Skip to main content

JESAJA 6:1-8

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JESAJA 6:1-8

Ek gee die teks van die hele hoofstuk 6 ter wille van konteks:

Jesaja se taak as profeet 

1 In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op ‘n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die tempel gevul.

2 Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg.

3 Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.”

4 Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword. 

5 Ek het gesê: 

“Wee my, want ek is verlore!

Want ek is ‘n mens 

met onrein lippe, 

en by ‘n volk met onrein lippe 

woon ek. 

Ja, my oë het die Koning, 

die Here, Heerser oor alle magte, 

gesien.” 

6 Een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool by hom wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het.

7 Hy het my mond aangeraak en gesê: 

“Kyk, dit het jou lippe aangeraak, 

jou sondeskuld het gewyk, 

daar is vir jou sonde 

versoening gedoen.” 

8 Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê: 

“Wie sal Ek stuur

en wie sal vir ons gaan?” 

Ek sê toe: 

“Hier is ek, stuur my!” 

9 Hy het gesê: 

“Gaan sê vir hierdie volk, 

‘Luister goed, 

maar moenie verstaan nie; 

kyk goed, 

maar moenie begryp nie.’ 

10 Maak die harte van hierdie volk 

ongevoelig,

maak hulle ore doof

en smeer hulle oë toe, 

sodat hulle nie sien met hulle oë, 

met hulle ore nie hoor, 

en met hulle hart nie verstaan, 

en nie terugdraai 

en genees word nie!” 

11 Daarop vra ek: 

“Tot wanneer, my Heer?” 

Hy het geantwoord: 

“Totdat die dorpe vervalle lê 

sonder inwoners, 

die huise sonder mense is, 

die land verval tot ‘n woesteny, 

12 en die Here die mense 

ver wegdryf, 

en die verlatenheid in die land 

groot is. 

13 As daar nog ‘n tiende 

in die land is, 

sal die land weer aan 

verwoesting uitgelewer wees. 

Tog sal by hulle ‘n stomp oorbly, 

soos van ‘n terebintboom en ‘n eikeboom 

wanneer hulle neergevel is. 

Die stomp van die land 

is ‘n heilige geslag.” (2020-vertaling).

Teks en konteks

Die toneel speel hom af in die jaar 740 vC.  Dit is nie duidelik of dit aan die begin van Jesaja se bediening is of nie.  As dit was, sou ’n mens dit as ’n roepingsvisioen kon beskryf, hoewel dit in elk geval ’n deurslaggewende rol speel in die tipe boodskap en rol wat hy verkondig en vervul.

Hoofstuk 6 val in drie dele uiteen:

  1. Die visioen van God se heilige teenwoordigheid oor die hele aarde (6:1-4);
  2. Die reiniging van Jesaja wat hom voorberei vir sy taak (6:5-7);
  3. Die gesprek tussen God en Jesaja waarin hy geroep en gestuur word met ’n boodskap van oordeel sowel as ’n stukkie hoop vir die oorblyfsel (6:8-13).

Die gesprek tussen God en Jesaja het sterk raakpunte met temas wat reeds in die eerste 5 hoofstukke aangeroer is, beide in terme van die oordeel as die heil wat God aankondig.  Dit dien ook as ’n belangrike inleiding vir die verdere profesieë aan die sterwende Ussia se kleinseun Agas op wie se halstarrigheid God ook met ’n boodskap van oordeel en hoop reageer (hfst 7 vv).

6:1-4 – Ussia (vgl die ekskursie oor hom aan die einde van dié bydrae) was waarskynlik ’n oom of neef van Jesaja volgens ’n Joodse tradisie in die Talmoed.  Ussia word ook Asarja genoem in 2 Kon 15 wat moontlik sy geboortenaam was met Ussia sy troonnaam.  Hy was ’n goeie koning, wat ’n lang en voorspoedige regering gehad het, hoewel hy aan die einde daarvan met melaatsheid gestraf is weens sy arrogante poging om – soos Saul lank tevore (1 Sam 13) – priesterlike verpligtinge op homself te neem (2 Kon 15; 2 Kron 26).

In die sterfjaar van Ussia, waar dinge reeds verval het weens Ussia se sonde, en daar groot internasionale bedreiginge was (Peka van die buurvolk Israel, en Resin van die Arameërs probeer Juda oorreed om teen Assirië, die wêreldmoondheid, ’n alliansie te sluit) sien Jesaja die gesig van God se heerlikheid, sy heiligheid, sy heerskappy.  “Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (כָּבֹוד)” – sy heerlikheid is soos ‘n kleed wat swaar oor die aarde hang.

Die serafs (vergelyk ‘n ekskursie oor hulle aan die einde van hierdie bydrae) bevestig dit dat die grote God ook op die aarde werksaam is – trouens die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid.  Letterlik sê hulle dat God se gewig soos ‘n kleed oor die aarde lê.  Die woord wat hier in Hebreeus gebruik word,  beteken “gewig” of dan spesifiek “dít wat gewig dra of wat tel” en word dikwels met “Majesteit” of “heerlikheid” vertaal.  Met ander woorde:  God kan nie geïgnoreer word nie – Hy rus op die hele aarde en op elke persoon – en Hy is te swaar om af te gooi.  Vra maar vir diegene wat dit al probeer het! 

En die uitstaande kenmerk van dié God, sê die serafs, is sy Heiligheid.  Normaalweg verstaan ons heiligheid as apart, afgesonderd, onaantasbaar, maar dit kan as ‘n onweerstaanbare lig (van ‘n ander woord quddushu [ipv qadosh] afgelei) verstaan word wat beteken “om te skyn” of te “suiwer”.

6:5-7 – Daarom dat Jesaja die gesig ervaar as ‘n ontnugterende ervaring.  Hy is oorweldig: “Dit is klaar met my!” En hy is bewus van sy en sy volk se onheiligheid: “Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is.”

Ons het ‘n heersende praktiese teologie in die kerk, dat God geen eise stel nie, dat Hy die vriendelike aanvarende goedige kondukteur omie is wat vir ons ‘n kaartjie hemel toe gee en sal sorg dat ons die trein nie verpas nie.

Niks kan verder van die waarheid wees nie.  God is heilig – Hy duld nie onheiligheid nie.  God is rein – Hy duld nie onreinheid nie. 

6:8-13 – En dié God stuur sy mense – Hy duld nie onaktiewe gelowiges nie.  In sy oë is hulle slegter as die ongelowiges.  In die brief aan die gemeente in Laodisea sê Hy, Hy spoeg sulke mense uit sy mond uit (die 7de brief aan ’n gemeente in Open 3:14-22).

Gen wonder dat Jesaja amper van angstigheid oor sy voete val om gestuur te word!  Dit is die teologie wat ons moet aangryp.  “ Ek sal gaan, Here” “Hier is ek. Stuur my!”

Eers na sy antwoord besef Jesaja hoe moeilik sy werk as profeet gaan wees – hy moes die totale ondergang van die volk gaan verkondig.  Hulle land sou ‘n puinhoop word danksy die oordeel van God (vers 11).  Alles sou tot niet gaan.  Hy sou lynreg teenoor die heersende koning, sy nefie, standpunt moes inneem.  En net om sy werk nóg ‘n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie (vers 9-10)!  Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar.  Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie.  Jesaja se werk as profeet is eerder om hulle verdwaas en deurmekaar te laat (vers 9-10), sodat hulle hulle nie bekeer nie.

 Teologies is dit sekerlik die mees problematiese deel van die perikoop.  Kan God dit doen?  Mense verblind en laat stol in hulle sonde?  Ja, vra maar vir Farao (Eks 9:12 ev.).  Wat ons moet verstaan, is dat die boodskap van Jesaja hier eintlik alreeds deel van God se oordeel is en nie deel van ‘n uitnodiging tot bekering nie

Terloops, Jesus haal die verse in Mark 4:10-12 en Matt 13:14-15 aan om op dieselfde wyse sy doel met gelykenisse, en meer spesifiek die gelykenis van die Saaier, te verduidelik!  En ook Paulus verwys na dié profesie as hy verduidelik hoekom die evangelie na die heidennasies uitgebrei is, omdat die Jode nie wou luister nie (Hand 28:26-27).

Ekskursie oor Ussia en sy tyd

Ussia was ’n goeie koning wat die grondgebied van Israel wyd uitgebrei het in sy 52 jaar van regering.  Hy het Elat, aan die golf van Akaba van die Rooi See, ingeneem en herbou wat die Jode weer ‘n noodsaaklike hawe vir handel na die Ooste gegee!  Hy het groot veldslae teen die Filistyne aan die Weste gevoer en van hulle grondgebied  aan die Middellandse See ingewin, om ook sy toegang tot die see in die Weste uit te brei.  Hy het Jerusalem se mure versterk, die ekonomie laat bloei deur onder andere uitgebreide landbou bedrywighede  in die Negev, suid van Jerusalem.  Die grense van Juda was weer so groot as in die tyd van Dawid en Salomo.

Maar, Ussia het een probleem gehad.  Hy het nie van die hoogtes, die plekke waar die volk nog diereoffers en wierookoffers gebring het aan ander gode, ontslae geraak nie.  En die Here het hom gestraf daarvoor met melaatsheid en hy moes die laaste twaalf jaar van sy lewe in ‘n plek van afsondering bly.  Sy seun Jotam moes op ‘n baie vroeë ouderdom, net 13 jaar oud, die paleis bestuur en eintlik die hele land regeer. 

Op die koop toe, in die sterwensjaar van Ussia, 742 vC – daar is ‘n grafsteen uit die tyd van Christus met sy naam op – het daar nog ‘n paar dinge gebeur wat die stabiliteit ondermyn het.

Peka het in die jaar koning oor Israel geword – die ryk van die 10 noordelike stamme – en die vrede wat daar op die stadium tussen die Israeliete en die Judeërs – die 2 suidelike stamme – geheers het, amper onmiddellik tot niet gemaak en saam met Resin, die koning van die Arameërs, vir Juda ingeval. 

Koning Tiglat-Pileser III van Assirië was besig om sy ryk algaande sterk uit te brei.  Hy het Israel net hierna ingeval en ‘n stukkie verligting gebring deur Peka se regering onder druk te plaas.  Maar hy het ook vir Juda ingeval en algaande onder sy beheer gekry, sodat net 9 jaar later, in 733 vC, Juda ‘n deel van sy ryk was. 

Sy opvolger, Salmaneser, het die noordelike stamme van Israel finaal oorwin, hulle hoofstad Samaria verwoes en die 10 stamme van die volk van Israel weggevoer na Assirië.  Dit was in die jaar 722 vC.  Juda het dié katastrofe vrygespring, maar moes steeds onderdanig aan die Assiriërs bly.

Assirië was die wêreldmoondheid van dié tyd en het op hulle hoogtepunt die hele huidige grondgebied van Iran, die hele Irak, Sirië, Israel, Jordanië, en die boonste deel van Saoedië –Arabië, sowel as die hele Egipte in hulle mag gehad.

Interessant genoeg het die mense in die Weste juis in dié jaar van Ussia se dood begin bou aan Rome, wat uiteindelik oor die groot Romeinse ryk van Jesus se tyd sou heers.

Ekskursie oor die Serafs

Die serafs was vurige of brandende wesens, soms geïdentifiseer met slangvormige wesens, op voetspoor van die giftige slange in Num 21:4 vv, waarvoor Moses ‘n koperslang as genesingsmiddel moes maak. Jesaja self praat ook op ‘n ander plek van serafs, giftige slange, wat kon vlieg, wat hy ook vlieënde drake noem (Jes 14:29 en 30:6).  In die Nederlandse vertaling word hulle “bliksemgedaanten” genoem, met as titel vir die perikoop “Jesaja en de Slangewezens”. 

Hoe dit ook al sy, dit is vurige wesens wat vir ewig in die teenwoordigheid van God is, altyd besig om Hom te vereer, altyd gereed om te doen wat Hy vra.  Serafs is nie dieselfde as die gerubs nie, ook nie dieselfde as engele nie.

Hulle het 6 vlerke – met 2 maak hulle die gesig toe twv die verblindende heiligheid van die Here en met 2 maak hulle die “voete” toe, eufemisme vir hulle privaatdele, wat ‘n verbintenis tot reinheid impliseer en 2 vlerke word gebruik om gereed te wees om God se opdragte uit te voer.

Boodskap en betekenis

Daar kom ‘n tyd dat jy nie meer God se aanbod om bekering kan aanvaar nie.  En God stuur ook mense om dit te gaan sê!  En hy neem sy boodskap van bekering dan na ander …

Dit torring aan ons heersende idee van God, dat Hy altyd goed is, altyd vergewe, altyd weer ‘n kans gee … en aan wat ons moet sê as ons God se opdrag uitvoer …

Maar dit is nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie.  Op die vraag van Jesaja, “Tot wanneer” antwoord die Here, “tot alles verwoes is” … maar vervolg met ‘n boodskap van hoop, dat na die verwoesting, daar ‘n afgekapte stomp sal oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die gewyde geslag, die geslag van die mense van God.

Dat ons enigsins en hoegenaamd glo, is God se werk!  Die evangelieskrywer Johannes vertel in verwondering, hoe, ten spyte van die werklikheid van onbegrip onder die Jode met die evangelieverkondiging van Jesus, daar tóg selfs mense van die Joodse Raad was wat tot geloof gekom het, al was dit menslik gesproke onmoontlik (Joh 12:40).

Ons moet dus nie te gou oordeel of ons self as beter ag as ander nie.

In die laaste toneel van die fliek A walk in the clouds, net nadat die wingerd afgebrand het, en almal dink dit is klaar met hulle, hardloop die hoofkarakter (gespeel deur Keanu Reeves) om ‘n stukkie van die wingerd te gaan haal wat nog lewe – ‘n brandende stomp wat oorgebly het.  Daarmee bring hy weer hoop vir ‘n nuwe begin.

Geen wonder dat Jesaja se naam is: die Here is Verlossing.  Daarin lê die hoop, al is dit ook iets wat groei uit ‘n afgesnyde stomp.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar