SPREUKE 1:20-33

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

SPREUKE 1:20-33

OPROEP VAN DIE WYSHEID

20Wysheid roep opgewonde op straat,

op die stadspleine laat sy haar stem hoor.

21Aan die bopunt van ‘n rumoerige straat roep sy uit,

by die ingange na die stadspoorte klink haar woorde op:

22“Hoe lank nog gaan julle, onkundiges, onkunde liefhê,

gaan spotters ‘n geklets waardevol ag,

en gaan dwase kennis haat?

23Julle moet reageer op my teregwysing.

Kyk, ek sal my gees vir julle laat uitstroom,

ek sal my woorde aan julle bekend maak.

24Omdat ek geroep, maar julle geweier het,

ek my hand uitgesteek, maar julle geen aandag gegee het nie,

25julle al my raad in die wind geslaan het,

my teregwysings nie aanvaar het nie,

26sal ek op my beurt lag oor julle teenspoed,

die spot dryf wanneer julle verskrikking kom,

27wanneer julle verskrikking kom soos ‘n stormwind,

en julle teenspoed losbreek soos ‘n orkaan,

wanneer benoudheid en angs julle oorval.

28“Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie;

hulle sal my soek, maar my nie vind nie.

29Aangesien hulle kennis gehaat het,

ontsag vir die Here nie gekies het nie,

30my raad nie aanvaar het nie,

al my teregwysings versmaai het,

31sal hulle die vrug van hulle optrede moet eet,

sal hulle genoeg kry van hulle eie planne.

32Ja, die ongeërgdheid van onverstandiges kos hulle dood;

die selfversekerdheid van dwase vernietig hulle.

33Maar wie na my luister, sal veilig woon;

hulle sal rustig wees, sonder die verskrikking van onheil.”

Teks en konteks

Die spreuke in hierdie boek is kernagtige gesegdes wat uit antiteses en sinteses bestaan. Antiteses is teenstellings waar die spreuk uit twee teenoorgestelde begrippe langs mekaar bestaan. Sinteses is verbindings of samevoegings van afsonderlike elemente tot ‘n nuwe geheel. Daar is ook langer uitgebreide gesegdes of gelykenisse en numeriese spreuke.

Hierdie spreuke vang lewenswaarhede of –wyshede vas sodat jy daaruit die beginsels van die lewe kan leer ken. Dit help jou ook om jou eie en ander se gedrag met groter onderskeiding te kan beoordeel, en met meer oorleg te kan leef (Spr 1:2).

Die spreuke is versamel in bundels waarvan 6 hulle weg tot in die boek Spreuke gevind het, soos ‘n mens telkens in die eerste vers van só ‘n bundel meegedeel word.

Vir hierdie bundels is ‘n inleiding geskrywe (1:1-7) wat die doel van die boek uitspel en al die spreuke van die boek as uitvloeisel van die ontsag en eerbied vir God teken.

Hierna is ‘n hele aantal wysheidsgedigte geplaas in die raamwerk van ‘n langerige gesprek waarin ‘n pa sy seun onderrig in 10 “lewenslesse”, afgelei uit frases soos dié: ”My seun, jy moet luister …” (een keer ook aan sy kinders [seuns]  in 4:1, soos die Wysheid dit inderdaad ook doen in 8:32).

  1. Luister na jou ouers – 1:8-19;
  2. Soek wysheid met gespitste ore – 2:1-22;
  3. Vertrou God en ken Hom in alles – 3:1-12;
  4. Leer uit 5 voorbeelde van ‘n ryk en vol lewe – 3:13-35;
  5. Neem jou ouers se opvoeding ter harte – 4:1-9;
  6. Kies die pad van wysheid – 4:10-19;
  7. Hou koers deur te fokus op jou binnekant en jou bakens – 4:20-27;
  8. Bly weg van hartelose verhoudings en leef met oorleg – 5:1-6:19;
  9. Pasop vir owerspel – 6:20-35;
  10. Pasop vir prostitusie – 7:1-27

Tussendeur is daar ‘n paar uitbreidings (1:20-33; 8:1-36) onder andere deur die seun ook te laat luister na sy ma (1:8; 6:20 – vgl ook 10:1). 

Saam met die inleiding vorm dit die eerste deel van die boek wat die belangrikheid van ‘n leerbare gees – ‘n ander manier waarmee die vermoë om te luister beskryf kan word – onderstreep in terme van die verskil tussen die gedrag van goddeloses en godvresendes:

  • veral in die soeke na welvaart (korrupsie vs eerlike harde werk – easy money– iets waaroor die Prediker ook uitvoerig uitwy en wat natuurlik baie keer met die misbruik van mag gepaard gaan – easy power) en
  • in die soeke na gemeenskap (ontrouheid vs getrouheid – easy sex[1]– ‘n sleutel aspek van Hooglied se wysheid).  

Die boodskap is: goddeloses luister na vrou dwaasheid (9:13-18), en godvresendes na vrou wysheid (9:1-12), sê die boek Spreuke.

Uiteraard veronderstel hierdie ontleding dat die boek, “a collection of collections”, oor ‘n lang tyd tot stand gekom het (Murphy).  Selfs Hiskia het ‘n hand gehad in die redaksie daarvan, voor die boek Spreuke in sy finale vorm deel van die kanon geword het, waarskynlik ná die ballingskap.

Die “eerste lewensles” (Spr 1:10-19) van die pa aan sy seun is dat sondaars se rebellie teen God se wil in die dood eindig. Net God se pad red jou vir die lewe. Hy vervolg in ons gelese gedeelte om wysheid as ‘n vrou voor te stel na wie ‘n mens moet luister. Die meervoud van die woord wysheid word gebruik, hoewel die werkwoorde enkelvoud is.

Dat die wysheid as vroulik voorgestel word, is interessant, en sluit aan by dieselfde gebruik in ander wysheidstradisies (Grieks, Romeins), waarskynlik omdat die hele idee van koestering, vertroeteling, en omgee meer geredelik met vroue geassosieer is. In die vroeëre Egiptiese wysheidstradisies word wysheid egter ook met Sia (of Saa) geassosieer, wat manlik uitgebeeld word. Dit is ook só in die ander Oosterse tradisies van Boeddhisme en Taoïsme.

Belangriker as dit is egter dat die wysheid regdeur Spreuke as die stem van God self voorgestel word. Dat dit vroulik is, ondersteun die gedagte dat God nie vasgevang kan word slegs in ’n manlike idioom nie; dat die beskrywing van God beide uit manlike en vroulike metafore opgebou word.

Let op dat die Wysheid eerstens die mense aanspreek wat geneig is om juis nie te luister nie. Drie tipe mense word aangespreek in vers 22:

  • onkundiges (simpletons),
  • spotters/grootpraters (scoffers/cynics),
  • dwase/swape (fools/idiots).

Peterson vertaal daarom: “Simpletons! How long will you wallow in ignorance? Cynics! How long will you feed your cynicism? Idiots! How long will you refuse to learn?” (The Message).

Interessant is dat die spotters as arrogante vrydenkers voorgestel word wat die regverdiges teenstaan, dws dié wat God wil dien, dié wat vir Hom ontsag het. ’n Mens kan hulle vandag nog herken!

Die waarde van luister word uitgespel, sowel as die gevolge van nie-luister. Luister bring veiligheid. Nie-luister bring vernietiging: “die selfversekerdheid van dwase vernietig hulle” (vgl Spr 1:32).

Dit is wat Psalm 1 ook sê, dat geluk en voorspoed lê op die pad van die regverdiges, en verydeling en verwoesting op die pad van die goddeloses, die ligsinniges en sondaars, ‘n motief wat regdeur die Psalms gehandhaaf word. God lei die regverdiges, en Hy laat die onregverdiges aan hulle eie lot en beplanning oor.

Terloops, Sokrates het gesê dat wysheid op drie maniere aangeleer word: deur refleksie (dit is die beste), nabootsing (dit is die maklikste) en ervaring (dit is die bitterste). Iets om oor na te dink!

Die pa moedig dus sy seun aan om die teregwysing van die Woord te aanvaar, want dit sal die verstoppings in sy lewe verwyder sodat God se wysheid soos ‘n lewegewende stroom na hom sal vloei. Die Woord maak soms seer om jou van binne en buite te genees.

Die pa leer sy seun in vers 24-28 om die waarskuwing in ag te neem dat ’n mens se ore doof kan raak vir God se leiding as jy dit nie uitvoer en navolg nie. Soos die voëls in die gelykenis van die Saaier die saad op die grond van jou hart oppik.

God se belofte is dat Hy sy Gees vir jou sal laat uitstroom om sy woorde, sy wysheid, aan jou bekend te maak (vgl Jes 32:15 ; Joël 2:28 ; Joh 7:39). As ‘n mens egter sy raad in die wind slaan, sy teregwysings nie aanvaar nie, sal jy aan jou eie keuses oorgelaat word. Dit sal teenspoed, verskrikking, benoudheid en angs vir jou inhou.

Besluit opnuut om nie ‘n woord te mis van wat die Here vir jou hierdie jaar wil gee nie.

Die pa leer sy seun in vers 29-33 om die waarskuwing in ag te neem dat daar gevolge is op wie se raad ’n mens volg. As jy na onkundiges, spotters (grootpraters) of dwase luister, sal jy die wrange vrugte pluk. As jy na die wysheid van God luister, sal jy veiligheid en beskerming beleef. Dink ná oor jou vriende en vertrouelinge. Bid vir ‘n vriendekring wat die Here saam met jou wil dien.

Boodskap en betekenis

Hierdie versameling God-gegewe oortuigings, oor die breë spektrum van die lewe is ‘n goudmyn van slagspreuke vir die lewe – “the scrapbook of common grace” (Martin).[2] Dit leer jou die geheim van die lewe coram Deo (voor God) ken, sodat jy met wysheid en oorleg kan leef (Spr 1:3) en die dwaasheid kan vermy (Spr 1:7). Dit is daarom ook ‘n uiters geskikte bron vir ouers of opvoeders om as vertrekpunt in hulle onderrig en/of opvoeding te gebruik.

Met die waarhede en wyshede van die boek Spreuke as gids kan ook jy ‘n ekspert in die lewe word! Spreuke bou jou kapasiteit vir wyse gedrag.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.


[1] Douglas Stuart (en Gordon Fee), How to Read the Bible Book by Book, 145.

[2] ‘n Antieke voorloper van Twitter, weliswaar met meer wysheid!

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: