Skip to main content

PSALM 4

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 4

1 Vir die musiekleier. Met snarespel. ‘n Psalm. Van Dawid. 

2 God wat my reg handhaaf, 

antwoord my wanneer ek roep. 

Toe ek in die noute was, 

het U vir my ruimte gemaak; 

wees my genadig, en hoor my gebed. 

3 Mense, hoe lank nog 

gaan julle my eer skend? 

Julle het nietigheid lief, 

julle jaag leuens na. Sela

4 Julle moet weet dat die Here

sy getroue volgelinge 

uitsonderlik behandel. 

Die Here hoor wanneer ek 

na Hom roep. 

5 Sidder, moenie sondig nie;

dink na op julle beddens 

en wees stil. Sela

6 Bring offers van geregtigheid 

en vertrou op die Here.

7 Baie mense sê: “Wie sal ons weer 

die goeie laat beleef?” 

Laat die lig van u teenwoordigheid 

oor ons skyn, Here! 

8 U het vreugde in my hart gegee, 

meer as in die tyd wanneer 

mense se koring en nuwe wyn volop is. 

9 In vrede kan ek gaan lê 

en dadelik aan die slaap raak, 

want net U, Here,

laat my veilig woon. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Sommige geleerdes dink dat die omstandighede van Psalm 3 en 4 dieselfde is – die tragiese verhaal van Dawid se vlug voor sy geliefde seun Absalom. Dawid sou dan Psalm 4 die aand na sy vlug uit Jerusalem kon gebid het (vgl Ps 4:9 – “nou sal ek onbesorg gaan lê”) en Psalm 3 die volgende oggend (vgl Ps 3:6 – “ek word ook weer wakker”).

Sommige dink dat ’n mens in Psalm 4 eerder moet dink aan die ervaring van swak– of misoeste, moontlik weens droogte, na aanleiding van vers 8 wat ’n skerp kontras trek tussen die Psalmis/Dawid en die mense wat koring en wyn in oorvloed het.

Terloops: die woord Sela kom meer as 70 keer voor in ongeveer 40 van die Psalms, waarvan die eerste hier in Psalm 3 en 4 is. Die betekenis van die woord is onbekend, maar dit wil lyk asof dit ’n pouse in die lees of sing van die Psalm aangedui het, waarskynlik ’n teken vir die koorleiers en musikante. Ons moet dit dus eintlik nie lees of sing nie, maar ’n oomblik van stilte gee, as ons by die woord Sela kom.

Soos altyd in sy lewe, sê Psalm 4, moet Dawid sy geloof en vertroue in God alleen stel, al is daar baie teenstand van (naby?)-mense wat dié geloof en vertroue bespotlik maak en eintlik hulle ongeloof demonstreer dat God enigsins kan optree. Dawid is oortuig dat die Here steeds wonders doen vir dié wat Hom daarvoor vertrou.

Vers 5 is waarskynlik ’n stukkie lewenswysheid wat Dawid neerpen – midde in sy gebed – wat ons leer dat ’n mens nie self negatief op ongelowige perspektiewe moet reageer nie, en op die Here alleen moet vertrou: “As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby!“

Die uitsonderlike uitdagings in die lewe moet ons nie verlei om die normale dinge wat God van ons vra na te laat nie (bv offers in Dawid se tyd – geestelike offers [ons hele manier van lewe] in ons tyd – 1 Pet 2:5 en Rom 12:1-2). Ons moet dié dinge bly doen, terwyl ons Hom vertrou vir die uitdagings.

Dan kan ons met oorgawe fokus op wat God gaan gee en bring dit rus in ons gemoed – soos Dawid sê – wat ons rustig laat slaap en veilig laat woon. En dink net – as dit waar sou wees dat Dawid dié gebed bid terwyl hy besig is om te vlug van Absalom – met hoeveel meer oortuiging jy in jou eie krisisse op hierdie vrede-gewende God kan staatmaak.

Dit laat my ook dink aan Fil 4:6-8 wat ons aanmoedig om ons gedagtes te fokus op dit wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is, NADAT ons ons begeertes in alles aan die Here in gebed, smeking en danksegging bekend gemaak het. Dit is dan dat die vrede van God ons emosies en beplanning in die regte rigting sal begelei!

Boodskap en betekenis

Die psalm nooi jou uit om na te dink oor die dinge waaroor jy ontsteld is en rus te kry by God. Gebruik dus die Psalm om die konflikte in jou lewe voor die Here te bring en vir sy “glimlag” te vra, soos ’n mens vers 7 kan verklaar: “verhef oor ons die lig van u aangesig, o Here!” (NAV het “goedgesind”).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda