Skip to main content

Is daar hoop? – 1 Tessalonisense 4:13-18

13 MAAR, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.

14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.

15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.

16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Is daar hoop?

Kurt Vonnegut het ‘n boek geskryf, Cat’s Cradle. John, die hoofkarakter, beplan ‘n boek oor die dag dat die wêreld eindig. Terwyl hy besig is met sy navorsing kom John op ‘n hoofstuk in ‘n boek af met die titel: “What Can a Thoughtful Man Hope for Mankind on Earth, Given the Experience of the Past Million Years?” Dit neem John nie lank om die hoofstuk te lees nie, want dit bestaan uit net een woord: “Nothing”, gevolg deur ‘n punt.

Die boek beskryf die gevoel wat baie mense vandag het. Daar is geen hoop op die langtermyn nie. “Nothing”. Oor die onmiddellike toekoms kan mens dalk optimisties wees. Maar op die langtermyn lyk dinge bleek. Daar is geen hoop nie.

Is ons uitgelewer aan die noodlot?

‘n Inskripsie in ‘n grafkelder in die einste Tessalonika illustreer hoe dié hooploosheid nie net ‘n moderne gevoel is nie. Min mense in die heidense bevolking van die stad het enige hoop vir ‘n lewe anderkant die graf gehad. So staan dit geskryf:

Vanweë haar besondere geaardheid en aangename persoonlikheid, het haar toegewyde eggenoot, Eutropos, hierdie grafkelder vir haar gebou. Dit is ook vir homself, sodat hy later ‘n plek sal hê waar hy saam met sy geliefde vrou kan rus. Dit is vir wanneer hy die einde van die lewe bereik op die tyd wat die noodlot onafwendbaar vir hom voorberei het.

Eutropos se enigste hoop vir na die dood is om saam met sy vrou begrawe te word in die familie se grafkelder.

Dit is egter heel anders met die Christelike geloof, skryf Paulus.

Daar is hoop

Paulus skryf in sy eerste brief aan die Tessalonisense oor die drie Christelike deugdes. Geloof, liefde en hoop. In die gedeelte wat ons gelees het, is hy spesifiek besig met die derde deug: hoop.

Dit wil voorkom asof sommige gelowiges in Tessalonika depressief geraak het oor die lot van hulle geliefdes na hulle dood.  Soos baie van hulle ongelowige tydgenote. Dit kan selfs wees dat van dié sterftes was weens die vervolging vir hulle geloof waarvan Paulus vroeër in die brief melding maak. 

Paulus wil egter nie hê die gelowiges in Tessalonika onkundig moet wees oor die dood nie. Ook nie oor diegene wat al dood is nie, sodat hulle nie treur soos mense wat geen hoop het nie.

Die hoop is vir ons hele lewe

Die hoop waarvan Paulus praat, het betrekking op ons hele lewe.

Dit het betrekking op die verlede.

Paulus verkondig dat die mense wat reeds dood is, by God lewe. In kort, sê hy, die wat reeds gesterf het, is by die Here.

Dit het betrekking op die toekoms wat vir ons wag.

Paulus verkondig dat Jesus Christus weer sal kom om die aarde nuut te maak. Dit wat God aan Christus se liggaam in die graf gedoen het – om dit op te wek tot lewe – is wat God in Christus met die res van die skepping gaan doen.

Dit het ook betrekking op die hede, dié ervaring van vandag.

Die feit dat ons geliefdes by die Here is, troos ons. Die feit dat Jesus alles weer nuut sal maak, troos ons. Maar, heel spesifiek, die feit dat Jesus se opstanding ook ons voorland is, laat ons met hoop lewe. Vandag. En elke dag. Dit vul ons die vreugde van die teenwoordige Here.

Want dit is nou reeds waar dat die Here vir altyd by ons is, soos ons aan die einde van die tyd altyd by Hom sal wees.

Ons hartseer word getemper deur hoop

Ons sal natuurlik die verlies aan geliefdes betreur en groot hartseer ervaar. Ook in opstand kom oor die dood, want selfs al verwag ons die dood weens ons verganklikheid, is dit steeds ‘n vergryp aan God se goeie skepping.

Ons hoef egter nie te treur soos mense sonder hoop nie. Jesus het nie net gesterf het, maar ook uit die dood opgestaan. En Hy belowe dit vir almal wat in Hom glo.

En ons het hierdie toekomsverwagting dat ons weer met ander gelowiges herenig sal word. Soos Paulus dit aan ons verkondig: “dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.”

Vreugdevolle ontmoeting

Wanneer die bevel aan die einde van die tyd gegee word en die stem van die aartsengel en die basuin (trompet) van God weerklink, sal daar ‘n paar dinge gebeur. Die Here Jesus sal uit die hemel neerdaal. Dan sal dié wat in Christus gesterf het, liggaamlik opstaan uit die dood, en saam met Hom die koninkryk van God betree. Daarna sal diegene wat nog lewe by die wederkoms, verander word en saam met die ontslape gelowiges die koninkryk van God betree.

Dit is met hierdie vaste verwagting wat ons mekaar troos. Die dood is nie die einde nie. Vir elkeen wat wedergebore is, sal daar die ewige lewe wag. Die tweede dood sal oor ons geen mag hê nie. Vir dié wat egter die Here se werk in hulle lewe weerstaan het in dié lewe, sal die tweede, en ewige dood wag.

Soos iemand opgemerk het: “Once born, twice dead. Twice born, once dead.” Alle wedergeborenes sal die dood net een keer ervaar en daarna die ewige lewe binnegaan. Alle onwedergeborenes sal die dood twee keer ervaar, en die tweede dood sal vir ewig wees.

Jesus is ons hoop

Wat Paulus vir ons hier in sy brief onderstreep, is dat ons hoop uiteindelik in Iemand is, in die Here Jesus Christus self, wat was en wat is en wat kom. God self is die bron van ons hoop. Ons kan verseker wees van Hom, van wie en wat Hy is, van wat Hy gedoen het en nog sal doen.

Ons word deur sy woorde en werke vertroos. Hy vervul ons met verwagting en vertroue, omdat Hy self die inhoud van die beloftes en die hoop van die ewige lewe is, omdat Hy self die waarborg daarvan is.

Ons hoop is dus ten diepste nie die lewe na die dood nie, maar die Here Jesus Christus self. Dit is hierdie Jesus wat ook vir ons gesterwe en opgestaan het. In Hom het ons lewe, in hierdie wêreld, en in die wêreld wat kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…