Skip to main content

2 KONINGS 2:1-12

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

2 KONINGS 2:1-12

Elia se hemelvaart 

2:1 Dit is wat gebeur het toe die Here vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opgeneem het. Elia en Elisa was van Gilgal a af op pad, 2 toe Elia vir Elisa sê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na Bet-El. ” Elisa het egter gesê: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle het toe afgegaan na Bet-El.

3 Die profetegroep wat in Bet-El was, het na Elisa uitgegaan en vir hom gevra: “Weet u dat die Here vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!” 

4 Elia sê toe vir hom: “Elisa, bly asseblief hier, want die Here stuur my na Jerigo. ” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” 

Toe hulle in Jerigo aankom, 5 het die profetegroep wat in Jerigo was, na Elisa gekom en vir hom gevra: “Weet u dat die Here vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!” 

6 Elia het weer vir hom gesê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle twee het toe verder gegaan. 

7 Vyftig man van die profetegroep het ook gegaan en teenoor hulle op ‘n afstand bly staan. Hulle twee het langs die Jordaan gestaan.

8 Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na weerskante verdeel, en hulle twee het op droë grond oorgegaan. 9 Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief ‘n dubbele deel van u gees na my kom.”

10 Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11 Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik ‘n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. 12 Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur.

 Teks en konteks

Die tyd het gekom dat die Here Elia in ‘n stormwind hemel toe wou neem (vgl Lukas se gebruik van dieselfde woord “opneem” waar hy van Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart praat – Luk 9:51). Elia wil die einde van sy lewe sonder Elisa tegemoet gaan, miskien om alleen te wees, maar dit kan ook wees dat hy Elisa se lojaliteit wou toets (soos Jesus dit later met Petrus doen – Joh 21). Die wonder by die Jordaan herinner ’n mens weer aan die ooreenkomste tussen Elia en Moses. Maar let op dat die simboliese handelinge met die mantel begelei word deur die aanroep van die Here, beide hier met Elia en later met Elisa. Die mantel het dus nie magiese krag wat outomaties wonderwerke doen nie. Dit is God wat in beheer is en wonderlike dinge doen. Elisa se versoek vir ’n dubbele deel van Elia se gees verwys moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut 21:17), waarmee hy eintlik net vra dat hy Elia se opvolger sal wees – dat hy as die “eersgeborene” van Elia se dissipels geag sal word –  en nie om twee keer meer effektief as te wees nie. Die versoek om die Gees herinner ook aan die oordrag van die Gees op die 70 oudstes in Moses se tyd (Num 11).

Boodskap en betekenis

In ‘n era waarin wonderwerke ‘n belangrike rol gespeel het om die profeet se boodskap te legitimeer, was hierdie oordrag van Elia se “mantel” na Elisa noodsaaklik om Elia se status as profeet en segsman van God te bevestig.

Hoe wonderlik is dit dan nie dat elkeen van ons wat in Jesus glo deur Hom met die Gees van God gesalf word vir ons roeping as gelowige en ons bediening as geroepene. Dink vandag na oor die teenwoordigheid van die Gees in jou lewe en wy jou toe aan Hom sodat sy krag soos in ‘n Elia en Elisa van ouds deur jou kan werk.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…