MARKUS 12:38-44

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 12:38-44

WAARSKUWING TEEN DIE SKRIFKENNERS

(Matt 23:1-36; Luk 20:45-47)

38In sy lering het Jesus gesê: “Pasop vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, op die markpleine begroet te word, 39en die voorste sitplekke in die sinagoges en ereplekke by die feesmaaltye in te neem. 40Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang.”

OFFERGAWE VAN DIE ARM WEDUWEE

(Luk 21:1-4)

41Jesus het oorkant die offergawekis gesit en kyk hoe die skare kopermunte in die offergawekis gooi. Baie rykes het baie ingegooi. 42‘n Arm weduwee het gekom en twee lepton, wat saam ‘n kwadrant werd is, ingegooi. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Amen, Ek sê vir julle dat hierdie weduwee, wat brandarm is, meer ingegooi het as almal wat geld in die offergawekis gegooi het. 44Want almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het ten spyte van haar behoeftigheid alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”

Teks en konteks

12:38-39 Markus gee ook, soos Lukas, hierdie gesprek korter weer as Matteus. Jesus waarsku die dissipels teen die skrifkenners wat met togas (stolais – lang gewade) rondloop om hulle status aan te dui en hou van die begroetings op die markte. Hulle hou ook van die eresitplekke in die sinagoges – waarskynlik aan die voorkant waar ander hulle kon sien – en van die beste plekke by die publieke funksies.

12:40 Maar, in die geheim steel (“eet”)  hulle die huise van die weduwees. En dink niks daarvan om dan in die openbaar ‘n vroom gesig op te sit en vir die skyn lang gebede op te sê. Jesus sê, hulle sal ‘n buitengewone oordeel ontvang, ‘n swaarder straf as ander diewe. Soos een kommentaar dit stel: “It is precisely because they pray, that their condemnation will be the more terrible, more than that of a rogue who robs outright without pretence of prayer or religion.” (Alan Cole).

12:41 Markus vertel vir ons dat Jesus ná sy gesprek met die skrifkenners by die offerkis (gazophylakion) gaan sit het. Dit was in die voorhof van die vroue. Hy het gekyk hoe die skare geld in die offerkis gooi. Die rykes was nie skaam om baie te gee nie. Hulle geld het deur die trompetagtige buise ingerol met ‘n bevredigende geklingel (daar was dertien sulke offerkiste).

12:42 Toe het ‘n arm weduwee twee lepta – twee van die kleinste Griekse muntstukke – ingegooi. Markus maak die opmerking dat dit dieselfde werd was as ‘n kodrantes – die kleinste Romeinse muntstuk (vgl Matt 5:26). Dws 1/64 van ‘n denarius, die gebruiklike dagloon van daardie tyd. Dws, as ‘n werker vandag die minimumloon (R21,69 per uur) vir ‘n 12-uur dag se werk sou verdien het, sou die dagloon R260,28 wees. Deel dit met 64 en jy kom by R4 uit. Die weduwee het dus in vandag se terme twee R2 muntstukke ingegooi.

12:43-44 Jesus het sy dissipels se aandag op die arm weduwee gevestig. Sy het meer ingegooi as al die rykes saam, omdat hulle uit hulle oorvloed gegee het, maar sy uit haar armoede. Trouens, sy het alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe. Haar geld kon vir haar hoogstens ‘n handvol meel koop vir ‘n eenvoudige maal. Haar liefde vir die Here het haar egter selfs die klein bietjie wat sy gehad het, laat opoffer.

Boodskap en betekenis

Jesus kontrasteer die skynheiligheid van die skrifgeleerdes vir wie status en roem alles is met hulle gierige onderduimsheid deur agteraf die weduwees in te doen. Practice what you preach, sê die gesegde.

Die gedeelte oor die weduwee illustreer ‘n baie belangrike geestelike beginsel. Oorgawe word gemeet nie aan wat ons gee nie, maar aan wat ons vir onsself hou. Soos Alan Cole sê: “It is well to remember that God measures giving, not by what we give, but by what we keep for ourselves.” (kommentaar op Markus).

Die arm weduwee gee dus wat sy het, haar hele  lewe. En al weet sy ook dat haar gawe deur die Joodse Raad gebruik gaan word, gee sy dit steeds, omdat sy aan God getrou wil bly.  Dit is dié tipe gelowiges wat Jesus se hart roer en wat Hy vir ons as voorbeeld voorhou.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Marinda Hattingh

    Goeiedag dr. Chris,
    en baie sterkte en seënwense met al die nuwe verantwoordelikhede.
    Word die tiende offergawe reël bloot in geldwaarde gemeet?

    • Hi, Marinda. Dankie! Waardeer. Die Tiende sluit nie net geld en besittings in nie. Dit sluit ook tyd en diens in. Maar, onthou, eintlik behoort ons 100% aan die Here. Die vraag is dus meer wat het die Here vir ons vir eie gebruik gegee. Die res van ons gawes en geld gebruik ons soos Hy ons lei om dit te doen.

  • Marinda Hattingh

    Ekskuus, was vir ñ ruk buite seingebied. Báie dankie (weereens) vir ñ klinkklare Skrifgebonde antwoord.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: