Skip to main content

MARKUS 1:29-39

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

29 En net toe hulle uit die sinagoge uitkom, het hulle saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas gegaan.

30 Die skoonmoeder van Simon het siek gelê met koors en hulle het Hom onmiddellik van haar vertel.

31 Hy het nadergegaan, haar hand gevat en haar opgewek. Die koors het haar toe verlaat en sy het hulle bedien.

32 Toe dit aand geword en die son ondergegaan het, het hulle al die siekes na Hom toe gebring, asook dié wat duiwelbesete was.

33 En die hele dorp het saamgedrom by die deur.

34 En Hy het baie siekes met verskillende siektes gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het ook nie die demone toegelaat om te praat nie omdat hulle Hom geken het.

35 Vroegoggend, toe dit nog baie donker was, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n verlate plek vertrek en daar gaan bid.

36 Maar Simon en dié saam met hom het Hom naarstiglik gesoek,

37 en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38 Hy het egter vir hulle gesê: “Laat ons elders heen gaan, na die aangrensende dorpe sodat Ek ook daar kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”

39 Hy het toe gegaan en in die hele Galilea in hulle sinagoges gepreek en demone uitgedryf. (ASV)

Teks en konteks

1:29 Markus vertel ook die verhaal van die genesing van Simon Petrus se skoonmoeder. Hy voeg egter die detail by dat Jakobus en Johannes Jesus van die sinagoge af vergesel het na Simon se huis. Dit lyk asof Andreas ook daar saam met sy broer Simon gebly het.

1:30-31 Getrou aan Markus se vinnig-vloeiende evangelie beklemtoon hy die spoed waarmee dit alles plaasvind. Die dissipels het onmiddellik vir Jesus van haar koorssiekte vertel. Jesus het nadergegaan, haar hand gevat en haar opgewek.

Dit is merkwaardig dat Markus dieselfde woord gebruik vir haar “opwekking” uit die koorssiekte as wat hy later ook sal gebruik vir die “opwekking” uit die dood. Die genesing van haar koors is dus as’t ware op dieselfde vlak as ‘n opwekking “uit die dood” uit. Markus gebruik dieselfde Griekse woord egeirō vir die genesing (vgl ook Mark 2:9,11-12; 5:41; 9:27) as vir die werklike opwekking uit die dood (Mark 6:14,16; 12:26; 14:28; 16:6).

As getuienis van haar volle genesing staan Simon se skoonmoeder op en bedien hulle. In Matteus se weergawe hiervan sonder sy Jesus in haar bediening uit.

1:32-34 Let op dat dit aand word met die son wat ondergegaan het. Dws, die sabbat was verby. Simon se skoonmoeder is genees terwyl dit nog sabbat was, terwyl die skares eers begin saamdrom by die deur van die huis van Simon vir genesing en bevryding toe die sabbat verby was.

Baie siekes en duiwelbesete mense is na Jesus gebring sodat daar ‘n samedromming by die deur van die huis ontstaan het. Let op dat siekte en besetenheid duidelik onderskei word. Let ook op dat hulle almal genees en bevry, maak nie saak aan watter siekte of besetenheid hulle gely het nie.

Dit is interessant dat die duiwels só goed weet wie Jesus is, en mense dit so moeilik agterkom, ten spyte van sy prediking en wonderwerke! Jesus keer egter telkens dat die demone sy identiteit as God bekend maak (Mark 1:25,34). Soos Paulus later ook in Filippi doen (Hand 16).

Jesus probeer ook keer dat die mense wat genees word ander van Hom vertel (Mark 1:44). Jesus waarsku selfs sy dissipels dat hulle nie te koop moet loop met die feit dat Hy die Christus is nie (Mark 8:30).

Hoekom? Aan die een kant wou Jesus die spoed waarmee die stories oor Hom versprei, vertraag, want binnekort sou Hy nie meer in van die dorpe kon bedien nie, weens die skares wat Hom gevolg het (Mark 1:45: ). Veral omdat die skares Hom eerder gevolg het weens die wonderwerke wat Hy gedoen het as weens sy prediking en boodskap. 

Aan die ander kant wou Jesus soveel as moontlik mense bereik vóórdat die Fariseërs en Skrifgeleerdes se teenstand Hom sou begin beperk. Sy poging om onder die radar te werk, het egter min gehelp, want kort hierna het die Joodse leiers begin om Hom teen te staan (Mark 2:23-3:6).

1:35 Jesus sonder Homself dan af. Markus vertel vir ons meer spesifiek as Lukas dat hierdie afsondering in ‘n verlate plek ‘n tyd van gebed was. Jesus se bediening was ingebed in sy gebedsverhouding met God (vgl. ook Mark 6:46 – op die berg; 14:32-42 – in Getsemane). Dit is ook vroegoggend, toe dit nog baie donker was. Die gemeenskap met God was vir Jesus belangriker as ‘n lang nagrus.

1:36-37 Markus se fokus is ook op die dissipels, eerder as op die skares. Hy vertel ons van Simon en dié saam met hom wat “naarstiglik” na Jesus soek. Onthou dat Markus Petrus se weergawe van die evangelie op skrif stel. Hulle soek na Jesus ter wille van die skare: “Almal soek U.”

1:38 Die tyd van gebed het Jesus egter oortuig dat na die aangrensende dorpe moet gaan, sodat Hy daar ook kan preek. Die rede? “Daarvoor het Ek gekom.”

1:39 Dit is dan wat Jesus ook doen. Hy is gehoorsaam aan die opdrag wat die Here Hom gee, en wat in die gebedstyd bevestig is. Hy sit sy reisende bediening voort in die hele Galilea en preek in die Joodse sinagoges en dryf demone uit.

Boodskap en betekenis

‘n Mens sien in vers 29-34 hoe Jesus aan die een kant amper voor die voet genees en bevry. Dit getuig van sy bereidheid om die effek van die sondeval ook in terme van siekte en besetenheid op te hef. Dit getuig van sy gesag oor die lewe en die dood. Die genesing is immers in Markus se oë gelykstaande aan ‘n opwekking uit die dood.

Aan die ander kant sien ‘n mens dat Jesus probeer keer dat Hy net as ‘n wonderwerker bekend staan. Daarom beperk Hy die sensasie wat amper onvermydelik die nuus oor sy wonderwerke sou vergesel. Hy wil hê dat sy wonders sy woorde sal onderstreep, want dit is uiteindelik sy woorde wat ons harte en lewens verander. En ‘n heel hart is belangriker as ‘n heel liggaam.

Ons leer meer daaroor in die ontstellende verhaal van die man wat by die poel van Betsata genees is. Hy is ná 38 jaar genees, maar lyk asof hy daarna steeds in sonde voort geleef het. Ons gaan later in meer detail daarna kyk. Maar hoor net Jesus se waarskuwing aan hom toe hulle later in die tempel ontmoet: “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat iets slegters nie met jou gebeur nie.” (Joh 5:14; vgl ook Joh 8).

Ten spyte van hierdie waarskuwing verklap die man egter Jesus aan die Jode wat aanleiding gee daartoe dat hulle Jesus oor die genesing vervolg het, omdat dit op ‘n sabbatdag gebeur het (Joh 5:15-16). Dit wil dus lyk asof die man sy Geneser verraai. Dat sy liggaam genees is, maar dat sy hart onaangeraak gebly het deur Jesus.

Ons moet dus genuanseerd kyk na genesing. God genees. Vandag nog. En Hy doen dit baie keer onmiddellik en sonder verwyt. Soos in die evangelies. Maar, die genesing van die hart is steeds die eintlike ding wat moet gebeur. En soms in sy wysheid sluit dit genesing van die liggaam uit.

Vergelyk die verhaal van Joni Eareckson Tada (A Place of healing: wrestling with the mysteries of suffering). Sy is ’n kwadrupleeg ná ’n duikongeluk. Sy het ’n wêreldwye bediening, maar steeds vanuit ’n rolstoel. Joni glo in genesing, maar bely dat die Here dit in haar geval nog nie gedoen het nie. Trouens, sy sukkel die afgelope tyd met toenemende pyn in haar verlamde ledemate en is onlangs weens kanker gehospitaliseer.

Sy soek egter: God’s redemption in her pain. Sy sê onder andere in haar boek:

“Pain is a bruising of a blessing; but it is a blessing nevertheless. It’s a strange, dark companion, but a companion – if only because it has passed through God’s inspecting hand. It’s an unwelcome guest, but still a guest.”

Hoe dink jy daaroor?

Markus beklemtoon in vers 35-39 nog meer as Lukas die kontak wat Jesus met God maak deur gebed en die roeping wat gevolglik daaruit vloei. Jesus se roeping lê in die verspreiding van die boodskap van die koninkryk van God aan alle Jode regdeur die land.

Uiteindelik is dit natuurlik ook hierdie boodskap wat aan alle mense gebring moet word, soos die verhale in Handelinge en die res van die NT vir ons vertel. Die evangelie moet tot aan die eindes van die wêreld verkondig word.

Wat Markus ons ook leer, is dat daar ‘n tyd is vir die vestiging van die boodskap in ‘n gemeenskap en ‘n tyd vir die verspreiding daarvan na ander gemeenskappe.

Sonder dat die boodskap grondvat in ‘n gemeenskap, sal die evangelie nie plaaslik floreer nie. Daarom het Jesus talle insette gemaak in Kapernaum (Mark 1:21; 9:33; Luk 7:1; 10:15; Joh 2:12; 6:17,59). Sonder dat die boodskap egter versprei na ander gemeenskappe, sal die evangelie nie ‘n globale impak maak nie. Daarom het Jesus nie net daar gebly nie.

Albei fasette van die verkondiging is belangrik. Plaaslik en globaal. Die een kan nie ten koste van die ander beklemtoon word nie. Gelowiges en gemeentes wat dít nie verstaan nie, sal vasval, óf in ‘n verarming plaaslik, óf in ‘n verskraling globaal. Opbou en uitbou. Gelyktydig.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar