Skip to main content

1 KONINGS 2:10-12, 3:3-14

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 KONINGS 2:10-12, 3:3-14

Ek gee weer die breër konteks.

DAWID SE LAASTE OPDRAGTE EN SY DOOD

21Toe die tyd nader kom vir Dawid om te sterf, het hy opdragte aan sy seun Salomo gegee: 2“Ek gaan die weg van die hele aarde. Wees onwrikbaar en wys jy is ‘n man. 3Kom die verpligting na wat die Here jou God jou oplê. Doen dit deur sy paaie te volg, deur sy vaste voorskrifte, sy gebooie, sy beslissings en bepalings na te kom, soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, sodat jy sukses kan behaal in alles wat jy aanpak en oral waarheen jy jou wend. 4Doen dit, sodat die Here sy woord wat Hy oor my gespreek het, gestand kan doen, naamlik, ‘As jou seuns let op hulle gedrag deur getrou, met hulle hele hart en hulle hele wese, voor My te leef, dan’ het Hy gesê, ‘sal daar nooit vir jou iemand ontbreek op die troon van Israel nie’.

5“Jy self weet ook wat Joab, seun van Seruja, aan my gedoen het, wat hy aan die twee bevelvoerders van die leërs van Israel, aan Abner, seun van Ner, en aan Amasa, seun van Jeter, gedoen het. Hy het hulle vermoor en die bloedskuld van oorlog op hom gelaai in vredestyd. Hy het die bloedskuld van oorlog op die gordel om sy heupe en die sandale aan sy voete laat kom. 6Tree dan op volgens jou wysheid. Sy grys hare mag jy nie in vrede na die •doderyk laat afgaan nie. 7Aan die seuns van Barsillai, die man uit Gilead, moet jy egter welwillendheid bewys. Hulle moet onder dié wees wat aan jou tafel eet, want so het hulle my ook tegemoetgekom toe ek gevlug het voor jou broer Absalom. 8Kyk, by jou het jy ook Simeï, seun van Gera, die Benjaminiet uit Bagurim. Hy is die een wat my gruwelik uitgeskel het die dag toe ek na Maganajim gegaan het. Maar hy is ook die een wat afgegaan het om my by die Jordaan te ontmoet, en ek het vir hom by die Here gesweer en gesê, ‘Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.’ 9Maar nou mag jy hom nie ongestraf laat nie. Jy is immers ‘n slim man; jy sal self weet wat om aan hom te doen. Jy moet sy grys hare met bloed in die doderyk laat afgaan.”

10Daarna het Dawid by sy voorouers gaan rus, en hy is in die Stad van Dawid begrawe. 11Die tydperk wat Dawid koning was oor Israel, was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem was hy drie-en-dertig jaar lank koning.

SALOMO OP DIE TROON

12Salomo het op die troon van sy vader Dawid gaan sit, en sy koningskap was stewig gevestig. 13Adonia, seun van Gaggit, het na Batseba, die moeder van Salomo, gekom. Sy het gevra: “Beteken jou koms vrede?” Hy het geantwoord: “Ja, vrede!” 14Hy sê toe: “Ek wil graag ‘n woord met u praat.” Sy het gesê: “Praat!” 15Hy sê toe: “U weet self dat die koningskap my toekom, en dat die hele Israel se oë op my gerig was om koning te word. Die koningskap het egter oorgegaan na my broer, omdat dit deur die Here vir hom bedoel was. 16Nou is daar egter een guns wat ek van u vra; moet my dit nie weier nie.” Sy het vir hom gesê: “Praat!” 17Hy sê toe: “Praat asseblief met koning Salomo, want hy sal u dit nie weier nie, om Abisag uit Sunem vir my as vrou te gee.” 18Daarop sê Batseba: “Goed, ek sal oor jou met die koning praat.”

19Batseba gaan toe na koning Salomo om oor Adonia met hom te praat. Die koning het opgestaan, haar tegemoetgegaan en diep voor haar gebuig. Hy het op sy troon gaan sit en vir die koninginmoeder ‘n troon laat neersit, en sy het aan sy regterhand gaan sit. 20Sy sê toe: “Daar is een klein gunsie wat ek van jou wil vra – moet my dit nie weier nie.” Die koning het vir haar gesê: “Vra gerus, moeder, want ek sal u dit nie weier nie.” 21Daarop sê sy: “Laat Abisag, uit Sunem, aan Adonia, jou broer, as vrou gegee word.” 22Koning Salomo het geantwoord en vir sy moeder gesê: “En waarom vra u Abisag, uit Sunem, vir Adonia? Vra dan maar die koningskap ook vir hom, want hy is mos my broer wat ouer is as ek – ja, vir hom en vir Abjatar, die priester, en vir Joab, seun van Seruja.” 23Toe sweer Salomo by die Here en sê: “Mag God my swaar strafas Adonia nie hierdie woord ten koste van sy lewe gespreek het nie. 24Daarom, so waar as die Here leef, wat my aangestel en my op die troon van my vader Dawid laat sit het, en wat vir my ‘n koningshuis voorsien het soos Hy beloof het: Vandag nog word Adonia om die lewe gebring!” 25Koning Salomo het dit aan Benaja, seun van Jojada, opgedra. Hy het Adonia aangeval, en hy het gesterf.

26Vir Abjatar, die priester, het die koning gesê: “Na Anatot moet jy gaan, na jou grond, want jy verdien die dood; maar vandag sal ek jou nie doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here, my Heer, voor my vader Dawid gedra het, en omdat jy jou onderwerp het aan al die vernedering wat my vader moes deurmaak.” 27Salomo het Abjatar verdryf, sodat hy nie meer priester van die Here was nie, om so die woord van die Here te vervul wat Hy in Silo oor die huis van Eli aangekondig het.

28Die berig het Joab bereik, want Joab het hom by Adonia geskaar, alhoewel hy hom nie by Absalom geskaar het nie. Joab vlug toe na die tent van die Here en gryp die horings van die altaar vas. 29Aan koning Salomo is berig gebring: “Joab het gevlug na die tent van die Here. Kyk, hy is daar langs die altaar!” Salomo stuur toe vir Benaja, seun van Jojada, met die opdrag: “Gaan val hom aan!”

30Benaja het by die tent van die Here aangekom en vir Joab gesê: “So sê die koning, ‘Kom uit!’ ” Maar hy het gesê: “Nee, want hier wil ek sterf!” Benaja het toe aan die koning verslag gelewer: “Dit is wat Joab gesê het, en dit is wat hy my geantwoord het.” 31Die koning sê toe vir hom: “Doen dan wat hy gesê het. Val hom aan en begrawe hom, en verwyder so die bloed van my en my familie wat Joab sonder rede gestort het. 32Mag die Here sy bloed op sy eie kop laat neerkom, hy wat twee manne, regverdiger en beter as hy, aangeval en met die swaard vermoor het sonder my vader Dawid se medewete: Abner, seun van Ner, die bevelvoerder van die leër van Israel, en Amasa, seun van Jeter, die bevelvoerder van die leër van Juda. 33Mag hulle bloed neerkom op die kop van Joab en op die kop van sy nageslag vir altyd; maar mag daar vir Dawid en sy nageslag, sy huis en sy troon vir altyd voorspoed wees van die kant van die Here.”

34Benaja, seun van Jojada, het toe gegaan, hom aangeval en hom doodgemaak. Hy is begrawe by sy huis in die woestyn. 35Die koning het Benaja, seun van Jojada, daarna in sy plek aangestel oor die leër, en die koning het Sadok, die priester, aangestel in die plek van Abjatar.

36Die koning het Simeï toe ontbied en vir hom gesê: “Bou vir jou ‘n huis in Jerusalem en woon daar. Maar jy mag nie uit die stad uitgaan nie, nêrens heen nie. 37En die dag wanneer jy uitgaan en die Kidrondal oorsteek – wees doodseker daarvan dat jy dan beslis sal sterf. Jou bloed sal op jou eie kop wees.” 38Daarop het Simeï vir die koning gesê: “Die voorwaarde wat my heer die koning stel, is goed; u dienaar sal so maak.”

Simeï het toe vir ‘n lang tyd in Jerusalem gebly; 39maar ná verloop van drie jaar het twee slawe wat aan Simeï behoort, weggeloop na Agis, seun van Maäga, die koning van Gat. Aan Simeï is berig gebring: “Kyk, jou slawe is in Gat.” 40Simeï het toe gereedgemaak, sy donkie opgesaal en na Gat, na Agis, gegaan om sy slawe te soek. So het Simeï dan gegaan en sy slawe teruggebring uit Gat. 41Salomo is ingelig dat Simeï uit Jerusalem na Gat gegaan en teruggekeer het. 42Die koning het Simeï ontbied. Hy sê toe vir hom: “Het ek jou nie by die Here laat sweer en jou gewaarsku, ‘Die dag wanneer jy uitgaan en êrens heen vertrek, moet jy doodseker daarvan wees dat jy beslis sal sterf’ nie? Jy het nog vir my gesê, ‘Die voorwaarde is goed, ek sal luister.’ 43Waarom het jy nie die eed voor die Here nagekom, en ook die bevel wat ek jou opgelê het nie?” 44Die koning het ook vir Simeï gesê: “Jy weet self van al die kwaad, waarvan jy diep in jou hart bewus is, wat jy my vader Dawid aangedoen het. Die Here laat al jou boosheid op jou eie kop neerkom. 45Maar koning Salomo is geseënd, en die troon van Dawid sal vir altyd voor die Here gevestig bly.” 46Die koning het toe vir Benaja, seun van Jojada, opdrag gegee. Hy het uitgegaan en Simeï aangeval, en hy het gesterf. 47Die koningskap was toe stewig in die hand van Salomo.

SALOMO SE WYSHEID

31Salomo het die skoonseun van die farao, die koning van Egipte, geword. Hy het die dogter van die farao as vrou geneem. Hy het haar na die Stad van Dawid gebring, totdat hy klaar was met die bou van sy paleis en die huis van die Here, en met die muur rondom Jerusalem.

2Die volk het nog steeds net op die offerhoogtes geoffer, omdat ‘n huis vir die Naam van die Here tot in daardie tyd nog nie gebou was nie. 

3Salomo het sy liefde vir die Here getoon deur die vaste voorskrifte van Dawid, sy vader, te volg, behalwe dat ook hy nog steeds op die offerhoogtes geoffer en wierook gebrand het.

4Salomo gaan toe na Gibeon om daar te offer, want dit was die belangrikste offerhoogte. ‘n Duisend brandoffers het Salomo op daardie altaar geoffer.

5By Gibeon het die Here in die nag in ‘n droom aan Salomo verskyn. God het gesê: “Vra wat Ek vir jou moet gee.” 6Salomo het gesê: “U self het aan u dienskneg, my vader Dawid, oorvloedige troue liefde bewys, omdat hy voor U geleef het in waarheid en geregtigheid, en ook met opregtheid van hart teenoor U. U het hierdie oorvloedige troue liefde teenoor hom volgehou en aan hom ‘n seun gegee wat op sy troon sit, soos dit vandag is. 7En nou, Here my God, dit is U wat u dienskneg koning gemaak het in die plek van my vader Dawid. Maar ek is ‘n jong seun, ek weet nie hoe om uit te gaan of in te kom nie. 8U dienskneg bevind hom onder u volk wat U gekies het, ‘n groot volk wat vanweë sy grootte nie bereken of getel kan word nie. 9Gee dan aan u dienskneg ‘n hart wat luister om as regter op te tree vir u volk, om te kan onderskei tussen goed en kwaad; want wie kan regspreek oor hierdie veeleisende volk van U?”

10Dit was goed in die oë van die Heer dat Salomo juis dit gevra het. 11God het vir hom gesê: “Omdat jy hierdie versoek gerig het en nie vir jouself ‘n lang lewe gevra het, nie vir jouself rykdom gevra het, en nie die lewens van jou vyande gevra het nie, maar vir jouself onderskeidingsvermoë gevra het om regsake aan te hoor – 12kyk, Ek voldoen aan jou versoek: Ja, Ek gee aan jou ‘n wyse en verstandige hart, sodat daar voor jou niemand was soos jy nie, en ná jou niemand soos jy sal opstaan nie. 13Ook wat jy nie gevra het nie, gee ek aan jou: sowel rykdom as eer, sodat, solank jy leef, daar onder die konings niemand soos jy sal wees nie. 14As jy my paaie volg soos jou vader Dawid, deur my vaste voorskrifte en gebooie na te kom, sal Ek aan jou ‘n lang lewe gee.” 

15Salomo word toe wakker, en sowaar, dit was ‘n droom!

Hy het in Jerusalem aangekom en voor die verbondsark van die Heer gaan staan. Hy het brandoffers gebring en maaltydoffers geoffer en ‘n feesmaal gehou vir al sy amptenare.

16Daarna het twee vroue wat prostitute was, na die koning gekom en voor hom gaan staan. 17Die een vrou het gesê: “Asseblief, my heer! Ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis. Ek het by haar in die huis geboorte geskenk. 18Op die derde dag nadat ek geboorte geskenk het, het ook hierdie vrou geboorte geskenk. Ons was saam; daar was geen buitestander by ons in die huis nie, net die twee van ons was in die huis. 19Die seuntjie van hierdie vrou is in die nag dood, want sy het op hom gelê. 20Maar in die middel van die nag het sy opgestaan en my seuntjie langs my gevat terwyl u dienares geslaap het. Sy het hom teen haar bors neergelê, en haar dooie seuntjie het sy teen my bors neergelê. 21Toe ek die oggend opstaan om my seuntjie te voed, toe is hy dood! Maar toe ek hom die oggend goed bekyk, sowaar, toe is dit nie my seuntjie wat ek in die wêreld gebring het nie!” 22Die ander vrou sê toe: “Nee! My seuntjie is die lewende een! Jou seuntjie is die dooie een!” Die eerste vrou het egter volgehou: “Nee! Jou seuntjie is die dooie een! My seuntjie is die lewende een!” So het hulle voor die koning gestry.

23Die koning het gesê: “Hierdie een hou vol, ‘Dit is my seun, die lewende een, en jou seun is die dooie een.’ En daardie een hou vol, ‘Nee! Jou seun is die dooie een, en my seun die lewende.’ ” 24Toe sê die koning: “Bring vir my ‘n swaard.” Hulle bring toe die swaard voor die koning. 25Daarna sê die koning: “Sny die lewende kind in twee, en gee die een helfte vir die een vrou en die ander helfte vir die ander vrou.” 26Maar die vrou wie se kind die lewende een was, praat toe met die koning omdat haar deernis vir haar seuntjie haar oorweldig het. Sy het vir die koning gesê: “Asseblief, my heer! Gee liewer die lewende kindjie vir haar – moet hom net nie doodmaak nie.” Maar die ander vrou het volgehou: “Hy sal nie myne nie, maar ook nie joune wees nie. Sny deur!” 27Daarop het die koning gereageer deur te sê: “Gee vir die eerste vrou die lewende kindjie. Moet hom glad nie doodmaak nie! Sy is sy ma.”

28Toe die hele Israel hoor van die beslissing wat die koning gelewer het, het hulle vir die koning ontsag gehad, want hulle het gesien dat die wysheid van God in hom was om die reg te handhaaf. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Interessant dat Salomo een van die kinders was wat vir Dawid in Jerusalem gebore is (2 Samuel 5:14-15) terwyl Adonia as vierde kind van Dawid in Hebron gebore is (2 Samuel 3:2-5 – Amnon, die oudste, is deur Absalom om die lewe gebring, weens die verkragting van sy suster, Tamar; Kilab, seun van Abigajil, die tweede oudste, lees ons nêrens meer van nie – hy het heel moontlik ook die naam Daniël gehad volgens 1 Kronieke 3:1; Absalom, die derde oudste, is natuurlik vroeër in sy opstand teen Dawid, om die lewe gebring). 

Dit is dus ‘n kind wat gebore is in die tyd van sy koningskap oor die hele Israel, wat voorkeur geniet, en nie die kinders wat gebore is in die tyd van sy heerskappy net oor Juda nie (vgl 2 Samuel 5:5).

Dit tref my ook hoe Salomo aanvanklik met baie grasie optree teenoor Adonia, deur te belowe dat hy hom nie sal doodmaak nie (1:52-53).   Adonia se dwase versoek om Abisag as vrou verseël egter Adonia se lot.

Dit is tragies dat ook Simeï aanvanklik aan Salomo se kant is (1:8), maar uiteindelik deur Salomo doodgemaak word, op grond van Dawid se wrok teenoor hom (2:8 – vgl. 2 Samuel 16:5-14 en 19:15-23).  Sy vroeëre keuse vir Absalom in plaas van Dawid, sowel as die feit dat hy ‘n familielid van Saul was, speel heel moontlik hierin ‘n groot rol.

Let ook op hoe die profesie van die Here oor die huis van Eli voltrek word met die uiteindelik dood van Abjatar (2:27 – vgl. 1 Samuel 2:27-36; 3:11-14; 22:6-23).  Abjatar maak die sleutelfout hier om vir Adonia te ondersteun, waardeur die voorkeur van die Sadokiete as priesterlike huis bevestig word.  Hulle skaar hulleself agter Salomo (1:8).

Salomo tree dus met groot wysheid op, selfs voor die gesprek tussen hom en die Here daaroor (hfst. 3).  Deur Dawid se laaste bevele uit te voer, met die hulp van Benaja, bevestig hy sy koningskap deur van Adonia, Abjatar, Joab en Simeï ontslae te raak.

Ander mense en plekke van betekenis

  • Sunem (rusplek) was in die gebied van Issaskar (Jos 19:18), waar Elisa later in die huis van die Sunamitiese vrou tuisgaan (2 Kon 4:8). Dit speel ook ‘n rol as die woonplek van die Sulammitiese vrou, die bruid in Hooglied (6:13).
  • Abisag se naam beteken: “die vader is op reis” wat moontlik betekenisvol verwys na Dawid se naderende dood.
  • Benaja was die leier van Dawid se Filistynse lyfwag en een van die helde (2 Sam 8:18; 23:20 – vgl. sy heldedade o. a. deur ‘n leeu in ‘n put dood te maak).  Sy pa, Jojada, was op ‘n tyd hoëpriester (1 Kronieke 27:5) en ook betrokke by Dawid se aanvanklike troonbestyging in Hebron (1 Kronieke 12:23).  Daar word hy as ‘n Aäronitiese vors met 3700 man onder hom beskrywe!
  • Reï is vir ons onbekend.

Die verhaal van Salomo word voortgesit met klem op sy wysheid en voorspoed.  ’n Tema wat uiteindelik tot sy afvalligheid aanleiding sou gee, word egter ook aangeraak in hfst. 3, sy huwelik met Farao se dogter.  Salomo was lief vir uitlandse vroue en hulle afgode sou hom verlei om hulle te aanbid.

Let op dat Salomo steeds op die hoogtes offer, hier by die vernaamste een in Gibeon.  Dit was ook die plek waar die tent van ontmoeting (2 Kronieke 1:2-13) was.  Dit is betekenisvol dat dit juis hier is waar die Here in die droom aan Salomo verskyn.

Salomo wys sy liefde vir die Here deur gehoorsaam te wees aan die opdragte van sy pa.  Let op hoe hy Dawid ook in sy droomgesprek met die Here erken en respekteer.

Hy vra vir gehoorsaamheid aan God dat hy reg sal regeer en in alles insig sal hê.  Gehoorsaamheid in die oorspronklike beteken eintlik ’n “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal “discerning heart”.

God gee daarmee vir hom die ander goed ook, dié dinge wat hy nie gevra het nie.

Daarna keer hy terug na Jerusalem toe en bring sy offers daar.

Boodskap en betekenis

Die wysheid wat God gee, is onmiddellik sigbaar in die volgende hoofstuk met die uitspraak wat Salomo gee in die geval van die seuntjie wat doodgelê is.  Dit verleen hom hoë agting in die oë van die volk as ’n man wat Goddelike wysheid het.  Hy raak bekend vir sy spreuke, liedere en gedigte in die hele Midde-Ooste (4:29-34).  Let op hoe die onderwerpe waaroor hy skrywe ook die aarde en die skoonheid van plant en dier insluit.

Twee van die streekbestuurders was getroud met Salomo se dogters wat sy greep op die administrasie verklaar.

Die beloftes aan Abraham word waar: hfst. 4:20: “Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see.”  Interessant dat van hulle gesê word dat hulle gelukkig was.

Salomo het ’n groot huishouding gehad: 15 ton meel per dag, 30 beeste en 100 skape behalwe die wild en hoenders!

Salomo heers oor die grootste gebied van al die Israeliese konings.  Hy verwesenlik die Abrahamitiese droom om die land te besit van Dan tot Berseba.  Die ideaal van “elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit” (4:25) word bereik en bly ook die ideaal waaraan die profete die toekoms meet.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar