Die Passie van Paulus
Verdiep jou in die boodskap van Paulus deur die boek Handelinge en sy dertien briewe kronologies te lees.
As ‘n mens na Paulus se lewe kyk deur die bril van Die Handelinge van die Apostels, is daar een ding wat van hom uitstaan. Sy passie vir die evangelie. Dié passie kom van God die Vader af wat Paulus se lewe deur die ontmoeting met die Here Jesus Christus op die Damaskuspad verander het in dié van ‘n pionier, ‘n gestuurde vir die evangelie. Met daardie passie is hy deur God gestuur om die evangelie te vat waar dit nog nie was in hierdie wêreld nie.
Daarmee het Paulus se verhaal ook die verhaal van die Christelike kerk geword. Die kerk is geroep om soos Paulus gestuurdes te wees. Die kerk is geroep om oor grense te gaan sodat hierdie wêreld in God kan glo en op hulle beurt gestuurdes kan word. God die Vader roep ook vir ons om die boodskap van Jesus Christus in die krag van die Heilige Gees regdeur die wêreld tot aan die einde van die aarde te vat (Hand. 1:8).
Dit is duidelik dat Paulus se passie vir die evangelie deur God self aangesteek is. Paulus se roeping was die roeping van ’n pionier, om die evangelie te neem waar dit nog nie aangekom het nie (Rom. 15:20); om dit aan Jode en heidene, sterkes en swakkes in die geloof te verkondig (1 Kor. 9:19-23).
Hy sien sy bediening as ’n verdere vervulling van die visie van Jesaja dat die Dienaar van die Here die lig vir die nasies moet bring (vgl. Hand. 13:47 waar hy Jes. 49:6 eksplisiet aanhaal). Paulus sit dus doelbewus voort wat met Jesus se bediening begin is. Dit is waarvoor Jesus Hom kom roep het, waarvoor die Gees hom uitstuur (Hand. 22:17-21) en die Vader saam met Jesus die paaie vir hom oopgemaak het (1 Tes. 3:11). Paulus het dus sy roeping van die begin af as Trinitaries verstaan.
Dissipel, profeet en pastor
Paulus se verhaal is in die eerste plek ’n baie persoonlike verhaal, waarin ’n groot aantal ervarings en gebeure ’n rol gespeel het om van Paulus die mens, geroepe apostel en pionier te maak wat hy was. En ’n mens kan geweldig baie leer uit sy eie persoonlike wandel met die Here. Trouens hy nooi ’n mens uit om sy navolgers te wees, soos hy ‘n dissipel was van die Here Jesus Christus is – in gebed, in gehoorsaamheid, in getuienis en in getrouheid, soos dit veral in sy latere gevangenisskap – en pastorale briewe verwoord word.
Paulus se verhaal – en daarmee natuurlik ook God se verhaal met Paulus – is in die tweede plek egter ook ’n baie publieke verhaal, die verhaal van ‘n onverskrokke profeet, een wie se bediening almal kon volg op sy reis van stad na platteland, van sinagoge na amfiteaters, van die tempel na tallose huise, soos dit veral in Lukas se verhaal in die Handelinge van die apostels na vore kom.
Sy oortuigende optredes het godsdienstige sisteme uitgedaag (Joodse Raad in Jerusalem, Zeustempel in Listra). Dit het ‘n politieke impak gehad met ‘n goewerneur wat tot inkeer gebring is (Sergius Paulus in Siprus) en ’n Joodse koning wat geroer is (Agrippa II). Sy bediening het selfs ekonomiese sisteme in gedrang gebring (silwersmede in Efese).
Vele kere is nie net gemeenskappe nie, maar hele stede in beroering gebring (Antiogië in Pisidië, Listra, Efese). Die evangelie van Jesus Christus het daarmee die publieke verbeelding aangegryp net soos dit vroeër die geval was met Jesus in Jerusalem, hoewel nou op ‘n meer uitgebreide skaal. Paulus is deur Jesus verder gestuur om die evangelie regdeur die bekende wêreld van daardie tyd bekend te stel.
En hoe het Paulus nie daarin geslaag nie! Op ’n manier wat geen ander hom dit daarná kon nadoen nie. Sodat hy net voor sy dood kon sê: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor.” (2 Tim. 4:17).
In ‘n tyd waarin die impak van die Westerse humanistiese kultuur op die kerk al hoe meer sigbaarder word, het die kerk van Jesus Christus twee millennia later hierdie passievolle pioniersperspektief weer baie nodig.
Ek is oortuig dat wanneer ons Paulus se verhaal lees soos dit in Handelinge en Paulus se dertien briewe opgeteken is, God se verhaal ook óns verhaal kan word; dat dieselfde passie – die passie van die gestuurde pionier – in ons aangesteek kan word; dat ons ook oor grense met die evangelie kan gaan en die wêreld kan impakteer op dieselfde wyse as wat Paulus dit eenmaal kon doen, selfs al gaan dit teen die grein van die heersende kultuur en waardestelsels in, en selfs al is dit op ‘n kleiner skaal as wat hy reg gekry het.
Maar dan is daar ‘n derde kant van sy bediening wat ‘n mens net so seer moet raaksien. Paulus se lewe het nie net ’n persoonlike kant gehad in terme van sy dissipelskap nie. Paulus se bediening het nie net ’n publieke kant van profetiese prediking en omvangryke publikasies gehad wat sisteme uitgedaag en fundamenteel verander het nie.
Paulus was ook ‘n pastor by uitnemendheid. Hierdie pionier vir die evangelie was iemand wat sy lewe gegee het vir die onderrig en bemoediging van gelowiges en gemeentes. Paulus se verhaal is daarom by uitstek in die derde plek ook ‘n pastorale verhaal. Hy het nooit die geloofsgemeenskappe wat hy gestig het in die steek gelaat nie. Hy het gegaan waar niemand anders bereid was om te gaan nie, maar hy het die mense wie se lewens aangeraak is ook nooit vergeet nie. Vandaar sy ongelooflike nalatenskap van dertien briewe.
‘n Kort oorsig oor Paulus se lewe
Paulus is gebore in Tarsus in Silisië (Hand. 22:3, 28; Fil. 3:5) tussen ongeveer 1 tot 5 n.C. (Robinson). Volgens Hieronymus was sy familie van Galiléa, maar het in 4 v.C. na Tarsus in Silisië (Turkye) verhuis, die waarskynlike geboortejaar van Jesus.
Paulus was dus ‘n Jood, met die Hebreeuse naam Saulus (dit beteken begeer), uit die stam van Benjamin. Hy het egter ook Romeinse burgerskap gehad, met die Latyns-Romeinse naam Paulus (dit beteken klein), vermoedelik weens sy verblyf in Tarsus. Dit is moontlik dat sy pa ‘n slaaf van ‘n Romeinse burger was, dat dié hom vrygelaat het, en hy op dié manier self burgerskap verkry het. Dit is egter maar net een moontlikheid. Ons weet net dat hy ook ‘n Romeinse burger was, maar nie presies hoe dit gebeur het nie.
Terloops, Lukas begin later in Handelinge die Latynse naam Paulus gebruik (Hand. 13:9), eerder as die Hebreeuse naam Saulus, wanneer dié op sy eerste sendingreis vertrek en die Grieks-Romeinse wêreld betree, ironies genoeg, terwyl Lukas die verhaal van Sergius Paulus vertel, die goewerneur wat in Siprus gelowig word. Ter wille van duidelikheid gebruik ek meesal Paulus se Romeinse naam, behalwe waar dit meer sin maak om Saulus te gebruik.
Paulus se familie het kort na sy geboorte na Jerusalem verhuis (Hand. 26:4), waar hy grootgeword en opgevoed is aan die voete van die Fariseër Gamaliël (Hand. 22:3). Hy was goed bekend met die situasie in Jerusalem, en die Jode het sy storie goed geken (Hand. 26:4 vv.). Sy pa was immers ook ‘n Fariseër (Hand. 23:6). Trouens, sy pa was ‘n vertroueling van die priesterhoofde. Lukas vertel ons ook van ’n suster van hom wat aan die vroeë Christene bekend was (Hand. 23:16) en wie se seun hom op ‘n keer van die dood gered het.
Omdat Paulus net ongeveer tien jaar of minder jonger as Jesus was, moes hy dus waarskynlik baie bewus gewees het van die gebeure rondom Jesus in dié se verhoor in Jerusalem, soos sy betrokkenheid by die steniging van Stefanus ‘n paar maande later getuig. Paulus was immers ook ‘n Fariseër en sy pa was ‘n vertroueling van die priesterhoofde.
As toegewyde Jood was hy egter aanvanklik ‘n vurige vervolger van die Christene (Hand. 7:58; 8:1-3; 9:1; Gal. 1:14). Sy leermeester Gamaliël se gematigde optrede (Hand. 5:34) het nie sy gedrag bepaal nie!
Op pad na Damaskus het egter die groot ommekeer gekom (Hand. 9) in die vroeë dertiger jare n.C. Hy begin om Christus te verkondig (Hand. 9:20–25), besoek vlugtig Jerusalem waar hy sy roeping na die heidene ontvang (Hand. 22:17-21), en vertoef daarna ’n tyd in Arabië waar die Here hom onderrig (Gal. 1:17). Drie jaar later besoek hy weer vir Jerusalem (Gal. 1:18) en word van daar af terug gestuur na Tarsus in Silisië, sy geboortewêreld (Hand. 9:30; Gal. 1:21), toe daar ‘n opstand teen hom kom.
‘n Geruime tyd later, ongeveer tien jaar later, gaan Barnabas hom in Tarsus soek en bring hom na Antiogië in Sirië (Hand. 11:25-26), waar hulle ’n tyd lank saam werk. Dit is moontlik dat Paulus in die tyd in Tarsus gemeentes in Sirië en Silisië gestig het, hoewel dit nie met sekerheid gesê kan word nie. Hy besoek die streke egter spesifiek met die uitslag van die “sinode” in Jerusalem wat dié indruk by ‘n mens laat (vgl. Hand. 15:41).
Hierna volg Paulus se beroemde drie wêreldsendingreise, waarvoor hy nie net direk na sy bekering in die tempel in Jerusalem geroep is nie (Hand. 22:17-21), maar in Antiogië deur die gemeente en die Heilige Gees self afgesonder word (Hand. 13:1-3). Sy reise begin ongeveer 48 n.C. toe hy vroeg in sy veertigs was.
- Saam onderneem hy en Barnabas die eerste sendingreis na Siprus en Klein-Asië (Hand. 13:4-14:28), en saam word hulle na Jerusalem gestuur om die eerste groot kerkvergadering namens Antiogië daar by te woon (Hand. 15).
- Nou volg die tweede sendingreis, met Silas en later Timoteus en Lukas as medewerkers, na Klein-Asië, Masedonië en Griekeland (Hand. 15:36-18:22) en ‘n jaar en ‘n half verblyf in Korinte, waar hy die twee briewe aan Tessalonika en die brief aan die Galasiërs skrywe.
- Die derde reis gaan deur dieselfde streke (Hand. 18:23-21:16), met onder andere meer as twee jaar se verblyf in Efese, waar hy onder andere die briewe aan Korinte en Rome skrywe.
Dan gaan hy terug na Jerusalem, waar hy voor die Sanhedrin verskyn, na Sesarea gestuur word, en twee jaar lank gevange bly (Hand. 21:17–26:32).
Van daar word hy na Rome gestuur, waar hy ook twee jaar lank gevange gehou word (Hand. 27 en 28). Hier skryf hy die res van sy briewe.
Daar is ‘n moontlikheid dat Paulus toe vrygelaat is en van die reeds genoemde gebiede weer besoek, en selfs ook Spanje (Rom. 15:24), hoewel laasgenoemde nie histories bevestig kan word nie (Gonzales).
Paulus word, moontlik in ‘n tweede gevangenisskap verblyf in Rome, tereggestel (2 Tim. 4:6-8) in die middel sestiger jare n.C. In net meer as dertig jaar se bediening, waarvan ongeveer twintig jaar aan kerkplanting gespandeer is, het hy ‘n reuse bydrae gelewer dat die bekende wêreld van sy tyd met die evangelie bedien is.
Paulus se briewe
Paulus het ’n reuse nalatenskap vir ons gelaat in terme van die verkondiging van die evangelie in die Romeins-Griekse wêreld. Sy nalatenskap in die vorm van die dertien briewe in die Nuwe Testament is egter selfs van groter belang as die drie groot sendingreise wat hy onderneem het, want dit het steeds vandag nog ‘n invloed weens die insluiting daarvan in die kanon van die NT.
Hoewel Paulus die evangelie na Silisië, Sirië, Siprus, Klein-Asië, Europa, Rome en moontlik ook na Spanje geneem het, was daar ook baie ander, Filippus, Petrus, Barnabas, Markus en Apollos, om maar net ’n paar te noem, wat dieselfde werk gedoen het. Daar was ook gewone Christene wat aan hierdie proses deelgeneem het, en die gemeentes in Antiogië sowel as in Rome gestig het.
Maar die briewe wat Paulus geskrywe het, is sy grootste nalatenskap. Dit het ’n onberekenbare groot invloed gehad in die lewe nie net van die groeiende kerk van sy tyd nie, maar regdeur die eeue tot vandag toe nog in die breë Christelike kerk. ’n Mens kan die waarde daarvan moeilik oorskat.
Paulus se skriftelike nalatenskap vorm natuurlik deel van die groter beweging om die Bybel as dokument – as kanon, d.w.s. as normatiewe maatstaf vir die leer en lewe van die kerk – in die eerste paar eeue te finaliseer.
’n Mens kan drie groot fases in die totstandkoming van die Nuwe Testament onderskei:
- Uitbreiding deur getuienis en diens – Dit begin na Pinksterdag in die vroeë dertiger jare n.C. Na die bediening van Jesus, van wie ons geen direkte skriftelike nalatenskap het nie, is die fokus van die apostels en die vroeë kerk op die vestiging en uitbreiding van die koninkryk van God oor alle grense heen. Dit gebeur hoofsaaklik deur mondelinge en persoonlike getuienis en bediening.
- Apostoliese en kerklike begronding – Eers daarna begin die NT skrywers se pennevrug verskyn, waarin die leer en lewe van die kerk deur skriftelike bronne begrond is. Dit word veral in briefvorm gedoen (die apostels: Paulus, Petrus, en Johannes, die broers van Jesus: Jakobus en Judas, sowel as die brief-boodskap van die onbekende Hebreërskrywer), asook in narratiewe en gelykenisse (die vier Evangelies en Handelinge) en apokaliptiek (Openbaring). Dit duur ongeveer van 50-100 n.C.
- Kanonisering – Hierna begin die proses waarin nie net die boeke van die Nuwe Testament nie, in onderskeid van die apokriewe geskrifte, maar ook die boeke van die Ou Testament (soos saamgestel deur die Jode) uiteindelik as die gesaghebbende kanonieke Christelike Bybel erken is. Dit duur ongeveer van die 1ste tot die 4de eeu n.C.
Elkeen van hierdie boeke/briewe van die NT help op verskillende maniere om die leer en lewe van die kerk te begrond.
- Die Sinoptiese evangelies Markus, Lukas en Matteus help om die werk en bediening van Jesus te ontsluit. Dit bly die basis en vertrekpunt van ons apostoliese geloof.
- Die evangelie van Johannes help ons om die persoon van Jesus en die tipe spiritualiteit wat Hy gebring het, te ontsluit. Dit help ons om telkens die Persoon agter en in die evangelie van Jesus Christus raak te sien.
- Sonder die verhaal van die Handelinge van die apostels sou ons min geweet het van hoe die evangelie van Jesus Christus oor grense heen versprei het. Die prentjie op die een nuwe mensheid wat Jesus deur sy Gees en deur die handelinge van die apostels kom skep het, bly die stimulus vir ons eie oorskryding van grense tussen mense.
- Die briewe van Paulus weer gee aan die Christelike teologiese besinning sy fondament wat op weergalose manier die Christelike geloof en lewe verwoord het op ’n wyse wat nie daarvoor of daarna geëwenaar is nie.
- Die briewe van Petrus, Jakobus, Judas en die onbekende skrywer van die brief-boodskap van Hebreërs lig verskillende ander kante van die leer en lewe van die kerk uit.
- Die Openbaring van Johannes gee ons insae op die hemelse erediens en die impak wat die boekrol met die verlossende oordeelsagenda vir die wêreld in Jesus se hand op die verloop van die geskiedenis gehad het en nog sal hê.
Die dertien briewe van Paulus gee dus vir ons ‘n uitgebreide Christelike teologiese besinning wat ten diepste ons leer en lewe bepaal. ’n Mens kan sy briewe in 4 groepe opdeel:
- 1 en 2 Tessalonisense – sy eskatologiese briewe geskryf in Korinte op sy tweede sendingreis in die vroeë vyftiger jare n.C. Hy bly ‘n jaar en ‘n half daar.
- Galasiërs, 1 en 2 Korintiërs, en Romeine – die sogenaamde leerstellige briewe met ’n groot klem op leer en lewe. Galasiërs word waarskynlik geskryf in Korinte saam met die briewe aan Tessalonika op Paulus se tweede sendingreis in die vroeë vyftigerjare n.C. Die eerste Korintiërbrief word op Paulus se derde sendingreis in Efese geskryf – hy bly twee jaar daar – en die ander heel moontlik net daarna uit Masedonië. Romeine is weer in Korinte geskrywe aan die einde van Paulus se derde sendingreis toe hy op pad is na Jerusalem in die middel vyftigerjare n.C.
- Filippense, Filemon, Kolossense en Efesiërs – die sogenaamde gevangenisskap briewe geskrywe in Rome in die vroeë 60er jare n.C. Hy was daar ongeveer twee jaar in die tronk.
- 1 en 2 Timoteus en Titus – die sogenaamde pastorale briewe waarvan die datering en plek van skrywe waarskynlik ook in die vroeë 60er jare uit Rome is.
Paulus se briewe bring ons dus in kontak met die eerste generasie Christene en hulle teologisering. Meer as enigiemand anders het Paulus se literêre aktiwiteit gesorg dat die Christelike beweging ’n internasionale en intellektuele koherente godsdiens geword het.
Verdiep jou in die boodskap van Paulus
Verdiep jou nou in die boodskap van Paulus deur die boek Handelinge en sy dertien briewe kronologies te lees aan die hand van die bydraes op Bybelskool.com.
- Handelinge
- 1 en 2 Tessalonisense
- Galasiërs
- 1 en 2 Korintiërs
- Romeine
- Filippense
- Filemon
- Kolossense
- Efesiërs
- 1 Timoteus
- Titus
- 2 Timoteus
LEESPLAN
Handelinge 1:1-18:23
- Oorsig oor Handelinge
- Handelinge 1:1-26 – Wag op die gawe van die Heilige Gees
- Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies
- Handelinge 3:1-26 – God gee geloof sodat ons kan glo
- Handelinge 4:1-37 – Die Heilige Gees maak die eerste gemeente vrymoedig en vrygewig
- Handelinge 5:1-6:7 – Die kerk groei in heiligheid en helende krag
- Handelinge 6:8-7:60 – Vervolging is die stimulus vir die uitbreiding van die evangelie na Judea en Samaria
- Handelinge 8:1-25 – Saulus gaan besete tekere, maar Filippus verlos besetenes
- Handelinge 8:26-40 – Die Woord en die Gees skep geloof in ons harte
- Handelinge 9:1-19 – Die besete Saulus word ’n begeesterde apostel
- Handelinge 9:20-31 – Barnabas ontferm hom oor Saulus en word die borg vir sy bediening
- Handelinge 9:32-43 – God doen wonders deur Petrus
- Handelinge 10:1-48 – Die Heilige Gees word ook vir heidene gegee
- Handelinge11:1-18 – God gee aan nie-Jode die bekering tot die lewe
- Handelinge 11:19-30 – Barnabas help die gemeente sy bestaansdoel verwesenlik
- Handelinge 12:1-24 – God antwoord gebede en bevestig die gemeente in Jerusalem in sy roeping
- Handelinge 12:25-13:12 – Waar leiers en die gemeente die Here aanbid, verander Hy die wêreld
- Handelinge 13:13-52 – Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword
- Handelinge 14:1-28 – Die deur na geloof vir die heidene gaan wawyd oop
- Handelinge 15:1-35 – Gesamentlike geloofsonderskeiding oorbrug dreigende verskille
- Handelinge 15:36-16:5 – ‘n Fokus op die opkomende geslag van bedienaars
- Handelinge 16:6-40 – Die Europese kerkgeskiedenis begin met die bekering van ’n vrou
- Handelinge 17:1-15 – Om die Bybel te ondersoek, maak die evangelie vir ’n mens oop
- Handelinge 17:16-34 – Paulus tree ook in die publieke sfeer op met die evangelie
- Handelinge 18:1-23 – Die Here self bemoedig Paulus om sy werk voort te sit
1 en 2 Tessalonisense
- Die briewe aan die Tessalonisense
- 1 Tessalonisense 1 – Geloof, liefde en hoop energeer
- 1 Tessalonisense 2:1-16 – Paulus koester en begelei
- 1 Tessalonisense 2:17-3:13 – Paulus skep moed omdat hulle nog glo
- Waar is die Bybelse plekke vandag?
- 1 Tessalonisense 4 – Nog meer aan die Here toegewy
- 1 Tessalonisense 5 – Onverwags maar nie onverwag nie
- 2 Tessalonisense 1 – God is regverdig en betroubaar
- 2 Tessalonisense 2:1-12 – Wetteloosheid se mag sal gebreek word
- 2 Tessalonisense 2:13-17 – God sterk ons in die goeie
- 2 Tessalonisense 3:1-5- Gebed laat die Woord versprei
- 2 Tessalonisense 3:6-18 – Verdien jou eie brood
Galasiërs
- Aan die Galasiërs
- Die hart van die Christelike geloof
- Vryspraak, verbondsgemeenskap en vryheid
- Galasiërs 1-2 – om met vertroue, verwagting en volharding te leef
- Galasiërs 3:1-4:20 – VRYSPRAAK: dié wat glo, is kinders van Abraham
- Galasiërs 4:21-5:12 – VERBONDSGEMEENSKAP: geloof wat deur dade tot liefde oorgaan
- Galasiërs 5:13-6:17 – VRYHEID: dra die vrug van die Gees in die gemeenskap van gelowiges
Handelinge 18:24-20:38
- Handelinge 18:24-19:20 – God doen wonderlike dinge deur Paulus in Efese
- Handelinge 19:21-20:38 – Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang
1 en 2 Korintiërs
- Die briewe aan die Korintiërs
- 1 Korintiërs – inleiding
- 1 Korintiërs 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus
- 1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse
- 1 Korintiërs 3-4 – Soos ’n goeie boer, bouer en bestuurder
- 1 Korintiërs 5 – Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap
- 1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid
- 1 Korintiërs 7:1-24 – Dis beter om nie te trou nie
- 1 Korintiërs 7:25-40 – Die koninkryk verdien onverdeelde aandag
- 1 Korintiërs 8 – Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie
- 1 Korintiërs 9 – Om met passie jou roeping na te jaag
- 1 Korintiërs 10 – Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word
- 1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens
- 1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid
- 1 Korintiërs 13 – Die liefde is onmisbaar in alles
- 1 Korintiërs 14 – ’n Wye reeks gawes bou gelowiges op in die erediens
- 1 Korintiërs 15-16 – Ons groot hoop: die opstanding met ’n onverganklike liggaam
- Die brief van 2 Korintiërs
- 2 Korintiërs 1:1-2:11 – God gee moed in elke omstandigheid
- 2 Korintiërs 2:12-3:18 – Ons raak God se woorde aan die wêreld
- 2 Korintiërs 4:1-5:10 – Om te lewe soos Hy dit wil
- 2 Korintiërs 5:11-6:13 – Ambassadeurs van die versoening
- 2 Korintiërs 6:14-7:16 – Toegewy aan God alleen
- 2 Korintiërs 8-9 – Vrygewigheid is regverdig
- 2 Korintiërs 10 – Om te bou en nie af te breek nie
- 2 Korintiërs 11 – Goddelike bekommernisse en besorgdheid
- 2 Korintiërs 12 – As ek swak is, is ek sterk
- 2 Korintiërs 13 – Groei in geestelike volwassenheid
- 1 Korintiërs 1:1-9 – Dit is Hy wat julle enduit sal laat vas staan
Romeine
- Die brief aan die Romeine
- Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo
- Romeine 2 – Die innerlike lewe lei na goeddoen eerder as die wetsvoorskrifte
- Romeine 3 – God gee vryspraak sonder onderskeid aan elkeen wat glo
- Romeine 4 – Die genade van geloof
- Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang
- Romeine 6 – Om vir God te lewe en nie vir die sonde nie
- Romeine 7 – Die Gees is die agent van verandering, nie die wet nie
- Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is
- Romeine 8:18-39 – As God vir ons is, wie kan teen ons wees
- Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word
- Romeine 12 – Ons het ’n paar kopskuiwe nodig
- Romeine 13 – Julle moet mekaar liefhê
- Romeine 14 – Aanvaarding eerder as argumente
- Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het
Handelinge 21-28
- Handelinge 21:1-22:30 – Die Gees se woorde moet in die lig van jou roeping interpreteer word
- Handelinge 23:1-24:27 – Paulus verkondig die evangelie aan die Romeinse goewerneur Feliks
- Handelinge 25:1-26:32 – Paulus verkondiging die evangelie aan koning Herodes Agrippa
- Handelinge 27:1-28:31 – Paulus verkondig die evangelie in Rome
Filippense
- Filippense 1:1-11 – Laat julle liefde in onderskeiding toeneem
- Filippense 1:12-2:4 – Wees eensgesind na buite en na binne
- Filippense 2:5-30 – Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld
- Filippense 3:1-4:1 – Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde
- Filippense 4:2-23 – Om saam in die Here te wees, bid en leef
Filemon
Kolossense
- Kolossense 1:1-14 – Om God te ken en vir Hom te lewe
- Kolossense 1:15-23 – Jesus die Here van die Skepping en die Herskepping
- Kolossense 1:24-2:5 – om met God se energie te bedien
- Kolossense 2:6-23 – Geloof en gedrag word op Jesus as Here gebou
- Kolossense 3:1-4:1 – Leef as nuwe mense
- Kolossense 4:2-18 – Fokus op volhardende gebed en wyse woorde
Efesiërs
- Efesiërs 1:1-23 – God seën ons om alles in almal te vervul
- Efesiërs 2:1-22 – God woon in die gemeenskap van gelowiges
- Efesiërs 3:1-21 – God vervul ons met krag, geloof, liefde, insig, ervaring en Sy volheid
- Efesiërs 4:1-16 – Om saam in alle opsigte te groei na Christus toe
- Efesiërs 4:17-5:20 – Die Heilige Gees vervul ons om heilig en in liefde te leef
- Efesiërs 5:21-6:9 – Ander se belange word eerste gestel in die huwelik, gesin en werkplek
- Efesiërs 6:10-24 – Soek julle krag in die Here en in sy groot mag
1 Timoteus
- 1 en 2 Timoteus
- 1 Timoteus 1:1-20 – ‘n Lewe in geloof wat pas by die gesonde leer
- 1 Timoteus 2:1-15 – ‘n Lewe in gebed deur mans en vrouens
- 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter
- 1 Timoteus 3:14-4:16 – Die gemeente as draer en beskermer van die waarheid
- 1 Timoteus 5:1-25 – Om met oorleg mekaar te onderskraag
- 1 Timoteus 6:1-21 – Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou
Titus
2 Timoteus
- 2 Timoteus
- 2 Timoteus 1:1-18 – Getrou aan die evangelie
- 2 Timoteus 2:1-26 – Getrou aan Jesus Christus
- 2 Timoteus 3:1-17 – Getrou aan die Woord
- 2 Timoteus 4:1-22 – Getrou aan jou roeping
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Sonja Lizemore
Goeiedag Dr Chris. Dit is met vreugde wat ek vandag die bybelstudiegids van Paulus ontvang. Hy lê my so na aan die hart, leer so baie deur sy briewe en staan dikwels so skaam oor my eie klein geloof en volharding. Baie dankie vir die plasing. Ek het ook vir my Paulus van Adrio König gekry en wil dit ook byweek. Mooi dag vir u.
Chris van Wyk
Hi Sonja, lees lekker! Ek het sommer ‘n lys van skakels na die 129 hoofstukke gemaak om maklik die een na die ander hoofstuk te lees.
Philip
Chris
Ek ontvang nie meer jou skrywes nie.
Het probeer registreer maar dit werk nie.
Wat moet ek doen?
Chris van Wyk
Hi Philip, jy is steeds geregistreer, maar ek publiseer nie by bybelskool.com op die oomblik nie. Jy kan wel my weeklikse bydrae kry van Prontuit die Waarheid waar ek die vier evangelies behandel. Registreer daarvoor by https://bybelskool.com/evangelies/.