (Joh 6:16-21), en 5) die gesprek oor die Heilige Gees wat strome van lewende water word in ons binneste (Joh 7:1-49).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…