JAKOBUS 3:13-4:3, 7-8a

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JAKOBUS 3:13-4:3, 7-8a

Ek gee ‘n bietjie wyer konteks om die teks te kan verklaar.

HEMELSE EN AARDSE WYSHEID

13Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. 14Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie. 15Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. 16Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor. 17Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. 18En die vrug van •geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.

ONMIN BINNE DIE GEMEENSKAP

41Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? 2Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. 3Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring. 

4Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God. 5Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het? 6Maar Hy gee groter genade – daarom sê Hy:

“God staan die hoogmoediges teen,

maar aan die nederiges gee Hy genade.”

7Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. 8Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. 

Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! 9Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. 10Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog.

RESPEK VIR MEKAAR

11Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. As jy die wet oordeel, is jy nie ‘n doener van die wet nie, maar ‘n regter. 12Daar is net een Wetgewer en Regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel?

AFHANKLIKHEID VAN GOD

13Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na hierdie of daardie stad gaan, en ‘n jaar daar deurbring, en handel dryf en wins maak.” 14Julle weet nie eers wat môre gaan gebeur nie. Hoe is julle lewe dan? Dit is maar ‘n miswolkie, wat net vir ‘n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn. 15Julle moet eerder sê: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” 16Maar nou spog julle oor julle hoogmoedige optrede. Sulke gespog is verkeerd. 17As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, is dit vir hom sonde. (2020-vertaling)

Teks en konteks

3:13-18 – Die vredemakende krag van sagmoedige wysheid

Jakobus brei vervolgens uit oor die bron vanwaar dié rigtinggewende of destruktiewe kragte ontspring.  Die wysheid van bó af, d.w.s. van God af, kan met agt byvoeglike naamwoorde beskryf word as suiwer, vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis, vol goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.

Die wysheid wat aards is, kan beskryf word as niegeestelik en demonies, en kom na vore in bittere afguns en selfsug, leuens, wanorde en allerlei gemene dade.

Die wyses en verstandiges onder die geloofsgemeenskap wys in hulle goeie gedrag en dade die sagmoedige karakter van hulle wysheid.  Die ander die teendeel deur die afguns en selfsug, wanorde en gemeenheid wat hulle lewens kenmerk.

Jakobus wys daarop dat hierdie sagmoedige wysheid ‘n vredemakende krag het wat geregtigheid tot gevolg het.  Iets om te onthou in die luister na wat God se ingeplante woord ons wysmaak oor die lewe.

Jakobus gaan dieper in op die bron van die destruktiewe kragte wat in ‘n hele aantal van die gemeentelede aan die werk is en wat in die oorloë en gevegte te siene is wat onder hulle voorkom.  Dié onmin en konflik kom van die “begeertes wat in julle ledemate oorlog voer.

Hy raai hulle dus aan om op drie maniere daarmee te handel:

  • Vertrou God vir sy voorsiening – 4:1-10
  • Moenie van mekaar kwaadpraat nie – 4:11-12
  • Leef afhanklik van God – 4:13-17

4:1-10 – Vertrou God vir sy voorsiening

Uit Jakobus se beskrywing van die onderlinge oorloë en gevegte onder lede van die geloofsgemeenskap, is dit duidelik dat hulle aandag moet gee aan hulle verhouding met God, hulle verhouding met hulleself en hulle begeertes en omstandighede, sowel as aan hulle verhouding met mekaar .

Die onderlinge konflik en onmin – metafories beskryf as moord – kom van hulle begeerte na besittings wat vererger word deurdat hulle dié wat wel iets het, met jaloesie bejeën.  In plaas daarvan om die Here te vertrou vir sy voorsiening en van Hom te vra wat hulle nodig het, veg hulle met mekaar, en veroorsaak dit vyandskappe en stryd.

Daarom moet hulle in die eerste plek aandag gee aan hulle verhouding met God.  Hulle gebedsverhouding met Hom moet herstel word.  Hulle tree eintlik as vreemdelinge teenoor God op – soos egbrekers – terwyl hulle vriende kan wees!  Dit moet hulle bedroef maak en laat huil – nie om die situasie só te laat nie, maar om dit reg te stel.  Hulle moet as vriende van God leef, tot Hom nader, met Hom gemeenskap beoefen. 

In die tweede plek moet hulle aandag gee aan hulle verhouding met hulleself en hulle begeertes.  Dit sluit in dat hulle op God se voorsiening vertrou en nie net van Hom dinge vra wat eintlik net hulle wellus sal bevredig nie.  Soos Paulus daaroor geskryf het: “Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank.  En die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4:5-7).

Dit sluit in dat hulle die duiwel sal weerstaan, in terme van die versoeking waarvoor hulle eie begeertes hulle stel, soos in die Ons Vader verwoord: “bring ons nie in versoeking nie, maar red ons van die Bose” (Matt. 6:13).  Dit sluit ook in dat hulleself aan God verbind in dade – “reinig die hande” – en gedagtes – “suiwer julle harte”.

En die rede vir dié manier van doen en leef, is dat: “God met jaloersheid waak oor die Gees wat Hy in ons laat woon.”  Hy verwys hier na ‘n redelike algemene Skrifbeginsel, eerder as na ‘n direkte aanhaling (vgl. Eks. 34:24; Sag. 8:2).  God wil ons vriend wees, nie ons vyand nie.  Daarvoor kan ons Hom vertrou.

4:11-12 – Moenie van mekaar kwaadpraat nie

In die derde plek moet hulle aandag gee aan hulle verhouding met mekaar.  Hulle moenie van mekaar kwaadpraat nie, veral nie wanneer dit gebore is uit hulle jaloesie oor wat die ander besit nie.  Dan raak hulle soos regters wat ‘n oordeel uitspreek oor mekaar, en God se voorsiening in ander se lewens beoordeel, en selfs veroordeel.  Deur mekaar te respekteer, respekteer hulle eintlik vir God self.

4:13-17 – Leef afhanklik van God

Die somtotaal van sy boodskap aan hulle is dat hulle in afhanklikheid van God moet leef.  Dit moet so wees in terme van hulle beplanning van hulle werkslewe.  Dit geld ook in terme van hulle omgee vir ander: “As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, geld dit vir hom as sonde.”  God seën ons immers om tot ‘n seën te wees.

Boodskap en betekenis

Om ‘n vriend van God te wees, is die grootste geskenk wat ‘n mens kan kry.  Dít is immers waarom Hy sy Gees in ons laat bly, sodat ons onbelemmerde kontak met Hom kan geniet.  Al sy voorsiening en vrygewige genade kom na vore in dié verhouding met Hom.  Daarom kan ons met oorgawe werk aan ons verhouding met Hom, kan ons ons begeertes voor Hom bring en van Hom afhanklik lewe.  En kan ons in deernis teenoor mekaar optree, sonder om in gevegte betrokke te raak oor dít wat ons dink ander het wat meer is as wat ons self besit.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Dr Chris, die OnseVader het een gedagte of opdrag wat vreemd op die oor (en hart) klink. “… en lei ons nie in die versoeking nie”. Ek glo God sa nie Sy kinders in versoeking laat kom nie. Hoe moet ‘n leser hierdie gedeelte verstaan?

    • Hi Chris, die sesde bede in die Ons Vader: “Laat ons nie in versoeking kom nie”, (Matt 6:13) kan ook vertaal word as: “Lei ons nie in (‘n tyd van) toetsing nie” wat retories verstaan kan word as “laat ons nie sondig nie”. Dit maak vir my baie sin, want God kan niemand versoek nie, en die gebed gaan mos eintlik oor die feit dat ons van God vra om ons digby Hom te hou, sodat ons nie afdwaal deur ons sonde nie. Die frase wat daarmee verbind word: “verlos ons van die Bose,” is ‘n beter vertaling as ander wat lui: “bewaar ons van die Bose”. Die gebed om verlossing van die Bose gaan oor die verlange dat God finaal met die Bose sal klaarspeel. Die Bose (ponerou) kan ook onpersoonlik verstaan word, maar verpersoonliking maak vir my hier beter sin weens die bepaalde lidwoord wat daarmee saam gebruik word. Dit is ook hoe dit gebruik word in Matteus 5:39. Dit is dan ook die perspektief van Jakobus dat God niemand in versoeking kan of ooit sal lei nie. Jy hoef nie te bid dat dit nie sal gebeur nie, want dit kan nie. ‘n Mens word net deur jou eie begeertes versoek.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: