Skip to main content

Matteus 17:1-8 – Luister na Hom!

Laurel en Yanny

Ek wil hê julle moet na die volgende klankgreep luister en vir my sê wat julle hoor.

https://www.nytimes.com/interactive/2018/05/16/upshot/audio-clip-yanny-laurel-debate.html

Wie hoor laurel? Wie hoor yanny?

Speel ‘n bietjie rond met die frekwensie. Wat hoor julle as dit hoër gaan? En laer? Dit verander nê!?

Dit is die instrument wat die New York Times geskep het om die effek van frekwensies op jou gehoor te toets.

Vocabulary.com

Dit is weer na aanleiding van Katie Hetzel se navorsing wat verlede jaar opslae gemaak het. Sy het die woord laurel nagevors.

Toe sy na die uitspraak van die woord laurel op die Internet geluister by vocabulary.com het sy egter met ‘n skok agter gekom dat sy die uitspraak as yanny gehoor het.

Sy het dit vreemd gevind, haar maats gevra om daarna te luister, en só is ‘n meme gebore. Sommige hoor dit as laurel. Sommige as yanny. (https://www.wired.com/story/yanny-and-laurel-true-history/)

Wat geskryf is, tel

Die vraag is natuurlik, wie is reg?

Wie dink julle?

Wel, uiteindelik maak dit nie saak wat jy hoor nie, maar watter woord dit is. Die woord is steeds laurel, al hoor sommige daarin yanny. Vocabulary.com gaan nie die woord verander na yanny, omdat sommige mense sê, maar hulle hoor nie laurel nie, maar yanny. Nooit nie.

Hulle sal hoogstens die klankgreep verander, sodat dit duideliker is. Maar, die woord in hulle woordeskat sal steeds laurel bly. En daarom ook in ons woordeskat.

Dit is belangrik om dié punt te snap. Dit maak nie saak wat jy hoor nie. Dit is wat geskryf staan wat tel. Die woord is laurel. Dit sal laurel bly, al hoor jy iets anders.

Wat geskrywe staan, staan geskrywe

Dieselfde geld die Bybel. Jy kan nie die woorde in die Bybel verander, omdat jy dit anders hoor as iemand anders nie. Dit wat geskryf is in die Bybel is onveranderbaar.

Soos Jesus sê, die Skrif kan nie gebreek word nie (Joh 10:35). Soos Johannes sê in sy Openbaring, jy kan nie die woorde van die Skrif verander nie. Jy kan nie woorde wegneem of byvoeg by die Skrif nie (Openb 22:18-19).

Jy kan die Skrif ook nie anders interpreteer, net omdat jy dit anders hoor of anders daaroor voel nie, soos Petrus dit in een van sy briewe beklemtoon. Geen profesie in die Skrif is ‘n saak van eie uitlegging nie, sê hy. Jy kan nie maar jou eie opinies inlees in die Skrif nie. Jy moet die Skrif self leer verstaan en toepas in jou lewe (2 Pet 1:16-21).

Wat geskrywe staan, staan geskrywe.

Hoe luister ons na die Skrif?

Hoe luister ons dus na die Skrif dat ons laurel hoor, en nie yanny nie, by wyse van spreke?

Ons leef immers in ‘n tyd waar hierdie, eintlik vanselfsprekende, boodskap in gedrang is. Waar mense dink dit gaan nie meer oor wat geskryf is nie, maar hoe mense dit hoor. Wat meen dat die hoorder belangriker is as dit wat geskrywe is.  Dat jou interpretasie van die Bybel belangriker is as wat inderdaad in die Bybel geskrywe staan.

Die vraag is dus, hoe luister ons na die Skrif dat ons dit hoor soos dit geskryf staan? Dat ons laurel hoor, en nie yanny nie, by wyse van spreke?

Ek wil vir julle dit heel prakties illustreer met ‘n teks wat interessant genoeg ook oor luister praat. ‘n Teks wat wêreldwyd vandag gelees word op Verheerliking Sondag. Die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg.

Ek wil vir jou help om die teks te hoor soos dit geskryf staan, sodat jy dit kan interpreteer soos die Bybel self vir ons die verhaal vertel.

Leef-Luister-Leef

Ek gebruik ‘n eenvoudige metodiek wat ek die Lees-Luister-Leef metode noem. Ek het dit ontwikkel oor die afgelope 15 jaar. Dit sal jou help om te werk met wat in die Bybel geskrywe is, sodat jy kan hoor wat die Bybel sê, en nie maar net wat jou eie hart of gedagtes, of nog erger ander se gedagtes, vir jou wil wysmaak nie.

Dit is na alles God se Woord en só hoor ons die lewende stem van God self praat.

Matteus 17:1-8

Die verheerliking op die berg

(Mark 9:2–8; Luk 9:28–36)

17  Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op ’n hoë berg gebring waar hulle alleen was. 2Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. 3Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat.

4Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

5Terwyl hy nog praat, het ’n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ’n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

6Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval. 7Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.”

8Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.

LEES

Die eerste fase is altyd om deeglik te lees wat in die teks staan. Om dit te lees soos die skrywer dit bedoel het. Om elke nuanse van die woorde en die manier waarop dit in sinne en paragrawe ingedeel is, te probeer verstaan.

Ek gaan ook vanaand die meeste tyd hieraan afstaan. Kom ons lees die teks vers vir vers deur en lig ‘n paar van die uitstaande betekenisse in die teks uit.

Tyd en plek

Die teks begin met die plek en tyd waar dit gebeur het:

1Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op ’n hoë berg gebring waar hulle alleen was.

So, kom ons ontleed drie aspekte van die eerste vers sodat ons dit kan verstaan.

Ses dae later

Matteus sê hierdie gebeure vind ses dae later plaas.

Hoekom sê Matteus “ses dae later”?

Wel, een manier om dit agter te kom, is om te kyk wat die ander evangelies sê. Markus 9:2-8 sê ook dit was ses dae later. Lukas 9:28-36 sê omtrent 8 dae later wat min of meer op dieselfde neerkom. En Johannes vertel nie hierdie spesifieke verhaal nie.

So ons moet in die teks self kyk. Ons moet lees wat het net voor hierdie bergtop ervaring gebeur. Dit vind ons in Matteus 16.

In die laaste deel van hoofstuk 16 is Jesus besig om die dissipels te leer oor selfverloëning en vir hulle te vertel dat sonder selfverloëning sal hulle die koninkryk van God nie sien nie. So, Matteus herinner ons met hierdie tydsaanduiding dat Jesus iets hier gaan doen wat vir die dissipels sal help met selfverloëning.

Ons lees dus die teks in konteks. Ons lees wat vóór dit staan. Ook wat ná dit staan. Soos ons sal sien in die volgende aspek.

Petrus, Jakobus en Johannes

Matteus sê verder dat Jesus net drie dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes met Hom saamgeneem het. Hoekom? Want, ons kom agter dat Jesus hulle as die binne-kring gebruik, dat Hy meer aandag aan hulle spandeer het, sodat hulle later ‘n belangrike leierskaprol in die kerk sou kon speel. Hy was dus besig met leierskapsontwikkeling.

Petrus word hierna die leier van die eerste kerk, en die Here gebruik hom om die eerste heidene te bereik (Hand 10). Hy skryf ook uiteindelik twee uitstaande briewe aan gelowiges en help vir Markus, die evangelieskrywer, om die verhaal van Jesus vir die wêreld te gee.

Jakobus raak die leier van die kerk in Jerusalem en tot met sy dood begelei hy die geloofsgemeenskap om in alles die Here voorop te stel (Hand 15).

Johannes raak waarskynlik die belangrikste getuie van die opstanding van die Here Jesus en skrywe nie net die evangelie van Johannes en sy drie briewe nie, maar ook die Openbaring van Johannes wat die kerk sou help om in hulle getuienis te volhard ten spyte van vervolging.

Dit is ook dié drie wat later deur Jesus saamgeneem word dieper in Getsemane in. Hulle was regtig bevoorreg om die naaste aan Jesus te kom. Dit is die verdere konteks, dít waarvan Matteus vir ons later in hoofstuk 26.

‘n Mens sou ook ‘n bietjie verder in die Bybel kon rondblaai. Dan sou ‘n mens sien dat daar ook drie persone saam met Moses opgeklim het die berg van Sinai op, Aäron, Nadab en Abihu (Eks 24). Die ooreenkoms tussen Jesus en Moses word daardeur versterk.

Maar genoeg vir eers.

‘n Hoë berg

Matteus sê verder dat Jesus hulle op ‘n hoë berg gebring het.

Hoekom? Hy gee self die rede. Hulle sou daar alleen kon wees vir wat nou sou gebeur.

So, ons weet reg van die eerste vers af, dit gaan hier oor ‘n verdere les in selfverloëning as deel van Jesus se leierskapsontwikkeling. En Hy wou hulle ‘n bergtop ervaring gee waar ander indrukke nie kon kompeteer met wat nou sou gebeur nie.

En dit is net vers 1!

‘n Mens sou nou nog verder kon lees om te probeer agterkom waar die berg geleë was, want die Bybel gee nie vir ons meer inligting nie. En as jy dit sou doen, sou jy agterkom dat die kerktradisie dit as Taborberg geïdentifiseer het, maar dat ander historici sê dat dit eerder die Hermonberg noord van Seserea-Filippi was, wat beter inpas by die verhaal soos dit hier vertel word.

Nie dat dit veel aan die boodskap verander nie, maar dit gee ‘n bietjie breër konteks vir die verhaal.

2Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

Jesus se voorkoms verander

Matteus vertel vir ons dat drie goed met Jesus gebeur. Sy voorkoms verander terwyl hulle dit kan sien. Sy gesig begin straal soos die son. Sy klere word wit soos die lig.

Hoekom? Want, Jesus is nie net ‘n mens nie. Hy is God. En God se voorkoms is soos die son. Sy klere is wit soos die lig. Hy is ‘n ontsagwekkende heerlike wese.

So Jesus gee hulle ‘n kykie in sy heerlikheid. As ‘n motivering vir hulle om regtig sy woorde na waarde te skat. Wat Hy sê, is nie maar net menslike retoriek nie. Dit is gesaghebbend. Dit is God se woorde.

As ons in die OT gaan kers opsteek oor voorloper ervarings hiervan lees ons van Moses wie se gesig gestraal het (Eks 34). Maar, daar is ‘n groot verskil. Moses se heerlikheid het telkens afgeneem as hy van die berg af geklim het. Jesus straal as God self.

En as ‘n mens die verdere uitwerk van hierdie gedagte in die NT naspeur, sal jy in die tweede brief van Paulus aan die Korinte hoor dat die Gees hierdie selfde heerlikheid aan die gang sit in ons lewe … (2 Kor 3).

3Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat.

Moses en Elia verskyn

Matteus vervolg met die verskyning van Moses en Elia wat met Jesus in gesprek tree.

Hoekom? Want ons weet uit die OT dat Moses die wet van God verteenwoordig en Elia die profete. Dit bevestig die gesag van die Skrif in die OT. Maar dit sê ook onmiddellik dat die OT in die woorde van Jesus vervul word. Nie daarmee opgehef word nie, maar in Jesus hulle doel bereik.

‘n Mens sou ‘n bietjie meer kon lees in die ander evangelies hieroor. Lukas vertel vir ons byvoorbeeld dat Jesus oor sy dood of “Uittog” vertel.  ‘n Mens sou ook kon gaan kers opsteek by Daniël wat ‘n soortgelyke beskrywing van die “Ancient of days” gee (Dan 7:9). En Johannes gee ‘n soortgelyke beskrywing van Jesus se voorkoms (Openb 1).

‘n Mens sou ook ander verbande in die teks kon nagaan. Sommige geleerdes verbind bv dié twee, Moses en Elia, meet die twee getuies in Openbaring 11:3-12.

Genoeg om te sê, hier gebeur regtig iets besonders. Dit sou die drie dissipels vir ewig fundamenteel anders oor Jesus laat dink.

4Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

Petrus is verdwaas

Matteus vertel vir ons van die verdwaasde reaksie van Petrus wat drie hutte wil bou.

Hoekom? Wel, op die oog af staan daar dat Petrus dink dat dit goed sal wees. Maar, hoekom het hy só gedink? Matteus sê nie vir ons nie, want hy wil by die volgende deel van sy weergawe van die verhaal uitkom.

Maar, gelukkig het ons ander weergawes van hierdie storie in die Bybel by wie ons kan kers opsteek. Skrif word met Skrif vergelyk.

Wat sê die ander twee evangelieskrywers wat ook hierdie verhaal vertel? Wel, Markus sê vir ons dat Petrus verskrik was en daarom nie geweet het wat hy sê nie. (Mark 9:2-13) En Lukas sê dieselfde (Luk 9:28-36.)

En dan kom ons by die punt van die gedeelte, soos dit in al drie evangelies vertel word.

5Terwyl hy (Petrus) nog praat, het ’n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ’n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

Luister na Hom

Let op dat dit gebeur terwyl Petrus nog praat. Dit is asof God eenvoudig bo-oor sy verwarring en verskriktheid ingryp en sorg dat hulle die punt van die openbaring kan snap.

Daar is ‘n helderligte wolk wat sy skaduwee oor hulle gooi. Die wolk was regdeur die Bybel ‘n aanduiding van God se teenwoordigheid (Eks 16:1). Onthou die wolk bedags en die vuurkolom snags in die woestyn (Eks 13:21).

‘n Stem het uit die wolk gepraat, soos God dit telkens in die verlede gedoen het, sodat hulle die konneksie kon maak.

En die stem bevestig die Goddelikheid van Jesus aan hulle: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”

En dan kom God by die punt van hierdie openbaring uit. “Luister na Hom”!

6Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval.

Die dissipels het bang geword

Matteus vertel vir ons van die reaksie van die drie dissipels. Hulle het baie bang geword. Hulle het op die grond neergeval. Maar, hulle sou dit nooit weer kon ontken nie. Die stem was ‘n belangrike bevestiging dat hulle inderdaad met God self te doene het in die persoon van Jesus. Dit was nie maar ‘n storie, ‘n fabel of ‘n mite nie. Dit was God self wat dit vir hulle gesê het.

Jesus is regtig God se geliefde Seun

Soos Petrus later sou skryf in sy tweede brief:

16Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; 17want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. 18En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was.” (2 Pet 1:16-18).

Weereens kan ons dus Matteus se verhaal verstaan uit wat in die res van die Bybel staan. Ons lê Skrif uit met Skrif. Dit is waarom kruisverwysings in die Bybel só belangrik is.

En dan die afloop van die verhaal:

7Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.”

Jesus raak aan hulle

Jesus kom dan na hulle toe, praat nie net met hulle nie, maar raak hulle aan, sodat hulle nie bang hoef te wees nie, maar kan opstaan om Hom verder te vergesel op sy pad na Jerusalem waar Hy sou wys hoe ver selfverloëning gaan. Dit gaan tot by die kruisdood.

En hulle kon daarin rus vind.

8Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.

Jesus is God

Hulle sou nooit weer kon twyfel dat Jesus se woorde gesag het. Dat as Hy hulle tot selfverloëning oproep, dan moet hulle luister. Hy praat met die gesag van God self. Hy is immers God self.

LUISTER

Dit is hoe dit prakties werk om die Bybel te lees, binne konteks, binne die Skrif, deur nougeset en oplettend elke nuanse van die teks raak te sien en te lees soos Matteus dit aanvanklik bedoel het. Soms met die verwysing van buite-Bybelse gegewens.

Maar, belangrik, daarmee is die proses nog nie klaar nie. Om die boodskap van die teks regtig te hoor, moet ons nog dieper gaan. Hoor wat die Here vir ons hierdeur wil sê.

Die proses van lees gee ons al baie om oor na te dink. Maar, ons moet na ons eie lewe kyk en probeer om te verstaan wat die Here deur hierdie verhaal vir ons vandag wil sê.

Daarvoor is dit nodig om bewus te raak van jou eie omstandighede en dan te probeer verstaan hoe kom die boodskap by jou aan. Wat moet jy maak hiermee.

En dan help dit baie keer om een gedagte te vat, en te luister wat die Here daardeur vir jou wil sê.

Luister na Hom

Ek wil graag op die hart van hierdie boodskap in vers 5 fokus. God wat sê: “Luister na Hom.”

Wat beteken dit om te luister na Jesus?

Wat beteken dit om na Jesus te luister in ‘n tyd waar die woorde van die Bybel verander word, selfs verwerp word. Dit is aanvaarbaar om self te besluit wat in die Bybel staan. Jy kan self besluit wat jy daarin hoor wat of wat jy daarin wil hoor.

En sommige gebruik juis hierdie teks om te sê, ek luister na Jesus, maar ek luister na Hom soos ek hom hoor. Ek hoor nie laurel nie, maar yanny, by wyse van spreke, en niemand mag vir my sê, ek is verkeerd nie.

So, baie werk vandag met hierdie idee dat elkeen se interpretasie van die Bybel aanvaarbaar is. So lank jy self oortuig is van jou standpunt, kan jy dit handhaaf. Maak nie saak wat ander dink nie. Ja, dit maak selfs nie saak wat regtig in die Bybel staan nie. Jy kan self besluit wat jy navolg en wat nie. En sê, ek luister na Hom.

Maar, dit is nie wat Jesus self sê nie. Jesus sê op ‘n plek dat die Skrif nie gebreek kan word nie. Dit moet uitgelê word soos dit geskrywe staan (Joh 10:35). As Jesus met Johannes praat in sy Openbaring, dan sê Jesus vir hom wat hy moet skryf, en voeg daaraan by dat niemand daaraan mag verander nie. Niemand mag woorde wegneem of byvoeg by dít wat Jesus vir Johannes gesê het nie (Openb 22:18-19).

‘n Mens kan dus nie die Skrif anders interpreteer, omdat jy dit anders hoor nie

En dit is waar Petrus ons verder help, die een wat dáár was toe God gesê het, Luister na Hom.

Geen profesie van die Skrif is ‘n saak van eie uitlegging nie

Wat sê Petrus hieroor?

19En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; 20terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; 21want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Pet 1:19-21).

Geen profesie in die Skrif is ‘n saak van eie uitlegging nie. Jy kan nie maar jou eie opinie inlees in die Skrif nie. Jy moet die Skrif self leer verstaan en toe pas in jou lewe. Om te luister na Jesus, beteken om te luister na wat in die Skrif staan. En jy kan nie jou eie woorde of betekenis daarin inlees nie.

Wat geskrywe staan, staan geskrywe. Punt.

Dit gee ons die moed om Jesus te volg

Hierdie ervaring het dus onomwonde vir die dissipels gesê, hierdie Jesus is die een waarom die hele evangelie draai.  Hy is die goeie nuus vir die nasies.  Hy moet verkondig word as dié Een na wie almal oor die hele wêreld moet luister.  Daar is daarom ook geen kompetisie met Sy woorde nie.  Dit is net Hy wat lewe gee.  Dit is net Hy na wie geluister moet word, soos die Gees dit ook later sou duidelik maak.

Let op dat dié ervaring net vir die drie dissipels in die binnekring beskore is, Petrus, Jakobus en Johannes, maar dat dit ook uiteindelik met die ander dissipels gedeel word.  Dit is dié tipe ervarings wat die dissipels ná Pinkster die moed gegee het om die pad te loop waarop die uitgestorte Heilige Gees hulle gelei het. 

LEEF

En nog het einde niet! Nou moet ‘n mens hierdie gedagte wat die Here in jou lewe kom onderstreep het, gaan lewe. Jy moet dit nakom. Jy moet dit navolg. Jy moet dit uitleef. Prakties.

Luister na Hom!

Wat het jy prakties nodig?

  • ‘n Bybel.
  • ‘n Joernaal.
  • ‘n Vaste tyd.
  • ‘n Vaste program.
  • ‘n Vennoot.
View all posts in this series

Wie is God?


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar