Skip to main content

‘n Paar perspektiewe oor die wet in Paulus se briewe

Paulus skryf in meer as die helfte van sy briewe oor die onderwerp van die wet (nomos): Galasiërs, Romeine, 1 Korintiërs, Efesiërs, Filippense, 1 Timoteus, en Titus. Daar is natuurlik ander woorde en begrippe wat hy gebruik om die wet te bespreek. Ek fokus net op die plekke waar hy die woord wet gebruik.

Tien perspektiewe oor die wet in Galasiërs

Die woord vir wet (nomos) kom 32 keer voor in Paulus se brief aan die Galasiërs. Dit wys hoe ‘n belangrike konsep dit vir hom was.

In al die verwysings na die wet bedoel Paulus die hele wet – die Tora, die Pentateug, die eerste vyf boeke van die Bybel. Daarom praat hy ook van die “boek van die wet” (Gal 3:10), en die “hele wet” (Gal 5:3,14).

’n Mens moet sy hantering van die wet in terme van die hele boodskap van Galasiërs verstaan. Die boodskap van sy brief is as volg:

Jesus het Homself gegee vir ons sondes sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld (Gal 1:4). Jesus roep ons deur sy genade na die vryheid van sonde wat sy geskenk aan ons is. Jesus wil hê dat ons in daardie vryheid van sonde sal vasstaan (Gal 5:1). Dit sluit in dat ons nie weer onder die juk van diensbaarheid aan die wet sal buig nie, soos byvoorbeeld deur onderskeid te maak saam met wie ons eet en drink (Gal 2:11-21), of deur steeds die besnydenis toe te pas nie (Gal 5:3; 6:13). Dit is die goeie nuus van die evangelie, dat ons vry is van sonde sowel as van die wet. Daar is geen ander evangelie nie (Gal 1:7).

Hoe moet ‘n mens dan dink oor die wet in die lig van dié boodskap?

Paulus gee vir ons die volgende tien perspektiewe daarop:

  1. Niemand kan geregverdig word deur die werke van die wet nie (Gal 2:16,21), want jy moet dit volmaak doen, anders is jy vervloek (Gal 3:10).
  2. Ons kan net geregverdig word deur die geloof in Christus, want die regte verhouding met God lê in die beloftes van die verbond met Abraham wat in Christus bekragtig is (Gal 3:17-18). Dit wys duidelik dat die verbond ‘n voorrang het bo die wet.
  3. Die wet se funksie was om te dien as ‘n tugmeester na Christus toe, dws na ‘n verhouding wat geskoei is op grond van die beloftes van die verbond, en nie op grond van die nakoming van die wet nie (Gal 3:19,23-24).
  4. Elkeen wat glo in die beloftes van God in Christus is nou dood vir die wet en lewend vir God (Gal 2:19). Ons lewe nou vir God deur geloof in hierdie beloftes wat in Christus vervul is (Gal 3:11-12).
  5. Christus, die een waarheen die wet ons gelei het, het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word (Gal 3:13), sodat ons God se kinders kan wees en so ook die nageslag van Abraham word (Gal 3:29). Christus is gebore onder die wet om almal wat onder die wet was, los te koop (Gal 4:4-5).
  6. Dit is dus sinloos om weer onder die wet te lewe (Gal 4:21). As jy byvoorbeeld jou wil laat besny, moet jy die hele wet onderhou (Gal 5:3; 6:13). En dit kan jou verbintenis aan Christus in die gedrang bring (Gal 5:4).
  7. Deur die geloof in Christus ontvang ons ook die Gees. Dit is nie uit die werke van die wet nie, maar uit die prediking van die geloof (Gal 3:2,5; 4:6).
  8. Die Gees help ons om nie te wandel in die praktyke van die sondige vlees nie (Gal 5:16), maar die vrug van die Gees te dra (Gal 5:22). Ons leef dus nou in gelid met die Gees. Hy bepaal ons gedrag (Gal 5:25).
  9. Dit beteken nie dat die wet oorbodig of teen die wil van God is nie. Ons kom immers juis die wet na deur ons naaste lief te hê soos onsself (Gal 5:14). Ons illustreer dat ons die wet in ons gedrag nakom deur geeneen van die praktyke van die sondige vlees te duld nie (Gal 5:16-21). Inteendeel, ons dra die vrug van die Gees (Gal 5:22-26). Dit is immers wat die wet ook vir ons voorgeskryf het, soos Paulus sê: “Teen sulke dinge is die wet nie.” (Gal 5:23).
  10. Ons is nou onder die wet van Christus en fokus daarop om mekaar se laste te dra, veral dié wat in sonde val, sodat hulle tot inkeer kan kom (Gal 6:2).

Tien perspektiewe oor die wet in Romeine

In sy brief aan die Romeine word die hele eerste deel van die brief teen die agtergrond van verskillende perspektiewe op die wet geskryf. ’n Mens kan sy argument soos volg opsom:

  1. Almal het gesondig en is onder die toorn van God. Dié sonder die wet (Rom 2:1-16), sowel as dié onder die wet (Rom 2:17-29). Daaruit bly dit duidelik dat almal voor God doemwaardig is. Trouens, God het sy wet op almal se harte geskryf, nie net op kliptafels nie. Niemand kan dus hulleself verontskuldig nie (Rom 2:15).
  2. Almal het die geregtigheid deur die geloof nodig (Rom 3:9-20).  Dit is die geregtigheid van God wat openbaar is sonder die wet, terwyl die wet en die profete wel daarvan getuig. 
  3. Ons word nou deur die “wet van die geloof” gered! Dit beteken nie dat die wet oorbodig raak of tot niet gemaak word nie, inteendeel dit bevestig die wet (Rom 3:21-31). Maar ons geregtigheid is deur die geloof (Rom 1:16-17).
  4. Abraham se verhaal wys vir ons dat geregtigheid deur die geloof kom, want hy het genade ontvang deur die geloof, en nie deur die wet nie, sodat die boodskap vir almal die lewe kan bring (Rom 4:1-25).
  5. Die funksie van die wet bly dat die wet die sonde as sonde uitwys, want sonder die wet het ons gee benul van wat sonde is nie (Rom 5:12-21). Daarom bly die wet belangrik en nuttig.
  6. Ons is egter nie meer onder die wet nie, maar onder die genade. Dit moet ons net nie verlei om te dink dat ons nou in die sonde kan leef nie, want as ons die sonde doen, raak ons slawe daarvan. Ons is geroep om in Christus aan God te behoort en vir Hom te lewe (Rom 6:1-23).
  7. Die wet help ons dus om die sonde te kan raaksien. Sonder die wet is die sonde dood. Maar ongelukkig kan die wet, al is dit heilig en ’n onskatbare hulp, ons nie van die sonde verlos nie. Dit is slegs Christus wat dit kan doen (Rom 7:1-26).
  8. Paulus skryf dan baie genuanseerd oor die feit dat die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus ons vrygemaak het van die wet van die sonde en die dood. Die reg van die wet word vervul in diegene wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die vlees is in vyandskap teen die wet van God, en kan nie sy wet nakom nie. Dit is net dié wat in die Gees wandel wat God kan behaag (Rom 8:1-17).
  9. Daarna skryf Paulus ook oor die Jode wat geregtigheid uit die wet probeer verkry het, maar dat dit net in Christus moontlik is. Hy is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo (Rom 9:30-33; 10:1-21).
  10. Paulus skryf ook oor die feit dat ons in die liefde tot die naaste die wet vervul (Rom 13:8-14).

Ná hierdie kragtoer oor die wet in die briewe aan die Galasiërs en die Romeine skryf Paulus minder daaroor. Hier is ’n opsomming van die kere wat hy wel nog oor die wet skryf in die ander briewe.

Ses perspektiewe oor die wet in 1 Korintiërs

In sy eerste brief aan die Korintiërs gebruik Paulus die wet op verskillende maniere:

  1. Hy gebruik die wet om die hertrou te regverdig (1 Kor 7:39).
  2. Hy gebruik ook die wet om die reg van apostels tot lewensonderhoud te begrond (1 Kor 9:1-14).
  3. Daarby skryf Paulus oor die feit dat hy sy gedrag aanpas volgens die gehoor sodat Hy hulle vir Christus kan wen, ongeag of hulle onder die wet of sonder die wet lewe nie (1 Kor 9:19-23).
  4. Hy skryf ook oor die feit dat die wet reeds verkondig het dat die Jode nie sou luister na die verkondiging van die evangelie nie (1 Kor 14:21).
  5. Hy skryf ook oor die feit dat die krag van die sonde die wet is, maar dat Christus ons Goddank oorwinning daaroor gegee het (1 Kor 15:56-57)
  6. Terloops: in 1 Kor 14:24 gaan dit waarskynlik oor die heersende wet van sy tyd, aangesien daar geen swyggebod in die wet van Moses opgeteken is nie.

Vier perspektiewe oor die wet in Efesiërs, Filippense, 1 Timoteus en Titus

  1. In sy brief aan die Efesiërs skryf hy oor die tot niet maak van die wet en sy gebooie en insettinge as ’n skeidingsbeginsel tussen Jode en heidene (Ef 3:11-22).
  2. In sy brief aan die Filippense skryf hy oor ’n valse trots op die wet wat hy versaak het. Dit kan jou nie red nie (Fil 3:1-21).
  3. In sy eerste brief aan Timoteus skryf hy oor die wet dat dit primêr gegee is vir wettelose mense om hulle van sonde te oortuig (1 Tim 1:3-11).
  4. Hy waarsku ook ’n keer in sy brief aan Titus oor die dwaasheid om te stry oor die wet. Ons moet dit vermy (Tit 3:9).

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

wet


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda