PSALM 19

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 19

Ek gee vandag my eie vertaling van hierdie gedeelte.  Ek doen dit 1) omdat daar nuanses is wat verlore gaan in die NAV vertaling, 2) omdat ek graag die gedagte-eenhede van die Psalm wil onderstreep, en 3) sodat jy in die lees daarvan geïnspireer kan word om elke oomblik van jou lewe bewustelik met dié God te lewe:

1 Vir die koorleier.

 ’n Psalm van Dawid.

2 Die hemel getuig van die heerlikheid van God,

die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.

3 Die een dag gee die berig deur aan die ander

en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.

4 Sonder spraak en sonder woorde,

onhoorbaar is hulle stem.

5 Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld

en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.

Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan.

6 As hy stralend begin om sy baan te volg,

is hy soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom,

soos ‘n krygsman wat sy ere-rondte hardloop.

7 Aan die een kant van die hemel kom hy op

en aan die ander kant gaan hy onder,

en niks ontkom aan sy gloed nie.

8 Die woord van die Here is volmaak:

dit gee lewe.

Die onderwysing van die Here is betroubaar:

dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

9 Die bevele van die Here dui die regte koers aan:

dit maak die hart bly.

Die gebod van die Here is helder:

dit gee insig.

10 Die ontsag vir die Here is goed:

dit staan altyd vas.

Die bepalings van die Here is reg:

elkeen van hulle is regverdig.

11 Hulle is kosbaarder as goud, selfs as fyngoud,

soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.

12 U dienaar laat hom daardeur leer.

Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.

13 Wie sien sy eie dwalinge raak?

Reinig my van dié wat ek onwetend gedoen het.

14 Weerhou my van arrogante mense,

laat hulle nie oor my heers nie.

Dan sal ek onberispelik wees en vry van groot sonde.

15 Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees,

Here, my Rots en my Verlosser.

Teks en konteks

Psalm 19 is een van die skeppingspsalms (soos ook Psalm 29, 33, 65, 74, 104, 136, 147 en 148).  Dit roep die verloop van die skeppingsverhaal van Genesis 1-3 in herinnering.   Die Psalmis het gehoop dat dié Psalm mense in vervoering sou laat oor God, sodat hulle later as hulle van die tempel af huis toe gaan, met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God sou lewe, sodat elke keer wat hulle weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, hulle van God bewus sou bly. 

PSALM VAN DIE WOORD

Maar dié Psalm gaan nie net oor die heerlikheid van die skepping nie.  Dit beweeg van ‘n loflied oor die skepping na ‘n loflied oor die wet van God wat vir die mens doen wat die son doen vir die skepping.  Dit bring lig en krag en die teenwoordigheid van God self tot in die dieptes van die menslike hart (NT Wright).  En hierdie wet is natuurlik die spilpunt van die verbond wat Israel aan God verbind het, die hart van Sy Woord aan hulle.  Met die wet as hulle wegwyser, was Israel die uitverkore volk van die Skeppergod.

En die Psalmis het gehoop dat dié skets van die Woord, soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek, hulle sou inspireer, sou laat begeer om in die Woord te lewe, dit hulle huis te maak, sodat God nie net ‘n veraf en van-bo-af God sou bly nie, maar die persoonlike God, dié een wat in die lewe deur sy Woord betrokke is, en hulle Hom sou ontmoet in die Woord en met sy Woord aan hulle sy en in hulle hart met Hom ‘n pad sou stap.

GOD BESTAAN – Die heerlikheid van God in die skepping

  • In vers 2 word die sigbare heerlikheid van God in die heelal geskets
  • In vers 3-5a word die onsigbare teenwoordigheid van God wat dag na dag en nag na nag op ‘n woordelose maar ervaarbare manier oorgedra word besing.
  • In vers 5b-7 word die son as sigbare verteenwoordiger van God geskets wat van die een kant van die aarde af tot die ander kant die wêreld verlig en verwarm met sy gloed.

GOD PRAAT – Die heerlikheid van God binne ons

  • In vers 8-10 word die waarde van die Woord beskrywe in terme van die impak wat dit in ‘n mens se lewe kan hê, nie as ‘n paaiboelie nie, maar as ‘n inspirasie.
  • In vers 11 word die waarde vergelyk met dié van goud en heuning
  • In vers 12-13a word dié waarde uitgespel as ‘n leerervaring wat uitmond en afsluit …
  • In vers 13b-15 met die gebed dat God van binne-af sal verander, sal reinig deur sy Woord en ‘n vastigheid sal gee wat die toets van die tyd sal kan deurstaan.

Boodskap en betekenis

Psalm 19 kan só opgesom word:

  • God bestaan.  God is teenwoordig. Jy ervaar dit in die ritme van die dag en nag. Jy voel dit brand op jou vel in die dag. 
  • God praat. Jy kan dit ervaar in die effek wat die Woord op jou kan hê. Dit is soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek. Dit inspireer en gee vastigheid.

Hierdie Psalm het artikel twee van die Nederlandse Geloofsbelydenis geïnspireer.  Die middele waardeur ons God ken word só uitgespel:  

Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.  Skrifverwysings: Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:10; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1 Kor. 1.

In Kolossense 1:15-20 werk Paulus ook met ‘n herinterpretasie van hierdie Psalm, en noem hy Jesus die vervulling van die skepping (Kol 1:15-16) sowel as van die verbond (Kol 1:18b-20).  Die Skeppergod is ook die verlossende Verbondsgod. Die verskil tussen Psalm 19 en Kolossense 1 is natuurlik dat die teologie van Jesus, die Messias, die een deur wie beide die skepping as die verlossing te weeg gebring is, die verhaal van Psalm 19 herskrywe.  Let ook op hoe daar in Kolossense klem gelê word op Jesus as die beeld van God, met woorde wat aan die skeppingsverhaal ontleen is (Gen 1:26).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Baie dankie Ds Chris vir jou refleksie oor 1 Timoteus 2:8-15. Dit bring perspektief en onderstreep dat dit gaan oor die Boodskap en nie die debat nie.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: