Skip to main content

Jesus se heerlikheid beweeg sy dissipels tot geloof in Hom

Jesus is by ’n bruilof in die dorpie van Natanael, Kana.  Sy ma is daar sowel as sy dissipels, ook waarskynlik sy broers (vers 12).  Dit is op die derde dag na die gesprek met Natanael. Miskien was dit ’n familie-troue wat moontlik verklaar hoekom Maria verantwoordelik gevoel het om die gebrek aan wyn aan Jesus uit te wys – hulle gevolg was immers ’n groot groep ekstra gaste! Dit kan ook verband hou met Natanael omdat dit sy tuisdorp was.

Maria se interaksie met haar seun Jesus en die kelners sê vir my dat sy ook iets verstaan het van Jesus se deernis met mense, selfs wanneer so iets doodgewoon gebeur as wyn wat by ’n partytjie opraak.  En dat sy ook geweet het dat Sy deernis tot optrede sal lei.  Hoe dit ook al sy, sy bring die behoeftes van die gasheer en –vrou na Hom toe, in die verwagting dat Hy iets sal kan doen.

Dat Jesus antwoord dat Sy tyd nog nie gekom het nie, val aanvanklik vreemd op.  Maar as ’n mens in gedagte hou dat Hy deurgaans kommunikeer dat Hy net doen wat sy Vader Hom wys (4:34-38; 5:19,30), kan dit wees dat Hy hier vir Maria sê dat Hy net sal doen wat Sy Vader Hom wys, en dit ook net op God se tyd, nie menslike tyd nie.

Maria laat haar egter nie daardeur van stryk bring nie, maar val in by sy tydsberekening, en gee opdrag aan die dienaars dat hulle moet luister wat Jesus vir hulle sê. Sy skep dus ‘n ruimte vir Hom om op te tree, sonder dat sy Hom kompromitteer.

Dit is vir my baie betekenisvol dat Jesus juis die 6 klipkanne inspan wat vir die reiniging van die Joodse gaste (Mark 7:3-4) met hulle aankoms by die bruilof gebruik is.  Dit word hervul tot bo toe en dan in wyn verander.  Daarmee kontrasteer Johannes die reinigingswater van die Jode wat beperkte nut het, met die wyn van die nuwe lewe wat Jesus gee.  Daarmee bring Jesus onder andere ook Jes 25:6 in vervulling wat van ’n oorvloed van wyn praat met die feesmaal wat God vir die volk voorberei.

Let ook op hoe Jesus die eer vir die eerste proe gee aan die hoofkelner, waarmee Hy doelbewus binne die protokol van die tyd optree.  Dié reageer met verbasing teenoor die bruidegom en komplimenteer hom dat hy die goeie wyn tot nou toe terug gehou het.  Die beste kom laaste!

Ons lees egter nooit dat hy in die proses agterkom dat dit eintlik Jesus is wat die wyn verskaf het nie – hoewel die kelners en Jesus se gevolg dit geweet het.  Wat beteken dat Jesus die gasheer en –vrou, sowel as die bruidegom nie in die verleentheid stel met die wonder wat Hy vir en namens hulle gedoen het nie.

Dit is dus net ’n klein groepie wat regtig insae het in die feit dat hier ’n wonder plaasgevind het.  Johannes noem dit ’n wonderteken (semeion), omdat Jesus daardeur Sy heerlikheid laat blyk het (1:14,51), wat sy dissipels tot geloof in Hom beweeg het.

Daarmee sluit Johannes by ’n hele paar OT gedeeltes aan wat op soortgelyke wyse van God se ingrype as tekens gepraat het (Eks 3:12 – die aanbidding by die berg Sinai; Eks 4:1-9 – die kierie van Moses wat ’n slang word; Jes 7:10-16 – die jong vrou wat swanger sou word; Jes 66:19 – Jerusalem en Sion se herstel as die teken vir die nasies [vgl die reiniging van die tempel wat net hierna vertel sal word]).

Daarmee maak Johannes sy punt: wie Jesus se wonderteken verstaan (en dink weereens ook aan die reiniging van die tempel wat hierna volg), het die sleutel tot die betekenis van Jesus se bediening, wat hierna in alle erns begin.  Jesus word as die Deernisvolle Dienskneg van God geteken.

Johannes sluit af deur van hulle reis na Kapernaum te vertel, hoewel hulle nie lank daar gebly het nie.  Heel gou sou Hy na Jerusalem vertrek vir die eerste van 3 Paasfeeste in sy bedieningstyd.  Die ander evangelies noem Kapernaum as ’n soort basis vanwaar af Hy opgetree het. Dit raak dus mettertyd sy tuisdorp.

Dit is ook insiggewend hoe die metafoor van water hierna ingespan word: 1) die gesprek met Nikodemus oor die nuwe lewe (uit water en Gees gebore) wat in Jesus moontlik raak (Joh 3:1-21), 2) die gesprek met die Samaritaanse vrou oor die lewende water (Joh 4:7-26), 3) die genesing van die siek man by die bad van Betesda (Joh 5:1-17), 4) Jesus wat op die see loop (Joh 6:16-21), en 5) die gesprek oor die Heilige Gees wat strome van lewende water word in ons binneste (Joh 7:1-49).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!