Skip to main content

HEBREËRS 4:12-16

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HEBREËRS 4:12-16

1Laat ons daarom versigtig wees, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan, nog bly staan, dat dit nie mag blyk dat een van julle agtergebly het nie. 2Want net soos aan hulle, is die goeie boodskap ook aan ons verkondig. Maar die boodskap wat hulle gehoor het, het hulle nie gebaat nie, omdat hulle nie deur die geloof verenig is met dié wat dit wel gelowig aangehoor het nie. 3Ons wat tot geloof gekom het, gaan immers wel die rus in – soos Hy gesê het,

“So het Ek in my toorn gesweer, ‘Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!’ ”

al was God se werke reeds vanaf die grondlegging van die wêreld afgehandel. 4Hy het immers êrens aangaande die sewende dag gesê: “God het op die sewende dag van al sy werke gerus.” 5En in hierdie gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!” 6Aangesien dit dan bly staan dat sommige wel daar sal ingaan – hoewel hulle wat eerste die goeie boodskap gehoor het, vanweë ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie – 7bepaal Hy weer ‘n sekere dag, dit is “vandag”, wanneer Hy baie later, soos hierbo reeds genoem, deur Dawid sê:

“Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie!”

8As Josua hulle dan tot rus gebring het, sou Hy nie gepraat het van ‘n ander dag daarna nie. 9Daar bly dus steeds ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God. 10Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van syne. 11Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie.

12Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard.

Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.

13Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord.

JESUS DIE GROOT HOËPRIESTER

14Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis. 15Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het. 16Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.

Teks en konteks

Waar die skrywer in hfst. 3:12 hulle opgeroep het om te waak daarteen dat mense nie in ongeloof verval nie, sê hy in hfst. 4:1 dat hulle versigtig moet wees dat dit nie uiteindelik blyk dat iemand agtergebly het nie.  Die een woord, waak, druk omgee uit, ’n raaksien van, ’n saamneem van.  Die ander woord, versigtig wees, druk eintlik vrees uit, ’n onrus oor, ’n sensitiewe opsoek van, ’n pastorale hart vir mense wat lyk asof hulle agterbly.  Twee kante van dieselfde munt.

Dit is noodsaaklik, omdat net soos die gevaar van ongeloof ’n kernbedreiging vir die geloofsgemeenskap is, so is die gevaar van ongehoorsaamheid dit ook.  Dít was die verdere probleem van die woestyngemeenskap wat by die Intog in Kanaän die aftog geblaas het.  Hulle was ongehoorsaam om te doen wat God vra.  Hulle het nie net geweier om Hom te vertrou nie – ongeloof – maar hulle het ook geweier om Hom te volg, te doen wat Hy vra – ongehoorsaamheid (vers 6 en 11).

Dit het die Skeppergod wat die “rus” reeds op die sewende dag van die Skepping ingestel het, deur self te rus van al sy werke (Gen. 2:2), laat besluit dat sulke ongeloof en ongehoorsaamheid hulle diskwalifiseer om te deel in wat Hy vir sy mense voorberei het.

Die skrywer is egter oortuig dat die Hebreërs positief sal reageer op die roepstem van die Gees wat steeds roep en uitnooi om die rus van God deur geloof en gehoorsaamheid binne te gaan. Hulle moet net nie hulle harte verhard nie, weer aangehaal uit Ps. 95.

Hy spel die “rus” uit as iets wat nie volledig met Josua se uiteindelike inname van die land Kanaän gebeur het nie: “Daar bly steeds ’n sabbatsrus oor vir die volk van God.”  Dit is dus iets wat eers met die wederkoms van die Here Jesus volledig kan aanbreek.  Die woord sabbatsrus beteken ook nie net ’n rus alleen nie, maar ’n feesviering oor dít wat ’n mens bereik het. 

Daarom moedig die skrywer ons aan om ons te beywer om die wedloop van die geloof enduit te hardloop, sodat ons ook kan rus van ons werke, soos God dit op die sewende dag van die Skepping gedoen het.  Soos Paulus aan die Efesiërs skryf, ons is geskep: “in Christus Jesus om goeie werke te doen en daarvolgens te leef, soos God dit voorberei het.” (Ef. 2:10).  Dit is dié dinge wat ons in ons lewe moet afhandel, sodat ons met vreugde in die rus wat God gee, kan ingaan.

Ongehoorsaamheid, veral as dit ’n patroon in ’n mens se lewe raak, gaan jou diskwalifiseer van dié rus: “Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie.

In die twee laaste verse van die gedeelte fokus die skrywer uiteindelik op die positiewe verbintenis wat die gelowiges in geloof aan God moet maak.  En dit het te make met die boodskap wat God aan ons adres rig, sy woord.  Dieselfde boodskap kon immers na almal, maar dit is net dié wat in geloof en gehoorsaamheid reageer wat in God se rus ingaan.

Daarom moet die woord van God – met ’n klein lettertjie gespel om uit te druk dat nie net oor die geskrewe Woord van God gaan, of oor Jesus as die Woord van God nie, maar oor alle maniere waarop God met ons praat – toegelaat word om sy kragtige (effektiewe) werk in ons lewe te doen, soos ’n lewende, skerp tweesnydende swaard. 

Dit is duidelik dat die woord van God – soos ’n swaard – nie net oopmaak wat verborge is nie, maar inderdaad ook kan oopsny wat pyn tot gevolg kan hê.  “Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.”  God se woord ontbloot en maak sigbaar wat in ons harte aangaan, as ons toelaat dat Hy die lewende swaard, sy woord, inspan.

Daarom moet ons toelaat dat ons voornemens en gedagtes beoordeel word deur die woord van God.  Daarin speel die Woord van God, die Bybel, sowel as die Woord van God, Jesus, ’n beslissende en bepalende rol.  Ons hele lewe sal immers aan God verantwoord moet word.

Waar die skrywer in hoofstuk 3 gesê het dat Jesus belangriker is as Moses, vervolg hy hier in hoofstuk 4 om te verklaar dat Jesus ook belangriker as Aäron is.  Jesus is die “groot Hoëpriester.”

Die hoëpriester was ’n amp wat deur die Here ingestel is en daarom net deur afstammelinge van Aäron beklee kon word (Eks. 28).  God het dus die hoëpriester vir sy taak geroep.  Die hoëpriester se funksie was om versoening vir die sondes van die volk (en sy eie) te doen deur eenmaal per jaar in die heiligdom van die tempel te verskyn voor die Here.

Boodskap en betekenis

Dit kom vir geleerdes voor asof die skrywer met die boek Numeri voor hom oop gesit het, toe hy hierdie boodskap geskryf het.  Hy is getref deur die verlies wat die meeste van die Israeliete gely het, toe hulle die meerderheidsverslag van die tien verkenners aanvaar het, en in ongeloof verval het deur die Here nie op sy woord te neem nie.  Daarmee het hulle die kans gemis om die rus te ervaar wat die Here vir hulle in Kanaän wou gee.

Dieselfde gevaar lê voor ons deur, sê hy.  Nie in die eerste plek omdat ons verskil oor engele, gawes, of reëls nie, hoewel dit ook belangrik is.  Maar die grootste gevaar is dat ons in ongeloof en ’n patroon van ongehoorsaamheid kan verval, dat ons die Here nie meer met ons lewe wil vertrou nie.  Dan raak ons vatbaar vir die verleiding van die sonde en raak ons van die lewende God afvallig, rebelleer ons teen sy pad met ons. 

En hierdie gevaar van ongeloof en ongehoorsaamheid is nie net iets waarteen ons by onsself moet waak nie, maar iets waarteen ons in ander se lewens moet waak en versigtig voor moet wees.  Ons moet “elke dag” mekaar aanspoor en maniere vind om te sorg dat daar by niemand van ons ’n “bose hart van ongeloof” ontstaan en hulle “deur die verleiding van die sonde verhard word nie”.

Die oplossing is om die woord van God – en ek verwys hier na die Bybel en die lewende verhouding met Jesus – ’n huis te maak waarin jy woon, een waarheen jy almal uitnooi, by wyse van spreke.  Hy is die lewende God wat op vele maniere met ons praat, maar veral deur sy Woord.  Dit is daarom ook die sekerste manier waardeur ’n verval in ongeloof en ongehoorsaamheid verhoed kan word, deur te fokus op sy boodskap aan ons.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar