Skip to main content

‘n Paar perspektiewe oor die wet in Paulus se briewe

Paulus skryf in meer as die helfte van sy briewe oor die onderwerp van die wet (nomos): Galasiërs, Romeine, 1 Korintiërs, Efesiërs, Filippense, 1 Timoteus, en Titus. Daar is natuurlik ander woorde en begrippe wat hy gebruik om die wet te bespreek. Ek fokus net op die plekke waar hy die woord wet gebruik.

Tien perspektiewe oor die wet in Galasiërs

Die woord vir wet (nomos) kom 32 keer voor in Paulus se brief aan die Galasiërs. Dit wys hoe ‘n belangrike konsep dit vir hom was.

In al die verwysings na die wet bedoel Paulus die hele wet – die Tora, die Pentateug, die eerste vyf boeke van die Bybel. Daarom praat hy ook van die “boek van die wet” (Gal 3:10), en die “hele wet” (Gal 5:3,14).

’n Mens moet sy hantering van die wet in terme van die hele boodskap van Galasiërs verstaan. Die boodskap van sy brief is as volg:

Jesus het Homself gegee vir ons sondes sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld (Gal 1:4). Jesus roep ons deur sy genade na die vryheid van sonde wat sy geskenk aan ons is. Jesus wil hê dat ons in daardie vryheid van sonde sal vasstaan (Gal 5:1). Dit sluit in dat ons nie weer onder die juk van diensbaarheid aan die wet sal buig nie, soos byvoorbeeld deur onderskeid te maak saam met wie ons eet en drink (Gal 2:11-21), of deur steeds die besnydenis toe te pas nie (Gal 5:3; 6:13). Dit is die goeie nuus van die evangelie, dat ons vry is van sonde sowel as van die wet. Daar is geen ander evangelie nie (Gal 1:7).

Hoe moet ‘n mens dan dink oor die wet in die lig van dié boodskap?

Paulus gee vir ons die volgende tien perspektiewe daarop:

  1. Niemand kan geregverdig word deur die werke van die wet nie (Gal 2:16,21), want jy moet dit volmaak doen, anders is jy vervloek (Gal 3:10).
  2. Ons kan net geregverdig word deur die geloof in Christus, want die regte verhouding met God lê in die beloftes van die verbond met Abraham wat in Christus bekragtig is (Gal 3:17-18). Dit wys duidelik dat die verbond ‘n voorrang het bo die wet.
  3. Die wet se funksie was om te dien as ‘n tugmeester na Christus toe, dws na ‘n verhouding wat geskoei is op grond van die beloftes van die verbond, en nie op grond van die nakoming van die wet nie (Gal 3:19,23-24).
  4. Elkeen wat glo in die beloftes van God in Christus is nou dood vir die wet en lewend vir God (Gal 2:19). Ons lewe nou vir God deur geloof in hierdie beloftes wat in Christus vervul is (Gal 3:11-12).
  5. Christus, die een waarheen die wet ons gelei het, het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word (Gal 3:13), sodat ons God se kinders kan wees en so ook die nageslag van Abraham word (Gal 3:29). Christus is gebore onder die wet om almal wat onder die wet was, los te koop (Gal 4:4-5).
  6. Dit is dus sinloos om weer onder die wet te lewe (Gal 4:21). As jy byvoorbeeld jou wil laat besny, moet jy die hele wet onderhou (Gal 5:3; 6:13). En dit kan jou verbintenis aan Christus in die gedrang bring (Gal 5:4).
  7. Deur die geloof in Christus ontvang ons ook die Gees. Dit is nie uit die werke van die wet nie, maar uit die prediking van die geloof (Gal 3:2,5; 4:6).
  8. Die Gees help ons om nie te wandel in die praktyke van die sondige vlees nie (Gal 5:16), maar die vrug van die Gees te dra (Gal 5:22). Ons leef dus nou in gelid met die Gees. Hy bepaal ons gedrag (Gal 5:25).
  9. Dit beteken nie dat die wet oorbodig of teen die wil van God is nie. Ons kom immers juis die wet na deur ons naaste lief te hê soos onsself (Gal 5:14). Ons illustreer dat ons die wet in ons gedrag nakom deur geeneen van die praktyke van die sondige vlees te duld nie (Gal 5:16-21). Inteendeel, ons dra die vrug van die Gees (Gal 5:22-26). Dit is immers wat die wet ook vir ons voorgeskryf het, soos Paulus sê: “Teen sulke dinge is die wet nie.” (Gal 5:23).
  10. Ons is nou onder die wet van Christus en fokus daarop om mekaar se laste te dra, veral dié wat in sonde val, sodat hulle tot inkeer kan kom (Gal 6:2).

Tien perspektiewe oor die wet in Romeine

In sy brief aan die Romeine word die hele eerste deel van die brief teen die agtergrond van verskillende perspektiewe op die wet geskryf. ’n Mens kan sy argument soos volg opsom:

  1. Almal het gesondig en is onder die toorn van God. Dié sonder die wet (Rom 2:1-16), sowel as dié onder die wet (Rom 2:17-29). Daaruit bly dit duidelik dat almal voor God doemwaardig is. Trouens, God het sy wet op almal se harte geskryf, nie net op kliptafels nie. Niemand kan dus hulleself verontskuldig nie (Rom 2:15).
  2. Almal het die geregtigheid deur die geloof nodig (Rom 3:9-20).  Dit is die geregtigheid van God wat openbaar is sonder die wet, terwyl die wet en die profete wel daarvan getuig. 
  3. Ons word nou deur die “wet van die geloof” gered! Dit beteken nie dat die wet oorbodig raak of tot niet gemaak word nie, inteendeel dit bevestig die wet (Rom 3:21-31). Maar ons geregtigheid is deur die geloof (Rom 1:16-17).
  4. Abraham se verhaal wys vir ons dat geregtigheid deur die geloof kom, want hy het genade ontvang deur die geloof, en nie deur die wet nie, sodat die boodskap vir almal die lewe kan bring (Rom 4:1-25).
  5. Die funksie van die wet bly dat die wet die sonde as sonde uitwys, want sonder die wet het ons gee benul van wat sonde is nie (Rom 5:12-21). Daarom bly die wet belangrik en nuttig.
  6. Ons is egter nie meer onder die wet nie, maar onder die genade. Dit moet ons net nie verlei om te dink dat ons nou in die sonde kan leef nie, want as ons die sonde doen, raak ons slawe daarvan. Ons is geroep om in Christus aan God te behoort en vir Hom te lewe (Rom 6:1-23).
  7. Die wet help ons dus om die sonde te kan raaksien. Sonder die wet is die sonde dood. Maar ongelukkig kan die wet, al is dit heilig en ’n onskatbare hulp, ons nie van die sonde verlos nie. Dit is slegs Christus wat dit kan doen (Rom 7:1-26).
  8. Paulus skryf dan baie genuanseerd oor die feit dat die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus ons vrygemaak het van die wet van die sonde en die dood. Die reg van die wet word vervul in diegene wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die vlees is in vyandskap teen die wet van God, en kan nie sy wet nakom nie. Dit is net dié wat in die Gees wandel wat God kan behaag (Rom 8:1-17).
  9. Daarna skryf Paulus ook oor die Jode wat geregtigheid uit die wet probeer verkry het, maar dat dit net in Christus moontlik is. Hy is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo (Rom 9:30-33; 10:1-21).
  10. Paulus skryf ook oor die feit dat ons in die liefde tot die naaste die wet vervul (Rom 13:8-14).

Ná hierdie kragtoer oor die wet in die briewe aan die Galasiërs en die Romeine skryf Paulus minder daaroor. Hier is ’n opsomming van die kere wat hy wel nog oor die wet skryf in die ander briewe.

Ses perspektiewe oor die wet in 1 Korintiërs

In sy eerste brief aan die Korintiërs gebruik Paulus die wet op verskillende maniere:

  1. Hy gebruik die wet om die hertrou te regverdig (1 Kor 7:39).
  2. Hy gebruik ook die wet om die reg van apostels tot lewensonderhoud te begrond (1 Kor 9:1-14).
  3. Daarby skryf Paulus oor die feit dat hy sy gedrag aanpas volgens die gehoor sodat Hy hulle vir Christus kan wen, ongeag of hulle onder die wet of sonder die wet lewe nie (1 Kor 9:19-23).
  4. Hy skryf ook oor die feit dat die wet reeds verkondig het dat die Jode nie sou luister na die verkondiging van die evangelie nie (1 Kor 14:21).
  5. Hy skryf ook oor die feit dat die krag van die sonde die wet is, maar dat Christus ons Goddank oorwinning daaroor gegee het (1 Kor 15:56-57)
  6. Terloops: in 1 Kor 14:24 gaan dit waarskynlik oor die heersende wet van sy tyd, aangesien daar geen swyggebod in die wet van Moses opgeteken is nie.

Vier perspektiewe oor die wet in Efesiërs, Filippense, 1 Timoteus en Titus

  1. In sy brief aan die Efesiërs skryf hy oor die tot niet maak van die wet en sy gebooie en insettinge as ’n skeidingsbeginsel tussen Jode en heidene (Ef 3:11-22).
  2. In sy brief aan die Filippense skryf hy oor ’n valse trots op die wet wat hy versaak het. Dit kan jou nie red nie (Fil 3:1-21).
  3. In sy eerste brief aan Timoteus skryf hy oor die wet dat dit primêr gegee is vir wettelose mense om hulle van sonde te oortuig (1 Tim 1:3-11).
  4. Hy waarsku ook ’n keer in sy brief aan Titus oor die dwaasheid om te stry oor die wet. Ons moet dit vermy (Tit 3:9).

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

wet


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar