Skip to main content

PSALM 26

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 26

1Van Dawid.

Handhaaf my reg, Here,

want ek, ek gedra my onberispelik;

ek vertrou op die Here,

ek wankel nie.

2Toets my, Here,

en stel my op die proef.

Suiwer my niere en my hart!

3Want ek hou u troue liefde voor oë

en ek leef volgens u waarheid.

4Ek sit nie by bedrieërs nie,

en by slinkse mense kom ek nie.

5Ek het ‘n weersin in die byeenkoms

van kwaaddoeners,

en by goddeloses sit ek nie.

6Ek was my hande

om my onskuld te toon,

sodat ek rondom u altaar kan loop, Here,

7om ‘n loflied te laat opklink

en te vertel van al u wonderdade.

8Here, ek het die huis

waar U woon, lief,

u heerlike woonplek.

9Moet my nie wegruk

saam met sondaars,

my lewe saam met manne

wat bloed vergiet nie,

10hulle aan wie se hande

‘n skanddaad kleef,

en wie se regterhand

vol omkoopgeld is.

11Maar ek, ek gedra my onberispelik –

red my en wees my genadig!

12My voet staan op gelyk grond;

in die byeenkomste

sal ek die Here prys.

Teks en konteks

Die Psalm kom ooreen met Psalms 15 en 24 en was moontlik ook ‘n tempel-toetrede Psalm wat deur pelgrims gebruik is.

Dawid maak hier sy lewe oop voor God en lê sy integriteit (onskuld) in optrede en vertroue op God aan Sy ondersoekende oog bloot. Daarmee herinner hy ons daaraan dat sowel ons lewe in die wêreld as ons lewe met God volgens dieselfde waardes geleef moet word. Dit is waarom hy sê dat Hy hom deur God se liefde laat lei het. Hy het God se karakter as rigtingwyser gebruik in sy lewenstyl, terwyl hy ook op God vertrou het om dit te kan regkry (Fil 2:12 in OT gewaad!).

Dit gaan dus vir hom daaroor om in lyn met God se waardes en beginsels op te tree. Dit is die deurlopende tema in die Psalm soos in vers 1 en 11 aangedui word (onskuld kan met integriteit vertaal word): “Ek het met integriteit opgetree … Ek sal met integriteit optree … Red my en wees my genadig”. Maar wat vir my ongelooflik diepsinnig is, is dat hy homself weliswaar verbind aan ‘n lewe met integriteit (vers 1,11), maar tog in die laaste instansie staatmaak op God se redding en genade (vers 11).

“Ek het nie getwyfel nie” in vers 1 word deur Craigie as volg vertaal: “I shall not slip” wat beteken Dawid het nie opgehou om God te vertrou nie. Twyfel, volgens dié Psalm, is dus nie net om aan God se bestaan te twyfel nie, maar eerder om te twyfel in God se vermoë om betroubaar op te tree. Dit is ook die uitdaging vir ons vandag, om God te vertrou dat Hy in óns wêreld betrokke is en Sy wil sal laat geskied.

Hierdie verbintenis is iets wat natuurlik ook nie net met Dawid se eie manier van lewe te make het nie. Dit beteken ook dat hy nee sê vir die waardes en lewenstyl van bedrieërs, agterbakse mense, misdadigers, goddeloses, moordenaars en mense wat ander probeer omkoop.

“Ondersoek my deur en deur” in vers 2 beteken letterlik: “toets my niere en hart”, die setel van emosies en verstand. Dawid wil dus sy gevoelens en gedagtes aan God se ondersoekende oog blootlê dat God self sal sien dat hy met integriteit opgetree het en steeds so wil lewe.

Boodskap en betekenis

Dit is ook die manier waarop ons moet lewe. In absolute integriteit. Terwyl ons van God self ook vra om ons te ondersoek en te help om dit inderdaad te doen.

Die keuse om God te dien, vereis van ons om in elke dimensie van ons publieke en private lewe met integriteit te lewe. Dit is iets waarvoor ons verantwoordelik is. In elke keuse wat ons maak. Dit is egter ten diepste ook iets wat God vir ons gee. Waarvoor ons Hom moet vertrou.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…