HANDELINGE 1:15-17, 21-26

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HANDELINGE 1:15-17, 21-26

Verkiesing van Mattias

15 In daardie dae het Petrus tussen die broers opgestaan – daar was ongeveer honderd-en-twintig mense bymekaar – en gesê: 16 “Broers, die Skrifwoord moes vervul word wat die Heilige Gees vroeër by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het. Hy het vir die mense wat Jesus gearresteer het, as gids opgetree, 17 aangesien hy een uit ons geledere was, en deel gehad het aan ons bediening.

18 Hy het mos ‘n stuk grond aangeskaf uit die geld wat hy as beloning vir sy bose daad ontvang het. Hy het egter vooroor geval, in die middel oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul. 19 Dit het onder al die inwoners van Jerusalem bekend geword, met die gevolg dat daardie stuk grond in hulle eie taal as Akeldama bekend staan, dit is: ‘Bloedgrond’. 20 Want daar staan in die Psalms geskryf:

“‘Laat sy woonplek verlate word, en laat geen inwoner daarin bly nie.’ (PS 69:26)

En:

“‘Laat ‘n ander sy amp as opsiener oorneem.’ (Ps 109:8)

21 “Daarom moet een van daardie manne wat die hele tyd saam met ons onderweg was terwyl die Here Jesus onder ons gekom en gegaan het, 22 van die begin af, van die doop van Johannes af, tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is, saam met ons as ‘n getuie van sy opstanding optree.” 23 Hulle het toe twee voorgestel: Josef, bekend as Barsabbas, wat ook Justus genoem is, en Mattias. 24 Daarop het hulle soos volg gebid: “U, Here, wat almal se harte ken, wys U uit hierdie twee die een aan wat U gekies het 25 om die taak van hierdie diens van apostel oor te neem, waarvan Judas afvallig geraak het, om na die plek te gaan wat hom toekom.” 26 Toe het hulle geloot, en die lot het op Mattias geval. Hy is daarop by die elftal apostels gevoeg.

Teks en konteks

Petrus begin al hoe meer sy leiersrol speel onder die apostels. Let op dat Petrus dit doen aan die hand van die Skrif. Hulle verstand is immers net hiervoor deur Jesus oopgemaak om die Skrif te verstaan (Luk 24:45). Petrus sal dit weereens doen met die Pinksterdag uitstorting van die Heilige Gees en die gebeure verklaar aan die hand van onder andere Psalm 16.

Die verwysing na Judas is ietwat grusaam met die beskrywing van wat met hom gebeur het. Dit verskil ook van die prentjie wat Matteus skets. Daar staan dat Judas homself opgehang het en dat dit die leierpriesters is wat die grond gekoop het (Matt 27:5).

Augustinus het egter gereken dat albei beskrywings waar was, dat Judas hom opgehang het, en later op die grond geval en oopgebars het. Dieselfde kan oor die aankoop van die grond geargumenteer word. Judas het die geld gegee, en die leierpriesters het die stuk grond gekoop. Dit is kan dus as verskillende perspektiewe op dieselfde gebeure gelees word.

Doen gerus die moeite om die twee Psalms, Psalm 69 en 109, wat in vers 20 aangehaal word, te gaan lees, veral vir die breër prentjie wat dit jou sal gee vir wat met die lyding van die Messias reeds lank tevore voorspel is.

Die punt van ooreenkoms tussen die Psalms en die verhaal van Judas is dat God Judas op dieselfde manier as Dawid se vyande geoordeel en gestraf het. Soos dit ook in vers 25 aangedui word dat Judas hierdie lewe in veroordeling verlaat en sy plek in die dood of hel inneem, die plek wat hom toekom.

Hierdie aanhalings uit die OT bevestig ook net weereens dat wat ons in die voortgaande verhaal van Jesus sien, ook die Ou Testamentiese beloftes vervul. Dit bevestig die enorme betekenis van Jesus se voortgaande werk.

Let ook op hoe belangrik die ooggetuie kwalifikasie vir die keuse van ‘n nuwe apostel in die plek van Judas is. Selfs Paulus kon net ‘n apostel word deurdat hy Jesus persoonlik ontmoet het en deur Hom geleer is, maar hy praat van homself as die “ontydig gebore” apostel – 1 Kor 15:8).

Ons het nie enige ander inligting oor die twee kandidate wat oorweeg word vir die apostelskap nie, behalwe dat hulle waardige kandidate was. Barsabbas is natuurlik nie dieselfde persoon as Barnabas nie.

Die gebruik van die lot vir beslissings is bekend uit die OT. Die OT beeld dit nie uit as ‘n saak van toeval nie – soos ons geneig is om te dink – maar as ‘n geleentheid vir God om sy wil op ‘n onmiskenbare manier bekend te maak (vgl Lev 16:8; Jos 18:6, 8).

’n Mens kan hier ook sien dat die kerk van die begin af besluit om in te val by God se reddingsplan wat die heidene gaan insluit, hoewel dit ’n rukkie vir die kerk sal duur voor die insluiting van die heidene met oorgawe omhels word.

Boodskap en betekenis

Dit tref my hoe die Skrif al hoe meer sy rol begin speel in die beslissings van die vroeë kerk. Ons sal dit konsekwent deur Handelinge sien sowel as in die briewe in die res van die NT. Dit is ook duidelik dat die verkondiging van die evangelie hoog op hulle agenda is. Alles moet reggekry word sodat die Groot Opdrag van die begin af uitgevoer kan word met die stimulus wat die Gees op Pinksterdag gaan gee.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: