Skip to main content

Johannes 2:23–3:36 – As iemand nie van bo-af gebore word nie

RUS

  • Die huis is stil, dit is pragtig buite.  En ek het net ’n behoefte aan God se teenwoordigheid – om Hom as naby te ervaar.
  • Ek gee hierdie behoefte van my in gebed aan Hom met die verwagting dat dié Skrifgedeelte iets van Hom vir my sal gee.

HOOR

  • Ek lees die gedeelte, een van my geliefdes.
  • Die volgende aspekte tref my (met ’n bietjie insette van kommentare na die tyd daarby ingewerk, soos ek dit altyd doen):

Drie reaksies op Jesus word in hierdie gedeelte vertel: 1) mense wat tot geloof in Hom kom op grond van die wondertekens wat Hy gedoen het – 2:23-25, en 2) die gesprek wat Nikodemus, die Fariseër en bekende leermeester, met Jesus een nag kom voer het – 3:1-22 en 3) die getuienis van Johannes die Doper oor Jesus – 3:22-36.

Let op dat die wonderteken van die water wat in wyn verander is, hou verband met die persoonlike geloofsvernuwing wat in die beoordeling van die wondergelowiges sowel as die geloofsgesprek met Nikodemus aangeroer word.  Net so hou die reiniging van die tempel verband met die godsdiensvernuwing wat in die gesprek met die Samaritaanse vrou by die put net hierna in hoofstuk 4 aangeroer sal word.

Die Paasfees in Jerusalem – die tyd waarin ons ook nou is – is die agtergrond vir die eerste twee gedeeltes.  Die getuienis van Johannes die Doper vind in die platteland in Enon naby Salim by die Jordaan plaas.

2:23-25: Jesus het meer wondertekens gedoen as die 7 wat uitgelig word in Johannes se evangelie.  Dit wil egter duidelik blyk dat geloof wat op wondertekens gebaseer is, nie standhoudend is nie.  Jesus “verlaat” Hom nie op hulle nie.  Die rede vir hierdie mening word later in die evangelie gegee, waar Johannes skryf oor baie van dié mense wat Hom uiteindelik “verlaat” (6:66 – baie van sy dissipels het omgedraai en nie meer met Hom saam gegaan nie, toe hulle besef dat geloof iets is wat gegee word, en nie iets wat jy self kan opwek nie – uiters interessant, maar daaroor later!).  Ons sien hier ook een van die voordele van God se menswording – niemand hoef vir Jesus te vertel hoe mense is nie.  Hy weet dit omdat Hy self een is.

3:1-22: Nikodemus kom in die nag – dit kan wees om uit die oog van die Joodse Raad te wees of net bloot om ’n ononderbroke gesprek te hê – om met Jesus gesprek te voer, interessant genoeg, ook oor die wondertekens wat Jesus doen.  Hy sit sy kaarte op die tafel, en sê, God moet by Jesus wees, anders sal Hy nie hierdie wondertekens kan doen nie.

Jesus se antwoord is dat niemand die koninkryk van God kan sien, as hy of sy nie anothen gebore word nie. Die Griekse woord wat Jesus hier gebruik, kan twee betekenisse hê: opnuut of van bo.

  • Dit is uit vers 5 -8 duidelik dat Jesus die woord anothen in die betekenis “van bo” gebruik.
  • Dit is uit Nikodemus se antwoord duidelik dat hy die woord anothen in die betekenis van “opnuut” verstaan.

Jesus se gebruik van anothen wil dus sê, jy kan God en sy koninkryk net sien as jy deur God aangeraak word, as geloof in jou hart deur Hom aangesteek word, as jy kindskap as ’n gawe van Hom ontvang.

Nikodemus is dus verward met Jesus se antwoord, en vra hoe ’n mens “opnuut”, “’n tweede keer” gebore kan word (waarvandaan ons interpretasie van wedergeboorte kom, wat eintlik foutief is, gegewe Jesus se antwoord).  Jesus antwoord hom dan dat daar ook ’n geestelike geboorte moet wees.

  • Die eerste geboorte is uit water – menslik (sommige interpreteer dit as die doop, maar vers 6 wys dat die natuurlike geboorte is wat met die water bedoel word).
  • Die tweede geboorte is uit Gees – geestelik.  Dit doen die Gees in ’n mens se lewe.

Nikodemus sou moes leer om nie langer “van onder” af oor dinge te dink nie, maar “van bo” af.

Nikodemus se volgende vraag: “Hoe is dit moontlik?” dek dan die tafel vir ’n uitgebreide antwoord van Jesus waarin hy uitbrei oor die raakvlakke tussen God se wêreld en die aardse wêreld  wat met mekaar in stryd is:

  • die aardse vs die hemelse,
  • die wat glo vs die wat nie glo nie,
  • die verlorenes vs mense wat die ewige lewe kry,
  • veroordeeldes vs gereddes,
  • die lig vs die duisternis.

En die spilpunt waarom alles draai, is die reaksie op Jesus, die een wat uit die hemel kom sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.  Dié wat nie glo nie, bly in die duisternis wat hulle verkies.

Dit alles word begrond in die liefde van God, die setrum van die spilpunt, by wyse van spreke.  God gee sy enigste Seun, doen afstand van sy innige verhouding met Hom, gee Hom oor aan die dood aan ’n kruis (“verhoog” aan die kruis), omdat Hy ’n passie het vir verlorenes.  Hy kan dit nie oor sy hart kry dat mense verlore sal gaan nie, en gee liewer sy eie Seun aan verlorenheid oor, sodat Hy die ewige lewe kan gee aan dié wat in Sy Seun glo.

God is dus nie op die veroordelingspad nie, maar op die liefdespad.  Dat daar dan nog mense is wat verlore gaan, is te wyte aan hulle eie voorliefde vir die duisternis, en hulle weiering om na die lig te kom wat Hy gestuur het.

Let op hoe Jesus Nikodemus aanspreek oor hulle verskil oor aardse dinge (Jesus verwys hier na hulle verskil oor die woord anothen wat Nikodemus as “opnuut” en Jesus as “van bo” verstaan), wat beteken dat dit byna onmoontlik raak om oor hemelse dinge te praat .

Die einde van die gesprek word nie vertel nie.  Ons lees egter dat Nikodemus hierna vir Jesus opkom in die Joodse Raad (7:50), en die mengsel van mirre en aalwyn bring om Jesus se lyk mee te balsem, voorsien (19:39).  Dit maak dit waarskynlik dat hy ’n gelowige word, een van die weiniges uit die skare van wondergelowiges.

Die metafoor van die koperslang op die paal in die woestyn (Num 21:9) word gebruik om die noodsaak van geloof te illustreer. Net soos die Israeliete gesond geword het van die slanggif as hulle na die koperslang op die paal van Moses kyk, so kry gelowiges die ewige lewe as hulle glo in Jesus as die Seun van die mens.

3:22-26: Jesus en sy dissipels is nou terug in die platteland in Judea waar hulle soos Johannes die Doper mense doop (Jesus het nie gedoop nie – 4:2). Johannes die Doper tree by Enon naby Salim op.

Die woordewisseling tussen Johannes die Doper en ’n Jood oor die effektiwiteit van Johannes die Doper se bediening (die reiniging) gee Johannes die Doper die geleentheid om die kollig te laat val op die meerdere waarde van Jesus se bediening as dit met sy eie vergelyk word.

Johannes vertel dan ’n kort gelykenis om die verskil tussen hom en Jesus as dieselfde tussen die vriend van die bruidegom en die bruidegom self te verduidelik.  Sy bediening word dus oortref en vervang deur dié van Jesus.  Hy moet meer word, en ek minder word dus op sy bediening van toepassing gemaak.

Die bediening van Bo af (vers 31 – onthou dieselfde gedagte wat in die gesprek met Nikodemus op die voorgrond was) gee toegang tot die ewige lewe wat God aan elkeen gee wat in die Seun glo.

LEEF

  • Niks in my lewe wat goed is, kom van myself af nie.  Selfs nie my geloof nie.  Dat ek glo en veral bly glo, is aan God se werk te danke.  Dit is wat dit beteken om “van bo” gebore te wees.
  • Ek dank die Here vir my geestelike geboorte.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes, wedergeboorte


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda