MARKUS 10:17-31

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 10:17-31

DIE RYK MAN

(Matt 19:16-30; Luk 18:18-30)

17Toe Hy uitgaan om sy reis te hervat, hardloop daar iemand na Hom toe, kniel voor Hom en vra Hom: “Goeie Meester, wat moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan erf?” 18Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! 19Jy ken die gebooie, ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; jy mag nie bedrog pleeg nie; eer jou vader en jou moeder.’ ” 20Maar hy antwoord Hom: “Meester, al hierdie dinge het ek van jongs af nagekom.” 21Jesus het stip na hom gekyk, hom liefgekry en vir hom gesê: “Een ding kom jy kort – gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My.” 22Maar hy het terneergedruk geword oor hierdie antwoord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23Jesus het toe om Hom rondgekyk vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal hulle wat rykdom het, in die koninkryk van God ingaan!” 24Die dissipels was verbysterd oor sy woorde. Jesus sê toe weer vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit tog om in die koninkryk van God in te gaan! 25Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” 26Die dissipels was heeltemal uit die veld geslaan en het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” 27Jesus het stip na hulle gekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik.”

28Petrus het vir Hom gesê: “Kyk, óns het alles agtergelaat en U gevolg.” 29Jesus het geantwoord: “Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, huis, broers of susters, moeder, vader of kinders of grond ter wille van My en ter wille van die evangelie agterlaat, 30en nie nou in hierdie tyd honderd maal soveel sal ontvang nie: huise, broers en susters, ma’s en kinders, en grond – en vervolgings daarmee saam – en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 31Maar baie wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste.”

Teks en konteks

10:17 Markus vertel ook die verhaal van ‘n ryk man in die konteks van die tema van die koninkryk van God, en wie daarin welkom sal wees. Hy het aangehardloop gekom net toe Jesus sy reis na Jerusalem voortsit.  Hy het neergekniel voor Jesus – ‘n teken van eerbied – en vir Jesus gevra wat hy moet doen om die ewige lewe te ontvang. Hy noem Jesus “Goeie Leermeester” en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te “ontvang”.

10:18 Jesus vra dan vir hom hoekom hy die term “goed” vir Jesus gebruik, terwyl dit ‘n term is wat net vir God gereserveer is. Op ‘n verskuilde manier nooi hy die ryk man om dieper te dink oor wat hy in Jesus raaksien. Want, Jesus is natuurlik inderdaad God en goed.

10:19  Jesus verwys hom dan na al ses die gebooie van die tweede tafel van die Tien Gebooie. Hy noem moord (6de), egbreuk (7de), diefstal (8ste), en vals getuienis (9de). Hy noem ook die 10de gebod – om nie te begeer nie – maar verwoord dit met ‘n Griekse woord apostereō wat beteken jy mag nie iemand “verontreg”, of “bedrieg” om iets in te palm wat nie aan jou behoort nie. Vandaar die ASV se vertaling: “jy mag niemand besteel nie.” Ek sou liewer bly by die vertalings wat dit met een of ander vorm van verontregting weergee. Daarby word die positiewe 5de gebod tot eerbied vir jou vader en jou moeder gevoeg (Eks 20:12-16; Deut 5:16-20).

10:20-21 Op die positiewe reaksie van die man hierop, dat hy dit van sy kinderdae af doen, vertel Markus ons, het Jesus hom liefgekry en ingenooi in sy dissipelkring, op voorwaarde dat hy afstand doen van sy besittings, soos die ander dissipels dit inderdaad ook gedoen het, en Hom dan volg. Jesus konfronteer hom dus met sy liefde vir God – in wese die eerste tafel van die wet, die eerste vier gebooie.

10:22 Dit het die man egter afgeskrik en bedroef laat weggaan, want hy het baie besittings gehad. Sy besittings was sy god.

10:23 Nadat die ryk (jong)man van hulle af weggegaan het, kyk Jesus na sy dissipels en interpreteer vir hulle wat so pas gebeur het. Hy maak die opmerking dat dit regtig moeilik is vir mense wat rykdom besit om in die koninkryk van God in te gaan.

10:24 Op die dissipels se verbasing – rykdom was immers gesien as ‘n seën van God – herhaal Jesus sy opmerking. Let op dat Hy hulle as kinders aanspreek. Hy gee daardeur alreeds ‘n aanduiding dat hulle radikale gehoorsaamheid hulle kinders van die koninkryk van God gemaak het.

10:25 Hy gebruik dan die stylfiguur van ‘n hiperbool – “buitensporige oordrywing” – dat dit makliker is vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God in te gaan. ‘n Absurde metafoor om sy punt so duidelik as moontlik te maak dat aardse rykdom jou toegang tot die hemelse rykdom kan verhinder.

10:26 Die dissipels was uitermate verwonderd hieroor, want wie sou dan ooit gered kon word.

10:27 Jesus verskuif die gesprek dan na die Goddelike kant van die koninkryk, want toegang word deur Hom beheer. Toegang is eintlik vir alle mense – nie net vir rykes nie – op eie meriete onmoontlik. Maar, wat vir mense onmoontlik is, is nie vir God onmoontlik nie. Alles is immers vir Hom moontlik.

10:28 Petrus verwys dan na die radikaliteit van hulle eie gehoorsaamheid. Hulle het inderdaad alles laat staan en Jesus gevolg. Anders as die ryk (jong)man.

10:29 Jesus stel hulle dan gerus dat niemand teleurgestel sal word wat huis, broers, susters, moeder, vader, kinders of landerye (net in Markus) ter wille van Jesus en die evangelie verlaat het.

10:30 Hulle sal in hierdie tyd (kairos) honderd keer soveel ontvang. Hy herhaal al dié dinge, en laat net “vader” uit. En voeg by dat dit – saam met baie vervolgings – hulle deel sal wees, en op die koop toe, in die tyd wat kom, die ewige lewe.

10:31 Daaraan voeg Jesus sy bekende uitspraak toe. Baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste. Dit kan ‘n verwysing wees na hulle idee dat die ryk mense van hierdie wêreld eerste is, en hulle wat niks het nie, laaste. Jesus nooi hulle dus uit om nie deur die bril van aardse rykdom te kyk nie, maar deur die bril van hemelse rykdom.

Boodskap en betekenis

Dit is onrusbarend om uit die verhaal agter te kom dat die man se gehoorsaamheid aan die wet – die tweede tafel van die wet – nie genoeg is om hom die finale stap van oorgawe aan die Here se plan vir sy lewe te laat maak nie. Die oomblik toe daar van hom ‘n opoffering gevra word wat sy lojaliteit aan die Here sou toets – die eerste tafel van die wet, die eerste vier gebooie – het hy teruggedeins.

Jesus se lering oor ryk mense wat moeilik in die koninkryk van God sal kom, weens hulle verknogtheid aan besittings, laat die dissipels verbaas en uiteindelik ontsteld, omdat dit hulle laat wonder of enigiemand dan gered kan word.  Hulle het gewerk met die idee dat ‘n ryk man eintlik baie meer vir die koninkryk kan doen, en daarom sou verdien om makliker daar in te kon gaan.

Daaruit leer ons dat rykdom ’n groot hindernis kan wees om die koninkryk van die hemele in te gaan.  Dit is vir rykes net so moeilik om in die koninkryk in te gaan as vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan – en dit is ’n rêrige naald waarvan hier gepraat word, om die absurditeit daarvan te onderstreep.  Ryk mense sal dit eintlik onmoontlik vind om van hulle rykdom afstand te doen en die koninkryk na te streef.

Maar, dit is eintlik waar van alle mense. Jesus gebruik dus hierdie geleentheid om redding te verbind aan God se werk alleen, want vir Hom is alles moontlik.  Die koninkryk moet as ‘n genadegeskenk van God aanvaar word, soos die kind in die vorige perikoop.  Hiermee gee Jesus ‘n fundamentele teologiese beginsel waarop die hele Reformasie se hervorming sou berus: Redding deur genade alleen.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d